Jongste aktiwiteit:

Morne du Preez
vir

Morne du Preez

Brons

Julie 2019 projek – ‘n Reis in Tyd

2.Vuur 

Blitse flits oor die hemelwydte
die donker storm brom en bars
soos ‘n kraak deur die hemelswese
bos in vlam opvonk

so die helder gloei
uit die donker koue
vrees en angs
se gluur gelok

met stok gepik en paai
aan ‘n rooi-groen vlam
die grot en man
tug met vuur.

Morne du Preez

Augustus 2019 – Wilde wind projek

2.Storm

Ek is ‘n storm
diep toegesluit
in die verlate vlaktes
binne my

Ek is ‘n storm
warrel-wind oor
die uitgedorste holtes
binne my

Ek is ‘n storm
wat branders breek
en name vergeet
binne my

Ek is die storm
binne my.

©Morné du Preez

November 2019 – Laat lente projek

1.Laat lente-Spook

Dis die ouwinde oor helshoogte
wat die herfsblare wegdra
van ‘n ou-akkerhoutboom
wat vir die koue nat wag

en die druppel nag
wat sag afsypel
aan sydrade vol winter akkoorde
van ‘n gewebte nagwagter in sy repertoire

die oes van lente
stil stil tingel rus
om vir die oggend son
die verhaal te tolk

van die laat somer fees
en wegfladderende blare
van die gees van ‘n ou-akkerhoutboom
en winde wat spook.

©Morné du Preez

Januarie 2020 – OOP projek

2.Twee trane

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een die oorskot seer, die ander oor ‘n gebakte peer

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een bloei, die ander die helder groengras dal

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die alleenkind obduksie uit sy moeder se skoot

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die padda in die keel idioom

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
dis die droë oopmond Karoo sé rooistof-stoep

Twee trane val oor die ontlykte Aarde-
die een dra liefde, die ander leed

Twee trane val oor die ontlykte Aarde
en net dalk as jy sou kyk, sou jy kon bespeur
die een en die ander een is albei een-
van God.

©Morné du Preez

SILWER KLAS

Maart 2020 – Triomfboog projek

2.Ek begrawe vir jou ‘n storie

Dis die tiekies op die spoor-
“wat is ‘n tiekie?” sou jy vra;
die klein-bietjie-liefde,
‘n knippie sout, ‘n bietjie blou
opgevou om té hou.

“Wat nog” sou jy sê
‘n hardeskyf met liedjies
en prente van diertjies en allerande goetertjies-
‘n sonkrag herlaaibare arsenaal
als op digitaal-dis hoe hy werk.

‘n Doos gemerk ‘spesiaal’-
“Hoekom spesiaal?” sou jy vra;
Want hierin bêre ek vir jou die geure-
‘n bietjie boegoe, ‘n bietjie olieverf, ou boeke, pastelle
en woorde vir jou sintuie.

“Wat is oudhede” hoor ek jou uiter
alles wat kennis sou dra-
soos hier ingesluit:
dit wat was en dit wat is,
die ek in jou en die jy in my.

“En die pakkie gemerk Triomfboog?”
Dit is die klein saadjie-wag hy sal ontkiem;
Sien jy die reënboog-dáár bó?
Dit is waar, ek waak…

©Morné du Preez

April 2020 – Grendel projek

3.Losprys vir romanse

Daar is nie ‘n prys vir liefde
nimmer ‘n goeie hart,
nogmaals as kind
sou al jou skatte as losprys vergeld-

was dit daai briefie met ‘n geperste viooltje:
roses are red and violets are blue;
of was dit die dag onder die peperboom,
waar Cupid sy kop uit die bossies steek?

was dit ‘n tyd toe oreades
soos verliefdes oor kabbelstroompies
mekaar rondrits in ‘n swelgparty
en die wenner sy maagdom bevry?

was dit toe jy die grendels van jou gekoekte woorde vrylaat,
vrylaat soos ‘n trop wildeperde
wat van onder die dekmantel
soos ‘n held deur die donker al die grendels losbreek?

maar dis daadwerklik toe al die gepulwerde stukkies van jou siel
soos kaktusse onder ‘n droë-son
na die soetsoen van soetreën
uit die grendels van dors breek.

©Morné du Preez

Junie 2020 – Vryheids projek

3.Ongetiteld

Ons kniel met gewapende tonge
ons klavier-emosies snaar
met ‘n chromatiese ritme
soek ons weer soos fobdossers die verlore jakkie:
wat is vryheid nou weer
hoeveel kos dit meneer?

©Morné du Preez

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

2.Doef-doef trokkie (Limeriek)

Oom Faan van Niemandsfontein,
met sy eenton-trokkie
kom hy verby met ‘n doef-doef daf-
en ry hy die hele dorp plat
net om vir arme tant Stienie te verpes!

©Morné du Preez

Augustus 2020 – OOP projek

1.’n Offerand by die kampvuur

ek het die wind kom ry
deur die langgras verby jou son
tot waar sonvangers dans
en die bokooi, die bokooi wat sing-
fluisterend in my sy

ek wil jou nooit laat vergeet
van my pastel hart
wat uit my ribbeen skeur,
na ‘n offerand om nie in eensaamheid te verweer

en ek het die wind kom ry,
tussen denneboom en assegaai
soos ‘n pyl vlugtend in die lug-
sy prooi te vind,

ek het die wind kom ry
‘n hiernamaals oor jou vallei
‘n flikkervlam of love is God;
nes ek langs jou neer kom lê

©Morné du Preez

2.Ars Poetica

Is ‘n tronk ‘n tronk?
stil terstond, in my kies, my mond-
‘n blom die grond

‘n kneukelhou ‘n uitklop klerts
van die tongrol jol
en met liefde koeterwaals in boksgeveg

of in ballingskap na iewers vêr-vêr weg
nes ‘n ouhond sy kneusplek lek,
in heilige verbond ‘n digterstronk

bly ek die slaaf
van jou woorde wat my vel deurskaaf,
die bloed, jou swartgif wat in my drif-

spalk my lippe toe
vir die kreet wat uit my balk:
“Ars Poetica, Ars Poetica!”(en dalk wil ek jou met ‘n brandrissie terg)

©Morné du Preez

September 2020 – Liefdesprojek

1.’n Tangodroom van Turkye

darteldroom my losboswuif
dans-dans my woordelyf
my voete tango-jango in Turkye
in ligbelampde tye
soos ‘n noot die pad beduie
en akkoorde my laat kantel
hou ek ophou wandel,
want my hart is ‘n draaikolk
my hart is ‘n skemerskelk
verlief op ‘n, verlief op ‘n…
nes ‘n blom kan hy verwelk
psigedelies kwinkeleer-
in ‘n tangodroom van Turkye

©Morné du Preez

November 2020 – Samesyn-projek

1.Storms

In die storms van ons samesyn
word ons uit die hemel geraffineer
soos swaar druppels plons…

word ons die mis wat verdwyn

©Morné du Preez

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

1.Die dood van ‘’n vlinder

Vol verwagting het hy met sy vlerke flonkeer
om oor die swartdood té triomfeer,
nou is hy maar ‘n spatsel
oor ‘n ruit gedrapeer.

©Morné du Preez

Mei 2021 – OOP Projek

Eervolle vermelding

Sandsketse

l
y
n
in die sand
hy skugter nie;
stok in h
a
n
d
verweef hy met sy sporadiese
omwenteling
in duine wat brand,
lyne in die s
a
n

d
doelgerig-
teken ek vir jou Van Gogh
se helderblou strepies son

©Morné du Preez.

Julie 2021 – OOP Projek

1.Liefde is soms ‘n geveg

My mond is ‘n konstruksie
waar jý nie wil wees
jou fondament verkrummel
in ‘n nagmaal, waar die sproeie oor jou wals,
my lippe is versier
teen jou lyf se ewige figuur;
verlore is ons
agter die stuur,
sal jý vlieg, liefste duif
selfs na ek jou vlerke breek
en die son verblind?
dan jaag ons die wind-
ritzel die blare en
skipskopskoppelmaai die jare.

©Morné du Preez

3.Droomtrein

Die nag bring sy storms
en winde wat waan,
vanuit ‘n donker spoor
kom hy al rollend aan

Hy dra in sy kajuite
al die dae sé mense dinge mee,
van vêr verlate tye tot met die hede
so’laat bly hul nie vergete

Elke kajuit het ‘n masker
elke masker ‘n maker
elke maker ‘n betaster;
maar die trein rol net aan en aan

Maar wagtend op ‘n perron
wag ek vreedsaam vir hom,
lomer is die jonge dag
vreemd en al vrae wat wag

Soms sluimer ‘n woeste nag
en angstige skrikbeelde wat lag,
uit die vertes kom sy vaagweg liggie aan
en fluit sy fluitjie vaag.

©Morné du Preez

Augustus 2021 – As die blare val projek

2.’n Dag vir droom

“Deeds cannot dream what dreams can do”
EE Cummings.

As ek die blare hoor val
en hul dans bespeur in die opera spel van natuur
kan dade nooit droom
soos wat drome doen,

ligs hy op windjies sweef
so op sy eie dreef
en sy val die grond beklee
sing ek luidkeels mee

dit is waar drome weef
in die val van ‘n blaar
wat saam ritselende winde sweef
en heilige dae beleef.

©Morné du Preez

September 2021 Positiwiteits-projek

2.Vlerksang

Bo die
goueprieel
het sy
haar vlerksang
gespeel, van
brandende krete
wat skor
aan
die vergete boorde
van haar lyf.

©Morné du Preez

Maart 2022 – OOP projek

3.

Hoe moet jy luister in stiltes

Geagte Mnr Seurat…
laat ek vra oor al die kolletjies,
hoe maak jy oop vir daai stiltes?
wat baldadig rondhoer-
laat ek vra oor al die kolletjies
in jou vreedsame komposisie
wat baldadig rondhoer
wyl jou doek balk krete blaas
in jou vreedsame komposisie,
hoe maak jy oop vir daai stiltes?
wyl jou doek balk krete blaas-
Geagte Mnr Seurat.

©Morné du Preez

GOUE KLAS

Junie 2022 – Winterlandskap projek

3.Winterlied

Ek lees ‘n winterboek
in die storm van ‘n eensame hoek-
want sy is my woordnat water seën
met haar grys trui en winterslied
speel sy haar dakplaatmelodiek,
sy skryf soms in die mos
en sypel tussen die takke deur ;
sy sit soms stil
in die ryptrap van ‘n winterlandskap,
en wag op jou …

©Morné du Preez




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak