Nicola Brown – Nix
BRONSKLAS:
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
1.Hunkerende hand
sy’t nie gevra vir links se las
die kains-merk wat niemand pas
om teen die grein en teen die stroom
te draai op reguit pad se droom
hul fluister hand van nag en vloek
die een wat lig uit reëls uit soek
die vinger wat nie tekens wys
soos tempel wette als ‘n kruis
die vloeksteen aan die linker kring
’n hand wat krom deur klippe dring
maar in haar vou lê ou begrip
’n skewe waarheid sonder skrip
sy sny haar letters skuins en skeef
waar elke lyn bedrog kom pleeg
’n pad wat buig soos wind in gras
wat groei waar niks mag trap of pas
is sy dan boos, is sy dan breek
of het ’n hand wat anders preek
want soms as alles reg pad gee
bring links die lig wat niemand skree
haar linkerhand nie boos, nie breek
maar dra die merk wat waarheid spreek
© Nicola Brown
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
2.In die as van my gebede
Ek het U gesoek in die rook,
tussen hande gevou van pyn,
’n mond wat vrae bloei in stilte
U antwoord het verdwyn.
***
My knieë rou teen koue vloere,
Psalms lê koud en stom,
die Woord het asem opgegee
geen God het meer gekom.
***
Ek het U naam uit woede geskreeu
my eggos lag my uit,
die hemel het my verby gekyk
net leegte was my bruid.
***
Ek het U verwyt vir elke kind
wat nooit weer kon asem kry,
vir elke lig wat onder kruis
se donker skadu ly.
***
Maar toe my denke glas breek-nag,
en hoop in skerwe lê,
het stilte soos ’n asem roer —
n fluistering, vir my kom sê
***
Nie donderstem of wonder nie,
net asem in my bors,
‘n mens wat leer om weer te leef
om U te hoor deur dors.
***
U was nooit weg…
in rook, nag, of nood.
Dis ek wat stil geword het
want geloof in my was dood
©Nicola Brown
NOVEMBER 7 DESEMBER 2025 – OOP PROJEK
1.Daldykan Reka
Huilend waai die winde, middeweg versmoor,
blind van ellende, lopend, aangehoor.
Daldykan rivier in jou rooiste kleed,
kronkelend, Gods’ guns loop jy onder eed.
***
Vloeiend deur Rusland van Wes tot Oos bekoor,
hidrologies word water dronk en getoor.
Verdoeselende stroom van verre wyd en syd,
nikkel dronk word gif in jou wand gesmyt.
***
Teen hakskeen en kop word bloedaar getap soos stroop,
vloeiend uit duine deur die berg se loop.
Die rooi rivier kaalbas in al sy moed geklee,
heimweë ver van die ooster-see.
***
Lê jy by Nornickel, kilometers naby,
bloedskemer Reka, daar vir jou en my.
Tonne nikkel word in jou maag derms gegiet,
daar in jou tak-arms word ons verbied.
***
Water leweloos oor kilometers gestrek,
huilend in die rooi met gifstof deurtrek.
Daldykan o’Reka in mooiste rooi versier,
robyn-glans kristal in trane verduur.
©Nicola Brown
2.Heliantus 137.5 (Villanelle)
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
in die sonneblom sirkel-siel-verkwik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
word groei-saad elkeen sindelik voltooi
in die mooiste gewaad geest’lik geskik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
***
een-drie-sewe punt vyf grade ontplooi
die goue hoek van die sade rangskik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
in sonstraal kleurpalet oranje-rooi
draai Helianthus na die son gemik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
***
spiraal formasies in kruis groei gegooi
kompakte rangskikkings-kode … God’lik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
triomfantlik staan elke geelhaarnooi
fibbonacci geklee ragfyn beskik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
©Nicola Brown
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
1.Na jou asem weg is (Villanelle)
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind,
ek het jou naam in die donker ontbloot.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
Jou kamer ruik nog na trane ontbind,
van beloftes wat jou groei sou verstoot.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind.
Ek tel my dae soos krale in rou verslind,
elke herinnering speel sy laaste noot.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
My arms onthou ’n gewig sonder kind,
wat my hart alleen moet dra, so groot.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind.
Hulle sê tyd genees, maar ek het bevind:
Tyd gaan aan, maar alles in my bly dood.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
En tog, tussen trane en breuke verbind,
hou ek my asem vir wat ek steeds bemind.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind;
my stilte ontbreek in die na-nag se wind.
© Nicola Brown
SILWERKLAS –
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
2.tronk-kos tot kaviaar
van brood wat breek soos beloftes in twee,
die klank van sleutels wat drome uitvee
en nagte wat lank lê en nie verby wil gee.
van tronk-kos tot kaviaar
dis geen sprokie nie,
dis sweet en stilte en wagtyd
waar niemand jou naam onthou.
hy het lepels vol skaamte geëet,
water gedrink met ystersmaak,
sy drome klein gevou
sodat dit nie teen mure kon kraak.
maar êrens tussen brood en berou
het hy weer begin glo
nie in geluk nie,
maar in môre
wat stadig oopvou.
nou klink glase teen mekaar,
sy handtekening dra gewig,
maar elke hap onthou
waar hy was
toe hy niks besit het
behalwe lig.
van tronk-kos tot kaviaar
nie omdat hy vergeet het nie,
maar omdat hy gekies het
om weer te begin.
© Nicola Brown
MAART 2026 – HERFS/KAS PROJEK
3.Agter geslote deure
daar is ’n plek waar stilte hang
soos stof tussen vergete dae,
waar rakke fluister van wie jy was
en hangers kreun onder vrae
jy trek die deur stadig oop
die lug ruik na onthou en miskien,
na jasse wat winters oorleef het
en hemde wat somers verdien
met elke stuk wat jy afhaal
val ’n deel van jou op die grond
’n ou lag wat die stilte breek
van woord wat maal tot mond
jy vou dit op, of gooi dit weg,
soos mens leer om los te laat
sonder om alles te verloor
wat eens gevorm het in haat
en tussen die leë spasies
waar lig nou skaars begin
maak jy plek vir iets nuuts
iets ligter, iets sagter, iets min
want elke seisoen vra sy tol,
maar gee ook stilweg terug
die kans om weer te kies met sorg
wat jy wil dra… of wil ontvlug
© Nicola Brown
APRIL 2026 – PATRIOTISME PROJEK
1.Onder dieselfde son
In die stof van ou paaie lê stories versteek,
in wind oor vlaktes wat sag oor my spreek,
van mense wat bou, wat struikel, wat gaan
’n land vir baie, maar tog een bestaan.
Onder dieselfde son… staan ons gebind,
deur hoop wat nog groei, al waai daar ’n wind,
my taal nie net klanke wat val op die oor,
die asem van my voorvaders, diep in my spoor.
Ek sing nie my trots om ander te breek,
maar om lig te laat val wat my erfenis versteek,
want elke kultuur sny soos lem
en saam vorm ons land ’n kragtige stem.
O’ Suid-Afrika, grond van my hart,
waar pyn en waar prag loop sonder smart,
want diep in my wese, waar woorde vergaan,
sal my taal en my land altyd bly staan.
In die been van die aarde, deur sweet en deur bloed—
’n stem uit die stof, hier klop my gemoed.
My taal is ’n vuur wat nie stilweg wil sterf,
dit brand in my bors, dis my reg en my erf.
O’ land van my hart, jy sny en jy bind,
jy breek my soms oop soos ’n woedende wind,
maar steeds sal ek kies, al kos dit my meer,
om jou te bly liefhê en jou te bly eer.
© 2026 Nicola Brown
MEI 2026 – OOP PROJEK
1.Kardiomiopatie
hulle sê ek het ’n hartsiekte
kardiomiopatie
my hartspier is verswak sê hulle
maar niemand vra wat my hart moeg gemaak het nie
niemand vra van jou nie
***
want ek weet wanneer dit begin het
nie op ’n monitor nie, nie in ’n verslag nie
maar daardie oggend toe jy vir my gesê het jy’s moeg
moeg vir baklei moeg vir probeer
moeg vir ons
***
en toe het jy weggeraak bietjie vir bietjie
jy’t my nie gelos in een slag nie
jy’t my gelos in dae wat korter geword het
in stilte op Whatsapp
in skouers wat nie meer draai as ek huil nie
in oë wat wegkyk toe ek wou terugklim in jou hart
***
ek het aanhou gee
aanhou hoop
aanhou klop
maar iets het begin verander in my bors
***
nie net emosioneel nie fisies
die klop het anders gevoel
nie meer soos liefde nie
meer soos verlies wat bly
***
hulle sê dis ’n toestand van die hart
ek sê dis jy
jy het gekom my hart gevul
en toe stil stil begin leegmaak
tot daar niks oor was nie behalwe
’n hart wat klop sonder sin
***
ek sou wou sê ek haat jou
maar ek doen nie
ek mis jou nog steeds
selfs hier waar ek moet leer om sonder jou te leef
en met ’n hart wat nie meer weet hoe om lief te hê nie
©2026 Nicola Brown
JUNIE 2026 – STREEK/OMGEWINGS PROJEK
1.Tsitsikamma
Tsitsikamma plek waar druisende waters praat
en mistige gebede teen die bergwand laat
waar riviere hul geheime deur die klowe dra
en die see se blou verlange aan die rotse kla
***
die naam is uit die ou taal van die aarde gebore
waar elke stroom nog die stem van voorouers bewaar
onder geelhoutreuse wat die hemel raak
bly eeue se verhale in die skemer waak
***
hier leer die water selfs om die hardste klip te buig
en hoe rou wonde met sagte stroomgesang getuig
Tsitsikamma waar die lewe telkens weer begin
en elke rivier die aarde se hartklop binne dring
©2026 Nicola Brown
* Tsitsikamma kom waarskynlik uit die Khoekhoe-taal en beteken “plek van baie water”.
(5)