Jongste aktiwiteit:

Marieta McGrath
vir

Marieta McGrath

Lees meer oor Marieta McGrath

BRONS

November 2018

2.Woordeloos verloof

Dit was ‘n Sondagoggend op ‘n skulpiestrand in Seepunt
toe jou tong in jou mond gestol het
toe huiwering rooi oor jou wange gekruip het
en die see onseker om ons voete gekolk het

Maar ‘n ander Sondag op die Seepuntpromenade
lag ons kinders oopmond op die swaaie
hul wange is gloeiend genot in die wind
Liefste, kyk hoe trots swel die branders
kyk, die see is skoon speels
Is dit vir jou ook of herinnering baldadig
wil bokspring terug na die keer

toe jou tong in jou mond gestol het
toe huiwering rooi oor jou wange gespoel het
en ek kon hoor, soos ‘n skulp teen my oor,
die ruisende verklaring van oneindig oseane

©Marieta McGrath

Desember 2018 projek

2.Wedloop van geloof

Hoe slu besluip die kettings my
en klou my enkels, besitlik;
‘n ruie verstrikking teen my voortstromp’ling.
Hulle bloedsleep my boos en honend,
my vingers slym papperig in die klei,
die waarheid word ‘n lugspieëling
soos water op die warm teer…
O God, my God,
waarom voel ek jou so ver?

Sal ek soos ‘n brute
keelstootkragtend beur teen kettings?
Het my liggaam maar aanhou knik
in ritme van oorwinning en nie verpoos
by die bou van moddermonumente nie!
Hoe sal ek, stof-en-moddermens,
in stofloosheid verrukking vind?
Hoe smag ek om die korrels van my klein geloof
uiteindelik in die kelk te skink!

Toe is my God nie meer so ver nie.
Kettings kom gly soos palings om my voete.
Ek verrys uit die slym
en stip my spiere op die laaste strek en einde –

sterker as met elke struikeling tevore

Marieta McGrath

Januarie 2019 Projek

2.Oujaar 1

As nagkole knak
met sagte tussenposes,
oë vlamme kaats,
en krieke roep van liefde,
vergeet ons van die jaartal.

Marieta McGrath

April 2019 Humor projek

2.My oupa Klaas en my ouma Nettie

My oupa Klaas
is aljimmer aan’t timmer in die agterplaas.
My ouma Nettie
weetie hoe sy dit met hom hettie.

“Hy hamer en hy saag
en hy skuur en hy skaaf,
maar hy kom net nooit klaar nie;
dan praat ons nie eers
van hoe hy opgaar nie.

“Dan kom hy die huis in met sy stowwerige hoed
en los die ding net daar op die tafel;
en as ek hom daaroor aanpraat,
dan word daar geredekawel.

“Roep ek hom vir ete, is hy skielik soek –
sit op die tôilet met soduko en ‘n boek.
Hy’t my seker nie gehoor nie, hy’s mos doof.
Dié dat ek so hard skree
anders moet ek allie pad loop.

“En snórk! Kan hy vir jou snork, my kind!
Hy saag in die dag en hy saag in die nag.
Ek pomp hom sydelings met elke dawerende slag.
As ek gelukkig is, draai hy om
en snork terstond wederom.”

My oupa Klaas in die agterplaas
het elke woord gehoor
Hy skud sy kop, verskuif sy pyp
en sê: “Sy soek net skoor.”

My oupa Klaas en my ouma Nettie –
ek weetie hoe ek dit met hulle hettie.
Maar oor een ding is ek nie gekwel:
met hulle huwelik is dit welgesteld!

©Marieta McGrath

Februarie 2019 projek

1.Tydsberekening

Hy luister hoe die man vertel
die tydsberekening het uitgestel.
Mitose het verwaand geraak,
‘n vasgehaakde skakelaar.
So ongehoord, haar eie lyf
wat onverstoord van groei gaan vrot
tensy die vreemde dokter voor hom ingryp met die vlym…

Hy wou die dokter vra:
As kanker dan die antwoord is op kinderlose vrae,
het Gód se tydsberekening nie deurmekaar geraak?
Maar in die vreemde man se bril
sien hy haar stil figuur –
hy sien die uurglas se vernouing,
gekondenseerd die uur.

©Marieta McGrath

SILWERKLAS

Junie 2019 Projek

1.’n Winter in herinnering 

haar middae mompel loom
lou ivoor deur vensters
‘n boek lê op my skoot

buite
swiep sy stilweg skadusterte deur die geel
haar werkers kerf ‘n landskapreliëf uit gras
sy is die hooimakerseisoen
sy voed ons skure

vanmiddag staan haar hemel stil
helder en asuur

maar later sal haar hemel grys word
haar werkers sal huiswaarts keer
agter toe deure sal ek sop kook van haar oorskot
om haar warm te onthou

©Marieta McGrath

1.Haikoe 

winter stroop plataan
tot knokkerig verwese
oumensborselkop

©Marieta McGrath

Julie 2019 projek – ‘n Reis in tyd

1.Vergelegen 

Vergelegen se ingevoerde kamfers
staan al driehonderd jaar onveranderd.
Hulle was maar altyd hier.

Die herehuis ook.
Van der Stel het haar in die lewe gebring –
sorgvuldig, mildelik voorsien deur die VOC –
maar later verwaarloos, selfs onteer
deur die kitsch van ‘n Ier, gelukkig
dat Lady Phillips haar twee eeue later restoureer
tot volle glorie langs die kamfers.

Die slawelosie, daarenteen,
(vierhonderd-en-tagtig vierkante meter
vir meer as tweehonderd mense)
het lankal verdwyn.
Op ‘n warm middag is hier net kinders wat in die bosse lag.

Terloops, Nelson Mandela het hier geslaap
in een van die kothuise
en langs die oeroue kamfers gestaan,
asof geen kamfers ooit hier gegroei het nie.

©Marieta McGrath

3.Die duif en die doop 

Die duif stryk neer.
Sy fladderstrompel, maak haar vere glad.
‘n Tikkie purper glim.
Haar krop vol akoestiek,
haar kop wat wieg soos konings in prosessie,
trap sy rond
van sekerheid –
was sy op my dak,
of ‘n gladde beeld van klip,
sou haar kloutjies hoorbaar klik
en gly,

maar ek hoor net gedempte skares staar na
daardie duif –
‘n vlag
op die Man van rots se kop.

Die Jordaanwater drup.

Wolkloos donder die hemel.

©Marieta McGrath

Augustus 2019 – Wilde wind projek

1.Grond 

daar is nou niks meer wat die grond terughou nie
die wind was nog nooit so wild soos nou nie
sê my ma toe ek bel uit die Kaap
die sand staan op soos mis
en skuif in vlae onbetrokke treine
tussen plaas- en werkershuise deur

my ma sê dis die ergste droogte
in veertig jaar
ek is skaars veertig
my trauma is ‘n kleintydfoto
die wind daarin fluit sand
wat soos rooi ribbes lê

die bure glo nie in klimaatsverandering nie
sê sy maar sy weet ons lewe in die eindtyd
en as ek, my broer, my suster nie kom boer nie
verkoop ons die grond
waar my oupagrootjie eerste die diep waters raakgeboor het

ek vra of daar niks is wat die grond terughou nie
die wind was nog nooit so wild soos nou nie

©Marieta McGrath




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed