Retha van Deventer – Piketti
Lees meer oor Retha van Deventer (Piketti)
BRONSKLAS
JUNIE 2024 – ONBEKENDE projek
1.Hersinskim
tastend in die verlate gange
van gistergedagtes
gekarteer in seer
van verlies
verwerping
en selfveragting
soekend na sekuriteitskoördinate
word hande uitgestrek na bo
smagtend uitgereik
na ‘n ongekende môre
‘n euforie-dag
waar die son helder filter deur geloof
en hoop ‘n oop hart kalibreer
tot vrede en liefde lêplek vind
in die hersenskim
van toekomsdrome
© Retha van Deventer, 2024. – Piketti
JULIE 2024 – OOP PROJEK
2Hartsverlange
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
tussen legio sterre flonkerend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
waar pyn kristalliseer in enkel’ traan
gedy gister-gedagtes folterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
liefde wentel in wye wentelbaan
ewig buite bereik dog skitterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
in die na-nag van slierte grootheidswaan
ontwyk tastende troos verpletterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
as alleen floreer in solo bestaan
nie meer genoeg is, maar kil kenterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
gun mý ook die hartstog wat nooit sal taan
gun mý ook die koest’ring betowerend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan
Piketti – Retha van Deventer
3.Somer in jou winter
somer in jou winter
ek wil die eerste sonstrale wees
in die klowe van jou seer siel
my teen jou winter aanvly
tot my hitte versprei
diep in jou oë
en vertroue
koesterend
lêplek
vind
weg
dwarrel
rolbosse
van haat en nyd
wat teen die hange
van ’n hart kaalvoet dans
kastyding heftig haper
in gister se witter as sneeu
waar winter wankel voor my glimlag
Kopiereg: Retha van Deventer, Julie 2024.
AUGUSTEUS 2024 – SKULDLAS PROJEK
2.die hel in my
in die holte van gamkaskloof
waar waterstrome ongeknel vertel
van sorgelose rotsformasies
wat sorgvuldig opgestapel oorhel
en dagsome drome knus omvou
verlate
ongeskonde
wissel fauna en flora gemeenplasies
oor die skuldlas in my aan hul toevertrou
en agtergelaat soos eggo’s teen loodregte kranse
om weer my ekwilibrium te vind
in ‘n hemel midde die hel
©Retha van Deventer, Augustus 2024.
November 2024 – OOP projek
1.die gladde stiltes in glas
waar blinkblou ster-oë in spieëls talm
hoor’k my siel se skril frekwensie
krete wat weerloos in die kosmos weergalm
stilstom blik verstrik
troosteloos in tyd
met uitgestrekte hande
soekend’ siel
tastend in refleksie
versplinter verlange in retrospeksie
gevangene van gister
wat na môre tru-kyk
glinster geloof vasgevang
in die draai van die ander wang
waar hoop tussen lood en glas aan’t skerwe spat
en sekondes verposend draal…
soos na-nag-ure
in volmaakte maansirkels stil kring
tussen toe
en
nou
Geïnspireer deur en met intertekstitel van: die gladde stiltes in glas deur Louis Esterhuizen
©Retha van Deventer, November 2024.
SILWER KLAS
Desember 2024 – Kersfees projek
1.sensoriese euforie
wanneer Kersfeesklokke beier
en tinsel oogverblindend blink
strek liefde en hoop veel wyer
Sy geboortedag word herdink
Retha van Deventer
Februarie 2025 – Water projek
3.Oranje Poseidon-soene
ek proe jou kabbelklank in die missproei
smagtend, tastend aan rotswande
jou droogteweersin eggo in die wind se geloei
minagtend stu jy genadeloos voort na benede
donderend druis jou hidro-stem
eggo jy wit in borrellende skuimgolwe
jou tuimelsluier onbeklem’
oor oer-ou ruwwe rotskranse
wat erosie-natgetuig … seepglad
van jou stromende instinktiewe soeke
slingerend, meesleurend jou waterpad
waar jy op ‘n maanblank strand aandoen
roep ek jou ewig vaarwel
wyl jý Poseidon’s voete soen
© Retha van Deventer, Februarie 2025
Voetnota:
Neologisme: tuimelsluier – waterval
Poseidon: god van die see uit die Griekse mitologie.
(2)