Jan in die winkel
Weet julle, nou die dag stap ek saam met Jan ‘n winkel binne, sommerso ‘n kruidenierswinkel van ‘n bekende ketting-groep. Ons twee was weer oppad iewers heen, ek dink dit was Loftus toe, maar dis nie van belang nie. Ons wou net twee koeldranke en ‘n pak droëwors koop, want manne kan mos nie Loftus toe sonder die tipe goeters nie.
Wel, toe ons by die betrokke winkel instap sien ek iets en ek ruik iets. Ek sien ‘n man besig om ‘n hoë toring te bou van koeldrankies wat in sulke klein katondosies verpak word, sulke boksies is nou nie die tipe volumes waarna ons sou kyk nie, so ons hou maar verby, maar ek sien die ou op die leer en glimlag so stil by myself. Die tweede ding, die reuk wat my aanval, ruik soos iets wat ‘n week gelede dood is, en ek kyk sommer dadelik half agterdogtig in Jan se rigting.
“Nee wat Tjomma” sê hy glimlaggend, “Dit was nie ek nie”.
Die reuk is amper oorverdowend en ons maak reguit vir die koeldrank koelkaste sodat ons so vinnig as moontlik daar kan uitkom. By die koelkaste is daar nou net mooi niks wat ons wil drink nie. Daar is net van hierdie kamma-koeldrank wat nes die regte een lyk, maar glad nie so proe nie. Ek en Jan is dit eens dat daar geen sin aan “kaffienvrye” koffie is nie, en so ook met “alkaholvrye” drank. Ons het al lang aande die logika van sulke onlogika bespreek en op net mooi geen antwoorde uitgekom nie. Dis amper so erg soos vegetariërs en atëiste, maar die spulletjie is nie nou ter sprake nie.
So beleef ons ‘n hele bloutjie by die koeldranke en skoert vinnig na die biltong opslagplek. In ‘n warrel, niesend en amper naar van die reuk daag ons daar op, net om te vind die droëwors is ook op. Ons vra selfs ‘n winkelassistente wat lyk asof sy iets weet, maar dit was blykbaar net die gevolge van goeie grimering, want sy het ons blykbaar glad nie verstaan nie. Haar totale stilswye teenoor ons pleidooi gepaardgaande met die reuse stank het blykbaar beide haar gehoor en verstand aangetas, en ons vertrek toe maar weer, direk deur se kant toe.
Skielik draai Jan in ‘n verkeerde rigting, en ek weet sommer instinktief dat daar nou iets gaan gebeur. Ek wou nog keer en protesteer, maar Jan het my net gekyk en sy vinger voor sy mond gehou.
“Sssshhhhht” sis hy deur sy lippe en ek sien hoe die lagplooie om sy oë begin saamtrek, en toe begin ek so half en half uitmaak dat Jan ‘n man met ‘n plan is.
“Ag ja wat!” antwoord ek effe te hard, maar net om seker te maak dat enigiemand wat nog by hul volle positiewe in die stink plek is, en dalk daar werk, my sal hoor, “Niemand sal dit ruik in die stank nie!”
“Netso” beaam Jan my woorde en knipoog terwyl hy in ‘n sagter stem direk met my praat. “Al wat hul hier nodig het is ‘n bietjie klank om hulle wakker te maak”, en net daar weet ek wat hy beplan.
Ek begin lag en haas my na die deur, want hier kom ‘n ding en ek moet hier uit. Toe ek omdraai sien ek Jan talm so ‘n bietjie by lekkergoed en sjokolade, so net langs die man op die leer wat die toring met die koeldrankdosies bou. Ek sien hoe Jan draai en ek sien hoe sy nek rooierig raak soos hy net so ‘n rapsie “force” toepas, en toe hoor ek dit.
Dit klink soos ‘n diep brom van ‘n honger leeu, ‘n baie kwaai, honger leeu wat geen koeldrank of droëwors kon kry nie. Dis so ‘n lang grom met nog so ‘n klein grommetjie agterna soos Jan sy linkervoet oplig en tippitoon staan en sy misnoeë finaal uitdruk.
Die man op die leer skrik hom boeglam. Hy dog seker daar’s ‘n ongedierte los in die winkel, en met die geskrik skreeu hy “Aaauuh” en gooi sy arms in die lug. Nou dit moes hy nie gedoen het nie. Mense op lere moet nie vinnige armbewegings maak nie, nooit nie. Die arms vlieg op, die lyf verstok van skrik, die leer wankel en die man stort na benede reg bo-op sy toring van koeldrankdosies.
Die hele plek spat vol dosies, die leer kletter op die vloer, die man gil nog ‘n keer en totale pandimonium bars in die winkel los. Op wonderbaarlike wyse verskyn Jan, soos ‘n onskuldige skim, hier langs my en ons twee stryk vinnig aan na die bakkie.
“Nee wat Tjomma” verduidelik Jan so in die stap, “Ek raak baie ontsteld as ‘n plek soos die nie my koeldrank of my wors het nie, en dan stink dit ook nog so vreeslik”. “Ek belowe jou” sê hy toe laggend, “Die stank was nie ek nie, maar die klank was, en dis wat ek van hulle dink. Hulle kan kies, die kleur van my geld of die dreun van my pens”, en Jan skud soos hy lag. Daarmee klim ons in die bakkie en gaan soek koeldrank en wors op ‘n plek wat nie so gevaarlik is of stink en dreun nie.
Grootvissie
Augustus 2017