Nicola Brown – Nix
BRONSKLAS:
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
1.Hunkerende hand
sy’t nie gevra vir links se las
die kains-merk wat niemand pas
om teen die grein en teen die stroom
te draai op reguit pad se droom
hul fluister hand van nag en vloek
die een wat lig uit reëls uit soek
die vinger wat nie tekens wys
soos tempel wette als ‘n kruis
die vloeksteen aan die linker kring
’n hand wat krom deur klippe dring
maar in haar vou lê ou begrip
’n skewe waarheid sonder skrip
sy sny haar letters skuins en skeef
waar elke lyn bedrog kom pleeg
’n pad wat buig soos wind in gras
wat groei waar niks mag trap of pas
is sy dan boos, is sy dan breek
of het ’n hand wat anders preek
want soms as alles reg pad gee
bring links die lig wat niemand skree
haar linkerhand nie boos, nie breek
maar dra die merk wat waarheid spreek
© Nicola Brown
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
2.In die as van my gebede
Ek het U gesoek in die rook,
tussen hande gevou van pyn,
’n mond wat vrae bloei in stilte
U antwoord het verdwyn.
***
My knieë rou teen koue vloere,
Psalms lê koud en stom,
die Woord het asem opgegee
geen God het meer gekom.
***
Ek het U naam uit woede geskreeu
my eggos lag my uit,
die hemel het my verby gekyk
net leegte was my bruid.
***
Ek het U verwyt vir elke kind
wat nooit weer kon asem kry,
vir elke lig wat onder kruis
se donker skadu ly.
***
Maar toe my denke glas breek-nag,
en hoop in skerwe lê,
het stilte soos ’n asem roer —
n fluistering, vir my kom sê
***
Nie donderstem of wonder nie,
net asem in my bors,
‘n mens wat leer om weer te leef
om U te hoor deur dors.
***
U was nooit weg…
in rook, nag, of nood.
Dis ek wat stil geword het
want geloof in my was dood
©Nicola Brown
NOVEMBER 7 DESEMBER 2025 – OOP PROJEK
1.Daldykan Reka
Huilend waai die winde, middeweg versmoor,
blind van ellende, lopend, aangehoor.
Daldykan rivier in jou rooiste kleed,
kronkelend, Gods’ guns loop jy onder eed.
***
Vloeiend deur Rusland van Wes tot Oos bekoor,
hidrologies word water dronk en getoor.
Verdoeselende stroom van verre wyd en syd,
nikkel dronk word gif in jou wand gesmyt.
***
Teen hakskeen en kop word bloedaar getap soos stroop,
vloeiend uit duine deur die berg se loop.
Die rooi rivier kaalbas in al sy moed geklee,
heimweë ver van die ooster-see.
***
Lê jy by Nornickel, kilometers naby,
bloedskemer Reka, daar vir jou en my.
Tonne nikkel word in jou maag derms gegiet,
daar in jou tak-arms word ons verbied.
***
Water leweloos oor kilometers gestrek,
huilend in die rooi met gifstof deurtrek.
Daldykan o’Reka in mooiste rooi versier,
robyn-glans kristal in trane verduur.
©Nicola Brown
2.Heliantus 137.5 (Villanelle)
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
in die sonneblom sirkel-siel-verkwik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
word groei-saad elkeen sindelik voltooi
in die mooiste gewaad geest’lik geskik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
***
een-drie-sewe punt vyf grade ontplooi
die goue hoek van die sade rangskik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
in sonstraal kleurpalet oranje-rooi
draai Helianthus na die son gemik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
***
spiraal formasies in kruis groei gegooi
kompakte rangskikkings-kode … God’lik
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
***
triomfantlik staan elke geelhaarnooi
fibbonacci geklee ragfyn beskik
die goue hoek rangskik noukeurig mooi
‘n spiraal partroon op sirkel gestrooi
©Nicola Brown
JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
1.Na jou asem weg is (Villanelle)
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind,
ek het jou naam in die donker ontbloot.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
Jou kamer ruik nog na trane ontbind,
van beloftes wat jou groei sou verstoot.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind.
Ek tel my dae soos krale in rou verslind,
elke herinnering speel sy laaste noot.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
My arms onthou ’n gewig sonder kind,
wat my hart alleen moet dra, so groot.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind.
Hulle sê tyd genees, maar ek het bevind:
Tyd gaan aan, maar alles in my bly dood.
My stilte ontbreek in die na-nag se wind.
En tog, tussen trane en breuke verbind,
hou ek my asem vir wat ek steeds bemind.
Na jou asem weg is, moet ek weer asem vind;
my stilte ontbreek in die na-nag se wind.
© Nicola Brown
SILWERKLAS – JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK
2.tronk-kos tot kaviaar
van brood wat breek soos beloftes in twee,
die klank van sleutels wat drome uitvee
en nagte wat lank lê en nie verby wil gee.
van tronk-kos tot kaviaar
dis geen sprokie nie,
dis sweet en stilte en wagtyd
waar niemand jou naam onthou.
hy het lepels vol skaamte geëet,
water gedrink met ystersmaak,
sy drome klein gevou
sodat dit nie teen mure kon kraak.
maar êrens tussen brood en berou
het hy weer begin glo
nie in geluk nie,
maar in môre
wat stadig oopvou.
nou klink glase teen mekaar,
sy handtekening dra gewig,
maar elke hap onthou
waar hy was
toe hy niks besit het
behalwe lig.
van tronk-kos tot kaviaar
nie omdat hy vergeet het nie,
maar omdat hy gekies het
om weer te begin.
© Nicola Brown
(1)