Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Erin

Deur Adri
Datum gepubliseer: 20 Januarie 2022 Aantal woorde: 8216 253 Kere gelees 19

“Sinneloos, magtag, het jy in jou lewe iets meer sinneloos gesien,” en hy slaan die groot vuis op die tafel hier langs my sodat die koffie bo-oor die rand stort.
Ek ken Bart Groene seker twintig jaar, nee ses-en-twintig jaar om presies te wees, en nooit het ek hom so ontsteld gesien nie.
Hy draai dwars in sy stoel en kyk my in die oë, “Dit is hoekom jy hier is Matt, jy moet vir my uitvind hoekom klein Erin Taubè hierdie Russiese kernwetenskaplike vanoggend in die vliegtuigloods op Waterkloof geskiet het.”
Die skok van wat ek hoor, vat die asem uit my longe, ‘Erin, wat de hel het gebeur’, dreun dit in my kop.
Hy skud sy kop moedeloos, en ek voel die moedeloosheid en die vrees in my.
“Matt, Erin is ernstig gewond, en gaan dit moontlik nie maak nie, hy is blykbaar deur die kop geskiet en dinge lyk baie sleg.”
My kop werk oortyd, maar dit voel of alle gedagtes in ʼn sirkel hardloop, die sirkel om Erin Taubè, nie wat hy gedoen het nie, maar wat hy is, wat hy vir ons almal is.
“Vader Matt, ek ken professor Goran Taubè van die dag dat hy en Martien in die land aangekom het. Ek was sy hulp dwarsdeur repatriasie en burgerskap. Matt ek sien hulle weekliks, hulle is my en Arina se huisvriende.”
Ek laat hom net eers begaan. My kop werk in hoogste versnelling, ek probeer alles wat ek hoor in my diepste geheue bêre, probeer al die stukkies wat ek nou al het koppel vir later wanneer ek tyd het, soos ek altyd doen.
“Matt alles aan hierdie saak is uiters geheim, behalwe ek, weet net agt ander persone van die probleem wat ons by Kern navorsing ondervind. Die feit dat professor Nkita Chernokof vandag in die land sou aankom, was egter nie ʼn geheim nie, dit was eintlik ʼn baie groot stap in die toekomstige ‘pad’ wat die regering met die Russe wil stap sover dit Kern navorsing aangaan. Wat hy presies sou kom doen is ʼn geheim.”
Hy swaai sy kop weer heftig heen en weer, en asof hy vergeet het ek is daar, sê hy, “Erin, Erin, wat nou, wat as jy dit nie oorleef nie?”
In my is dit al wat vasslaan, wat as Erin sterf, en ek voel die vrees in my, en dan die gedagte, wat as hy nie sterf nie?
Dan onthou die groot man my, “Behalwe vir vier mense, weet niemand van die skietery nie.”
Hy dink een oomblik, en ek sien die gedagtes deur die ligblou oë gaan, en ek weet, Bart Groene het vir die eerste keer, nee tweede keer in sy lewe houvas op homself verloor. Eers daar een-en-twintig jaar gelede toe Elisna sy kind gevat het en weggeloop het, en nou Erin wat ons almal se kind geword het, sy kind nadat Elisna Karien gesteel het.
“Matt ons moet dringend met Goran praat. Nou voor Erin dalk sterf, want as Erin sterf gaan Goran Taubè nooit weer praat nie.”
Ek weet van Erin Taubè, maar hieroor wil ek eers swyg, dit is heel iets anders, iets wat ek nie nou oor wil dink nie, maar ek voel die hartseer in my oor Erin Taubè.
“Wat is die nuus oor Professor Nkita Chernokof se toestand.”
“Sleg, baie sleg, maar die Russe wil nie toestemming gee tot ʼn operasie nie, hy word aan die lewe gehou met masjiene, soos met Erin, ʼn kop skoot.”
Ons vat die pad na 1 Militêre Hospitaal in Voortrekker Hoogte, dit is waar hulle Erin Taubè en Professor Nkita Chernokof heen geneem het na die skietvoorval by Waterkloof lughawe, en vir my is dit ʼn ongelooflike pynlike situasie. Soos Bart, ken ek Erin Taubè, die klein seuntjie wat so wild en verskrik soos ʼn diertjie was toe hulle hier agtien jaar gelede in die land aangekom het. Die Erin Taubè wat nou ʼn man is, ʼn uitsonderlike mooi en slim man is.
Ek sien hom nog verlede week by die skool, sy laaste jaar, graad twaalf, ouer as al die ander kinders, meer volwasse en meer intelligent. Hy is laat skooltoe, sy eerste paar jaar hier was hel vir die seuntjie, hy moes afskud wat hom oorgekom het in Rusland, ʼn nuwe taal aanleer, nuwe mense en maniere probeer verstaan, en hy het, en hy het ʼn puik en pragtige jongman geword.
My gedagtes gaan na Karien Groene, ‘weet sy van hierdie noodlottige oggend’, en ek kan nie in Bart se rigting kyk nie, want sy dogter gaan seerkry, seerkry soos hy een-en-twintig jaar gelede toe sy so wreed uit sy lewe geruk was. Hy weet nie van die liefde tussen die twee pragtige mense nie, en ek sal swyg soos die dood, behalwe as Karien dit gaan oopmaak, en ek kry die gevoel sy sal.
Die mense in die wagkamer by die teater is stroef, hartseer, en in ʼn staat van skok. Beide Goran en Martien Taubè se gesigte wys duidelik die tekens van trane en onoorkomelike hartseer, hulle gaan ʼn kind verloor, ʼn kind aan die dood afstaan, vandag, of more.
Goran en Martien is nie in staat om te praat nie, wil nie praat nie, hulle kind gaan sterf en dit is al wat saak maak, ek weet ek sal my antwoorde op ʼn ander plek moet gaan soek, en ek laat Bart daar by hulle, en ek vat die pad Sunnyside toe, na Karien Groene toe.
Dit is half-drie en ek weet hulle sal op die atletiek veld wees, en ek koers reguit daarheen. Ek sien haar, en sy wuif vir my, en ek stap skielik stadig en stram oor die breedte van die veld na haar. Sy glimlag en ek weet daardie glimlag gaan in ʼn paar minute in die ergste hartseer oorgaan, want ek weet van haar liefde vir Erin Taubè, en syne vir haar. Weet al maande daarvan en vir my was dit reg, albei kinders so na aan my hart, die kinders wat ek nooit gehad het nie.
“Dit is ʼn verrassing, waaraan het ek dit te danke oom Matt?”
Sy staan op haar tone en soen my op die wang en my hart trek saam van pyn.
“Ek wil met jou praat, iets ernstig het gebeur, waar kan ons gaan sit?”
“Is dit my pa?”
Ek sien die vrees, en ek skud my kop, ek weet dit sal haar breek indien Bart Groene iets oorkom, hy en sy wat nou eers weer twee-jaar verenig is nadat Elisna haar gesteel het, ek skud my kop en stuur haar met my kop in die rigting van die skool geboue.
Sonder om verder te huiwer, stap sy voor hom uit na haar klaskamer, iets is verkeerd, iets vreeslik voel sy aan, en die vrees klop in haar keel.
Wanneer sy sit vra hy dadelik.
“Weet jy waar Erin is.”
“Ja, hy is Waterkloof toe. Dit was deel van sy prys omdat hy die afgelope drie jaar die top wetenskap student is, en daarom het hy die eer gekry om vandag Professor Nkita Chernokof te ontmoet.”
Ek weet nou minstens waarom Erin in die vliegtuig loods was.
“Het iets met Erin gebeur?”
Sy sien dit in my gesig, my oë, want skielik breek iets in my, en die trane loop oor my wange, al wat deur my kop gaan, is, ‘Erin gaan sterf, ons gaan Erin verloor, vandag of more,’ en ek kan dit nie sê nie.
Ek sien haar wit word, en die trane loop uit haar oë wanneer sy die waarheid in my oë sien.
“Wat het gebeur en waar is Erin.”
Lieg gaan nie help nie, en ek sê dit so eerlik as wat ek kan.
“Daar was ʼn skietery, en Erin is ernstig gewond.”
Die gil is om van te sterf, maar hoe gouer hoe beter.
“Hy leef nog en is in die teater, maar hy is in die kop geskiet onder andere, en dit lyk baie sleg.”
“Nee, nee, nee,” kom dit in pyn uit haar vasgeklemde kake. “Ek wil dadelik soontoe, oom Matt jy moet my dadelik vat.”
Ek weet die geheim van Erin Taubè en Karien Groene gaan vandag oop wees, niks verkeerd met die verhouding nie, hy is twintig, amper een-en-twintig en sy vier-en-twintig, maar dit is nog altyd skooljuffrou en leerling, en skielik in hierdie tragedie maak dit nie meer saak nie.
Die bymekaar maak van haar goed, die draf na my motor, en die rit na 1 Militêr verloop in stilte, en die trane wat uit Karien Groene se oë loop kom geruisloos uit haar hart, en ek weet nie of sy ooit hieroor sal kan kom nie.
Daar is geen vrae wanneer sy instap nie, dit is Bart Groene se kind, Erin se wiskunde en wetenskap onderwyseres, en ek weet die geheim is veilig, vandag nog veilig.
Hulle klou aan mekaar en daar is ʼn geween wat tot in my murg sny, en ek stap na buite, weg, net weg van soveel leed.
Ek sien hulle, die drie Russe voor die hoë sorg saal se deur, en ek wonder daaroor, kan Professor Nkita Chernokof reeds uit teater wees, maar laat die gedagte daar. Hulle staan daar, trots maar vreemd, en ek besef hulle is grootliks aan hulle self oorgelaat, en ek stap oor na hulle, steek my hand uit en spreek hulle in Engels aan.
“Matt Blignaut, verstaan een van julle Engels?”
Soos met Erin, agtienjaar gelede sien ek die agterdog, die vrae in die oë. Dan tree die een man na vore en in perfekte Engels groet hy my.
“Goeie dag, ek is Juri Nicofsky, hierdie is Flavio Putin en Guiri Nelicatof, en hy wink met sy kop in die ander twee mans se rigting.”
Ek skud hulle hande en skielik voel dit reg, hulle het hulle bekommernis, en ons het ons sin.
“Kan ek vir julle ʼn ete bestel, of selfs ʼn plek om te verfris en te rus?”
Juri praat vinnig in Russies met die ander twee, en daar volg ʼn redelike opgewonde gesprek, en ek kan sien daar is ʼn effense wrywing tussen hulle.
“Asseblief ons sal iets om te eet waardeer, maar bo alles wil ons weet wat Professor Nkita Chernokof se toestand is.”
“Ek sal uitvind en dit deurgee na julle, wil julle gou iets saam met my gaan nuttig in die restaurant.”
Weer die Russiese gesprek.
“Flavio en ek sal saam met jou gaan, en Guiri sal eet sodra ons terug is.”
Ek weet van die wantroue, of hulle is bekommerd oor Professor Nkita Chernokof se toestand of hulle wil seker maak wanneer hy uit teater kom dat niemand ingaan sonder hulle wete nie, en ek bêre dit in my geheue.
Dit is meer as ʼn uur later wanneer ek weer by Bart Groene en die Taube’s aansluit, en ek besef, Erin is reeds meer as agt-ure in die teater.
“Enige nuus oor Erin.”
Bart Groene vat my aan die arm en trek my deur die sydeur wat na die rook area lei.
“Erin is nog in teater,” en hy wag vir my om iets te sê.
“Ek het die drie Russe ontmoet en hulle vir ete gevat, hulle wag ook vir inligting oor Professor Nkita Chernokof sodra hy uit die teater kom. Ons moet reël dat iemand van Interpol hom oor hulle ontferm, slaapplek, etes en so-aan.”
“Ek sal dit nou-nou reël, ons wil hulle hier naby die hospitaal hou, nie kans gee om te veel met Rusland te praat nie. Matt ek het meer as ʼn halfuur met Craig Saunders van Buitelandse Sake op die foon gewees, Professor Nkita Chernokof is nie in teater nie, die Russe weier dat hy geopereer word, weier dat X-strale geneem word, wil hê ons moet hom van die lewens ondersteunings masjiene afhaal. Daar is ʼn helse storie op die oomblik aan die gang tussen Buitelandse Sake en die Russiese Regering, jy weet hulle het nie ʼn Diplomaat hier nie.”
“Maar my magtag Bart, die man is in die kop geskiet, hy sal sterf.”
“Matt hier is iets verkeerd, iets leliks verkeerd, en jy moet dit kry, en baie gou kry voordat hulle wel die masjiene afskakel.”
“Ons gaan hulle vertraag solank as wat ons kan, van diplomatieke kant tot die mediese eed, maar dit gaan nie vir lank hou nie.”
Ek weet ek moet beweeg, my rond hang hier omdat ek naby Erin wil wees, sal ek moet laat gaan, sal ek hom aan God moet oorlaat. Hy moet vir my na Erin kyk terwyl ek agter die hele gemors se waarheid kom.
“Hoe hou Karien dit?”
Ek sien die vrae in sy oë, “Wat is dit met Karien en Erin Taubè?”
Ek kan nie vir hom lieg nie, “Dit wat dit met jou en my vir Erin Taubè is, liefde.”
Die dubbel hartseer wat in sy gedagtes kom flits in sy oë. “My arme, arme kind, het sy nie genoeg deurgemaak nie.”
Met die druk van my arm draai hy om en gaan na sy kind, nou het hy twee kinders om oor te waak.
Ek bel Sarel Vermaak van my ondersoek span, “Sarel die sekuriteit opnames in die vliegloods by Waterkloof, kry hulle dringend.”
“Ek het hulle klaar Matt, ek het alles, die opnames, die pistool wat Erin gehad het, alles.”
“Goed, kry alles reg sodat ons daarna kan kyk, ek is binne vyftien minute daar.”
Ek sit my sirene aan, en dit ruk my terug uit my dwaal van die dag, ek is Matt Blignaut, die hoof van een van die beste ondersoek spanne in Interpol, ek is een van die beste ondersoekers in die wêreld, en ek beter die beste een wees in die volgende dag of twee, vir Erin se onthalwe.
Ek roep my span, Sarel Vermaak, Eon Brits en Gerald Draper, beste wat daar is.
“Goed manne, ons het twee dae om uit te vind wat in daardie ‘Hanger’ gebeur het, waarom Erin Taubè vir Professor Nkita Chernokof, wat hy nog nooit in sy lewe gesien het nie, geskiet het.”
Die kwaliteit van die bande is bo verwagting goed, die beelde effens ver maar alles duidelik sigbaar. Ons kyk dit weer en weer, en die vrae word al meer na elke keer.
Eers Professor Nkita Chernokof se groet en handskut met Derrick Saunders, Direkteur Generaal van Buitelandse Sake, dan Professor Werner Kruger, Hoof van die Kern Navorsing Raad, dan nog twee mense wat ek geïdentifiseer wil hê, en dan terwyl die Suid Afrikaners omdraai om te loop gaan Professor Nkita Chernokof uit sy pad direk na Erin, en sonder dat iemand hulle bekend stel, steek hy sy hand uit na ʼn skoolseun in skoolklere, wie hy nie ken nie, of het Derrick Saunders, of Werner Kruger, Erin genoem aan hom?
Dan Erin en Nkita Chernokof, vreugde, asof daar wragtig vreugde in die ontmoeting is, maar daar sal seker wees wanneer jy een van die grootste Kern Wetenskaplikes in die geskiedenis ontmoet, en indien jy een van die briljantste leerlinge in Skeinat ontmoet, of is dit iets ander?
Die stille gesprek, dan sien ek iets, “Ek soek ʼn nader ‘Skoot’ ek wil hulle gesigte sien Sarel, hulle monde, kry ʼn tegnikus, ek soek hierdie bande op die beste toerusting moontlik, nou binne die volgende halfuur.”
Ek sien Nkita Chernokof aan Erin se kop vat met sy linker hand, sien steeds die twee regterhande ineengestrengel, hoe hy met sy wys vinger reg in die middel van Erin se voorkop raak, ek sien die trek van sy gesig, dan die trane, en die vreeslikste leed wat ʼn mens kan beskryf.
Ek kyk na Erin, na sy houding, na sy gesig, die trane en die vreeslike verwarring en pyn, en dan na sy linker hand wat na sy hare gaan, daardie pragtige blonde hare, die vat van die linker hand in die baadjie sak, dan die pistool in die linker hand, en dan die val van Erin en Nkita Chernokof langs mekaar met hulle regterhande ineengestrengel, en my hart breek.
Bart Groene bel, “Erin is uit teater, hulle het nie die patroon uit die skedel verwyder nie, te veel skade aan die regter long en ingewande, hulle het hom twee skote gegee, een in die kop en een skuins af deur die long en linker nier, hy sal dit nie maak indien hulle nou aan die brein torring nie. Hy is in ʼn koma en sal seker so bly vir nou, totdat sy long genoegsaam herstel het om nog ʼn operasie te deurstaan, indien hy dit kan deurstaan.”
“Wil jy sê hy is van bo-af geskiet, hulle albei is amper op dieselfde oomblik geskiet Bart, die ‘opnames’ wys duidelik hulle is saam grond toe, wie ook al vir Erin geskiet het, het ʼn helse voorgevoel of ʼn helse reaksie. Ek wil weet wie vir Erin Taubè geskiet het.”
“Doen wat jy kan Matt, ek dink ons het tyd tot minstens môre aand.”
“Vind uit waar presies het die koeël in Nkita Chernokof se skedel ingegaan en laat weet my dadelik.”

In Karien Groene se hart sing dit, ‘hy leef, Erin leef nog’, maar hulle weier dat sy hom sien, maar sy sien hom deur die skreef van die hoë sorg eenheid se deur, onherkenbaar onder die verbande en die geswolle gesig, maar sy bid, en sy weet God hoor.
Sy hoor haar pa, “Ek soek 24/7 wagte hier, nie een nie, drie, twee by die deur en een binne, niemand gaan in sonder dat ek dit goedgekeur het nie, en geen medisyne in die “aarvoeding” indien dit nie die dokter self is nie, en ek wil weet wie die dokters is.”
Hy reël dat Erin Taubè en Nkita Chernokof langs mekaar in een afskorting geplaas word, so kan ek beter beheer uitoefen, en wanneer alles in plek is, vat hy sy dogter met deernis aan die arm, “Kom pappa neem jou huis toe, more sal ek reël dat jy hom sien.”
Geen vrae, geen verwyte, hy is nie meer een vir verwyte nie, nie nou meer nie, wat van hom gesteel was is teruggegee, en hy druk haar hand sag.
“Wil jy by my kom slaap vanaand?”
“Nee, as pappa nie omgee nie, eerder woonstel toe asseblief,” Sy weet, daar waar Erin is, sy reuk, sy goedjies, sy liefde.
Hy laai haar af, vra nie om in te gaan nie, verstaan haar leed, hy het dit gesien vandag en hy weet, liefde maak so, veral as jy daardie liefde verloor.
“Ek sal Tewes Mare van Erin laat weet, net dat hy siek is, niks oor vandag mag uitlek nie.”
Sy verstaan en sy aanvaar dit so. “Nag pappa.” “Nag liefste, sien more.”

In die donker lê Karien Groene met Erin se kussing waaraan sy skeerroom se reuk vasklou, en sy huil, en sy onthou.

Tewes Mare wuif die duisend seuns stemme stil, dis die eerste skooldag in hierdie tradisie vaste en bekende seunskool, en almal het so baie te vertel na die Desember reses. Daar daal ʼn stilte neer en die gesels word vervang met ʼn opgewonde vooruitsig na die jaar.
Boeklesing en gebed en die afkondigings met ʼn lag in sy stem, “Seuns en die beste vir laaste, ons het vier nuwe onderwysers, Mnr. Gerhard Stoltz, Aardrykskunde en Latyn graad agt tot tien, Meneer Mauritz Malan, sport administrasie, meneer Hugo Nel Ekonomiese vakke graad tien tot twaalf en die beste vir laaste, ʼn nuwe Wiskunde en Wetenskap onderwyseres vir die graad elfs en twaalfs, Juffrou Karien Groene.”
Daar volg ʼn gezoem van stemme en wuif meneer Mare die vier nuwelinge op die verhoog op, en soos dit nou maar eenmaal met seuns is, volg daar onmiddellik ʼn gejuig en gefluit. Karien Groene is iets vir die oog, klein, fyn met gitswart krulle en hemelblou oë.
Sy voel die blos op haar wange, sy is gewoond aan bewondering, maar hierdie, op die eerste dag van haar onderrig loopbaan, is ʼn eerste ondervinding van seuns, jong mans en hul onkeerbare bravade.
Sy het wel die afgelope week hier saam met die ander onderwysers beplanning vir die jaar gedoen, maar dit is haar eerste ontmoeting met die leerkragte, soos Tewes Mare, hulle noem.
Tewes Mare wuif hulle stil en skud eers die drie mans se hande en dan trek hy Karien tot langs hom.
“Ek glo ons sal ʼn ‘Oppasser’ vir juffrou Karien moet aanstel, hier is te veel wolwe op die skoolgrond,” en hulle fluit, en sy bloos.
“Nou-ja, Erin waar is jy,” en ʼn luide handgeklap ontstaan.
Hy staan daar, in die middel van die vierde ry van voor, atleties groot, ongelooflik aantreklik, ongelooflik volwasse en manlik.
Hy glimlag en hy dra die gees van die hele gespot voort, “Indien hierdie eer my te beurt val meneer, gee ek jou my erfporsie,” en daar is ʼn oorverdowende handgeklap.
Sodra hulle bedaar, sê Tewes Mare gemaak ernstig, “Erin Taubè vir hierdie jaar is jy die lyfwag van juffrou Karien Groene, sy is ook ʼn baie goeie sport onderwyseres en het veral self met die werpskyf en spies uitgeblink, so sy sal in die atletiek seisoen by die spies gooi en werpskyf diens doen en jy moet sorg dat sy veilig is.”
“Niks sal my groter plesier gee nie meneer,” en weer die luide applous, en sy weet, hy is geliefd hier.
Haar oë vang die oog van Erin Taubè oor die koppe van die onderwysers in die rye voor hom, en vir een sekonde kyk hulle in mekaar se oë, maar dan gaan sit hy.
Haar gedagtes is soos ʼn opname wat vinnig vorentoe draai, mis sy alles tussen daardie eerste paar uur, totdat hy in haar klas instap, en die onderlangse gegiggel van die ander seuns.
Hy sit reg voor in die klas, en sy moet haarself dwing om oor sy blonde kop te kyk, om sy oë te vermy, en sy weet hy weet.
Hy is daar wanneer die klok lui vir die einde van die les dag, reg met lang sterk bruin bene wat onder sy atletiek broek uitsteek, reg met bultende spiere wat onder die atletiek frokkie op sy bors speel, en rimpelende spiere wanneer hy die sak met werpskywe optel, en dit maak ʼn indruk op Karien Groene.
“Nou-ja juffrou is u gereed, of gaan u eers sport klere aantrek?”
Sy voel die hitte op haar wange, “Jammer, ek het nie sport klere gebring nie, ek sal definitief van more af. Mag ek so gaan, so met die rok en hoë hakke?”
“Ja, ek glo dit is reg.”
Hy swaai die sak ongeërgd oor sy skouer, en wuif haar met die blonde kuif saam met hom.
Hulle loop in stilte, en wanneer die verbasende hoë trappe af na die atletiek veld voor haar is, wonder sy hoe sy met die nou romp en hakskoene af gaan kom. Hy vat haar nonchalant om die middel en soos wat ʼn pa ʼn kind sal dra, dra hy haar trappie vir trappie af tot op die gras.
Sy ruik sy skeerroom, sy voel sy warmte en sy krag, en sy is asemloos, en sy raas met haarself, ‘Hierdie is nie waarom jy hier is nie Karien, hel ruk jou reg’.
Daar is ʼn lewende belangstelling van al die seuns wat verby stap, en sy weet sy moet haarself regmaak vir ʼn paar weke se belangstelling.
Haar eerste sessie by die werpskyf gaan verby met die kyk na die seuns se tegnieke, en die neerskryf van wat sy dink sy kan doen om dit te verbeter. Sy weet, sy was dalk nie die beste skyfwerper nie, maar sy is die een wat op universiteit al die ontledings gedoen het om tegniek verbeterings te doen, dit is tog wat sy eerder wou doen, sport dokter word. Die een wat in sport tegnieke en voorkoming van sport beserings wou spesialiseer, maar haar pad het ʼn ander uitdraai pad gekruis, en nou is sy eers vir die jaar hier, en sy skud die gedagtes af.
Die feit dat sy weet waarvan sy praat, en in die paar uur met elke seun oor sy tegniek kan gesels, laat ʼn toegeneentheid na haar ontstaan.
“Ek bring my toerusting van more af saam, en dan werk ons met die van julle wat sukkel met tegniek. Ons sal ook almal in die Gimnasium moet werk, elke dag volgens ʼn program, ons kan nie beserings bekostig nie.”
Hy loop stil saam met haar klas toe, dra haar tas, maak die deur van haar motor oop en toe.
“Jy hoef nie saam te stap nie,” sê sy, en hy lag in haar oë.
“ Ek is baie ernstig wanneer dit by verantwoordelikhede kom juffrou.”
“Karien.”
“Juffrou Karien.”
Sy skud haar kop, en hou hom in die tru spieëltjie dop wanneer sy deur die hek ry, en daar is ʼn heerlike gevoel in haar, ‘definitief een van haar top tien dae’, flits dit deur haar gedagtes en sy is gelukkig, en sy weet nie waarom nie.
Dit was die patroon, elke dag, hy wat wag, en hy wat totsiens wuif, en sy het hom begin mis in die dae wat dit nie skool was nie.
Kompetisie dae, die vreugde in haar wanneer haar spies gooiers en skyfwerpers goed doen. Die ‘High-five’, die vuiste teen mekaar stamp, die omhelsing van hulle wat beter as hul bes vertoon, en hy, ʼn rots tussen hulle, ʼn steunpilaar, ʼn onbeheerbare aantrekkings krag wat haar hom wil laat aanraak, hom wil hoor en hom wil sien.
Karien lê bewend wanneer sy weer die oomblik beleef toe sy besef het sy het Erin Taubè lief, onbeheersbaar en onvoorwaardelik. Die vreugde, die vrees, die ellende van ʼn verbode liefde.
Sy beleef die ekstase van daardie Januarie en Februarie, die ekstase wat hy gebring het, en dan laat Maart na die interhoër verby is, en sy net met ʼn paar seuns die laaste dag van skool vir die SA’s in Bloemfontein geoefen het.
Die teruggooi van die werpskyf, sy wat met haar rug gedraai staan, en die werpskyf wat haar voete onder haar uithaal. Die vrees in sy oë, die woede wat volg, en sy wat hom sag aan die wang vat, “Los dit Erin, dit is ʼn ongeluk, moenie ʼn woord sê nie, jy is mos daar om na my te kyk.”
Sy voel die hartseer, sy sou oor tien dae saam Bloemfontein toe gegaan het, hom gaan dophou het, en nou dit.
Hulle pak op en sy hou haar ‘pose’ met die pyn kloppend tot in haar kop, en hy tel haar op en met haar kop teen sy hart loop hy oor die veld en dra hy haar na haar motor terwyl een van die seun haar tas gaan haal en die klas sluit.
Hy sit haar in die passasiers sitplek en sy protesteer nie, tussen haar pyn en die begeerte om by hom te wees, kan haar verstand niks kry om oor te protesteer nie.
“Jason vat my kar huis toe, en Juries gaan laai jy Jason op by my huis, sê vir my ma ek kom sodra ons klaar by die hospitaal met juffrou Karien is,” en hy gooi sy motor sleutels met ʼn boog deur die lug vir Jason.
Hy stoot die sitplek ver terug om sy lang lenige bene in te kry, en glimlag skalks na haar, “Juffrou is effens kort dink ek,” en dit sing in haar hart.
Sy hou haar oë gesluit, te bang om na hom te kyk, en hy onder die indruk dat die voet erg moet pyn, laat dit gaan.
Hy dra haar deur die hospitaal deure, en sit haar versigtig in die rystoel. Hy is die een wat die vorms voltooi, haar handsak oopmaak en mediese kaart en ID boek uithaal, en dit voel so reg.
“Erge weefsel besering, niks gebreek nie. Niks wat so ʼn twee-drie-weke af van die voet af nie reg kan maak nie. Ek skryf vir jou pyn tablette en anti-inflammatoriese pille voor, en verder moet die kêrel maar sy nooi bederf.”
Sy is rooi in die gesig, en hy gelukkig.
Sy wil beduie waar sy woon maar hy lag in haar oë, “Ek weet, Magnolia nommer 214.” Nou is hy die een wat rooi word, want dit sê alles.
Hy dra haar tot in haar kamer, sit haar op die bed, en sê doodgewoon, “Ek dink ons moet jou gestort kry juffrou Karien, dan in nagklere kry, en in die bed kry. Dan sal ek aandete gaan koop en jou, jou pille gee.”
Sy wil nie teëstribbel nie, sy wil hom by haar hê, sy hande op haar lyf voel en sy laat dit gaan.
“Gaan jy regkom in die stort alleen,” en albei bloos. “Ja, indien jy my kan help tot daar, en weer terug help wanneer ek klaar is, glo ek, sal ek dit maak.”
Deur die was, die afdroog en die aantrek, is die gedagte daar, die wens dat hy haar sal aanraak en sy voel die smeuling in haar.
Hy sit haar in die bed, en hy voel sy pols jaag en hy weet, hy is op ʼn terrein wat hy nie ken nie, maar wat hy met alles in sy gemoed begeer.
“Waarvoor is jy lus, “Kentucky, ‘burger’, pizza, sop, waarvoor?”
“As jy ‘Pizza Parlour’ toe gaan, ‘Beef Lazanja’ asseblief.”
Hy is weg en sy mis hom, mis sy teenwoordigheid in haar huis.
Hy sit langs haar bed en verorber sy pizza terwyl sy die Lazanja smaaklik eet.
“Ek gaan sommer hier in die kamer langsaan slaap vir vanaand, more praat ons verder daaroor, maar ek gaan jou nie alleen los nie.”
“Karien, sê dit Erin, sê Karien as jy alleen by my is, asseblief.”
Hy sê dit, ‘Karien’, en dit lê soos ʼn band tussen hulle.
Hy maak haar gemaklik, gee haar, haar pille, stort en gaan lê hier twee meter van haar af met net die muur as skeiding tussen hulle.
Karien voel die brandende begeerte na Erin Taubè in haar, en sy verloor die stryd teen haar gewete, Erin Taubè is twintig, dit weet sy, dit het sy vasgestel die tweede dag van die skooljaar, en daarin vind sy oortuiging vir die gevoel in haar, hy is ʼn man.
Erin voel die lamheid in sy liggaam, waar hy lê. Hy is ʼn man, hy weet wat dit is, hy het net nog nooit so oor enige iemand gevoel nie, en hy weet, hy begeer Karien Groene soos niks anders in die lewe.
Wanneer sy roep is hy daar, half naak, met die ‘Bokser’ wat die volheid van sy manlikheid wys, en Karien se weerstand is weg.
“Erin,” en wanneer hy buk om te hoor wat sy sê, trek sy hom af na haar, trek sy hom teen haar brandende lyf vas, en sê sy sag “Erin, ek weet nie wat dit met my is nie,” en sy lippe soek na haar oor en hy sê sag, “Ek weet wat dit is, want dit is in my, was in my van die eerste dag af.” Dan vind sy lippe hare en sy trek hom onder die laken in tot teen haar lyf, en albei voel die bewing in hul liggame.
Die vat van sy hande aan haar, die streling van sy lippe laat haar ontvlam en wanneer sy, sy volheid in haar voel, ontplof die sterre en kreun sy haar genoegdoening uit teen sy sterk bors.
Dit is waar die Saterdag son hulle kry, ineengestrengel, volmaak met die genoegdoening in hulle.
“Wat gaan ons doen,” vra sy, en die wanhoop is in haar.
“Niks, net wat ons nou doen, net ek en jy en niemand anders nie. Ek het jou lief, ek gaan jou altyd lief hê, en ek en jy gaan trou, en vir ewig in hierdie staat van passie leef.”
Die ekstase en vrees was in haar, wat as sy hom ooit verloor, en sy het geweet sy sal enige iets doen solank hy daar is.
Dit was die begin van haar lewe, sy lewe. Daar was soveel geleenthede, hy het amper elke nag by haar geslaap, sy ouers was so besig, so baie weg, hulle was soos getroudes, vasgevang in die ekstase van liefde en geluk.
Karien probeer dink, probeer onthou of daar enigiets was wat haar moes waarsku teen dit wat vandag met Erin gebeur het, maar haar verstand weier, en sy verval in ʼn droomlose onrustige slaap.
Bart Groene kry Matt en sy span in die eerste strale van die September oggend son, wagtend op hom.
“Wat is dit Matt, wat het jy uitgevind.”
“Ek glo nie Erin Taubè het Professor Nkita Chernokof geskiet nie.”
“Wat, die opnames is tog duidelik.”
“Ja, dat Erin ʼn pistool rig, maar nie dat daardie pistool afgevuur is nie. Kom ons gaan wys jou die waarheid Bart.”
Terwyl hulle vir die soveelste keer na die sekuriteit opnames kyk, verduidelik Matt elke beweging.
“Kyk die vreugde op beide die gesigte, dan die verandering op Erin se gesig, nie woede nie, ongeloof, paniek, kyk na sy gesig, kyk na die trane, kyk na albei se trane. Dit pleit Bart, en nou kyk na die pistool in Erin se linker hand, want hy is links, so indien hy geskiet het, ‘stop die opname’, dan moes die koeël Professor Nkita Chernokof aan die regterkant van sy skedel getref het, en jy het self laat weet die koeël is aan die linker kant in.”
“Laat die opname aangaan,” en almal sien hoe albei persone op amper die presiese oomblik getref word. “Kyk na die ruk van hulle koppe, die afgaan van die lywe, saam, die een nie voor die ander nie.”
Bart Groene sit verstom en kyk na die twee hande so ineengestrengel, soos die van vriende. “Wie het dan geskiet, en hoekom Matt?”
“Dit is wat ons nou gaan uitvind, dit lê in die gesprek. Ek het reeds ʼn persoon laat kom wat lippe kan lees, sy het reeds gekom en is besig om na die opnames te kyk.”
Asof geroep stap die fyn vroutjie in, “Jammer ek kan nie help nie.”
“Ag nee moet net nie sê die bande is te swak nie.”
“Nee inteendeel, die bande is baie duidelik. Dit is die taal, hulle praat Russies, ek het reeds Gregor Putin geskakel, hy sal binne die volgende halfuur hier wees.”
Die verligting is op almal se gesigte.
“So dan het Erin Taube nooit ophou Russies praat nie, die Taube’s nooit hul bande met Rusland gebreek nie. ʼn Mens sal wonder waarom.”
“Die Russiese Regering het ʼn versoek ingedien by die Minister van Buitelandse Sake, om Professor Nkita Chernokof van die masjiene af te haal, en hom, of sy lyk, onmiddellik terug na Rusland te stuur.”
“Hoeveel tyd het ons voor die ja-woord gegee word?”
“Ek het gevra vir vandag, so ons het ongeveer agt ure.”
“Ek glo die oomblik wat ons die gesprek se detail het, is die saak opgelos. Dan bly net die inwin van die bewyse oor, en die oortuig van die Minister van Buitelandse Sake, en sy oortuiging van ons President.”

Die span staar stip na die woorde wat Gregor Putin op die papier skryf.
“Nkita, my seun, jy is alles wat ek en jou ma gedink het jy sal wees, pragtig en so groot.”
“Pappa eindelik, eindelik is jy hier.”
Dit slaan Matt en Bart Groene tussen die oë, ‘Erin is Professor Nkita Chernokof se kind, nie Goran en Martien Taubè se kind nie’.

“Ons tyd saam is kort, net ʼn paar sekondes.”
“Hoekom?”
“Want in my kop is ʼn detoneerder, sodra ek tussen julle kern reaktors is sal dit die kern materiaal laat ontplof.”
“Nee.”
“Dit is die waarheid my seun. Het jy die pistool gebring?”
“Ja.”
“Dan moet jy my skiet, nou skiet hier reg voor in my kop.”
“Nee.”
“Dit is al wat dit kan stop Nkita, hierdie stad van hierdie helse ramp kan red, doen dit nou, doen dit gou my seun.”

Dan die chaos.
Die stilte duur ʼn paar sekondes en dan haal almal weer asem, “Magtig, kan jy dit glo, die duiwels.”
“Goed, laat ons fokus, die skutter moet albei se monde kon sien, moes kon hoor wat hulle sê, en moes aan die linkerkant van Professor Nkita Chernokof iewers bo-op die staal raamwerk gewees het.”
“Wel dit is nie een van die drie Russe nie, dit is iemand anders wat geplant was deur die Russe.”
Hulle speel die opname stadig, noudat hulle weet waarvoor om te kyk, sien hulle hom, weggesmelt teen die agtergrond van die grys sinkdak sien hulle die mens teen die dak.
“Hy was op die balke, binne die gebou.”
“Hoe het hy gehoor.”
“Wel as Professor Nkita Chernokof ʼn detoneerder in sy kop het, kon hy seker ʼn mikrofoon iewers op sy lyf, of in sy lyf gehad het.”
“Maar hoekom het hy gekom, hy kon mos dat hulle hom maar daar doodgemaak het.”
“Sy begeerte om sy kind te sien, die veiligheid van sy vrou Professor Anetzske Chernokof.”
“Die bliksems, hulle het haar natuurlik as losprys gehou.”
“Matt kry alles bymekaar, ek bel Craig Saunders van Buitelandse Sake, hy moet ons by die Minister van Buitelandse Sake inkry, binne die volgende uur.”
“Stuur iemand om Goran en Martien te gaan haal en hulle deur te bring na die Minister van Buitelandse Sake se kantore.”
“En stuur iemand om al die ander sekuriteit opnames te gaan haal by Waterkloof. Ek weet elke duim van daardie grond is onder observasie, ons sal hom op die dak sien, en ons sal hom volg totdat ons weet wie hy is.”
“Hy moes dit seker geweet het.”
“Hy het, maar hy het nie gedink dat ons ooit dit sou agter kom nie.”

Karien gaan 1 Militêre Hospitaal toe, en hulle laat haar deur, Bart Groene se opdrag, en sy sien sy bleekheid teen die kussing, die donkerte van die bloedsakke onder sy oë en sy vel, en haar verstand sê hy gaan sterf, en haar hart weier om daarna te luister, ‘nie Erin nie, nie haar Erin nie’.
Sy sit tussen die twee, Nkita Chernokof en Erin, en haar hart huil. Dan met sy hand in hare sluit sy haar oë en sy onthou, onthou sy die week voor Bloemfontein, die week in Bloemfontein, sy ongelooflike prestasies, sy Sasol punte, en die week daarna by die see in hul vakansie huis. Voel sy, sy manlikheid teen haar, in haar en beleef sy haar oorgawe vir hom.
Loop haar gedagtes na die wintermaande se rugby, na haar weg masseer van sy seer spiere, die dokter van die merke waar die stewels trap merke gelaat het, en die volheid van die oorgawe tussen hulle.
Die studeer in haar arms, die fluister van sy liefde in haar oor, die ongekende vreugde wanneer hy by die deur instap, die leegheid van haar dag wanneer hy uitstap, en sy was soos ʼn skooldogter, polsend gelukkig en verlief, en nou hierdie helse ramp wat dreig om alles van haar te neem, en sy bid hardop, en sy weet God hoor.
Sy weet God sal op een of ander manier hulle hierdeur kry, soos hy haar vir twintig jaar deur die ongekende hel van haar jeug gekry het. Sy wat nie net in ballingskap moes grootword nie, maar wat in opsluiting moes grootword omdat haar ma wou seker maak haar pa sal hulle nooit kry nie. Die ongelooflike eensaamheid, die ongelooflike druk op haar om te studeer, te presteer, en die ongelooflike verlange na ʼn pa wat haar opgeraap het en deur die lug geswaai het.
Dit weet Karien is verby, weet sy dit het Erin Taubè weggevat uit haar gedagtes, weet sy dat as hy dit maak deur hierdie hel, hulle saam die toekoms in sal gaan, met geen dag se verwydering nie.
Vir Goran en Martien Taubè bly daar na die lees van die woorde van Nkita Chernokof, niks oor om geheim te hou nie.
“Ons was junior kern wetenskaplikes wat onder Professors Nkita en Anetzske Chernokof gewerk het, ons was onopsigtelik, ons was nooit nêrens ooit vermeld nie. Later, die dag toe hy Nkita vir ons gegee het, en ons gesmeek het om sy kind daardie nag uit die land te vat, het ons geweet hoekom. Daardie jare was daar maniere om mense te dwing om dinge te doen, en Nkita was deur ‘hulle’ ontvoer, met helse gevolge, en hulle sluit hulle oë by die onthou van die bebloede, verskrikte seuntjie wat hulle amper aan die dood afgestaan het. Daardie dag wat hy hom teruggekry het, het ons gevlug. Dag en nag tot ons die Finse grens oorgesteek het, en die Finne ons gehelp het om Suid-Afrika toe te kom.”
“Hoekom Suid Afrika Goran?”
“Die laaste plek waar ons gedink het hulle ons sou soek, en julle was baba skoene in die kern veld, en ons sou hier kon ʼn bydrae maak, onopsigtelik, nooit voorblad nuus nie, terwyl ons hulle seun vir hulle grootgemaak het.”
Skielik verstaan Bart Groene hulle bekommernis na Nkita Chernokof die vorige dag, hulle leermeester, in baie opsigte hulle vader.
Die Minister van Buitelandse Sake sit lank stil en dan sê hy, “Goed, los die verslag, en gaan doen julle, julle dinge. Ek sal opdrag gee, Professor Nkita Chernokof bly waar hy is, versterk die toesig, ek sal in my eie tyd later vandag die saak met die President en my ewe knie in Rusland uitklaar. Wegkom hiermee sal hulle nie, nie heeltemal skotvry afkom nie. Ek moet net besluit wat die beste vir almal sal wees.”
Matt en Bart Groene is tevrede, hulle ken die reputasie van Charl Strauss, die Minister van Buitelandse Sake, ongelooflik slim, ongelooflike diplomaat, maar nie iemand waarmee ooit gemors sal word nie.
Terwyl Matt teruggaan om die ander opnames te bestudeer, gaan Bart Groene en die Taube’s terug na 1 Militêre Hospitaal, om te gaan wag vir tekens van lewe in die twee mense wat reeds soveel hel deur moes maak.
“Hoe het Erin geweet Professor Nkita Chernokof is sy pa?”
“Hy het altyd geweet, was altyd so verskriklik volwasse. Hy het geweet dit is ʼn saak van lewe en dood, en hy het ons so gelukkig gemaak, ons behandel soos ʼn ma en ʼn pa, net eerbied en respek.”
“En liefde Goran, hy het julle waarlik lief.”
“Die ding tussen Karien en Erin, het julle geweet?”
“Ja van Julie af, hy het ons self vertel, en dit was reg met ons. Hy is ʼn man Bart, nie ʼn skoolseun nie, hy is in der waarheid reeds drie-en-twintig Bart, en ons glo wanneer die liefde kom, moet jy dit vat, want jy weet nie hoe lank dit sal hou nie.”
Vir Bart Groene is dit reg, reg dat sy dogter hierdie liefde kon beleef, sy wat so swaar gekry het deur ʼn ander se haat en nyd.
Matt kry die skerpskutter, ʼn KGB man, geplant ses maande vroeër toe die besoek se reëlings begin het. Hy moes net seker maak dat niks fout gaan nie, en indien daar wel iets verkeerd gaan, Nkita Chernokof uit-haal. Hulle het nooit van Erin geweet nie, nie tot die oomblik van die gesprek nie, en hulle het besef Nkita Chernokof sal nooit deurgaan met die besluit nie. Dat hy daar was om sy seun te sien, en vir niks anders nie.
Hoekom probeer om die kern stasies op te blaas, hoekom dit nadat verhoudings soveel beter is tussen die twee lande. Die Russe sou kom help met die gemors opruim, sou ʼn kameraadskap en vastrap plek in Afrika kry deur hier in die kern krag omgewing in te wurm. Sonder oorlog, sonder teenstand, en sonder die inmenging van die wêreld.
Dan die volgende dag, onverwags, kom die boodskap, ‘Die President gee toestemming dat Professor Nkita Chernokof geopereer word, en twee plofstof deskundiges staan by, net ingeval die detoneerder wel nog aktief is. Die detoneerder is vernietig, en is die skade aan die brein minimaal aangesien die koel die detoneerder getref het, en so het dit wat vernietiging moes saai, die lewe van Professor Nkita Chernokof gered.
Terwyl almal wag dat Erin Taubè tekens van lewe moet toon, wag Matt en Bart vir die boodskap vir die Russe om huis toe te gaan, maar dit kom nie daardie dag nie.
Die boodskap kom vier dae later, ‘Die Russe sowel as die KGB agent sal daardie middag vertrek vanaf Waterkloof’, en dit is vreemd, en tog nie vreemd nie, en alles word in gereedheid gebring.
Dit is wanneer die klein vroutjie die trappe van die groot Russiese militêre vliegtuig afstap, dat Bart en Matt weet wat die oponthoud was, ‘Anetzske Chernokof, en stilte oor die voorval, vir die vier Russe’.
Haar hartseer en trane is onbeskryflik, agtien jaar gewag om haar seun te sien, en nou is hy sterwend.
Dan die nuus, Erin Taubè gaan in vir die brein operasie, en die vrees, wat van sy longe, sy krag om die operasie deur te staan. Die antwoord wat niemand geweet het nie, behalwe die Geneesheer Generaal van die Weermag, die hoof van Staatsveiligheid en die President, beide Erin en Nkita Chernokof was onder hewige verdowing gehou terwyl die saak afgehandel word. Om te verseker dat niemand met een van hulle kon praat nie, is daar besluit om hulle te verdoof en voor te gee dat albei in ʼn onomkeerbare koma is.
Die operasies is suksesvol, die verwydering van die detoneerder uit Nkita Chernokof se brein bevestig dit wat sou gebeur, maar die herstel is stadig, stadig vir pa en seun.
Die patroon het Erin se brein gemis, teen die binnewand gegly en vasgesteek teen die skedel. Die kaliber was te klein vir die afstand, te klein want daar was nooit verwag dat iets sou gebeur nie, en dat daar oor so ʼn afstand geskiet sou moes word nie, en almal dank God vir die genade.
Dit vat Erin Taubè veertien dae om uit die koma te kom, veertien dae wat almal wat hom liefhet op hul knieë dwing, dwing om onophoudelik te bid. Dan is hy terug, blou oë vol vrae, vol soek na sy maat, soek na hulle wat hy gedroom het terug na hom sal kom.
In die sien van sy geliefdes stroom die trane oor sy wange, ruk sy hart nog by die gedagte aan wat hy sou doen, en wat God hom gespaar het om te doen.
In die nagte wanneer hy alleen met sy gedagtes is, herleef hy die laaste maand voor die skietery, die boodskap op sy rekenaar daardie nag, die eerste boodskap in agtien jaar, en so verdoemend, ‘Jy moet my kom sien by die lughawe, en bring ʼn pistool, jy moet ʼn pistool saambring, Pappa’.
Die ongeloof, die onmeetbare wanhoop in hom deur die maand, die wete dat sy pa kom, maar ook die wete dat hy die dood verkies bo wat ‘hulle’ hom wil laat doen.
Die gesoek na ʼn wapen, die kry daarvan, die vrees en hartseer in hom, en die absolute wanhoop wanneer hy besef dat hy Karien gaan verloor. Dat hy sy hart gaan verloor, dat hy haar nie in sy vertroue kan neem nie, maar die onwrikbare sekerheid dat hy sy pa sal red van wat dit ook al is, en hy het geweet wat dit is, hy was daar.
Hy vergelyk sy eie verlies met dit wat sy pa kon oorkom indien hy nie help nie. Hy was nie drie nie, nee hy was reeds vyf toe hulle hom daardie dag weg van sy ouers gevat het, hulle het net besluit om hom jonger te maak vir die skoolgaan se onthalwe.
Hy vat aan die letsel agter sy linker oor, daar waar ‘hulle’ ʼn detoneerder ingeplant het, en hy beleef die vrees wat hy en sy ouers beleef het, oor, en oor. “Ons sal hierdie outjie in ʼn miljoen stukke opblaas, indien jy nie doen wat jy gesê word nie Nkita, glo my hy is niks vir ons nie, niks.”
Sy pa en ma se ineenstorting, “Los ons kind, julle het wat julle wil hê, ons, en alles wat ons moet doen.”
Die uitruk van die detoneerder uit sy kop, die pyn, die vrees, die ongelooflike vrees wat ʼn vyfjarige kind kan kry, en die ongelooflike nagmerries wat hy vir jare gehad het. Dit is alles in sy kop, en hy bid dat Karien by hom kan lê, sy met haar rustigheid, haar kalmte, haar sagtheid wat sy haat wegneem.
Hy beleef die vlug deur die nag, die pyn in sy lyf, sy kop, sy hart, en die staat van bewusteloosheid wat hy ingegaan het na die derde dag op die pad. Dan die aanhoudende vrees dat hulle hom sal kom haal, en hy is so oud in sy moegheid soos wat Nkita Chernokof is.
Hy druk deur, hy staan op, klouend aan haar hand, haar krag en liefde, en sy vat hom huis toe, na haar huis toe, die wegsteek is verby, die wegkruip is verby, en sy wag geduldig vir hom om homself te vind, sy ongelooflike passie na haar weer te vind, en wanneer die volmaaktheid van hul samesyn kom, weet albei, nou is die lewe reg, nou begin dit waar dit onderbreek was maande gelede.
Nkita en Anetzske Chernokof word mense wat weer gebore is, kry hulle kind terug, kry hul vertrouelinge terug, en kry ʼn dogter wat hulle so begeer het, en hulle lewe is volmaak.
Karien is daar, elke dag na skool, “Ek bly by die skool want jy moet nog eksamen skryf, en dan gaan ons twee verder studeer. Ek om die geneesheer te word wat ek wou wees en jy om alles te word wat jy wil wees,” en dit geval hom, en hy begeer om saam met haar student te wees, net jongmens te wees, en hy begeer die dag wanneer hy haar in sy arms sal neem om vir ewig langs sy, sy te staan, sy vrou.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 54
Kommentaar telling: 1

Ek is huidig ʼn Projek Bestuurder in een van die grootste Finansiële Instellings in Suid Afrika, met ʼn twintig jaar betrokkenheid by hul Afrika Instellings. Ek beskik oor verskeie graad-, nagraadse- en Industrie kwalifikasies met ʼn PhD van die Universiteit van Pretoria, in Organisasie Gedrag. Ek skryf reeds oor die afgelope twintig jaar kort- en langer verhale. Ek het deur Dagbreek Uitgewers twee boeke gepubliseer. Waar Liefde Begin 2019 en Waar Liefde Eindig 2021.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 110 gaste aanlyn

Bydraes – Argief