Cobus Kruger
BRONSKLAS
JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK
3.Wintersoggend
dagbreek bloei uit
na ʼn bleekwit winterlyk
asemloos en stil
bedek met brosse ryp
in die toendralug
dwaal naakte bome
doelloos rond
hul takke tevergeefs
uitgestrek na redding
buite hul bereik
maar daar heers hoop
in hierdie opgewende oomblik:
minute huiwer onbenut
voetspore ongetrap
en wat ek uit vandag gaan put
vir nou nog onbekend
© Cobus Kruger, 2024
JULIE 2024 – OOP PROJEK
1.Onwaarskynlikheidsleer
ʼn gebreekte eier het van die vloer af opgespring
die druipnat jellie opgeslurp en in sy dop omsluit
my roosterbrood het teruggesak
geleidelik weer na wit gebrand
met knarsende kabaal het koffiebone hulself ontmaal
buite in die strate was elke brakkie stil
en paaie sonder gate het in suiwer swart geglim
nog verder, in die grasland wat ongetemd in winde wuif,
het die lammer lui en langsaam teen die grote leeu gaan lê
en terwyl die vark verbyvlieg
het ek myself ook reggeruk
vir al my antieke foute
het ek vergifnis gevind
© Cobus Kruger, 2024
SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK
3.Monochroom
soms droom ek in monochroom
van uitgebleikte vlaktes
bloeiselontbrekend en vlinderverlaat
wintergrou en naak
ʼn eensame voëlverskrikker,
sy gehawende jas
deursteek met halmpies strooi,
bespied die leegheid
belangstellingloos
en staan skut teen absente voëls.
in kort grepe gesels hy
met enkele gerwe
gedroog en geboë
in die wind
in die droom word hy omring
deur beenwit lappe as
en duine onbeletsel
deur spriet of steel of blaar
in selfs die witheid van die reënboog
sal jy geen kleur gewaar
en tog sien ek troos en skoonheid
in my skakeringlose nagte
want soms droom ek in monochroom
maar net soms
© Cobus Kruger, 2024
November 2024 – OOP projek
3.Ekwilibris in die mis
ʼn getoiingde kabel
tot breekpunt gespan
tussen hemelhoë torings
hul spitse verlore in die mis
en ek, lompaard, skuifel daaroor
onvas en onseker
altyd een struikel weg
van die dieptes daaronder
ek weet jy voel dit ook
vrolik, skaars veertig
het sy afgetuimel
weens ʼn bloedklont deur die hart
en hy, met ʼn voorbode in sy murg,
wankel onkeerbaar
my arms is te kort om te keer
my krete skril maar impotent
so ook hulle, so kwesbaar kranklik en broos
in die afstand reeds dynserig soos ʼn droom
ons reik na mekaar in die verbygaan
en streel vingerpunte vir ʼn gedeelde
oomblik van humor of liefde of nyd
en glip dan verby en verdwyn in die mis
want elke kabel strek na ʼn ander punt
elke ekwilibris is ʼn enkeling
wat steier na ʼn oomblik onbepaald
ʼn bestemming veels te naby
en ʼn val
heeltemal alleen
© Cobus Kruger, 2024
Desember 2024 – Kersfees projek
2.plastiek vrolikheid
blinkers, feeliggies en geskenke
omring ʼn plastiek boom vir kersfees
in die plek van vrolikheid sien ek
net al die nuut-vermiste name
Cobus Kruger
3.Hoekom jy ’n geskenkbewys kry
ʼn hoëveld-donderstorm
wat skielik elektries losbars
en stroompies deur mekaar laat vleg
pas moeilik in ʼn kersfees-geskenkboks
Cobus Kruger
SILWERKLAS
Januarie 2025 – OOP projek
3.om middernag
o, die gruwels,
die afgryse en wroeging
wat opskiet uit die ryk leem
van ʼn enkel ikoon op ʼn selfoonskerm
die sirkel, diagonal geskrap
basuin woordloos uit
dat alles, alles hier eindig:
geen wordle, om aan my woordeskat te werk
gholf-speletjies wat koördinasie opskerp
of die hoëvlak-analitiese denke
om tetris-blokkies reg te draai nie
die geleentheid is weggeraap
om vir Google te vra wie nou weer
“failing and flying” geskryf het
ChatGPT swyg oor hoe deepfakes werk
my moordverhaal-boeke staan ontoeganklik
soos stoïsynse speurders
in donker sielenag
wat my terugbring na die gruwels
die afgryse en wroeging
van ʼn man, ingehok
binne sy eie gedagtes
waar kommer in hinderlaag lê
en ontsnapping buite bereik bly
agter die gryswit mure
van ʼn hospitaalwagkamer
om middernag
Cobus Kruger