Jongste aktiwiteit:

Mites
vir

Mites

Liewe Celeste,

Dankie vir Salomien en Leon se vakansie daar by jou. Ek waardeer dit. Dit is nie altyd maklik om die twee te verstaan nie. Ek is bly hulle kon vir ‘n rukkie net weg kom. Hulle het alles maar veral die bootrit op die Sarie Marais vreeslik geniet. Baie en vele dankies vir jou omgee.

Dit was, laasnag, net voor een. Dit is weereens van die mooiste kragte om, in die nag, te sien. Die weerlig speel in die donkerste wolke. ‘n Mens kan die donkerwolke duidelik sien aangeblits kom. Nannumatse het sy swepe baie hard geklap. Hy het die perde goed ingespan. Hy kan hulle lei tot waar die nood die hoogste is. Hy het daardie perde aangeja tot hier bo ons. Dit was oor ons gejaag. Daar was geen reën nie.

Ek sit soutsak, hier by die stoeptafel. Ek moet stilsit. Ek kan nie op en af loop nie. Die plankvloere, se gekraak, maak die ander wakker

.
Baie nagte sak my lyf oor die sompomp se alfabet, om vir jou my gedagtes en stories te verwoord. My vinger dobber oor die skaakbord van die deurmekaar-alfabet.

Ek het my handevol om iets op die sompomp se  geheue te kry, hande vol dom vingers. Die vingers het die gewoonte om oral heen te voeter sonder rigting. Waar is die a b c soos juffrou my dit geleer het? O genade help tog, ek het my hande vol vingers en ‘n rigtinglose a b c. Die ou wat hierdie letters op die orrel geïnstalleer het het geen blerrie idee van die a b c nie.
As ek van my vulletjiedae so geleer was kon ek daaaaaaalk verstaan. My juffrou het oop-oog deur die lewe geloop en my tog reg geleer met haar diktee. Sy het volbek geleertertgeid gehad. Nou suip ek aan die vyfde speen, met ‘n wêreld wat rigtingloos voor my oë, op swart klawers, van ‘n joodse-orrel gegraveer is en vingers wat rigtingloos ringkink . Daar is niks in my onthoue van so ‘n deurmekaarspul nie. Dessitol, heigend hert. Help asseblief. Met my een vinger

vorm ek darem tog daardie woorde wat ek graag jou wil laat lees. Die woordpomp word ‘n woordbouspeler, van een vinger, waarin ek my siel uitstort. Soms is my sinne en woorde dalk te verwilderd . Miskien is ek te lank in die land, of te oud, of te pleinsjert, om dit alles mooi te laat verstaan.
As my vinger rigting kry, in die vroeg-oggend, is daar ‘n ander landskap in my gees, ‘n landskap van rus en vrede. Die uiteindelike is dalk onsegbaar, maar nou is alles veroorloof en alles is moontlik, omdat ek skryf wat ek wil skryf. Pyne tel nie as ek hier sit en skryf nie. Ek probeer altyd die mooi beleef en saam dra.

Beweging : Die gerusstellende asemhaling van die windjie. Die ligte windjie wat deur die blare speel en oer-stories vertel, en ek hoop die windjie waai so dat jy die grond-asem daar, vanoggend kan ruik.

Geluid : Die veld en veerdiere sal ons musiek wees en ek het die swiempie-, die koukie-patrys, die rooikop-fisant, die uiltjies, die korhaan en ander geselskap vanoggend gehoor, die skarreling van die raasblaar, die skielik skerp gefluit van die duifvalkie, die roep van tarentale, die gesprek van die velde.

Daar was iets onbehoorliks aan die muisvoëls se gesprek met die besoekende immigrante, Europese byevangers. Dit klink asof hulle sou sê o-fokiet o-fokiet- o-fokietie, aanmekaar.
Proe : Heerlike koffie wat heerlik smaak

Reuk: Koffie wat in my neus ook ervaar word.

Die vroeg-oggend is vir my daardie intense deel van die mooi van hierdie aarde.

Die oog is die venster van ‘n mens se siel. Al die mooi, wat die Bosveld vir my spel, is om my. Tussen die kleinsspoordiere se kleur en beweging, tussen die takkies se ritsels, in die oomblikke se stiltes. Soos die manier wanneer ons vir ‘n tydjie in ‘n gesprek stil word. Daar is totale oorgawe as jy daardie mooi oomblikke aangryp, hier op die stoep. Dit is asof jy nooit genoeg van die mooi kan beleef nie. Ook te lag, gelukkig te lag en te gesels en te gesels, oor die snaaks van die lewe. Daardie mooiste uitbundige vreugde, ontdek ek altyd hier diep binne my.
Dis met volle aandagtigheid as ek na die horisonne staar, op soek na nuwe avonture. Die lewe is ‘n ontdekkingsreis, waarin ek gereeld die ongeskonde mooi kan ervaar, soos saam met Oom Ockie of Cerneels Riekert, of my ander kliënte, daar op die plase rond te ry.. Oomblikke van wonder, wanneer ons nie probeer om al die mooi, van die wêrel te wil verstaan nie. Hier is ek, en ek ervaar die heelal Daardie oomblikke se ervaring is genoeg, amper te veel, om ons laat leef en te lewe, te verstaan. Daar hoor mens al die stories en leggendes om te bewaar en te vertel. As Einstein nie daar in Italië rondgedwaal het nie het ons nie die realiwiteitsteorie gehad nie. As ek nie road trips neem nie, het ek geen verhale om vir jou te vertel nie. Morongwa, die gesante engel, loop saam met my. Ek kan die pad vind en vat. Ek sou ook nie Kranskop se verhale geken het nie as ek nie padvat ken nie.

Jy het baie geleer uit boeke ek het baie geleer by mense en hulle stories.

Daar neffens die tolhek, by Nylstroom, nou genoem Modimolle, is die berg Kranskop. .Kranskop is vir die swartes Modimolle , nou Nylstroom se nuwe naam. Modimolle beteken waar god geëet het. Op die westelike hang is daar ‘n groot rotsplaat waarin handmerke en voetspore voorkom. As kind het ek baie keer die berg geklim. By die swartes leef die mitologiese verhaal dat toe die skeppingsgod die wêreld voltooi het, het hy teen Kranskop geleen en sy handmerke het in die klip ingebrand. Die aarde was toe nog sag en die voetspore van die eerste groot voorvader, word daar op die berg bewaar. Hier het ook Modmathla gewoon, ons Adam. Hy was die eerste mens wat deur Modimo , God, geskape is. Vir die swartes omsweef ‘n mistieke aura hierdie kop. Vir hulle is en was die kop ‘n woonplek van die koningklike geeste. Hier woon die groot slang Mamogaswa, wat sterk winde en orkane veroorsaak, ook Mphete, die jagluiperd met ‘n mensekop. Hier vind die Sangoma die sterkste medisyne, daarom is die kop ook die medsisyne-berg van die Sangomas. Hierheen gaan die vernaamste sangoma , om tydens groot droogtes, ‘n offer aan die voorvader-geeste te bring. Hier offer hulle, die sangomas, van 1994 af, hulle oorwinning oor die blankes.

By die Voortrekkers was daar ‘n groep die Jerusalemgangers. Die Jerusalemgangers het die rivier by Nylstroom gesien as die Ny van Egipter en dit ook geglo Gerrit Moerdyk het Kranskop gebruik en deur die vorm van Kranskop het hy die Voortrekkermuseum geskep. Kranskop was vir Moerdyk die berg Sinaï van die Afrikaner. ‘n Road Trip bosveld toe was nodig om die Voortrekker museum te skep. Uit dit wat die oog sien skep die gees. Uit sy baie besoeke aan die bosveld, het Pierneef sy bome op papier laat leef. Sy Road trips bosveld toe het hom laat skep. Erich Mayer het Road trips nodig gehad om te skep en sy Road trips het hom beroemd gemaak.

Mag jou road trips vir jou ook altyd nuwe stories en verhale skep. Mooi dag vir jou

Liefde

Pa.

Kopierreg G F Rossouw




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed