Jongste aktiwiteit:

Ernst van Heerden
vir

Ernst van Heerden

Ballade Van Die Selfmoodenaar

Dit is die swaarste pad, loop anderkant verby,
en laat dié oog se luik geslote bly;

Sê: hy had geen liefde, niks was vas of waar,
en glo dat dit die brein se knak verklaar.

– Die boot is omgekantel en die meeue kras
waar volle seile en ‘n sterk roer was –

Kon hy jou ligte pyn en klein ontbering dra,
van sterwensiekte sou die siel nie kla;

Maar hy weet dapper dat dit skemering word,
en soek die antwoord – bitter, snel en kort.

Jou effenheid is deur ‘n rimpeling verstoor,
maar hy het onrus in die ewigheid verloor.

Dus juig, o hart, oor bloed en lem,
die sku en wilde dier is eindelike getem.

WINTER IN DIE KAROO

Die N. G. Kerk se toring
– pseudo-Goties punt-in-die-wind –
strooi swaels en galmconfetti oor ons dorp;

die son se heuninglig besproei
die groen-wit botgeheim
van perskeboom se kandelaar;

my kindervingers strik ’n muiswip
(vang!): die lewe broos en wollerig
onder my onderhandse hand.

Die dag bevestig my, sy ure stroop my af,
maar die aande byt en knetter
in wedersydse houtverband.

Op water soek die potskerfmaan
in duisendvoud vergeefs herstel:
ons leidam rimpel reeds sy yslaag uit;

deur stiltes ewiglik verseël
– verby die leed van roem en eer –
is alle deure winters: vroeg gesluit.

INSIDENT

’n Verskrikte perd het in die stad op loop gegaan,
’n fietser omgestamp, ’n winkelraam versplinter,
teen ’n trem gebots,
en lê nou hygend in ’n groot plas bloed
met ’n gebreekte been.

In sy oopgesperde oë
draai ’n motor en ’n uitstalruit,
en skuim bol by sy neusgat uit.

Sy baas hurk neer by hom
en hou die leisels vas,
lyk ongemaklik stug,
en wag.

Die menigte drom saam,
bespreek die woestaard en sy nuk,
stap om en om, nie meer bevrees,
en dink maar weinig aan
’n stoere trekdier voor die ploeg
en lang blink vore waar die meeue raas.

VERWAGTING

Sy heerskappy is ingeperk
tot praalgraf, suil en piramied:
’n hof van dooies en verstriktes
waar ’n koning na die kerkermure staar.
Al sou die sandsee
deur die sandsteen vreet,
die maer wang en die biltonglyf
is onvermurfbaar
– tabaktou wat nie meer verdor
en net die ryk geur van die jare berg –.

Dié Faroa glimlag skaars,
kyk net, en voel miskien
die goue eeue
soos korrels warm sand
langs sy lieste gly…

Geduldig trek sy karavane
na die windompspoelde palms
waar die lugspieël-water blink;
maar hol oë spreek uitdagend
van die geil en oerou
balseming van die gees.

Die bokser

Die grense van die klein kryt
is hellende onvastigheid.

waar wit bors fier teen wit bors staan
en skim teen skim die skynhou slaan;

vier donker oëblits fel en woes,
wyl twee gedaantes mik en koes;

maar elk groteske vuis se smak
laat lis en weerstand verder knak . . .

die liggaam is so rank gebou
en weerloos teen dié man se hou;

tog sal my mokerslag hom tref
waar hy hom vaag en grysend hef,

sy beeld versplinter in die glas
waar netnou my gestalte was;

‘n flikker-weerskyn word verskerf,
‘n lyf stort soos ‘n goring-gerf . . .

Wie is die man wat roerloos lê,
wie’t ‘n bekende naam gesê?

Waarom die skaar aan’t roe pen fluit,
en waarom flakker ligte uit . . . ?

Die hardloper

Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot ’n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

Wie is die ongesiene makker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog ’n bors die dun wit lint mag vind?

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.

Fusillade

Die nanag is al heen,
en die donker môre-uur omwelf die aarde;
die gevange is verdwaas en stom,
as hy die seldeur met die witgekraste kruis
verlaat en tussen stroewe wagte
star die strompelpad aanvaar;
die verre heiligheid van blou en duisternis,
die dun dolk van die maan,
die deernis van die wit muur
is hom alles vreemd;

Geblinddoek vind sy oë vastigheid,
dan draai daar skielik kringe lig,
– eers dof en skugter-flikkerend
soos kerslig agter ruite –
en dan ‘n ster, ‘n maan, ‘n son,
‘n vlam van God,
en stralebundels wat die daeraad
in glorie teen sy oog se lede brand;

Hy dink aan kinders, voëls en bome in die son,
aan lande waar die gerwe geel lê,
aan water wat ondenkbaar helder vloei,
aan wolke-vaandels wat hoog en ver uitwaai . . .
hy dink aan koppie-klanke, vroeë rook,
en die uitroep van ‘n vrou,
aan warmte, heimlik en soet,
aan perde se skorre gerunnik,
die stofpas van die aandtrop teen die bult
aan die meul wat so doelloos draai . . .
Soldatestewels knars op gruis,
gewere word so flink soos blits gerig,
sekondes en eeue gaan verby . . .
die skietbevel bly uit.

Na die front

Toe ek die laaste môre brood kom eet,
kon ek my hartseer aan jou liewe hande meet;

toe ek my rantsoen pak, komberse rol,
was my gedagtes van jou oë vol;

toe ek vir oulaas staar, die deur toestoot,
toe spieël my hart hom in jou hart se nood

toe ek die straat uitgaan en nie weer kyk,
het jou sagte hare oor my wang gestryk;

toe ek die trein inklim, met wrange lippe groet,
was jou mond ‘n siddering, jou kus ‘n vloed . . .

Toe ek die sneller en die blink loop vas omklem,
kon ek van jou g’n enkele trek herken.

Vraag van die Boogskutter

Wat is die verste wat die boog kan span,
hoeveel kan hierdie taaie pees verdra . . . ?
sal die vering van geloof
nou nog ‘n laaste pyl
laat spring en stort,
(waar konsentries-swart die sirkels van die brein
‘n klein heelal omspan),
en feilloos tot die kern dring . . . ?




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed