Bariumsulfiet en Pergasie
Bariumsulfaat en Purgasie.
Ek het my dié storie so veertigjaar gelede laat vertel deur oom Piet uit die Noord-Transvaalse bosveld. Glo erg geplaag gewees met sy maag. Skaars iets geëet of gedrink of hy wil dood van sooibrand. So erg sêg hy, dit brand soms van dóér onder uit sy maag al apdraende verby kronkel- en enkelderm, verby kleppe en opstuksies sy keelgat en kleintongetjie verby om warmer as die vlamme uit ʼn drake-bek hom van binne houtskool te verbrand! Ja, sê hy, mens kan die gevoelte beskryf soos die hitte van ʼn weghol veldbrand wat deur ʼn poplierbos tier na ʼn droë jaar met die aanjaag van Augustuswinde…
Oom Piet was nie juis sterk van postuur nie moet ek dadelik sê. So gesê moet mens dan ook verstaan dat hy ʼn lae drumpel vir pyne en ongemaklikhede gehad het. Dan had hy ook nog ʼn gestelte wat nie so gedienstig op medikasie reageer nie, met die gevolg dat koeksoda, melk, vuurhoutjiekoppe, hardekool-as, melk, alle ander oumensrate, ja selfs dollosgooiers en noem maar op, hom mos later geen verligting meer kon bring nie. Naderhand so vererger dat selfs skoon water hom die hêl se poorte binne brand en toe word hy ten einde laaste aangesê om Pretoria toe te gaan vir kammarasluk.
Aanvanklik het die Omie botweg geweier. Belowe hy sterf eerder as om die kameragedoente by sy kake verby te verdra want, seg hy: “Wát van ‘n spul artse het ons deesdae wat so agter geldmakery aanjaag dat hulle skoon verleer het om net maar in jou bek af te loer om te wéét wat skeel? Sôrre mos net vir mekaar, want die een paas jou vir die ander aan wanneer hy genoeg gemelk het, en die ander paas jou weer aan, melk, en stuur weer verder vort en op die ou einde sit jy platsak en hulle ry in hulle se luukse motors hulle wildplase –alles gekoop deur jóú sweetverdiende ou geldjies bedoel vir die oudag!- plat en daarna gaan lê hulle hulle se leerbanke op hulle se strandhuisstoepe lendelam met die beste whisky deurdag aan die lippe en word kettingrokers met die duurste sigare!”
Maar toe Dood die oumens amper wou vat oor hy nie kos of water kon sluk nie, toe skrik hy homself tot samewerking en half uitgeteer en swak is hy toe darem ter selfbehouding Pretoria toe.
Bariumsulfaat… Vir leke soos ek wat duister loop met medisyne en verwante goeters, was bariumsulfaat toentertyd (Deesdae dalk nog!) onontbeerlik vir die Internis om die mens se binnegoed te kan beloer om te sien of daar nie iewers binne onheil skuil nie. So moes oom Piet dan ook die goed sluk om aardig van die binnekant af(!) deur ‘n vreemde op ontoeganklike plekke beloer te kon word. Hom toe maar so gewend daaraan voorgedoen as wat die vermeende aantasting van sy waardigheid en trots gerek kon word want, so het hy homself vertroos, plaasmense hoef nie te adverteer dat hulle backveld is nie. Toe maar kort-kort op bevel gesluk in aardige naarheid. Natuurlik meer teen die naarheid wat langs die pyp in sy keel af dreig as die sulfaatgoed self!
Uiteindelik klaar en pypie uitgetrek, word hy gedwing om purgasie te sluk. Vir hom gevoel, sê oom Piet ergerlik, asof die verpleegsterjie met die volume wou probeer opmaak vir al die verliese aan water wat hy oor die jare gely het! Genadiglik tog ook darem hierdie versuippoging met swoegende swaarkry klaargekry, ‘n paar vinnige draaie in die stad gemaak (In opdrag van Ma !) en toe pad gevat t’rug huis toe.
Oom Piet sê so halfwas na Petronella, toe blaas sy buik op. Hy sê hy voel later nes ‘n dikgepompte dikwiel Herculistrapfiets. Sêg voorts dat so op twee bar het sy knypers beginne lol om vastrapplek te hou teen die gassige oorlading wat natuurlik van die purgasie stam! Toe sy knypers in ‘n onbewaakte oomblik so ‘n rapsie gly, sêg oom Piet, kry hy ‘n slow puncture… Nie té erg nie, dag hy uit onkunde. Net so ‘n skimpie winderigheidjie. Maar dooie koeie, seg die ou mens skaam vir homself, wat van ‘n aardige reuk! Word hy glo só naar vir sy eie slow puncture dat hy moes stilhou om nie die binnekant van sy kar te bemors nie!
Na die stilhou en stilstaan om neusgate weer reukloos te adem, sê oom Piet, het die duiwel hom so in sy toegelate skande hom mos mooitjies kom staan en verlei… Maak hom toe agterop sy Springboksigaretdosie (Ouer mense sal onthou dis darie een met die springbokvel op die oopmaakkant afgebeeld.) skryf: “Ek is doof. Ry Louis Trichardt toe. As julle wil saamry knik die kop. As julle wil afklim klop op my skouer.” Die oumens sê hy ry toe so ‘n ent terug waar hy so effe by twee weermagsoldaatjies verbygery het, maak ‘n u-draai en stop. Natuurlik kom die twee oop-en-toe met hulle se kidbags aangesnol, té bly oor ʼn versekerde rygeleentheid. By sy venster lees hulle die boodskap op die sigaretdosie wat hy uithou, knik die koppe en die een sê vir die ander: “Klim jy maar voor by die Omie in.”
“Nee wat, hy is mos doof, ek klim ook sommer agter in dan kan ons mos lekkerder gesêls.” sê die ander en so trek die prosessie weg Noorde toe.
So uit die knape se gesêls agter hom, sê oom Piet, kon hy agterkom dat die tweetjies altwee op Voortrekkerhoogte met verpligte militêrdiensplig besig is en albei van Pietersburg is, uitsien na die kattemaai met die meisies daar, maar veral ingenome met die gawe rygeleentheid wat hulle so te sê op die stoep van hulle bestemming gaan besôre. So met hulle onophoudelike gekweel soos van vinke in ‘n rietbos agter hom, sêg oom Piet, bou hy gebasterde winde ( Natuurlik verwek deur bariumsulfaat en purgasie.) op tot ‘n byna onhanteerbare vier bar en toe daar ‘n swaar trok van voor by hulle verby dreun, lig hy sy een boud net so ‘n ongemerkte effe en los die knypers. Die klank van die knor natuurlik gesmoor deur die trok se geraas. En oom Piet hoy sy oog op die truspiëetjie om reaksie dop te hou! Niks gebeur toe nie…. Aanvanklik. Maar na sowat vyf sekondes verstik die aan-die-woord-knaap in die middel van ‘n lettergreep en dop sy oë om dat jy net die wit sien soos dié van ‘n jaaroudbulletjie as die kastreertang toegeknyp word! Daarna skuif die knape weg van mekaar (elkeen styf teen sy eie ruit!) en beloer mekaar om die beurt so ongemerk moontlik, maar agterdogtig onderlangs.
By die derde boudlig, vertel oom Piet met groot genot, kon die een knaap dit net nie meer vat nie en sis: “Is dit jy wat so goor poep?”
Verbaas en beledig reageer die maat:”Is jy gek? Dis nie ek nie!”
“Dan moet dit die ou donnerse dowe bliksem hier voor wees!” en met dié klop hy oom Piet só hard op die skouer dat oom Piet amper beheer oor die voertuig verloor want hy geloof sy sleutelbeen is teen die skouersening ontwrig en verder hélemal gefragmenteer! Oom Piet sê toe hy daar op die haai vlaktes stilhou toe spook die twee by die agterdeur uit soos twee werfhoenders wat in ‘n hittegolf in Wes-Transvaal onkapabel gebrand is en gelyktydig deur ’n kuikendief beduik worre en nog voor die kar tot behoorlike stilstand kan kom steun altwee asemophouende by die agterdeure uit en die knaap met die sleutelbeenbreekklop lig sy eerlike, en vir hom ál logiese verklaring: “Die dowe kadawer het so wragtag in sy broek gek*k!”
Oom Piet sê hy’t nie te vêr van die aflaai moes stop nie want hy kon nie meer pad sien soos wat hy lag nie. En so, leunend met sy hande op die kar se dak, kom daar na ʼn rukkie ʼn baie grand kar met die symste tweetjies snoesig op die agterste sitplek verby geflits. Oom Piet sê en net daar toe “oë regs!” die knape met so ‘n gelykheid soos wat jy in die Army selde sal kry en, sê oom Piet, hy kan amper vir die waarheid voorspel die vuilbekmannetjie sou beterweterig en vermakerig vir sy maat gesê het: “Jou mos gesê hy het sy broek be***t!”
En jare daarna toe dood die oom gladnie eers oor sy maagkwale nie maar sommer skielik aan sy hart!
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
hier het ek nou lekker gelees aan hierdie storie