Jongste aktiwiteit:

Rosalee Meyer
vir

Rosalee Meyer

Lees meer oor Rosalee Meyer

APRIL 2025 – AARDE PROJEK

2.In die heel begin (en nou ook) was daar niks

Daar het ʼn leegheid oor alles gehang.

 

Die aand was baie, baie donker en vrees en onsekerheid het soos ʼn dreigende monster die kar se binneruimte gevul. Deur die getinte vensters, het ek die omgewing beskou. En my hart was toegekramp deur ʼn angstige vuis.

 

Dit was nege uur, maar die straat het gewemel. Jong vrouens, met kleintjies aan die hand, het haastig verbygeskarrel, vasbeslote om nie deur die jouende stemme en gulsige oë voorgekeer te word nie. Hulle was soos rooibokkies, lugtig en paraat. Altyd gereed om te vlug. Die mans, baie van hulle, was groot en vol bravade. Roofdiere wat stertswiepend staan en wag.

 

Ek is woedend! Steeds briesend sedert Saterdag.

 

Ons moes ʼn jongmeisie, my seun se vriendin, hier aflaai. Hier tussen roofdiere en stinkende strate, tussen rommel en uitgeholde geboue wat leeg-oog staar na die verval.

 

Johannesburg se middestad is ʼn hool, maar steeds die Egoli vir baie hoopvolles. Werklose jongmense uit townships, wat met hoop en versugting in hulle harte, hierheen stroom. Net dalk sal daar vir hulle ʼn blink toekoms hier wag?

 

Ek is woedend vir hooggeplaastes wat hulself verryk ten koste van mindergegoedes. Wat die aarde vir hulself toegeëien het. Vet politici wat die aarde ʼn politieke speelbal gemaak het en wat steeds elke dag die reëls verander om hulle te pas.

 

Hoe moet God nie ween oor Sy aarde nie!

 

Ek verpes die sonde en die seer wat brullend hierdie aarde verorber, want wat nou hier aangaan, is meer skreiend as al Sodom en Gomorra se oortredings.

 

Saterdagaand sal vir altyd ʼn klad teen die mensdom wees. Die sogenaamde slimmes(dommes!) wat triomfantlik oor húlle aarde heers, maak my naar.

 

Die jongmeisielyf wat aangedu het teen myne, smagtend na ʼn veilige hawe, bly spook in my gemoed. Die trane in haar oniks-oë word my eie pyn. Maar in die reguit skouers het ʼn trots en vasberadenheid gelewe wat my met verwondering gelaat het.

 

O, ek het gegee. Kos en geld. Maar te min. My beste was te min en my hart is ʼn leë gat.

 

“Mama, I am so afraid! I am so lonely! But I am searching for a job, every day.”

 

Whatsapp-boodskappe wat my siel oopruk.

 

Ek wens ek kon vir jou die aarde gee, Meisiekind. Ek wens ek kon…

 

Ek is so trots op elke dapper tree wat jy gee. Mag God met jou wees.

©Rosalee Meyer

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed