Jongste aktiwiteit:

Aniki Joseph
vir

Aniki Joseph

Lees meer oor Aniki Joseph

Januarie 2025 – OOP projek

1.Blom waar jy geplant is

Ek het eenmaal ‘n adres in die hart van die Vrystaat gehad. Die Vrystaat sal altyd ‘n adres binne my hart besit.

Jare gelede verhuis ons gedurende Oktobermaand vanaf Bloemfontein na Knysna.

Die oggend toe die swaargelaaide meubelvervoerwa uiteindelik die adres vir aflewering bereik, trek die sluise van die hemel oop oor die dorpie met sy dennebome en lagune. Die bestuurder vergis homself met die nat kleigrond in die afrit, ry ‘n telefoonpaal om en die voertuig glipgly tot skuins voor ‘n reuse boom reg langs die voordeur.

Ek jaag almal suikerwater in en staar met misnoeë na die modderplasse oral op die blinkskoon vloeroppervlaktes terwyl manlief die logistieke bedaard uitsorteer en die meubels afgelaai word.

Dit suisreën 10 dae aaneen. Snags blaf en hap die hondekinders soos besetenes na vreemde geluide en bewegings in die bosdonkerte. Bedags vang hulle slange. Ek maak kennis met spinnekoppe so groot soos my handpalm en blinkswart skerpioene wat oor die vermoë beskik om tot bo teen ‘n plafon te klouter. Verkyk my aan die bobbejaan wat op ‘n dag doodluiters homself kom sit en krap reg in die middel van ons bostuin.

Daar is ‘n verlatenheid aan die grysbewolkte dae wat die groot verlang soos ‘n klammerige gryskombers om my gemoed kom vou. Ek bid diskreet, ontken dit eers en bely dan tóg dat die muf en die mos besig is om my te oorgroei.

Ek verlang na plate wiegende kosmosblomme langs sondeurdrenkte voetpaadjies, die stof wat wit dynserig uit ‘n plaaspad opslaan en na sonneblom, klitsgras en disselblom. En na stofstorms, donderweer, bliksemstrale en die reuk van nat Vrystaatgrond na ‘n bui reën.

Snags droom ek van sandsteenhuise, kersiebome, groteske mierneste en plaasopstalle. Ek verlang na soetmelk-en- mieliepap, krakerige goudbruin skaapribbetjie en basaarpoeding, soet waatlemoen, straatgebeure, hekkiekrulle, negosiewinkelstoepe, toktokkies, windpompe, tarentale wat gestippel tussen dorings en gras koes-koes en ‘n granaatrooi son.

Dit is tydens ‘n Sondagoggend dat die son deurbreek en die dae geleidelik warmer word. Ek bak plaatkoekies te bak, toe ek die bokkie skuins langs die kombuisvenster gewaar. Onverstoord, kouende aan blaartjies. Spikkelvlinders dartel tussen boslelies en ek aanskou ‘n loerie vir die eerste keer. Ek hoor die murmelende gekabbel van die rivierstroom aan die soom van die erf. Iets aan die volkome rustigheid ontroer my siel. Later gaan draf ek langs Leisure eiland. Onderweg terug huiswaarts, merk ek dit op. In die middel van ‘n smal skeurtjie in ‘n geplaveide sirkel, tussen bleekgrys klip en sand, blom ‘n skelrooi papawer op ‘n tingerige lowergroen stingel.

Ek leer dat die bos nie by my gaan aanpas nie. Dit is ék wat by die bos moet aanpas. Ek en die bos vind mekaar.

Die jare wat ons in Knysna gewoon het, sorg uiteindelik vir die mooiste hoofstukke in my lewensboek. Tog bly die Vrystaat se uitdagings en verliese ook vanoggend myne…

 

Aniki Joseph




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak