Jongste aktiwiteit:

Retha van Deventer – Piketti
vir

Retha van Deventer – Piketti

Lees meer oor Retha van Deventer (Piketti)

BRONSKLAS

JUNIE 2024 – ONBEKENDE projek

1.Hersinskim

tastend in die verlate gange

van gistergedagtes

gekarteer in seer

van verlies

verwerping

en selfveragting

soekend na sekuriteitskoördinate

word hande uitgestrek na bo

smagtend uitgereik

na ‘n ongekende môre

‘n euforie-dag

waar die son helder filter deur geloof

en hoop ‘n oop hart kalibreer

tot vrede en liefde lêplek vind

in die hersenskim

van toekomsdrome

 

© Retha van Deventer, 2024. – Piketti

 

JULIE 2024 – OOP PROJEK

2Hartsverlange

my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
tussen legio sterre flonkerend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan

waar pyn kristalliseer in enkel’ traan
gedy gister-gedagtes folterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan

liefde wentel in wye wentelbaan
ewig buite bereik dog skitterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan

in die na-nag van slierte grootheidswaan
ontwyk tastende troos verpletterend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan

as alleen floreer in solo bestaan
nie meer genoeg is, maar kil kenterend
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan

gun mý ook die hartstog wat nooit sal taan
gun mý ook die koest’ring betowerend
my hartsverlang’ hang hunk’rend aan die maan
wie sal my tog hoor … wie sal dit verstaan

 

Piketti – Retha van Deventer

 

3.Somer in jou winter

 

somer in jou winter

ek wil die eerste sonstrale wees

in die klowe van jou seer siel

my teen jou winter aanvly

tot my hitte versprei

diep  in  jou  oë

en   vertroue

koesterend

lêplek

vind

weg

dwarrel

rolbosse

van haat en nyd

wat teen die hange

van ’n hart kaalvoet dans

kastyding    heftig       haper

in  gister  se  witter  as  sneeu

waar winter wankel voor my glimlag

Kopiereg: Retha van Deventer, Julie 2024.

 

AUGUSTEUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

2.die hel in my

in die holte van gamkaskloof
waar waterstrome ongeknel vertel
van sorgelose rotsformasies
wat sorgvuldig opgestapel oorhel
en dagsome drome knus omvou
verlate
ongeskonde
wissel fauna en flora gemeenplasies
oor die skuldlas in my aan hul toevertrou
en agtergelaat soos eggo’s teen loodregte kranse
om weer my ekwilibrium te vind
in ‘n hemel midde die hel

©Retha van Deventer, Augustus 2024.

 

November 2024 – OOP projek

1.die gladde stiltes in glas

waar blinkblou ster-oë in spieëls talm
hoor’k my siel se skril frekwensie
krete wat weerloos in die kosmos weergalm
stilstom blik verstrik
troosteloos in tyd
met uitgestrekte hande
soekend’ siel
tastend in refleksie
versplinter verlange in retrospeksie
gevangene van gister
wat na môre tru-kyk
glinster geloof vasgevang
in die draai van die ander wang
waar hoop tussen lood en glas aan’t skerwe spat
en sekondes verposend draal…
soos na-nag-ure
in volmaakte maansirkels stil kring
tussen toe
en
nou

Geïnspireer deur en met intertekstitel van: die gladde stiltes in glas deur Louis Esterhuizen

©Retha van Deventer, November 2024.

SILWER KLAS

Desember 2024 – Kersfees projek

1.sensoriese euforie

wanneer Kersfeesklokke beier
en tinsel oogverblindend blink
strek liefde en hoop veel wyer
Sy geboortedag word herdink
 
Retha van Deventer

 

Februarie 2025 – Water projek

3.Oranje Poseidon-soene

ek proe jou kabbelklank in die missproei
smagtend, tastend aan rotswande
jou droogteweersin eggo in die wind se geloei
minagtend stu jy genadeloos voort na benede

donderend druis jou hidro-stem
eggo jy wit in borrellende skuimgolwe
jou tuimelsluier onbeklem’
oor oer-ou ruwwe rotskranse
wat erosie-natgetuig … seepglad
van jou stromende instinktiewe soeke
slingerend, meesleurend jou waterpad

waar jy op ‘n maanblank strand aandoen
roep ek jou ewig vaarwel
wyl jý Poseidon’s voete soen

 

© Retha van Deventer, Februarie 2025

Voetnota:

Neologisme: tuimelsluier – waterval

Poseidon: god van die see uit die Griekse mitologie.

 

MEI 2025 – OOP PROJEK

1.slenter-smagting

ek wil weer sorgeloos saam met jou slenter

op bokspoorpaadjies en deur wildevaringruigtes

langs kabbelende strome en bruisende branders

die gejaag na ’n grou bestaan agterlaat

totdat geboue en beton wegsypel

soos reën in die dorstige kalahari-sand

sodat ek deur die nimmereindigende newels

van voortslepende hede-roetine

’n nuwe môre kan sien

’n kristalhelder kaleidoskoopdag

waar dit net weer ek en jy is

…op bokspoorpaadjies

in wildevaringruigtes

langs kabbelende strome

en bruisende branders

 

Retha van Deventer

 

JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK

1.Solo-uitstappie

ek hunker daarna om
heuningsoet herinneringe oop te sprei
(soos ’n blommetjiesdeken of blokkieskombers)
en ‘n mandjie vol somer-onthou uit te pak
bietjie-bietjie te peusel
aan keurige koestergedagtes
en godgegewe gisters…
dit soos warm sonstrale
deur my te voel versprei
terwyl vandag ’n steeltjieglas vol
nostalgie skink
en ek dit argeloos
met lewensblyheid indrink
kommervry

 

© Retha van Deventer, Junie 2025.

 

2.Roostuin-rendezvous

allerfraai kom hul vrolik aangefladder

van alle kante

sysag

grasieus

in hemelse kleurpalet getooi

wit

geel

oranje

selfs gespikkel met rooi

wikkel hul lyfies

om vir ’n stonde

onomwonde

deel te wees

van die roostuinpiekniek

’n ware vlindernektarfees

 

© Retha van Deventer, Junie 2025.

 

JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK

1.tanende tempo van tyd

wanneer die tempo van tyd afneem

by die stilstaan van jou fotoraam

herinneringe tydloos talm

en ‘n glimlag luiweg sy plek kleim

in die koördinate van vergange jare…

verlustig ek my in ons

 

wanneer die tempo van tyd afneem

fluister ek steeds jou naam

kwyn verlange en verdwyn smart

want ons liefde is soewerein

selfs oor hemelse grense…

verbly ek my in ons

 

wanneer die tempo van tyd afneem

is ons weer onwrikbaar saam…

 

© Retha van Deventer, Julie 2025.

 

2.Uurglasdrome

‘n blink toekoms wink met sonstraalglans

die  voordag  bekoorlik  nader

chronos gedy voorspoedig

minsame sekondes

tik-tok aanloklik

vervul wense

propvol lag

vreugde

soet

sout

hartseer

dolleeg hart

dog oorvol smart

wanneer trane stroom

en dreig om te verswelg

luier  kairos  doelloos  leeg

in die nanag van eensaamheid

spat uurglasdrome kru aan s

k

e

r

w

e

© Retha van Deventer, Julie 2025.

 

SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK

1.Simfonie

die kakofonie van klank skryn

soos krassende kraaie

dissonant

steen des aanstoots

stem elkeen blatant in

solo

‘n instrument

met wedywerende toonhoogte

en tiradiese tempo

kerm crescendo’s selfsugtig

falsetto in stryd teen tyd

 

wanneer maestro sy stokkie lig

daal doodse stilte sereen neer

frappant swiep die maat begerig

vanaf sy slanke gewrig, kalmerend

in absolute beheer, hipnotiserend

gehoor hou hul asems op … afwagtend

met eens seën legato note … meevoerend

 

soos hemelse kore betowerend begin ‘n simfonie in sekure harmonie

 

© Retha van Deventer, 29 September 2025.

 

3.woordmag

jou               swetsende                       woorde
laat my                                  swymelend vlamrooi
wanneer jy    skeltaal                        kwetsend
teen my werp
soos              skrapnel

 

                              in                                hellevlug

 

draai ek             my                rug wanhopig krom

as verydelde skans

 

met my lippe loom na joune gerig
straal my bloesende gesig begerig
minsaam en soet klink jou liefdeswoorde
soos suiwer nektar vir my sinne
salwend soos seldsame olies en mirre
vir my hunkerende hart hier diep binne

woorde gespreek… lei tot liefde of leed

© Retha van Deventer, 29 September 2025.

 

OKTOBER 2025 – OOP PROJEK

1.ek mis myself

wanneer die volmaan boggelrug oor die berge loer

en ek geheime gesprekke met ver winkende sterre voer

kom lê daar ‘n hunkering na ongekarteerde koőrdinate in my hart

wanneer ragfyn grassade in die wind warrel

smag ek na die ongebondenheid daarvan

vry van voorskrifte

vry van voorgee

een met die natuur se weë

waar rang en herkoms

geen verskil maak nie

wanneer skulpgruis onbeskaamd

hul pêrelflikkers vir die son gooi

terwyl branders poog om hul in skuim te verswelg

verlang ek daarna

om ook my ware kleure te wys

en net weer

myself te wees

© Retha van Deventer, 31 Oktober 2025.

 

2.karookind sal ek bly

tussen aand- en waterblommetjies

koringlande en angorabokke

lê my voetspore

en eggo my lag

gekoester deur die Outeniqua en Swartberg

vertroetel in Hottomskloof

geloof geanker in die klinkklare tablo

Van noem-noem, klapperbos en kambro

wat onwrikbaar swyend getuig

van opregtheid

en deursettingsvermoë

vir ewig gewortel

in die Klein Karoo

 

© Retha van Deventer, 31 Oktober 2025.

 

FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK

3.woorde is oorbodig

die vredige stilte tussen ons spreek meer as ‘n duisend woorde

waar ons onbevange flankeer met melankoliese maanligstrale

en sterre sito-sito hul verganklikheid sein in flonkerende morsekode

 

jou nabyheid is ‘n kosmiese orgasme

 

Retha van Deventer

 

MAART 2026 – HEFS/KAS PROJEK

1.maak my oop

o gooi my deure wyd oop

sodat lig my kan binnedring

en ‘n skouspel kleure oopkring

die duisternis in my tydelik verdring

 

o gooi my deure wyd oop

sodat ek jou fladderende vingers kan gade slaan

wanneer hul liefderyk oor dit wat ek jou kan bied stryk

wyl jy knus hier teen my staan

 

o gooi my deure wyd oop

sodat jou genoegdoening ook my bereik

wanneer jy in mý jou keuse vind

en onbeskaamd daarmee pryk

 

o gooi my deure wyd oop

laat eensaamheid vir ‘n wyle wyk

 

Retha van Deventer

 

2.grabbelaar

jy los my in ‘n warboel

wanneer jy lukraak

van rak tot rak

tas en torring

en onbeheersd rondvroetel

troetel jy jou soeke

na iets gepas

of

skalks

flambojant

en astrant

wat perfek pas

(by jou)

tiener-parmant

jy los my in ‘n warboel

 

Retha van Deventer

(14)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Pikettie het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak