Annamarie van der Merwe
Lees meer oor Annamarie van der Mewe
BRONSKLAS
Januarie 2020 – OOP Projek
3. Onaangeraakd
Voel jy my ontblote siel
se diepslaapdroomgevoel?
Kon dit maar skroomloos,
minder broos,
boomreikend beur
oor blou-vêr heen
en poog om ongesproke
spreuke vas te vat
om aan ons grense te verleen.
Want my hart smag
die holte van jou palm.
Maar daar is spasies
wat tussen ons talm:
tegelyk tasbare storm en kalm’.
Vóél jy my wag?
©ASvdMerwe
April 2020 – Grendel projek
2.Hartedief
My hart is toegesluit vir jou
en selfs al sou ek wou
kan ek dit nie meer oopmaak nie.
Die sleutels het ek vir jou gegee.
Maar wat maak jy daarmee?
Jy het dit goedsmoeds weggegooi!
En as ‘n sleutel eens verloor
vervang mens liefs die slot:
só hou mens ongewenstes uit
wat in kan kom om leeg te buit.
©ASvdMerwe
Julie 2020 – Klanknabootsingsprojek
1.Nonnetjie
Saans kom jy hartjiewit
geruisloossag op donker dakke sit.
Hoe kan iemand daarin onheil sien?
Hoe ondeurdag, hoe sinneloos
om jou te merk as boos?
Hoe strooi hul goedsmoeds sonder spyt
die gif wat húl eerder verdien?
Ja, deurnag huil die vraagverwyt
wat in jou aandroep skuil:
Hoe-hoe?
©ASvdMerwe
Desember 2020 – OOP-projek
1.Wat koolslaai maak verraai
In opgekerfde lewens
het ek dit byna misgekyk:
vervlegd geskied
ons jare
en tussen blare
bros en broos
se plat en glad,
se kronkeldiep
het jy waterdou
genesteld
blink aan my blare
vasgeklou.
Tussen elke vou
sién ek jou nou.
©ASvdM
Januarie 201- Verwagting(s) projek
1.Alexanderbaai
tuis bly verwagtinge
bekend
maar beperk
jy weet gewis
dat die see
soutblou is
***
sou jy die uithoek
van jou wêreld
se grens besoek
vind jy golwe wat Oranje bruis
seewater sonder sout
woestynvervlegde vleiland
flaminke op die strand
‘n verlate diamant
©ASvdMerwe
SILWERKLAS
Maart 2021 – Liefdes projek
1.In Ocean Basket
Sushi is vis. Dood en rou.
So ook jy en my verlange na jou.
Ek eet alleen aan die groen goed
met die naam wat ek altyd vergeet.
Dit slaan my asem weg
en brand ‘n pad af in my keel:
amper so intens as die seer
om te weet dat ek jou naam
straks eendag ook vergeet
as die brand bedaar
soos ek spartelend
weer swem.
Annamarie vd Merwe
Mei 2021 – OOP projek
1.Genisis
Ek wou eens my geloof opsê:
toe jy as ster verskiet,
my aarde onherstelbaar kantel,
die wêreld in sy kern krummel
en lawastrome vastigheid versmelt
tot vormlose plate koue klip.
Maar ek’t besef ek kan nie:
hierdie breinlose bondel eensellige niks
gaan nie evoleer uit die chaos
om as sterkere te oorwin
en morfologies aangepas
verbeterd te funksioneer nie.
Al waaruit ek lewe skep
ís geloof.
Annamarie vd Merwe
Junie 2021 Interteksualiteits projek
2.Petisiepeloton
Ek sal vanuit ‘n laer van ink*
my met die pen verweer;
magsbehep se onheilswaard
van my erfgoed wegkeer.
Woorde laat opklink, snel en luid,
bó-oor verwoesting uit;
téén gulsige vergrype
wat my grond, geloof, geluk
vir ewig wil vermink.
Ja, plak my teen die linies,
slaggereeed,
in laer met pen en ink.*
*BRONTEKS: Plak my teen die linies, Ink Moderator
©ASvdMerwe
FEBRUARIE 2023 – BLOU PROJEK
1.Die bloudruk bevry
Hulle dink hulle is vry*
waar hul die bloudruk vermy
en boblinkbou**
bloot deur eie impulse gelei.
Hulle dink hulle is vry
waar hul grense oorskrei
sonder reëls wat hul verantwoordbaar hou
en gerieflik so alle gevolge vermy.
Ek bepleit vir my kinders vryheidsbande wat bind
sodat hul vasgeanker hul voete kan vind
en vreesloos vrylik kan leer om te leef
– nie as dwaaldrifsels*** sweef op elke nuwe wind.
Binne ‘n bloudruk met grense en bande wat lei
beleef hul tot beswil: “Hulle is vry!”
©ASvdMerwe
* reël uit Laurika Rauch se lied “Bloubergstrand”, woorde en musiek Udo Jürgens/Thomas Christen/Christopher Torr
** boblinkbou: n.a.v. bo blink, onder stink. Eindpoging vertoon dalk mooi maar ontbreek aan waarde.
*** dwaaldrifsels: sonder doel dwaal jy rond nes opdrifsels voortgesleep en uitgespoel word
Junie 2023 – Winter projek
Eervolle vermelding
Haikoe(Sneeuvlok)
sneeuvlok trane drup
winterkaros vlokkiedons
warm kaggelvuur knus
©MarleneErasmus
06/06/2023
Neologisme:
Vlokkiedons – vlok wat sneeuvlok beteken + dons wat verwys na sagte, donsagtige tekstuur van sneeu.
Haikoe (yskristal)
yskristal skitter
kuns bestaan die heelal oor
vergaan steeds smeltend
©ASvdMerwe
Novemeber 2023 – OOP projek
3.Stilte by ’n swemparty
(Catrien se KPR – vir Catrien, Marlene, Dorinda en Chantelle)
Die blou van onse hemel
het in jou oë en lippe gelê
en in elke omstander wemel
hul ongeloof ongesê.
‘n Moeder wat roep:
“O, genade! Help haar!”
En voor hoop leweloos wegsink
kom ‘n roggel en ‘n skree
want engele kon jou hart druk
en hul asem aan jou gee.
‘n Gemeenskap bely:
“Sy genade bevry!”
©ASvdMerwe
APRIL 2024 – uIT DIE OOG AVN ‘N KIND PROJEK
1.Speelmaats
Die Karooson soek skamper
na maats wat wil speel
want die donker donderwolke
het hom dae lank verveel.
Kyk, sy strale lok ons skaamskelm na buit’
en die grondpad modder goud voor ons uit.
Daar wag ietsie int’ressant om elke draai
wat nou skoongewas in sonlig baai.
Ek hou jou hand deur die grasse,
die modder, die plasse.
Ons vaar bootjies, vang goggas,
veg drake, soek slakke.
Vol vuil en vol vreugde
keer ons terug na die huis;
drink ‘n groot glas melk
in jou ma se kombuis.
Ja, al is jy meisie moet ek tog sê:
“Dis lekker om jou as my maat te hê!”
©Annamarie vdMerwe
2.Glaad 1 deelles
Jufflou kan my en Lex “nie langel saam vedla nie”
(sy’t ons opgebleek, sodat ons haal nie meel pla nie).
Ek het pouse vil my maats ve-tel:
Mamma’t vil Ouboet tokse “aanlyn bestel”.
Hul weet ook ons huis is deulmekaal
en die blood was alweel klaal.
Hul weet lánkal Pappa en Mamma het opgebleek
(Mamma sê dis maal al wat skei beteken).
Numbel Blocks op Pa se foon het my slim gemaak.
Daalom weet ek Jufflou was ve-keeld gewees
toe sy sê: “Onewe getalle kan nie gelykop deel nie”
maal ek weet dit kan … almal bly net nie heel nie.
©Annamarie vdMerwe
(9)