Yvonne de Kock
BRONSKLAS
September 2021 – Positiwiteits-projek
3.Botseltjies met bekkies getuit
Met die winter verby,
kan ons die koue vergeet
en sonder énige twyfel
kan ons dit maar weet…
dat die snerpende koue winter
nie gekom het om te bly,
dus kan ons maar in
“dis heerlike lente” gedy!
Nuwe botseltjies bot
vrolik aan bome groen;
héérlike beloftes van
geelperske en lemoen.
O, die wonder van die lente
wanneer botseltjies hul bekkies getuit
oopmaak en veelkleurige blommetjies
in die lente uitbundig uitspruit.
Kyk verby die bruin en vaal
na die blou van die lente in die lug
en drink die wonder daarvan in
met ‘n diep en behaaglike sug.
Luister fyn in die lente
wanneer die voëltjies sing,
sodat dit hemelse musiek
na jou ore mag bring.
Ja, strelend op jou hartsnare speel
en jou diep in jou innerlike wese heel.
Niks, is só sielsverkwikkend en vars
as kleure wat uitspattig uit hul nate bars.
Ook trane van blydskap soos hemelse dou,
ná die winter se genadeloos en geniepsige kou.
Sing dan “dis heerlike lente, die winter is verby”
en wees juigend soos wat jy jou daarin verbly.
(Kopiereg voorbehou)Yvonne de Kock