Jongste aktiwiteit:

Hester Steenkamp
vir

Hester Steenkamp

Lees meer oor Hester Steenkamp

BRONSKLAS

Mei 2022 – OOP projek

2.ligtoring

wanneer die nag sy mantel om my hang
en daar storms om my woed
voel ek verlore en bang
as ek my pad in die donker soek

ek dobber in die oop see rond
met seile wat hang in die wind
my kompas is tot niet
hoe moet ek my rigting vind?

maar geanker in die rotse is jy daar
standvastig en betroubaar
laat jy my bootjie veilig vaar
jou lig wink my telkens terug
na waar daar kalm water is
en in jou hawe kan ek rus

Hester Steenkamp

Junie 2022 – Winterlandskap projek

3.seisoene

appelwang en poniestert
dartel sy deur haar lente
kommervry en sonder vrees
jonk van liggaan én van gees
haar bloeisels bot
en haar granaatboom blom
soos haar rypheid nader kom
drome gedroom en sterre verskiet
sy wieg op die maat van ‘n liefdeslied

die aanbreek van die somer
bring volheid na die dromer
terwyl sy haar vrugte dra
sy groei en rank en beur na bo
leer en werk en glo
sy leef in die son
en dans in die reën
is lief vir almal aan haar geleen
haar lyf is sag en groen
sy doen wat ‘n vrou moet doen

gebaai in geel en goud
met takke steeds wyd gesprei
begin haar blare stadig val –
herfs het haar kom kry
haar nes raak leeg
maar haar siel is vol
soos die lewe aanbeweeg
die tyd het gekom om te laat gaan
terwyl sy nog diep geanker staan

koue kom oor die rante aan –
slierte van silwerwit
wat diep in haar kom sit
sy glimlag wanneer sy onthou
haar pad van toe tot nou
sy het geleef en sy het geleer
dat niemand tyd kan keer
die herinneringe is goed
en sy dwaal dikwels dáár
waar sy na haar onthou gaan soek
maar in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
vind sy ware vrede
in die seisoene van haar lewe

© Hester Steenkamp

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

2.sonneblom

sy is ‘n vrolike sonneblom
wat lentetyd langs die rivier opkom
en regop en fier daar staan
met haar gesig altyd na die son

Hester Steenkamp

Augustus 2022 – My huis is my woning projek

1.wortels

toe belofte blou in die weste bou
en ons vog in die wind kon ruik
het hy my hande vasgevat
en sag vir my gesê
dat sy wortels hier diep lê

daar was hoop in sy oë
toe hy vra of ons kan bly
op die wit kalkplato
waar die grondpad suidoos draai
ver van die wêreld se lawaai

wind het aan die sinkplate geruk
die windpomp het gesteun
ek het hom teen my vasgedruk
toe druppels op die sinkdak dreun
die ritme van sy polsslag
was een met dié van die reën

die donders het sweepslag geslaan
blitse het die stoep verlig
ek het vir ‘n oomblik stil gestaan
nat grond geruik en tevrede gesug
terwyl die storm om ons loei
het ek geweet op hierdie plek
sal my wortels ook kan groei

©️ Hester Steenkamp

September 2022 – Snelheidsprojek

1.die uitverkorene

laat ek tog asseblief die gekose een wees
wat saam met jou kan sit en kyk
hoe die volmaan oor die plaasdam lyk
terwyl jy gedigte oor liefde hardop vir my lees

en in die maanstrale wat ‘n blink pad maak
sal ek nader skuif en nog liewer vir jou raak

© Hester Steenkamp

3.uurglas

ek wil warm sonlig in jou uurglas skink
wat stadig, stadiger uit sal loop
en die taai goue stroop van hoop
sal heldergeel teen die kante blink

jou weggaan maak my so verskriklik bang
want ek weet die leegloop gaan ons vang

© Hester Steenkamp

Silwerklas

Desember 2022 – Samesyn projek

1.Paasfees

ek voel dis tyd om huis toe te gaan
na die plek waar my siel kan rus
daar ver op ons familieplaas
waar Pa en Ma en Wagter is

dis ‘n plek waar ek tuis kan voel
al loop ek my eie pad
en die liefde roep my telkens terug
na die grondpad wat my huis toe vat

die vrede kom sit warm in my lyf
wanneer die sinkplate sug en kreun
terwyl ons weerligte in die weste kyk
en druppels op die stoepdak dreun

dis Pa se stories en Ma se kos
wat almal bymekaar laat kom
en die kuiers in die groot kombuis
laat gaan die tyd te vinnig om

die bekendheid vou my snoesig toe
as ek in my kinderkamer lê
en ek wens ek kon als wat ek liefhet
vir altyd so naby my hê

© Hester Steenkamp

Januarie 2023 – Projek NUUT

3.die wildevy

die wildevy sing droewig psalms
as woedende winde uit wolke waai
en hy wieg heen en weer, buig en skeur
as wind sy takke teen die stam af draai

die aanslag is intens en wreed
maar die wind hou aan met snoei
en ek hou my asem op toe ek sien
hoe die sap stadig uit die wonde bloei

skielik raak dit stil en die wind gaan lê
net toe die donder sweepslag slaan
en die reën begin in strome val
totdat hy diep in die water staan

maar ek weet daar kom weer nuwe groei
wat vars en groen uit die letsels breek
en ek wens ek was ‘n wildevy
wat soveel ontbering kan vergeet

© Hester Steenkamp

Februarie 2023 – BLOU projek

3.Migrasie

daar is ’n wit weerligwals teen die noordelug
en die wind ruik groen wat oor die vlaktes waai
’n aankondiging wat sê die reën is terug
en oer-oue drange in hul bloed losdraai

met oë wat verlangend wind-op staar
kom troppe van oral oor bymekaar
hulle golf na waar nuwe weiding is
maar die mens sal oor hul lot beslis

draadvoëls in vryvlug
hang teen die blou lug
en elke beweging wat die diere maak
sal op papier grafieke raak

maar die instink wat so polsend in hul are klop
word dan summier deur ons drade gestop

 

©Hester Steenkamp

Neologismes:

weerligwals:  weerligte op die horison

draadvoëls:  hommeltuie

 

 

April 2023 – KLUG projek

3.ratdraaier

daar agter die mikrofoon
is hy gemaklik en selfvoldaan
skoene blink en klere nommerpas
oortuigend en innemend
drup heuningwoorde van sy lippe af
gekultiveerd en geleerd
geliefd en geëerd
en hulle luister
en glo
sy beloftes van werk
’n makliker bestaan
en groei
van hulp en uitkoms
handevat en opstaan
geregtigheid en gelykheid
die nasie vat vlam
hulle brand van trots
en samehorigheid
met hande op hulle harte
en trane in hulle oë
sal hulle aanhou glo
dan stap hy weg
daardie man
’n ratdraaier
so netjies uitgevat
maar hy is maar net nog
’n bullebak in ’n snyerspak

© Hester Steenkamp

Junie 2023 – Winter projek

1.Haikoe (wag vir winter)

ek wag vir winter
as die maan silwerstraal skyn
en jy by my is

©Hester Steenkamp

*neologisme:  silwerstraal – die strale van die maan op wolklose nagte

 

2.Haikoe (winter se trane)

winter se trane
loop blinklint teen die ruit af
as die bome slaap

©Hester Steenkamp

*neologisme:  blinklint – die straaltjie water wat teen die venster afloop

 

 

 

(6)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed