Hester Steenkamp
Lees meer oor Hester Steenkamp
BRONSKLAS
Mei 2022 – OOP projek
2.ligtoring
wanneer die nag sy mantel om my hang
en daar storms om my woed
voel ek verlore en bang
as ek my pad in die donker soek
ek dobber in die oop see rond
met seile wat hang in die wind
my kompas is tot niet
hoe moet ek my rigting vind?
maar geanker in die rotse is jy daar
standvastig en betroubaar
laat jy my bootjie veilig vaar
jou lig wink my telkens terug
na waar daar kalm water is
en in jou hawe kan ek rus
Hester Steenkamp
Junie 2022 – Winterlandskap projek
3.seisoene
appelwang en poniestert
dartel sy deur haar lente
kommervry en sonder vrees
jonk van liggaan én van gees
haar bloeisels bot
en haar granaatboom blom
soos haar rypheid nader kom
drome gedroom en sterre verskiet
sy wieg op die maat van ‘n liefdeslied
die aanbreek van die somer
bring volheid na die dromer
terwyl sy haar vrugte dra
sy groei en rank en beur na bo
leer en werk en glo
sy leef in die son
en dans in die reën
is lief vir almal aan haar geleen
haar lyf is sag en groen
sy doen wat ‘n vrou moet doen
gebaai in geel en goud
met takke steeds wyd gesprei
begin haar blare stadig val –
herfs het haar kom kry
haar nes raak leeg
maar haar siel is vol
soos die lewe aanbeweeg
die tyd het gekom om te laat gaan
terwyl sy nog diep geanker staan
koue kom oor die rante aan –
slierte van silwerwit
wat diep in haar kom sit
sy glimlag wanneer sy onthou
haar pad van toe tot nou
sy het geleef en sy het geleer
dat niemand tyd kan keer
die herinneringe is goed
en sy dwaal dikwels dáár
waar sy na haar onthou gaan soek
maar in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
vind sy ware vrede
in die seisoene van haar lewe
© Hester Steenkamp
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
2.sonneblom
sy is ‘n vrolike sonneblom
wat lentetyd langs die rivier opkom
en regop en fier daar staan
met haar gesig altyd na die son
Hester Steenkamp
Augustus 2022 – My huis is my woning projek
1.wortels
toe belofte blou in die weste bou
en ons vog in die wind kon ruik
het hy my hande vasgevat
en sag vir my gesê
dat sy wortels hier diep lê
daar was hoop in sy oë
toe hy vra of ons kan bly
op die wit kalkplato
waar die grondpad suidoos draai
ver van die wêreld se lawaai
wind het aan die sinkplate geruk
die windpomp het gesteun
ek het hom teen my vasgedruk
toe druppels op die sinkdak dreun
die ritme van sy polsslag
was een met dié van die reën
die donders het sweepslag geslaan
blitse het die stoep verlig
ek het vir ‘n oomblik stil gestaan
nat grond geruik en tevrede gesug
terwyl die storm om ons loei
het ek geweet op hierdie plek
sal my wortels ook kan groei
©️ Hester Steenkamp
September 2022 – Snelheidsprojek
1.die uitverkorene
laat ek tog asseblief die gekose een wees
wat saam met jou kan sit en kyk
hoe die volmaan oor die plaasdam lyk
terwyl jy gedigte oor liefde hardop vir my lees
en in die maanstrale wat ‘n blink pad maak
sal ek nader skuif en nog liewer vir jou raak
© Hester Steenkamp
3.uurglas
ek wil warm sonlig in jou uurglas skink
wat stadig, stadiger uit sal loop
en die taai goue stroop van hoop
sal heldergeel teen die kante blink
jou weggaan maak my so verskriklik bang
want ek weet die leegloop gaan ons vang
© Hester Steenkamp
Silwerklas
Desember 2022 – Samesyn projek
1.Paasfees
ek voel dis tyd om huis toe te gaan
na die plek waar my siel kan rus
daar ver op ons familieplaas
waar Pa en Ma en Wagter is
dis ‘n plek waar ek tuis kan voel
al loop ek my eie pad
en die liefde roep my telkens terug
na die grondpad wat my huis toe vat
die vrede kom sit warm in my lyf
wanneer die sinkplate sug en kreun
terwyl ons weerligte in die weste kyk
en druppels op die stoepdak dreun
dis Pa se stories en Ma se kos
wat almal bymekaar laat kom
en die kuiers in die groot kombuis
laat gaan die tyd te vinnig om
die bekendheid vou my snoesig toe
as ek in my kinderkamer lê
en ek wens ek kon als wat ek liefhet
vir altyd so naby my hê
© Hester Steenkamp
Januarie 2023 – Projek NUUT
3.die wildevy
die wildevy sing droewig psalms
as woedende winde uit wolke waai
en hy wieg heen en weer, buig en skeur
as wind sy takke teen die stam af draai
die aanslag is intens en wreed
maar die wind hou aan met snoei
en ek hou my asem op toe ek sien
hoe die sap stadig uit die wonde bloei
skielik raak dit stil en die wind gaan lê
net toe die donder sweepslag slaan
en die reën begin in strome val
totdat hy diep in die water staan
maar ek weet daar kom weer nuwe groei
wat vars en groen uit die letsels breek
en ek wens ek was ‘n wildevy
wat soveel ontbering kan vergeet
© Hester Steenkamp
Februarie 2023 – BLOU projek
3.Migrasie
daar is ’n wit weerligwals teen die noordelug
en die wind ruik groen wat oor die vlaktes waai
’n aankondiging wat sê die reën is terug
en oer-oue drange in hul bloed losdraai
met oë wat verlangend wind-op staar
kom troppe van oral oor bymekaar
hulle golf na waar nuwe weiding is
maar die mens sal oor hul lot beslis
draadvoëls in vryvlug
hang teen die blou lug
en elke beweging wat die diere maak
sal op papier grafieke raak
maar die instink wat so polsend in hul are klop
word dan summier deur ons drade gestop
©Hester Steenkamp
Neologismes:
weerligwals: weerligte op die horison
draadvoëls: hommeltuie
April 2023 – KLUG projek
3.ratdraaier
daar agter die mikrofoon
is hy gemaklik en selfvoldaan
skoene blink en klere nommerpas
oortuigend en innemend
drup heuningwoorde van sy lippe af
gekultiveerd en geleerd
geliefd en geëerd
en hulle luister
en glo
sy beloftes van werk
’n makliker bestaan
en groei
van hulp en uitkoms
handevat en opstaan
geregtigheid en gelykheid
die nasie vat vlam
hulle brand van trots
en samehorigheid
met hande op hulle harte
en trane in hulle oë
sal hulle aanhou glo
dan stap hy weg
daardie man
’n ratdraaier
so netjies uitgevat
maar hy is maar net nog
’n bullebak in ’n snyerspak
© Hester Steenkamp
Junie 2023 – Winter projek
1.Haikoe (wag vir winter)
ek wag vir winter
as die maan silwerstraal skyn
en jy by my is
©Hester Steenkamp
*neologisme: silwerstraal – die strale van die maan op wolklose nagte
2.Haikoe (winter se trane)
winter se trane
loop blinklint teen die ruit af
as die bome slaap
©Hester Steenkamp
*neologisme: blinklint – die straaltjie water wat teen die venster afloop
November 2023 – OOP projek
2.die ding van droogte
toe ons buite op die stoep gaan sit
het die strepiemaan sy weg gebaan
bo-oor die prosopisboom
wat neffens die kombuisdeur staan
ons het sommer gesels oor dit en dat
en in die donker kon ek sien
hoe hy sy hemp by sy hart frommelvat
(omdat die seer daar lê)
en ek kon duidelik hoor
wat die donker kommerkringe
om sy oë vir my sê
hulle meen ’n boer maak ’n plan
maar daar kom ’n dag
soos vandag
dat sy planne op sal raak
tensy hy dalk sou weet
hoe om reën te maak
ek is so jammer my ding
dat jou stukkie hemel hier
vir jou soveel hartseer bring
©️ Hester Steenkamp
Desember 2023 – Veldslag projek
1.vir volk en vaderland
op die vooraand van die stryd
onder die volmaan se silwer gloed
fluister geliefdes dringend-sag
laaste beloftes in ‘n afskeidsgroet
met die klank van kampgeluide
pols vrees en opwinding saam
in die vuurgloed wat oor hul speel
gloei warm oë wat durf beaam
van elke eed hier geneem
kan die sterre stil getuig
hul veg vir volk en vaderland
geen knie sal voor die vyand buig
‘n yswind sing ‘n ou-ou lied
‘wyl vrees donker oor hul hang
dit vertel van veldslae wel gewen
en vryheid wat elke hart verlang
*dringend-sag
Hester Steenkamp
Januarie 2024 – OOP Projek
1.Ek Onthou alles van jou
dit was ’n soel aand in Oktober
met die maan sekel en flou
die lug was dik van lente
sterre het geblink vir my én jou
tog het ons belowe en gehuil
verduidelik, gepleit en gepraat
voor ons was ’n kruispad
en die stiltes het langer geraak
ek was oud genoeg om te verstaan
en jonk genoeg om ’n les te leer:
jy was gekwel en ek was gekwes
jy was ontbeer maar ek was beseer
ons het beide wonde opgedoen
ons al twee het gebloei
maar ek moes steke kry
en joune het letselloos toegegroei
ek onthou alles van daardie aand
jou woorde, die angs, jou oë
dit was ’n soel aand in Oktober
en ek het al jou leuens geglo
©Hester Steenkamp
JULIE 2024 – OOP PROJEK
1.Goue graaf
“bitterbessie dagbreek bitterbessie son …” (Uit Antjie Krog, Rook en Oker)
Erkenning aan G.A. Watermeyer – Reën in die voorwinter (Let wel, die reël wat ek gebruik het is: my swart haan roep die dagbreek rooi.
die dae vou sag om my
tog versmoor die nag in swart
maar soggens kraai die haan
en die hoep-hoep roep
dan verjaag ek die
donkerte wat draal as dagbreek
die oosterkim verkleur in brons en rooi
©Hester Steenkamp
SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK
1.vir altyd
ek staar na hom
wat gloei soos goue glas
op hierdie middag wat omrol
tussen bosse en verdroogde gras
en ek ruik die soetheid
van ’n springbok se pronk
wat wit waaier in die laaste lig
terwyl ontelbare oomblikke
van verlies en verlang
stom tussen ons hang
maar dan kyk hy om …
die lig wat uit hom straal
laat my weer besef
ek wil weerloos waag
vir meer dae saam met hom
in die skadu van ’n windpomp
wat tjieng-tjieng sing
en ek wonder
sal die noordewind
eendag weer
reën vir ons bring?
©Hester Steenkamp
2.lentekleure
blink lê lentereën se spoortjies
wat die landskap saggies wek
sodat soetdorings goudgeel bot
en wolbosse winterveld verwit
jy weet die son kom huis toe
as klaasasgatte hulle takke
in helderpienk vermom,
pers samaravrugte uit doppe beur
en bokke hul neuse draai
na waar die reuk van groen
op oggendwinde nader waai
dan word die nagte groot om ons
as jasmyn soet deur ruite kom,
warm lug swaarder raak
met die asem van ’n maanblom
en die klousaad van die bietou
halsstarrig aan jou roksoom klou
©Hester Steenkamp
OKTOBER 2024 – AFRIKAANSE WOORD PROJEK
1.Vuurvonke
die wind het vuur oor velde aangejaag
en vonke tussen sterre in geskiet
oranje vlamme vol van sielsverdriet
het skroeiend onverwags net opgedaag
die klap en kraak ’n bittere geklaag
en ademloos die boer se jammerlied
wat droewig kreun deur wolbos en bokwiet
en mens en dier se hoop meteens vervaag
’n nuwe dag het winde noord laat waai
wat sweet uit elke moeë lyf kon stoom
en reëndruppels sissendsag laat sing
met rook wat borrelend uit asse draai
om swart skelet van elke bos en boom
in pronkerige groen terug te bring
Voetnota:
Neologisme: sissendsag: die geluid wat
druppels op die warm as maak
©Hester Steenkamp
WENNER VAN 2024 SE DIGKOMPETISI
November 2024 – OOP projek
2.Hentiesbaai
aan die westekant
op die rand van die land
omsoom sand die see
en loop my onthou vrylik rond
oor die geruis van gruisvlaktes
en ligeenvelde vol verhale van vroeër
waar spieëlbeelde van wat dalk daar is
of miskien kon wees
vibreer op die horison
vasgeskroei aan my wese
koester ek kommerlose kinderdae
van sonskyn en seesand
seer brand en liefde
met fosforgolwe wat groen breek
en die geheime van die strand
waar koue water oor warm lywe speel
as ’n spookskip voor die son inseil
en wilde woestynwinde woed
soos ek op hoë duine
kon droom en huil en leef
en groei
©Hester Steenkamp
Desember 2024 – Kersfees projek
3.in absentia
by ’n lang tafel waar agt kan sit
is slegs twee borde gedek
want die kinders het laat weet
hul vier Kersfees op ’n ander plek
© Hester Steenkamp
GOUE KLAS
Januarie 2025 – OOP projek
1.Leonardville
in die land van sand en sonskyn
waar wolke leeg soos ou beloftes hang
kreun die Kalahari boepensvol water
ondergronds gestoor in ’n oer-akwifer
nes die volstruiseierdop van ’n Khoisan-jagter
maar selfs die diepste geheime word uitgedelf
wanneer volksvreemdes roekeloos
ongereptheid tot pokgesig boor
en hulle blinkbek lag van die vetheid
ontgin uit ander se erfgoed
en terwyl fossielwater gifgeel gloei
sal skepe propvol uraan Rusland toe vaar
met ’n middelvinger-handgebaar
en al wat sal oorbly is ’n gebroke aarde
waar bos en boom blaarloos buig
as ontheemdes hul geboortegrond groet
met die wind se asem vol rook en roet
© Hester Steenkamp
MEI 2025 – OOP PROJEK
2.stof en stilte
op skilferige stoepsement
tussen sukkelplante in ou koffieblikke
sien ek die verbete trek om sy mond
en volg sy oë waar dit wye draaie
oor die werf loop –
tot ver verby die lyndraad
en gaan stilstaan
by ’n windpomp wat weer wes kyk
die gloed van die sakkende son
belig die groewe op sy gesig
en my hart krimp ineen
toe hy my hand bemoedigend druk
want hoe sal ons ooit vergeet
hoe groot ons drome was?
toe skuif ek nader
en breek teen sy bors
© Hester Steenkamp
JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK
1.Voorspieël
so op die heup van ’n sonskyndag
in vroegherfs
wil ek weer skilpadpos toe loop
met die reuk van ryp fyntwa in my neus
en hul sade soos stringetjies krale
deur my vingers vleg
ek wil ’n deken oopsprei onder ’n witgat
op sand sag geweek deur reën
en kyk hoe die son se geelkoperoog
die horison laat tril
ek wil hoor hoe koringvoëls
om hul slordige neste raas
en sien hoe ’n trop bokke
teen die noordewind op wei
ek wil my oorgee
aan die vrypostigheid van die veld
met al sy goedheid en guns
wat vrede na jou oë toe bring
en ek wil luister na jou bekende voetval
soos jy van bos na bos stap
vir noeniebosbessies
voordat jy dit soos ’n kleinode
in my handpalm neerlê
dan wil ek ’n heilwens uitspreek
oor jou en die veld, die plante en diere
en voorspoed afbid op ons grond
terwyl ons saam wag vir die aandster
© Hester Steenkamp
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
1.Sannie se stryd
Sannie Swanepoel van die Strand
kan alles doen met haar linkerhand;
sy sny perfekte snye brood
kan die AGA met een hand stook
en wag tot jy sien hoe kap sy ’n ui!
geen mes het al ooit uit háár hand gegly
selfs met ’n skilderkwas is sy flink –
sy verf reguit lyne sonder om te dink
saans is sy ’n skrywer
wat sy doen met baie ywer
maar soggens in die oggendlig
kom die naarheid na haar toe terug;
al die woorde op die blad is geklad, want
die helfte van die ink kleef aan haar linkerkant
© Hester Steenkamp, 2025
SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK
1.deur die storm
die storm se stem breek en lig verrys
helder strome laat weer lewe ontspring
uit donker chaos word die wêreld wys
bome fluister sag wanneer hul laag buig
als asem die geur in wat reën bring
die storm se stem breek en lig verrys
’n reënboog koepel oor stil oewers
grasvelde laat bokke uitbundig spring
uit donker chaos word die wêreld wys
’n rivier klop ritmies in sy klipreis
sy stem sagter soos vanuit ’n droomkring
die storm se stem breek en lig verrys
waar skadu’s was kom blomme as bewys
die aarde self begin ’n loflied sing
uit donker chaos word die wêreld wys
mens en dier vind rus in die nuwe tyd
wind bring musiek wat ore binnedring
die storm se stem breek en lig verrys
uit donker chaos word die wêreld wys
© Hester Steenkamp, 2025
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
2.lente en hoop
selfs wanneer dae en nagte ewe donker is
met skadu’s wat hul tuismaak in elke sonkol
bars bloeisels uit swart brosdorings
om die nuwe seisoen skaamteloos te adverteer
in bleekgeel en liggroen
en samaravrugte swaai helderpienk aan takke
om vaal vlaktes te stippel
in spatsels kleur
soos dié van bessiestroop
dan gaan sit ek in ’n pers plas jakarandas
om te kyk hoe die swaels terugkeer
na hul moddernes bo die kombuisdeur
en die reuk van lente is oral om my
© Hester Steenkamp, 2025
WENNER VAN 2025 DIGKOMPETISIE
NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK
3.Kersete vir twee
oupa en ouma sit op die stoep
en luister na ’n spookvoël se roep
hul wonder waar’s die kinders heen
hulle kan dié jaar nie eens één
ekstra bord aan die tafel dek
selfs al is daar vir agt mense plek
ouma gee vir oupa ’n peer
sy sê: volgende jaar probeer ons weer
oupa kyk ver oor die wye werf
terwyl hy ’n figuurtjie uit hout sit en kerf
hy sê: dit sal maar net weer gebeur
en sny die vrug middeldeur
hy bied een helfte vir ouma aan
wat met nat oë langs hom staan
© Hester Steenkamp, 2025
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
1.hervestiging
tevergeefs het ek probeer
om kameeldorings te verplant
(vir skuiling in die skaapkraal
of skadu vir ontheemde boslelies)
maar die blare het bly verlep
en die stamme aanhou verdor
ek weet nou dat ’n penwortel
wat diep deur rots sy pad gevind het,
in vrede gelaat moet word
my eie wortels –
ook diep in die aarde ingestoot –
was geanker op ’n plek
waar ek kon gedy onder die Namibson,
jaarringe bygekry het,
geknoets is deur swaarkry
en deur droogtes en storms verweer is
maar tog troos wyd kon sprei
maar ek is nie ’n boom nie
my wortelstelsel is losgewoel
(nie sonder skade nie)
my binnebas is onthul
maar ek groei weer kernhout
waar ek verplant is in nuwe grond
© Hester Steenkamp