Francois Meyer (Gedagtes)
Lees meer oor Francois Meyer (Gedagtes)
BRONSKLAS
April 2021 – Oordenkingsprojek
1.koekoekbeleid
kru krake krit
die soveelste kalendersnit
as die vloermoer vir gunspolitoer
stil stol met paaseierwit
die damkerk volg haasstarrige waarheid
leuens wat eggo in leeg eier naarheid;
drup geleende tyd
haastig verby volgens die koekoekbeleid
eeu vir eeu beur tetelestai voort
haas die basuin … soos dit hoort
© Francois Meyer
Mei 2021 – OOP Projek
2.Uitspattig
in houtdorstige spel van stroomsproei
wemel die blydskap oor baldadige mosgroei
volhardend jubellend kabbellend
‘n drenkeling wat sopnat, bibberend stoei
oë gretig gerig op toegewyde roei
tog droogtong verbaas, eie siel wat bloei
sproeineus nuuskierig beslissend
dié stroom laat soms merke wat boei
deursigtige watergordyne nooi
om alles in die borrellende vreugde te gooi
© Francois Meyer Mei 2021 (eie foto)
Maart 2022 – OOP projek
3.Landbou
daar lê te veel
gebreekte ploegskare
in ander se lande
omrede ons die geologie
van ons eie nie verstaan nie
Francois Meyer
April 2023 – KLUG projek
2.goëlende ratwerk
speekwerk van verwronge waarheid
goëlgly glad gerat
om asse van vertroue
waar samesyn kwyn
jakkalsdraaie wissel skelm
kunstig verweef in fopnuus
kolkende outeur van streke
ratdraaier van formaat
soos die draaiende takkool
sirkel van lig goël;
waarheid skelm-skelm verbuig
skrik skurke vir waarhede op krukke
gaande stop die wiel
snuit sirkels van kole wat goël
speekwerk versplinter krakend;
verdoof note van ratte wat draai
© Francois Meyer April 2023(Gedagtes)
Mei 2023 – OOP Projek
3.Veilig
in weivelde van vriendskap
kartel beddings van aanvaarding
as my lippe van omgee
rus op die topografie van jou voorkop
anker jou vloot
teen die kaaie van my omgee
stryk jou seile
in stiltes van bewondering
agter die keerwal van dolosse
kabbel omgee in spoelgolwe;
oes ek wynlande vol geluk
in die kelder van jou vrouwees
in ware Noord stu ons voort
gesmee in stierboord ywer
teen storm
teen wind
© Francois Meyer Maart 2023
Silwerklas
APRIL 2025 – AARDE PROJEK
3.beminde
sy was verheug toe Sy stem haar roep
om anders te wees in haar groep
om uitspattig mooi, jaarliks te baar
sodat almal seisonaal na haar kan staar
sy tiekiedraai om haar as
vir haar Skepper wat elke dag verras
tog is sy seer in verwaarloosde pyn
sal sy herstel of net heeltemal kwyn?
as haar rentmeesters daagliks faal
sal sy verdwyn uit almal se taal
laat ons die Skepper verras
genees haar tiekiedraai om haar as
© Francois Meyer April 2025
(1)