Rika Gerryts
Mei 2024 – OOP projek
1.Vergifnis
1805 woorde
Swiep-swiep-swiep suis duiwevlerke saggies, hoog bo sy kop. Soos ‘n enkele organisme rek en krimp, maal en beur hulle weer al hoër, net om skielik weer te duik en swiep. Frikkie Basson staan wydsbeen op sy netjiese grasperk, hande agter sy heupe. Hy balanseer onbewustelik sy boepens deur sy rug agteroor te krom. Sy wedvlugduiwe is sy eerste liefde. Vir húlle is geen moeite te veel nie. Klokslag 05:30 elke oggend gee hy vir hulle vars water en maak die duiwehokke skoon. Die laatsomer lug is vandag helder blou en hy verlustig hom aan hoe hulle grys en wit vlerke in die son flikker. Bella is sy spog hen. Hy het haar onlangs by ‘n klublid gekoop en sy kom uit ‘n uitstekende bloedlyn. Skielik vang sy oog die bont romp van sy buurvrou. Sy sit onder haar boom tussen die potte vrolike saailinge. Skandalig, dink hy. Hy loer na sy polshorlosie. Skaars 11:30 in die oggend en sy sit al met ‘n glas witwyn, ‘n bak kaaskrulle en ‘n storieboek in die koelte. Haar wilde bos krulhare word in toom gehou deur ‘n gehekelde kopband. Antoinette se huis lyk net so deurmekaar soos sy. Sy glo huis skoonmaak is net ‘n onnodige mors van tyd en ‘n paar dae later lyk alles maar net weer so deurmekaar. Sy kan altyd aan baie beter dinge dink om met haar tyd te doen.
“Môre Buurvrou! Die laaste van ons goeie weer, nê?” groet hy.
Antoinette kyk op. “Nes jy daar sê, Buurman. Middagete”, beduie sy met haar vinger na die kaaskrulle. Sy krap Stoffel saggies agter sy ore en sit ‘n boekmerk in haar boek. “Ek het ‘n lekker vars melktert. Sélf gekoop” spot sy. “Kom so 15:00 oor, dan maak ek vir ons koffie”.
Frikkie dink eers vinnig. “Dit sal lekker wees, dankie Antoinette. Hoekom het jy my nie gesê nie? Ek het ‘n heerlike resep vir melktert en kon een vir jou saam gebring het”. Hy groet met sy regterhand en draai huis se kant toe. “Sélf gebak”, praat hy saggies met homself.
Antoinette sit hulle bekers koffie op die kombuistafel neer. Frikkie bly rondkyk. Die kombuis het bont gordyntjies en is vol snuisterhede, maar alles is darem blinkskoon. Hy kyk of hy haar vadoeke kan sien. Gelukkig is hulle ook silwerskoon. Hy ontspan merkbaar. Stoffel, haar gemmerkat, lê in ‘n sonkol. Seker die beste stoel in die huis, dink Frikkie. Hy weet Stoffel hou nie van hom nie. Antoinette het al gesê dat Stoffel baie territoriaal is, al het sy hom laat sterriliseer. Kyk net hoe gluur hy vir hom, wat Frikkie is aan. Só, al asof hy iets is wat die kat ingedra het. Frikkie glimlag vir sy eie pittigheid.
Antoinette merk op hoe Frikkie na Stoffel kyk. “Moet jou nie aan hom steur nie. Stoffel besit kaart en transport van hierdie eiendom en ék, is sy kosbare slaaf. Sy sny die melktert in agt skywe en skep vir hulle elkeen ‘n skyfie in. “Sukkel jy ook so met miere, Buurman? Mens kan nie waag om ‘n krummeltjie te laat lê nie”.
“Ek mandjie my duiwe einde van die week. Ons klub laat almal by Drie Susters los” sê Frikkie opgewonde. Ek kan nie wag om te sien hoe Bella gaan vaar nie. Hulle is so 200 km op die vlerk en ek sien uit daarna om uit te vind hoe lank dit neem voor my eerstes begin inklok”.
“Dit klink interessant Buurman. Ek sal duime vashou vir jou duiwe. Ek hoor daar het nuwe mense ingetrek by nommer vyf. Jongmense, sonder kinders. Lyk of hulle heeldag werk, want niemand sien hulle nie. Ek sal gaan kennismaak sodra my uitstalling verby is. Sy raak ernstig en steek die potlood wat agter haar oor was, deur ‘n bolla hare wat sy ingedagte bo-op haar kop gedraai het. Die sperdatum vir my kunsuitstalling is om die draai. Ek gaan myself dood moet werk om alles betyds klaar te kry. Die olieverf moet genoeg tyd hê om behoorlik droog te word. Ek weet nie of dit van al die stres is nie, maar ek het nou al vir weke ‘n allervreeslike lus vir sjokoladebruintjies. Het jy nie dalk ‘n lekker resep daarvoor ook nie?” vra sy hoopvol.
Antoinette het ook geen benul van wedvlugduiwe nie, besluit Frikkie. “Ek sal na my skedule moet kyk en vir jou bak as ek tyd kry”, sê hy darem. Hy beur orent en stoot die houtstoel vorentoe. “Nou ja” sug hy. ”Dankie vir die koffie. Ek sal moet wikkel, my draftyd begin 16:30”.
Die volgende oggend 05.30 is Frikkie by sy duiwehokke. Hy luister na hulle diep gekoer en trek die warm slaapreuk van donsvere en mielies diep in sy longe. Hy sal die luike net na ontbyt oopmaak sodat hulle weer bietjie kan vlieg. Vandag maak hy van 09:00 tot 12:00 ordéntlik huisskoon.
Net na 12:00 gaan Frikkie buitentoe. Oudergewoonte bewonder hy eers sy netjiese groen grasperk. “Wat de….?” Op die grasperk lê ‘n bondel bloederige vere. Hy hardloop daarheen en val op sy knieë. “Nee! Nee! Nee!” Frikkie word eers vuurwarm en dan begin hy sweet. ‘n Naarheid oorval hom en hy moet plat gaan lê. “Bella! Bêêlla!”. Dit kan nie wees nie! Dit voel of hy droom. Hoe het dít gebeur? ‘n Witwarm woede begin in hom opstoot. Antionette en haar Stoffel! Dit kan nie anders nie. Hy draai daardie kat se nek met sy kaal hande om! Al sy drome is daarmee heen. Sonder dat hy dit besef, is die res van die dag se roetine ook daarmee heen. ‘n Swaar, swart gevoel kom lê op sy gemoed.
Daardie nag maak Frikkie nie ‘n oog toe nie. Hy lê en rondrol. Hy kan nie die beeld van ‘n bebloede Bella uit sy geestesoog kry nie. Net voor dagbreek soek hy op die internet rond. Aldicarb, besluit hy. Dit is slegs verkrygbaar op die swartmark. Hy kyk ook na resepte vir katbederfies. Hy sal vir die tuinman sê daar is ‘n rotteplaag in sy huis se dak.
Die volgende week oorhandig die tuinmaan ‘n klein pakkie. “Meneer moet maar versigtig wees met hierdie goed. Hou dit vêr weg van Meneer se hande en eetgoeters”. Frikkie gaan koop ‘n ‘funky’ eetbakkie vir Stoffel. Hy sal vir Antoinette sjokoladebruintjies bak. Hy kan nie vir haar kwaad wees nie. Bella se dood was nie haar skuld nie. Die aldicarb sal hy saam met Stoffel se bederfies bak. Hy meng die bestanddele met ‘n plastiek lepel en vurk, in ‘n polistireenbakkie. Net om ekstra versigtig te wees, plaas hy drie velle bakpapier op die bakplaat.
Frikkie neem die gebak vroegaand na Antoinette. Hy dink nie eens aan sy drafroetine nie. “Ek het sommer vir Stoffel ook ‘n ou bederfie gebak. Gee dit vir hom netso in sy nuwe bakkie”.
“Ai, dankie Buurman, dit is gaaf van jou. Dit gaan nou heerlik smaak!” sê Antoinette. “Stoffel gaan ook in sy noppies wees. Ek wens ek kon jou innooi vir ‘n koppie koffie, maar ek skilder nou soos ‘n besetene om betyds klaar te kry”.
Frikkie is nog besig om sy voordeur oop te sluit, toe hy skielik tot besinning kom. “O hemeltjie tog! Wat op aarde het jou besiel Frik Basson!” Die arme Stoffel. ‘n Gifdood is iets aller verskriklik! Hy moet dadelik vir Antoinette bel en sê daar is iets verkeerd met sy gebak. Hulle moet dit asseblief nie eet nie. Hy sal later iets uitdink vir ‘n verskoning. Antoinette se selfoon lui en lui. Hy los nie ‘n stem boodskap nie, maar hardloop so vining as wat hy kan terug na Antoinette se huis toe. Hy lui die voordeurklokkie, oor en oor. Daar brand ligte in haar solderateljee en iewers in die huis speel Mozart se Die Zauberflüte. Hy lui die voordeurklokkie nog ‘n paar keer, tervergeefs. Skielik tref ‘n nare gedagte hom. Antoinette het ‘n enorme eetlus. Sê nou net sy het ook aan Stoffel se bederfies geproe en hulle lê albei dood op die kombuisvloer? Miskien moet hy die nooddienste of die polisie bel. Maar hoe gaan hy die situasie aan hulle verduidelik sonder om homself te inkrimineer?
Daardie nag maak Frikkie weer nie ‘n oog toe nie. Hy kan nie glo dat hy so ‘n onnosele ding aangevang het nie. Antoinette sou hom mos dadelik verdink het as Stoffel iets oorgekom het. Hy weet arme Bella het ‘n wrede dood gesterf, maar hy moes nie kwaad met kwaad vergeld het nie. Hy sal Stoffel vergewe. Dié het seker maar net gedoen wat katte van nature doen. Om alles te kroon hoor hy nou ‘n vreemde, onaardige geraas. Dit is ‘n gegrom en ‘n geknor met vreeslike skreeklanke. Slaap is nou heeltemal buite die kwessie.
Die volgende oggend is Frikkie vroeg by Antionette se huis. Hy lui die voordeurklokkie dringend, twee keer na mekaar. Hy hoor voetstappe en sekondes later staan Antoinette in lewende lywe voor hom. Haar hare wild en in alle rigtings, met Stoffel agter op haar hakke.
“Antoinette! Jou liewe ding!” Frikkie wil haar om die hals val, maar sy staan verskrik een treë agteruit.
“Kom gou binne. Ek maak ‘n vinnige koppie koffie voor ek weer verder werk”, nooi sy hom binne. Hoe is jy dan vanoggend so vroeg, Buurman? Moet jy nie besig wees met jou duiwe nie?”
“Uuum…ja”, sê Frikkie verleë. “Ek wou net kom kyk het of jy en Stoffel okei is na gisternag se vreeslike geraas”
Koffiebeker in die hand sê Antoinette “Die nuwe intrekkers moet beslis ‘n kat hê. Stoffel het maar net sy grondgebied beskerm”. Stoffel lê gemaklik op haar skoot. Sy vryf die spinnende kat agter sy ore. “Hy is so ‘n liewe, ou lui kat. Vang nooit eers meer ‘n muis of ‘n voël nie”.
“Het julle van die sjokoladebruintjies en bederfies geëet? vra Frikkie versigtig.
Antoinette sit haar hand voor haar oë. “Ek weet nie hoe om jou in die oë te kyk nie, Buurman. Ek voel so aaklig daaroor. My kop was net gefokus op my skilderwerk. Ek het al jou gebak op die kombuisrak vergeet en toe ek om middernag daarvan onthou, was alles oortrek van die dekselse miere. Ek dink sjokolade mag giftig wees vir miere, want daar het hordes dooie miere rondom die gebak gelê”.
Baie verlig sê Frikkie dat hy sommer vanmiddag nog vir haar en Stoffel gaan bak.
“Hoe het jou duiwe toe gevaar, Buurman?”
Frikkie vertel dat Bella verlede week wreed vermoor is. Hy het nie lus gehad om sy duiwe te laat vlieg nie. Frikkie hou vir Stoffel dop. Nog voordat Antoinette iets kon sê, maak Stoffel sy een oog luierig oop. Frikkie kan sweer die kat voel vir hom jammer. Só, al asof hy wil sê, “Buurman, van nou af staan jy en die duiwe g’n kat se kans nie”.
Rika Gerryts
Desember 2024 – Kersfees projek
1.Die Tiekiepoeding
“Ouma Rykie! Ouma Rykie, kyk my tand is uit!” het klein Talia vanoggend dadelik aangekondig, terwyl sy by die agterste motordeur uitpeul.
“Wat het jy by die tandmuis gekry?” het Oupa Piet ondeund gevra.
“Honderd rand! Oupa,” het sy trots gesê.
Maryke sit en luister na haar kinders se vrolike gekwetter rondom die reuse- eetkamertafel. Dit laat haar hart warm klop. Hierdie Kersfees is dit haar en Piet se beurt en al die kinders en kleinkinders is saam onder een dak. Hoe gelukkig is ons nie, dink sy. Maryke het daarop aangedring om al die kos self gaar te maak, net soos wat elke kind daarvan hou.
Op die buffet lê ‘n pakkie, mooi toegedraai in bont papier. Die kleintjies loer heeltyd daarna, want hulle weet dié een wat die skoongekookte tiensentstuk in Ouma se trifle raakbyt, mag die verrassingspakkie kry. Haar tiekiepoeding met ‘n twist, soos wat die kinders dit noem. Die geliefde trifle het al ‘n ritueel geword en die mascarpone kaas is haar eie dekadente geheimpie.
Sy kyk liefderik na Piet. Haar Piet is agt jaar ouer as sy en word volgende jaar 83. Die laaste tyd raak hy bietjie deurmekaar en vergeet maklik. Sy probeer hom beskerm, maar sy het gesien hoe die kinders so onderlings na mekaar kyk. Sy het nie hierdie jaar geraas omdat hy laasnag, soos gewoonlik, al die geregte voor die tyd uitprobeer het nie. Sy kon vanoggend sien dat hy met haar kleefplastiek gekarring het. Gelukkig het hy darem alles in die bakke weer probeer skuif soos wat dit was. Aan haar trifle het hy diep gehap, maar sy het dit gered met die grofgebreekte stukkies meringues en geklopte room.
“Hoeveel het die tandmuis vir Oupa gebring?” vra klein Talia onverwags.
Oupa Piet hou dadelik sy hand voor sy mond en sê ernstige “nee, ons muis is maar arm. Net tiensent!”
“Ag gross!” skree klein Alaria. “Hier is ’n tand in my trifle!”
Haar ma troos dadelik. “Die tandmuis hier is al oud en bietjie deurmekaar. Hy het seker maar die tand hier vergeet en die tiensent weer saamgeneem.”
Rika Gerryts
FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK
2.As die berge roep
Lente skrik wakker. ‘n Korset van onheil druk om haar bors, kompleet asof sy weer gedroom het. In die donker gloei 05:00 rooi op die bedkassie. Onverwags vul die Groot Mars uit Aida die slaapkamer. Dawie se slaperige stem beëindig die musiekuitvoering.
“Waar? … Waar’s jy nou? … Ek kom dadelik!”
Tussendeur hoor Lente slegs “Bergbrand … net na middernag … almal se volk slaan brand.”
Dawie praat vinnig, terwyl hy blitsig terugklim in die klere wat hy gisternag langs die bed laat val het.
“Dit was Willie. Daar’s brand. Hy’s al oor Jaco se grond. Hy’t ‘n deel van sy wingerd verloor. Dit brand nou op Kobus se plaas. Die wind maak dit moeilik. Jy moet vir Mientjie bel as jy iets wil weet, ek sal jou ook op hoogte hou.” Hy piksoen haar wang so in die draf en gryp die bakkie se sleutels. Die agterdeur slaan toe. Sy brandplakke lê altyd op die agterstoep. Lente hardloop agterna, Dawie se selfoon in haar hand, maar sy wiele skop reeds klippers op teen die afdraand plaaspad. Haar bene vou onder haar in en sy gaan sit verlam op die rand van die bed. “Hemelse Vader, U is almagtig. Bewaar ons elkeen asseblief vannag.” Sy voel hulpeloos. Daar is niks wat sy kan doen om te help nie.
Vandat hulle hier bo-op die berg gekoop het, is bergbrand Lente se grootste vrees. Dawie het juis verlede week gesê die fynbos bou op. Die brandbeskermingsvereniging het boere verbied om voorbrande te maak, selfs dié met permitte en bossiekappers kan ‘n vonk veroorsaak, sou die lemme teen ‘n klip kap. Elke Februarie gaap die kraaie en hierdie jaar is die droogte op sy felste.
Lente dink aan die beklemende gevoel wat haar wakker gemaak het. Haar eienaardige droom van golwende vlamme wat haar soos wilde diere jaag. Sy hardloop, maar die vlamme is vinniger en sy kan nêrens skuil nie. Sulke nagte skud Dawie haar wakker. Snags as sy wakkerlê, wonder sy wat mens in ‘n kort tydjie sal gryp om saam te neem.
Die wind ruk-ruk aan die sinke op die dak. Lente strompel kombuis toe en sit die ketel aan. Jeb moet inkom. Die hitte stuit haar soos ‘n muur toe sy die voordeur oopstoot. ‘n Sieklike oranjegeel glans verkleur die donker en die wind dra ‘n sterk rookreuk. Sy streel die onrustige donkerbruin Africanus om sy ore, haal ‘n snoephappie uit die blikkie en maak al die vensters dig toe. Sy dink aan hulle agt-en-sestig hektaar plasie. Op ‘n dokument het daar twaalf haar gelede gestaan “Nie geskik vir landbou nie.” Hulle het vir die uitsig gekoop; die hoë lappie grond tot op die kruin van die berg. Dawid en sy het self die werkershuisie opgeknap, ‘n stoep voor en agter, asook ‘n gerieflike kombuis en badkamer aangebou. Die eenvoudige huisie met die fynbostuin hou vir haar ‘n bekoring in. Dawie en sy het sonder hulp vierhonderd gate gegrawe en klein olyfboompies geplant.
Sy skakel vir Mientjie om te hoor of sy al iets gehoor het.
“Toe ek laas met Willie gepraat het, het die brand van Kobus se plaas af wyer versprei. Hulle het groot skade, maar die huise is nog buite gevaar.”
“Het hy iets van Dawie gesê? Is hulle veilig?”
“Klink vir my hy en Dawie is nie saam nie. Die grondspanne is wyd verspreid. Hy het gesê dit gaan maar moeilik in die intense hitte en die wind is onvoorspelbaar. Willie sê die boere en die brandbeskermingsvereniging het vir lug-ondersteuning gevra. Dit sal baie makliker gaan ná dagbreek as die helikopters water uit die half vol opgaardamme kan skep. Ai, die droogte … Lente, my vriendin, ons kan maar net bid vir beskerming vir die brand- en reddingspanne en dat die wind sal gaan lê.”
Lente weet dat die helikopters nie kan opstyg voordat die wind bedaar het nie. Skielik voel dit vir haar asof sy in haar droom is. Vir die eerste keer word die droom vir haar werklikheid. Sy onthou ‘n kartondoos in ‘n donker hoekie onder Ouma Essie se rakke vol ingelegte vrugte en konfyt. Sy was bang. Almal het na haar geroep, maar sy was te lam om te beweeg of ‘n geluid te maak. Daar was groot vlamme op Ouma en Oupa se plaas. Mamma het bly roep en roep. Sy kan niks verder onthou nie. Dan onthou sy skielik van die groot swart wat al om die huis gelê het en dat haar ma vir ‘n paar dae weg was. Niemand het ooit weer van daardie dag gepraat nie.
Sy hoor die ritmiese polsing van die eerste helikopter se lugskroef. Verlig merk sy dat die wind gaan lê het. “Dankie Hemelse Vader!” Sy wip van die skrik toe die Groot Mars van Aida laatmiddag opklink. Lente druk die antwoordknoppie gretig.
“Dawie! Ek weet nie waar jy nóú is nie, maar maak dat jy by jou huis kom! Julle moet dringend ontruim. Die pad daar van julle af, na die pas toe, brand nou aan weerskante. Julle moet maar dieper berg in,” skree Willie se stem gejaagd.
“Dawie, waar ís jy?” prewel Lente bekommerd. Sy gryp hulle dokumente en skootrekenaarsakke, prop sommer hulle kroniese medikasie ook daarin. Sy druk ‘n stel skoon klere vir Dawie in ‘n inkopiesak. Sy sit alles by die voordeur neer saam met ‘n kan vyf liter water. Lente sukkel om die onrustige Jeb se harnas aan te knip. Sy moet seker ook maar aantrek, dink Lente en skakel die radio aan vir geselskap.
”die Kaap, die Kaap, die Kaap se berge roep
maak, maak die sluise van die hemel oop,”
sing die refrein van Bok van Blerk se liriek.
“Dawie, Dawie!” Haar onrus veroorsaak woede. Is hy dalk beseer? Verlig hoor sy die bakkie op die grondpad aankom.
“Sping!” Hy gooi alles agter op die bakkie. “Paul het ons genooi om by hulle te bly totdat die brand onder beheer is.”
“Jeb sit binne,” sê Lente ferm. Die son is onsigbaar, verskans deur verstikkende rook. Haar longe brand. “Dawie!” roep sy beangs uit.
“Toemaar, ons is veilig. Die bloekombome en digte fynbos is brandstof vir die vuur,” sê Dawie uitgeput. Sy klere en lyf lyk so verinneweer dat dit Lente se beskermingsdrang wakkermaak en sy plaas haar hand op sy knie.
Daardie nag, terwyl hulle slaap, maak die sluise van die hemel oop. Die reën giet tot vroegoggend. ‘n Wonderwerk in Februarie.
Later ry Dawie en Paul om na die skade op hulle plasie te gaan kyk.
“Die brand het oor ‘n groot deel van die plaas gehardloop, maar is onder beheer. Die veld smeul nog oral.” Sê Dawie.
Twee dae later keer hulle terug. Lente sien die groot swart al om haar. Hulle ry met die kronkelpad teen die opdraand uit. Dawie praat nie. Die olyfboord is verwoes en die watertenke is gesmelt.
Hulle staan verslae op die voorstoep. Die plasie is onherkenbaar verniel. Verstom sien Lente skielik waar die brandlyn gestuit is. Die groot swart eindig slegs 2 meter van die voorstoep af. Die berge het betyds geroep.
“Dankie Hemelse Vader, dankie,” fluister sy. Sy slaan haar arms om Dawie se lyf. Hulle sal weer oor begin.
Dawie en haar skuilplek is veilig.
© Rika Gerryts
(1200 woorde)
Maart 2025 – OOP projek
1.Bosbokkie-oë
My bene skanier outomaties inmekaar en ek sak soos ‘n sak aartappels in die skadu van ‘n wilde proteabos neer. Hierdie gloeiende rooi gesig het ek te danke aan my vriend se avontuurlistigheid.
“Plaas het jy nie nét gehardloop as iemand jou jaag nie,” lag Jonathan ten koste van my eie ou grappie, “dan was jy nou heelwat fikser, Dude.” Ek glimlag net, te moeg om saam te lag. Ons het geklim tot naby die grot se ingang. Destyds het Jonathan se oupa ontdek dat die grot twee openinge het en dat dit met ‘n enkele deurgang verbind is. Hier reg voor ons, grynslag die Grot tandloos met ‘n gapende oop bek. Ek kan sweer dat twee rotsformasies soos hol oë lyk. Dit voel kompleet asof hy vyandig vir my grinnik en ‘n voorbode gryp met koue vingers beklemmend om my hart. Hy wág vir ons, wag vir dit wat gaan gebeur.
“Ek hou nie van die Grot se bakkies nie,” probeer ek op ‘n ligter noot sê terwyl ‘n rilling oor my lyf draf.
“Ja, jy kan nie so ‘n gesig vertrou nie. Sy oë sit nét te naby aan mekaar,” skerts Jonathan so onderlangs. Ons is al beste vriende van Graad 1 af en ons kom baie goed oor die weg, maar soms kan ek hom verwurg oor sy onvermoë om enige iets ernstig op te neem.
In ‘n gemoedelike stilte tussen ons, kraak ‘n takkie onverwags. Ek wip orent. Sagte bruin bokkie-oë kyk stip in myne. Tania! skiet dit deur my gedagtes. Net so skielik as wat sy verskyn het verdwyn sy, onsigbaar ingesluk deur die fynbos.
“Bosbokkie,” sê Jonathan. “Hulle loop volop hier rond en verniel die wingerd.”
Onbepland takel ek die olifant in die vertrek. Dit was immers my plan om hierdie langnaweek finaal te besluit. “Ek het besluit om my en Tania se verhouding te verbreek,” los ek die bom.
“Jy is seker nie ernstig nie?” kom dit geskok oor Jonathan se lippe. “Tania is jou trouvrou. Julle kom al so ‘n ver pad saam en almal kan sien dat julle baie lief is vir mekaar.”
“Dit is nie vir my maklik nie. Ek kan my nie ‘n lewe sonder haar…”
“Jy moet mooi dink my ou. Sy is al in haar dertigs en…”
“Dit is júís! Sy wil kinders hê en ek gee te veel vir haar om. Wat as ek haar eendag in die steek laat? Jy weet my pa … ek het nog altyd verwerp gevoel.”
“Ja, ja, jou pa het verdwyn na jou ‘Downie’ sus se geboorte, maar ek ken jou. Moenie dat Tania deur jou vingers glip, net omdat jy ‘moontlik’ soos jou pa is nie.”
Ons haal die flitse uit die rugsakke en kom orent. ‘n Angstige gevoel spoel soos ‘n golf oor my toe ons die Grot binnegaan. Ek is só ‘n sissie. Bang vir die donker, bang vir hoogtes, bang vir engtes, bang vir ‘n vaste verbintenis met Tania … Hoe verskil ek en Jonathan nie van mekaar nie. In teenstelling met my korter, dikker lyf, is hy lank, lening en fiks, sonbruin geboer. ‘n Netjiese lang poniestert hang laag in sy nek. Jonathan is eerste om sy flitslig aan te skakel en hy lig opgewonde in die donker rond. Die reuk van klam grond en verrottende blare hang dik en versmorend in die lug.
“Nogals groter as wat ek gedink het,” merk Jonathan verbaas op. “Amper so groot soos my buitekamer.” Onverwags skyn hy sy lig, regs bo in ‘n hoë spleet in die rotsdak. ‘n Swerm vlermuise tornado na buite en hulle vlieg blitsvinnig en deurmekaar, ‘n skril geraas wat meng met doelgerigte chaos. ‘n Onaardse gil eggo deur die hol ruimte. Ek besef die geluid moes by mý keelgat uitgekom het.
“Vrugtevlermuise,” lag Jonathan. “Hulle slaap bedags in grotte … duh. Ontspan,” sê hy “ hulle ongeluksyfer is zero. Lyk of hier allerhande ander gediertes ook skuil,” lig Jonathan met sy flits onder teen ‘n wand waar klossies hare en geknaagde bene lê. Ek probeer om die spiere in my skouers en nek te ontspan. Onskuldige diertjies wat net vrugte vreet se voet.
Aan die verste punt van die vertrek vorm daar ‘n skeur in die rotswand. Dit lyk soos ‘n rowwe gleuf tussen die dak en die vloer en lei na die donker geheimenisse van die Grot se ingewande. Dáár waar hy sy lokvak gaan strik. Komaan Dawid, spreek ek myself aan. Alles lyk baie erger in die donker. Hoe erg kan dit nou eintlik wees? Ek moet nou net deurdruk. Dit kan nie só erg wees nie. Die enigste geluid wat die Grot maak is ‘n eentonige drup-drup-drup vanuit sy rotsplafon en ou boomwortels in rotsgleufies.
“Dit het vir drie weke aaneen gereën, die moddervloer kan op plekke glibberig wees,” waarsku Jonathan.
“Dit lyk my ons gaan eerder klim en klouter” sê ek en bekyk die tonnel.
“Uiteindelik! Ek kan nie wag om hierdie bielie se onbekende te verken nie” en Jonathan klouter oor die eerste skerp rotstande. Dieper na binne lyk die Grot se gemoed erg somber en donker. Ek dink daaraan dat dit net ons flitse is wat tussen ons en totale duisternis staan. Ek voel met my vingerpunte al langs sy growwe vel en ‘n koue rilling hardloop onwillekeurig teen my arm op.
“Pragtig, nê?” vra Jonathan en wys die verskillende kleure in die rotsformasies uit. “Kan jy glo? Daar woon spinnekoppe in die derms van berge.” Sy flits skyn op die gebreekte spinnewebbe wat van die grotdak afhang. Ek moet erken dat die webbe interessante patrone vorm en probeer om ’n instemmende “hmmm” uit te kry. Ons beweeg gebukkend deur die kronkels en draaie wat die rotsplate as ‘n deurgang vir ons vorm. ‘n Doolhof wat swart en geel vertoon in die lig van ons flitse.
“Jô! Dude!” eggo Jonathan se stem. “Wie’t kon dink hierdie berg lyk so indrukwekkend van binne? Hallooooo!” eggo hy die vertes in.
“Jy nog okei hier agter?” vra Jonathan.
“Ja, kort op jou hakke … Sh#t!” Ek voel met die een hand oor my voorkop.
“Eish, die Grot het jou lelik gehap,” lag Jonathan en lig met sy flitslig in my oë. “Toemaar, jy sal leef, ou pêl.”
Ek druk ‘n sakdoek teen my kop om die bloeding te stop. “Is jy seker daar is ‘n ander uitgang?”
“My oupa het dit maklik gekry. As hy eers van sy avonture in die Grot begin vertel het, was daar geen remme aan hom nie.”
“Nou ja, voorwaarts, klouter!” probeer kry ek braaf uit kry. As mens A sê moet jy ook B sê, dink ek by myself. Die gedagte laat my weer aan Tania dink. Jonathan is reg. Ek moet dalk heroorweeg voor ek finaal besluit. Ek het net hierdie een kans om dinge nie op te mors nie. In my twyfel wonder ek hoekom dit voel asof ek die beste deel van myself mis wanneer sy nie by my is nie. Daardie deel van myself waarvoor ek die meeste omgee. Ek bekyk die rotsformasies. Dit ís besonders, maar ek kan sweer die lug word nou skielik baie dikker. Ek haal stadiger en dieper asem. Konsentreer net daarop om in en uit te asem, spreek ek myself aan. Ten spyte van die klam koue kleef my hemp aan my rug vas. Kalm bly Dawid. Die mag van die verbeelding kan jou grootste vyand wees.
“Ek hoor water wat iewers loop. Sal dit as gevolg van die reën wees?” vra ek. Ons loop nou regop en die kronkelende pad word al wyer vorentoe. Daar is genoeg spasie sodat ons langs mekaar kan loop “Dit is glaaaaaaad!” wou ek waarsku maar land op my knieë en maag. Nerfaf, sien ek nadat die sakdoek weer sy werk moes doen.
“Ek dink dis ‘n ondergrondse bergstroom,” wys Jonathan met sy flitslig in daardie rigting. “Daar blink mos altyd ná goeie reen lang strepe water teen die kranse af. Dit moet íéwers vandaan kom. Hierjy! Ons beweeg al meer afdraand,” sê Jonathan, terwyl ons albei stoei om nie te gly oor die glibberige nat grond nie. Jonathan begin stadigaan al vinniger vooruit loop. Ek voel hoe sy opgewondenheid groei, soos dié van ‘n ingehoue karperd en sy voetstappe beweeg al verder weg. Verlig sak ek af tot op my hurke. Uiteindelik kan ek asem skep. Vog syfer deur die Grot se growwe vel. Hy voel klam en natgesweet en sy gees is humied en vreemd bedompig. Ek skakel die flitslig af om die batterye te spaar. Dik donkerte omvou my dadelik. Ek hoor Jonathan se stem wat al verder vooruit eggo en weergalm asof die Grot se ribbekas dit hol tot hier terugkaats. Het my ore dalk toegeslaan? Is ek wakker, of is alles net ‘n droom? Dit voel asof die Grot selfs my vrees ingesluk het. In die donker tref dit my dat my lewe vandag gaan verander. Ek sal hierdie roete móét voltooi omdat die gevolge van faal baie swaarder gaan weeg as die risiko’s. Vandag is die eindbestemming baie belangriker as my vrese. Om die man te wees waarmee Tania saam sal wil oudword, moet ek die veiligheid van my gemaksone opgee en bereid wees om risikio’s te neem.
“’n Rivier, dude!” weergalm Jonathan tot hier. Ek druk weer die flitslig aan.
“Ek kom! Is nóú daar!” eggo ek terug.
“Wow!…wow! Is dit nie spesiaal nie?” Ons flitse verlig ‘n breë spasie en vanuit die klipplafon bo ons koppe hang daar plek-plek klein stalaktiete. Onder, tussen twee plat klipbanke, kabbel ‘n rivier.
“Ek skat dit is so drie meter wyd.” Jonathan lig met sy flits in die water.
“Ek kanni glo die water is so helder skoon nie. Mens kan tot op die bodem sien. Kyk! Daar beweeg iets tussen die klippe!” sê ek in verwondering.
“Waterdiertjies van iewers. Hulle moet dink hulle is in die sewende hemel! Dink nie die rivier vloei permanent nie. Vloei maar net hierdie tyd van die jaar, in die reënseisoen hier. Ek skat die water is so heuphoogte diep. Okei, ek voel gou hoe sterk die stroom is,” bied Jonathan aan en trap agterstevoor, met die een been ondertoe terwyl hy aan die klipbank vashou. “Hoeiii! Mapstieks, dis koud, dude! Dit voel nie asof die stroom só sterk trek nie. Moenie reguit oor beweeg nie,” skree hy bo die geraas. “Trap so effens stroomaf saam. Die grot is gelukkig heelwat breër hier.”
Ek draai agterstevoor en sak met my een been na onder. Die koue slaan my asem heeltemal weg en skok my onmiddelik springlewendig. Tree vir tree loop ek versigtig saam met die stroom. Onder my tekkies rol rivierklippe en beweeg saam met my voete. “Ons moes dalk ons tekkies en kouse uitgetrek het!” skree ek met my arms en flits bokant my kop, maar dit is te laat. Ek slaan wild agteroor neer en begin water sluk. Die nat rugsak word so swaar soos ‘n klip en verhinder my desperate gespartel om vastigheid onder my voete te vind. Ek kan nie! Die stroom bly beweeg en trek my stadig saam. In die donker is alkant nou bo en onder. Ver weg deur die harde gedruis bereik ‘n dowwe “Dawid! … Dawid! …Dawid!” my. Skielik kry ‘n arm my stewig om die bors beet en pluk my orent. Ek is bewus daarvan dat Jonathan my teen die rotsbank optrek en deur vae newels verbeel ek my dat sy lippe in die flou lig beweeg. Ek hoes ‘n boog water uit en snak na my asem. Dit het so vinnig gebeur.
Jonathan sit op sy knieë. “Die Grot se dak is heelwat laer hier. Lê, ou pêl … word net weer jouself. Daar is nou net een lig tussen ons,” beduie hy na my nat rugsak en leë hande, “maar ons gáán anderkant uitkom. Die ander uitgang kan nie meer te ver wees nie.” Ek begin beter voel en is dadelik woedend vir die Grot. Hy gebruik selfs dít wat opportunisties hier vloei om my te probeer snoeker. Druipnat begin ons stadig in die suinige liggie terugkruip na die spelonk, dáár waar ons roete vorentoe lê.
In die halfdonker eggo die Grot ons voetstappe ‘shloesh-shlas-shloesh-shlas’ na ons toe terug. Vir my klink dit kompleet asof sy rotswande sag daarmee saam fluister. Sy woorde klink terselfdertyd spookagtig, maar tog vol lewe. Ek beweeg saam met ‘n liggaam wat nie meer aan myself behoort nie. My voete, wat nie meer myne is nie, beweeg een tree voor die ander en probeer sin maak van dít wat ek in Johnathan se flou liggie kan sien.
“Hô! hô! hô!… wag! Hier is iets nuuts, of laat ek eerder sê … iets ouds en vervalle!” Jonathan se flitslig beweeg oor ‘n primitief saamgeflanste bruggie. ‘n Tipe oorgang van verweerde en lendelam pale, wat teen hierdie tyd al gedisintegreer het in ‘n wankelrige kontrepsie uit vergange dae.
“ ‘n Groep uit die Khoisan moes hierdie grot voorheen gebruik het. Moontlik as stoorplek, of vir een of ander van hulle rituele,” noem ek. Jonathan luister nie eens nie.
“Dude, ek het nuus vir jou. Hierdie oorgang lê bo-oor ‘n vertikale tonnel.”
Onheil hang in die lug, asof die Grot ook sy asem ophou in afwagting vir dít waarvoor hy wag om te gebeur. Ek bekyk die oorgang en outomaties skop die ingenieur in my nugter wakker.
“As die Khoisan nie kon nie, sal ons ook nie hieroor kan spring nie, ou. Ons sal die stewigste paal in hierdie nagmerriebrug moet probeer identifiseer en dit dan as middelpunt moet gebruik om báie stadig hieroor te kruip. As ons teen ‘n stadige spoed kan beweeg, sal ons die spanning wat ons gewig op die swak struktuur gaan plaas verminder en kan ons die stabiliteit van die lendelam brug probeer behou.”
“Wow, jou eerste sinvolle woorde, ou,” stamp Jonahan my speels in die ribbes. “Jy sal my nou maar net met ons enigste lig moet vertrou, terwyl ek braaf eerste moet voorgaan met hierdie ekspedisie.”
Ek sien verbaas dat dit lyk asof selfs Jonathan nou die ritteltit het. Ek ken hom te goed om voor te stel dat ons eerder omdraai. Hy lig met sy flitslig heen en weer oor die brug. My keel wil toetrek en ek begin weer sukkel om asem te haal. Ek weet ek is wakker want ek kan voel hoe ek myself knyp. Hierdie onmoontlike missie lê bo-oor dieptes wat strek tot wie weet waar. Die drie meter lange houtpale lyk vir my almal erg verweerd.
“Hiérdie lyk soos die breedste strook met die minste gebreekte houtpale,” wys ek vir Jonathan uit. “Ek stel voor ons kruip stadig op ons knieë om ons gewig te probeer versprei.” Jonathan lig egter eers in die gat af en gee ‘n lang fluit. Ek loer ook en verwyt myself onmiddellik. Hóé gaan ek oor so ‘n diep gat kruip? Ek sal dit nie eens oor splinternuwe pale kon doen nie! Jonathan hang die flitslig om sy nek en begin so stadig soos ‘n verkleurmannetjie oor die bruggie kruip. Sy flitslig skyn na onder en verlig net-net ‘n area van dertig sentimeter voor hom. Een van die houte maak ‘n sieklike kraakgeluid en verdwyn in die diep gat af.
“Sal seker iewers in China uitval. As dáár ook ‘n gat is!” grap hy senuweeagtig.
‘n Ewigheid later staan sy twee voete weer op terra firma. Naakte vrees hol nou my binneste uit en vul dit met ’n oorweldigende naarheid. Ek gee ‘n harde sluk en besef dat ek myself nou, soos nooit tevore nie, bymekaar moet hou. Fokus! fokus net op Jonathan se flitsstraal.
“Kom, dude. Kyk net voor jou en hou my lig dop. Jy gaan dit maak.”
Ek sak af tot op my knieë en maak instinktief my oë toe. Nee … ! Ek sal moet konsentreer op die houte sodat ek vinnig kan reageer as dit nodig is. Ek begin kruip. O-gorreltjie-pietatjie. Sentimeter vir sentimeter beweeg ek en hou die pale stip dop. Skielik gryp Jonathan by arms vas.
“Jy’t dit gemaak. Óns het dit gemaak! Jahoeeeeei!” eggo hy die onbekende ruimtes in.
“Jou Oupa was ‘n brawe man,” is al wat ek sê.
Die rotsplate lê nou nie meer so ver en wyd voor ons oop nie en soos wat ons voetstappe hol eggo, omvou die growwe rotswande ons geleidelik. Jonathan loop en fluit ontspanne, want die opening is net om die draai. Altans, dít is wat hy vertel. Die rotswande groei al nader en nader na mekaar en ons deurgang word al nouer. In die flou lig verbeel ek my die Grot ontwikkel, net soos ek, ‘n donker, swaarmoedigheid. Ek probeer aan Tania dink om myself op te beur. Hoe maklik kan ek haar nie ook verloor nie. In ‘n oogwink het ek my flits verloor, in onvoorsiene omstandighede. Maar met Tania het ek ‘n keuse. Waarvoor is ek dan so bang? Ek is bang vir myself en nié vir ‘n verbintenis nie, besef ek skielik verbaas. Ek is bang dat ek na myself deur ‘n gekleurde bril kyk, maar op die ou end tog soos my pa sal uitdraai, sou die lewe my ook in ‘n onvoorsiene knyptang vasdruk.
“Dawid, dit word bietjie nouer hier, maar dit is ons enigste deurgang. Ek gaan die flits in my regterhand vashou, sodat jy kan sien waar jy loop.” Jonathan draai dwars en glip deur die opening. Ek begin wild asemhaal. Ek het ‘n onlogiese vrees vir engtes en beknopte spasies. Kloustrofobie, het die dokter destyds gesê, toe my ma gedink het ek kry ‘n hartaanval, as kind. Ek knyp my oë toe en begin dwars deurbeweeg. Ek beweeg darem, dink ek. Maar toe word my grootste nagmerrie waar. Ek sit vas. Verward probeer ek myself deur die nou opening forseer, maar niks wil beweeg nie. My jelliebene bestaan nie meer nie. Ek is net ‘n groot torso wat wild asemhaal. Ek besef dat ek vandag, net hier in die Grot se ystergreep, gaan doodgaan. Hy hét my uiteindelik. Alles swem voor my oë en toe … onthou ek niks verder nie.
“Dawid! Dawid!” hoor ek van iewers af. Is ek nou in die hemel?
“Word wakker!” Jonathan se beeld swem voor my oë. Ek begin dadelik spartel, want die Grot hét my in sy ystergreep.
“Jy het flou geval, jou botterkop. Ek kon jou maklik uitkry toe jou liggaam slap word. Jy het net gehiperventileer.”
Na ‘n rukkie voel ek hoe ‘n glimlag van verligting stadig op my bakkies vorm en ek gryp Jonathan aan sy arm vas. “Jonathan, jou doring!” Ek druk met my palms teen my oë om die trane daarin weg te steek. Met bewerige bene hervat ek ons roete. Soos wat ons verder beweeg, begin ek al meer soos myself voel. Ek kyk na my toekoms met nuwe oë en dink daaraan dat ek moontlik al die tyd nog my eie grot was. My eie grootste vyand wat besig is om my drome en dít wat mooi kan wees, gevange te hou. Moontlik het die Grot my dalk net gewys wat kan gebeur, watter verkeerde besluite ek kán maak, as ek nie die vermoë ontwikkel om myself te verander nie.
“Amper daaááár … ,” begin Jonathan, maar die volgende oomblik swik sy enkel op ‘n los klip en slaan hy soos ‘n os neer. Hy sit dadelik orent en probeer weer opstaan, maar uiter ‘n pynkreet toe hy sy gewig op die enkel plaas. Hy byt op sy tande terwyl hy dit probeer warm vryf. Ek kan sien die enkel swel vinnig en dat dit in ‘n onnatuurlike rigting staan.
“Ek dink jou enkel is ‘n goner, ou,” sê ek versigtig. Hy lyk tegerlykertyd verslae en verwese. Ek krap my hare deurmekaar en probeer aan my opsies dink.
“Jy sê mos ons is amper daar,” praat ek hom moed in. “Gelukkig is die dak nou hoër en ons kan weer regop loop. En saam-saam is ons twee ysters!” Ek lig hom onder sy twee arms regop. “Moenie op die enkel trap nie, ek het jou.” Ek hak my skouer onder sy gewig in en Jonathan begin stadig saam hop-hop.
My vriend is nie swaar nie, want my hart is lig. Tania met die bosbokkie-oë, vir jou het ek lief “en ek kom om jou te haal.”
Rika Gerryts
JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK
2.’n Perfekte dag
(1991 woorde)
Die getik-tik-tik van sy pen het my woorde vervaard na die eerste van my drie keuses laat gryp.
“Besluiteloos …, Ouboet?” het Daleen my oudergewoonte so onderlangs geterg. Ek kom seker vir haar besluiteloos voor en ek wou-wou myself vir haar vererg. Sy het my te goed geken en ek kon die duiweltjies in haar oë sien dans. Sy het geweet dat dit my net lánk neem om die heel beste opsie te kies.
“Daleen, ek wil jou opinie vra …,” Ek het met my kop na die kelner geknik toe hy ons drankies bring.
“Oor die lugballon óf die dak van die hoogste gebou in Suid-Afrika?”
“Ag kom nou, Sus! Hierdie is ernstige sake. Nee wat, dis al so ‘n … cliché en ek het gewonder … jy is mos goed in jou werk; en jy hét ‘n spysenieringsonderneming. Wat dink jy van … ‘n romantiese piekniek? Ek wil hoor of jy nie Woensdagoggend vir my en Jolandi ‘n gourmet-piekniek wil pak nie. Jy weet …, een van daardie vyfstêr piekniekmandjies van jou. Asseblief Daleen?” het ek uiteindelik die bul by die horings gepak.
Ek kon sien hoe sy met die gedagte in haar kop rondspeel en daarna het sy die ene vuur en vlam gesê: “Dit gaan jou kós, ou Arnoldus,” en toe gemaak vermakerig, “en jy sal dit in styl moet doen, Boeta. Tafeltjie, wit tafeldoek, kristalglase en die lot.”
Sy het ‘n paar watertandgeregte opgenoem en voorgestel dat ek Jolandi se ring in ‘n kolwyntjie-kom druk nét voor sy dit vanoggend versier.
“Twee sjokolade kolwyntjies en ‘n maraschino kersie met ‘n steeltjie op dáárdie een,” het sy geknipoog en gesê: “Dit het jou ook maar lank geneem om tot aksie oor te gaan. Hoe lank loop jy al met die ring rond?”
“Ek wou die béste plan maak, vir die béste en enigste vrou met wie ek die res van my lewe wil deurbring. Dit moet ‘n perfékte dag wees.”
“Jy beter versigtig werk met daardie mandjie. Hou hom mooi regop, anders bederf jy al my pogings,” het Daleen vanoggend gemaan.
Jolandi se ouers is albei advokate en sy is net die beste gewoond. Dit het lank geneem voordat sy my raakgesien het. Ek dink by myself dat ek darem self nie té sleg doen nie. As eienaar van my eie groep loodgieterdienste gaan dit voor die wind, ten spyte van die swak ekonomie. Anders as verwag, was Jolandi plat op die aarde met ‘n sonnige geaardheid. Sy is ‘n bondel vreugde wat enige probleem as ‘n geleentheid beleef.
Ek het gister reeds die tuine kom besoek om die beste afgeleë plekkie te vind waar die tafeltjie se pote eweredig kan staan. Dit moes ’n sonnige kolletjie met ‘n titseltjie koelte wees. In die middel van die week, in die winter, was daar feitlik geen mense nie. Ek het daaraan gedink dat ons ná die piekniek na al die biodivêrse plantuitstallings kan gaan kyk.
~ 0 ~
Vanoggend is die lug helderblou. Ek voel sommer positief en die omgewing skitter ekstra helder en sonnig. Dit is ‘n tipiese Hoëveldse wintersoggend. Ek is tog effens gespanne, al het alles tot dusver goed verloop. Die tafel kon net sowel in ‘n deftige restaurant gestaan het, maar hierdie omgewing is net sóveel meer romanties. Die piekniekmandjie staan in die koelte, hier naby my stoel. Tortelduiwe koer en kleur die atmosfeer met rustigheid. Ek glimlag. Ek voel skoon poëties, dink ek geamuseerd. Wag, val dit my by, laat ek net gou loer of daar nie ‘n trol in die mandjie geklim het nie. Alles lyk steeds watertand en perfek … Ag nee! krises! Die maraschino kersie het afgeval en lê los in die bakkie. Ek ondersoek die kolwyntjies deeglik van naderby en sien gelukkig ‘n effense merkie in die versiersuiker. Ek sement die kersie weer stewig vas. Alles is onder beheer.
Jolandi werk nie op Woensdae nie en ék is my eie baas. Ek sien haar al van veraf aankom. Die effense swaai van haar heupe laat die donkerbruin hare, puntjies opgekrul, wip-wip op haar skouers en haar rompie se soom dans vrolik al om haar kuite. Ek loop haar met ‘n maag vol fladderende vlinders tegemoet. Nóg ‘n cliché, dink ek by myself, maar dit is hoe dit werklik voel.
“Ek sou graag vonkelwyn wou skink,” sê ek nadat Jolandi eers behoorlik oor my romantiese piekniek en tafeltjie ge-oe en ge-aa het, “maar geen alkohol word toegelaat nie.” Ek skink die vonkel vrugtesap in Daleen se kristalglase.
“Ek het gesien daar is ‘n lang lys van verbode dinge by die ingang. Geen vuurwapens, moenie die diere voer nie …, is hier diere?” vra sy en kyk rond.
“Die gronde is digby die koppies en ek vermoed diere kom soms hier kuier. Maar geen roofdiere nie!” stel ek haar gerus toe sy benoud begin rondloer.
“Vandag bederf jy my sowaar behoorlik, Arnold! Dankie Liefie, dit voel skoon of ek verjaar.”
Dit lyk of alles voor die wind gaan. Ons smul aan Daleen se keurige geregte en ek klop myself op die skouer. Goeie idee Arnold, goeie idee.
“Ek haal my hoed af vir leerkragte wat die skool kurrikulum so passievol toepas,” wys Jolandi na iets hier agter my rug.
Nee! Ag nee, dis ‘n nagmerrie!
Vier onderwysers en ‘n horde leerders is besig om die gronde binne te stroom. Die onderwysers skree en swaai met hulle arms om die opgewonde kinders georganiseer te kry.
“Toemaar Arnold, die gronde is groot. Ons sal skaars van hulle bewus wees. Ek dink dit is wonderlik as die leerders biodiversiteit op so ’n praktiese wyse kan beleef.”
Na ‘n rukkie begin ek haar glo. Die duiwe koer weer rustig voort en ons eet en gesels gemaklik, soos altyd. Dit is een van die redes waarom Jolandi so diep in my hart ingekruip het. Die chemie tussen ons is nét reg, ons deel ‘n handvol belangstellings en ons voel veilig bymekaar, tik ek nog redes hier onder die tafeltjie op my vingers af. Die een na die ander bakkie vol verrassings word uitgepak en ons eet vanaf die fynste porselein.
Na ‘n ruskansie kondig ek aan: “Tyd vir die nagereg,” en my maag maak so ‘n snaakse knoop. Ek pak twee skoon porselein bordjies uit en sit ‘n fyn papier-doilie op elkeen. Die kolwyntjie met die marachino kersie op, sit ek versigtig voor Jolandi neer.
“Hierdie een is spesiaal net vir jóú, Jolandi, want jy is die kersie op my kolwyntjie, die kersie op my versiersuiker, die kersie op die res van my lewe …,” begin ek die aanvoorwerk doen. Terselfdertyd land iets warm en aangenaam op my kop … totdat ek besef wat gebeur het … ‘n plof, gevolg deur warm vloeistof wat tussen my hare afloop. Ek kyk dadelik boontoe, tussen die takke in.
“Ongeskikte tortelduif! Die vervlakste voël het nou net op my kop getjorts!” Ek voel hoe afgryse my vul en ek tot in my kleintoontjies ril.
Jolandi spring op, gryp haar groot leerhandsak en grawe daarin.
“Ek is jammer, Nollie! Kom staan hier in die son. Ek sal dit gou vir jou skoonmaak. Gelukkig dra ek altyd hierdie seepspuitjie en ‘n lappie saam. Ek het vanoggend sommer ‘n ekstra waterbottel ook ingegooi.”
‘n Vrou se handsak was nog altyd vir my ‘n misterieuse besigheid. Ek is seker dat ‘n mens enige ding daarin sal vind, maar vandag is ek innig dankbaar daaroor. Sy spuit ook sommer ons albei se hande met ‘n waterlose ontsmettingsmiddel.
“Nou vir daardie heerlike … waar is die kolwyntjies dan?” vra ek, dronkgeslaan.
Jolandi hou haar hand voor haar mond om die lag te keer. Ek volg haar oë. Bo ons tafel sit ‘n apie wat probeer om die onderste papiertjie met sy tande af te trek. Ek sien dat hy albei kolwyntjies gegryp het, maar die een het geval toe hy in die boom gespring het. Onder teen die boomstam lê ‘n marachino kersie. Ek storm op die ander kolwyntjie af en begin dit haastig uitmekaar skeur.
“Nollie … ! Wat … ”
Ek rol twee nartjies oor die gras, so entjie verby die boom. “Apie …, hiérso apie,” hou ek my stem beleefd. “Lekker gesonde nartjies vir jou,” maar sy swart kraalogies beweeg net blitsvinnig tussen my, die nartjies en die kolwyntjie. Hy eet morsig aan die kolwyntjie en ek wonder wanneer hy op die ring gaan afkom. Die ring was beslis nie in die ander kolwyntjie nie.
“Ontspan Arnold. Dit is net ‘n kolwyntjie. Gun die aap sy ou plesiertjie,” giggel Jolandi.
‘n Dekselse dúúr plesiertjie, as sy maar net kon raai. Op daardie oomblik hoor ek die opgewonde stemme van die leerders. Die groep is besig om verby die digte struike in ons rigting te beweeg.
“Monkey! Monkey!” klink dit tussen die geroesemoes kinderstemme op.
“Don’t feed the monkey! Dón’t … feed the monkey!” skree die onderwysers vir die groep wat loop en eet. Hulle kyk my beskuldigend aan.
Ek sweer die aap gaan nou enige tyd die hasepad kies en ek hardloop desperaat in die rigting van die kinders.
“Skoert! Skoert!” skree ek buite beheer en sonder ophou terwyl ek die groep met my arms in ‘n ander rigting probeer inwaai. Verskrik kom almal tot stilstand. Daar heers ‘n doodse stilte. Dit duur ‘n paar sekondes.
“Tst … tst … tst …” word die voorafgestelde sproeiers wakker en spuit dun strale water in sierlike boë. Die groep leerders kom tot lewe en pandemonium breek los. Met opgewonde gille begin hulle jillend lag en hardloop om die spuitende water mis te hardloop.
“Arnold! Nollie!” hoor ek uiteindelik Jolandi se hees stemmetjie toe ek handdoek ingooi en omdraai. Met hangskouers stap ek terug na ons tafel toe. Dit wys jou nou net, dink ek, selfs met die beste beplanning kan die lewe skeef uitdraai.
“Wat is fout, Arnold? Voel jy siek of iets? Hoekom gaan jy so tekere?” vra Jolandi ontsteld en duidelik uit die veld geslaan.
“Die sproeiers spuit ons tafellap nat. Kom ons pak op en sit onder die boom,” stel ek voor.
“Dit is so mooi hier. Ek het lanklaas soveel pret gehad,” sê Jolandi en begin lag. Sy lag so lekker dat sy later haar trane met ‘n snesie moet afvee. Ek begin ook maar lag, maar ek lag soos ‘n boer met tandpyn.
Skielik, sonder om te twyfel, weet ek wat ek moet doen. Ons sit met ons rûe teen die boomstam.
“Jolandi, ek móét jou ‘n storie vertel. Dit handel oor ‘n aap, ‘n kolwyntjie en die eerste keer in my lewe toe ek dadelik geweet het wat ek wou hê.” Ek lag saggies. “Jy weet nou al dat dit my tien minute kan neem om te besluit watter sjampoe ek wil koop en dat ek ‘n bestelling in ‘n restaurant meer kere kan verander as wat my Jack Russel se hare aan my broek vaskleef! Dit het my hierdie winter ‘n maand geneem om tussen ‘n elektriese óf ‘n gasverwarmer te kies. Die ding is, vir die eerste keer het ek dadelik geweet watter ring perfek by jou sal pas en hóé ek dit vir jou wou gee. Die belangrikste deel van die storie is egter dat ek dadelik geweet het dat jý die vrou is saam met wie ek eendag wil oud word.
“Ek wou hê dit moes ‘n perfekte dag wees, maar ‘n soettand aap het my ‘n lelike streep getrek. Iewers in die koppies dra ‘n aap nou ‘n goue ring.”
Jolandi kyk diep in my oë en gee my daardie glimlag van haar wat altyd my bene lam maak.
“Arnold, dit was ‘n heerlike dag, ‘n wonderlike dag, dankie my lief!”
Terwyl ons opstaan, sien ons beide ‘n ring tussen die gras lê.
“Haai, Arnold! Jy het nie eens vertel hoe dit toe gegaan het nie,” roep-vra Daleen my agterna.
Ek sluit my motor oop en skree oor my skouer: “Dit was ‘n pérfekte dag!”
© Rika Gerryts
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
2.Vrees se vinger
Kelheim-distrik Suidelike Duitsland – 1570
Buite die stadsmure, aan die rand van ‘n veld, huil ‘n gure wind om die hoeke van die klein huisie. Dörte doop haar gansveerpen kort-kort in ‘n houertjie swart ink. In die dowwe lig van die vuurherd skryf sy stadig, maar deeglik. Haar regterhand klad die nat ink gereeld met ‘n poeierige harpuis en skuif dan weer die los stukkie papier onder haar linkerhand in.
Die gansveerpen hang vir ‘n oomblik stil in haar linkerhand. Sy staar na die dansende vlamme wat heeltyd van kleur en vorm verander. Vanaand dink sy aan Karl, haar boesemvriend. Vater Franz en Karl se vater was bure en het destyds graan en ander gewasse vanaf Abensberg na Kelheim aangery met perde en waens.
In Abensberg het hulle gereeld kerk toe gegaan. Daar kon hulle aan die Lutherse Kerk behoort. Dörte dink ook met heimweë aan Mutti, Vater en Oma. Mutti het al kleintyd vir haar vertel dat die geboortevlek op haar voorkop God se vinger was.
“Hy het jou gemerk. Jy is syne.”
Oma het haar van kruie geleer. Saam-saam het hulle kruie in die veld versamel om salwe te meng, tinkture te maak en kruie te droog vir kruietee. Sy het graag saam met Oma gegaan wanneer iemand siek was. Al Oma se geheime en kruie het sy in ‘n boek geskets. Dörte het baie geboortes gesien en mooi gekyk wat Oma doen as ‘n baba dwars lê, of wat om te doen met moeilike geboortes. Sy het Oma se boek geërf.
“Kelheim het ‘n vooruitstrewende dorp geword,” het Vater vir Mutti gesê. Sy wa was vol nuwe negosieware gelaai. “Die Danuarivier het rivier-handel laat toeneem. As dit nie vir die Roomse Kerk en die Heilige Romeinse Ryk was nie …,”
In Abensberg was Dörte sielsgelukkig. Saam met Mutti, Vater en Omie was die wêreld ‘n wonderlike plek. Sy en Karl het heeldag in die veld gespeel, totdat Vater Franz vir haar en Karl leer lees en skryf het. Daarna het hulle meestal boeke gelees en uitgeruil.
“Hoe is dit dan dat julle beide so aansukkel met die verkeerde hand? Ek het al alles probeer, maar skryf sal julle bly skryf mét die linkerhand,” het hy gereeld gesê en sy skouers moedeloos opgetrek.
Dit was ‘n gesukkel met die gansvere. Vater het later ontdek dat ‘n regtervlerk se vere beter vir linkshandiges werk. Hy het hulle ook geleer hoe om die gansvere gereeld met ‘n messie skerp te maak.
Sy was net twaalf jaar oud toe sy alleen agtergebly het. Die huis en skuur was vernietig.
Dörte skryf Karl se brief klaar. Karl met die blonde hare en die mooiste blou oë, met wie sy binnekort gaan trou. As die son môre skyn kan sy die brief onder die posklip gaan sit totdat ‘n verbykomende wa dit na die naburige Abensberg kan saamneem.
Die wind waai nou sterker en druk vlae stortreën teen haar huisie aan. Sy ril onwillekeurig en wip van die skrik toe iemand aan haar deur hamer.
“Dörte …! Dörte! Maak gou! Helga gaan dood! Dis tyd. Die kind kom,” skree Tilman histeries.
Die wind ruk byna die oop deur uit die muur. Vinnig gooi sy haar swart mantel om haar skouers en gryp die mandjie wat styf met linne en leerbande toegedraai is.
~.~
“Daar is niks wat ek kon doen nie,” probeer Dörte vir Tilman troos. “Ek is jammer … Die baba het dwars gelê en ek kon nie sy koppie na onder draai nie.” Sy sit haar hand op sy skouer en dit voel of haar hart wil breek. Tilman het vanoggend sy vrou en baba verloor.
Doodmoeg stap sy stadig huis toe. Die son steek skerp en sy het ‘n kloppende hoofpyn. Vanjaar staan die koring mooi, dink sy by haarself terwyl sy verby Jakob en Käthe se koringland stap. Ingedagte streel sy met die vingerpunte van haar linkerhand oor die heuphoogte koring.
Sy sien vir Karl, waar hy onder ‘n koelteboom vir haar staan en wag. Hy het seker saam met sy vater en die wa na Kelheim gekom. Vinnig hardloop sy nader en spring in sy arms. Hy swaai haar laggend al in die rondte.
“Ek maak kook water vir tee,” sê Dörte, haar moegheid en hoofpyn skoon vergete.
“Dörte, dinge raak lelik is Suid Duitsland. Handelaars het vir Vater vertel van heksejagte. Die spanning tussen die Reformiste, die Roomse Kerk in die Heilige Romeinse Ryk veroorsaak dat enige mense op hoor-sê vervolg en van kettery beskuldig kan word!”
“Ek het agtergekom dat daar net soveel bygelowigheid en dwaalleer hier in Kelheim is. Hoe kan mense aan sulke absurdhede glo?” vra Dörte.
“Ons het anders grootgeword, Dörte. Kelheim is steeds Rooms, maar Abensberg het baie meer Protestante. Vater vertel dat priesters hier van die kansel af verkondig dat gemeentelede verdagtes as hekse moet aankla. Die Heilige Romeinse Ryk wil glo ontslae raak van Satan se bose invloed.
“Dankie,” sê Karl toe sy die tee voor hom neersit. “Onkunde veroorsaak altyd vrees. Die verdagte word sommer deur die plaaslike landdros of magistraat vervolg en ondersoek. Vater het gehoor dat ’n beskuldigde vrou se lang hare afgeskeer is. Hulle het alkohol oor haar gegooi en haar aan die brand gesteek. Sy is bomenslik gemartel tótdat sy skuld erken het …, eers nadat hulle weer haar hande vasgebind en haar in die lug opgehys het. Daar is swael in haar armholtes gesmeer en sy is vir die tweede keer aan die brand gesteek.”
“Dit is allerverskrikliks!” roep Dörte uit. “Ek wil nie hierdie dinge hoor nie. Dit is om van naar te word!”
“Ek weet Vater moes jou destyds hierheen bring om by jou Tante Irma te kom woon, maar ons is nou beide al agtien jaar oud. Ek het genoeg gespaar en ons kan trou en in Noord Duitsland gaan woon. Ek wil ‘n lappie grond buite Wittenberg koop en daar boer. Hulle is stadig besig om kanale te bou om die moerasse en vleie droog te lê. Dit is goeie landbougrond.”
“Dit sal wonderlik wees, Karl; en dan kan ek steeds ‘n kruiedokter en vroedvrou wees,” droom Dörte saam.
~.~
Landdros Seitz Grober het ‘n beswaarde uitdrukking op sy gesig toe Dörte die volgende oggend haar deur oopmaak.
“Ek is op soek na Dörte Brinkmann.”
“Ek is Dörte,” antwoord sy.
“Jy word aangekla van heksery. Jy moet saam met my kom.”
“Daar is seker ‘n misverstand!”
“Daar is geen misverstand nie. Tilman het beweer dat jy sy vrou en baba se dood veroorsaak het met heksebrousels en swartmagie. Hy het gesien hoe jy hulle gees vir die duiwel gee. Jakob en Käthe se koringland het ook gisteraand aan die brand geslaan. Iemand het gesien hoe jy oor die koring streel en bose besweringe sing.”
“Dit is nie waar nie. Ek is nie ‘n heks nie!”
“Ja …, ja. So sê elke heks. Ons sal maar sien of jy die toetse vir heksery slaag of nie. Ek sien daar is ‘n heksemerk op jou voorkop.”
Nuus versprei vinnig en daar staan reeds ‘n groep mense by die rivier wat na die die swemtoets kom kyk het.
“Bind haar vas!” skree die landdros vir die wagte.
Op die wal van die Danau word Dörte se regterduim aan haar linkergroottoon vasgebind. Sy kan die opgewonde gemurmel van die dorpenaars hoor. Sterk hande bind ‘n dik tou om haar middel vas.
Daar is ‘n gedruis in Dörte se ore. Dit voel asof sy nie kan asemhaal nie. Sy gil toe hulle haar oplig terwyl die tou in haar vel insny. Haar gil word kortgeknip toe sy die koue, donker water tref en dit dadelik haar mond vul. Die yskoue water is ‘n skok vir haar liggaam en sy weet dat sy tot op die bodem van die rivier gaan sink. Sy dobber egter net.
Mense snak na hulle asems en iemand skree “heks!” Dan begin ‘n dreunsang: “Heks …! heks …! heks!”
Sy word rof uit die water opgehys. Net voor alles voor haar swart word, sien sy hoe ‘n vrou haar spoeg.
~.~
Die slopemmer word nie skoongemaak nie en die stank is oorweldigend. In die klam donker skarrel en kruip rotte oral oor haar. Sy gril nie eens meer nie; is net bewus van haar honger.
“Kom,” sê ‘n wag onverwags en kry haar aan die arm beet. “Jou hofsaak gaan begin.” Hy sleep-trek haar na waar ‘n massa mense en die landdros wag.
Landdros Grober geniet sy nuwe en belangrike rol.
“Sover weet ek dat Dörte Brinkmann nie ‘n man het om haar in toom te hou nie. Sy woon alleen, is selfstandig en het te veel menings van haar eie.
“Die swemtoets het bewys dat Dörte Brinkmann nie kan sink nie omdat haar liggaam die doopwater verwerp het. Sy het haarself verbind aan die duiwel.
“Die hekseteken op haar voorkop is deur die duiwel met sy linkerklou ingeëts.
“Sy het kruie en bose konkoksies gebruik vir swartmagie.
“Volgens die priester kom sy nooit kerk toe nie. Verder het ek die getuienis van Tilman, Jakob en Käthe dat Dörte Brinkmann swartmagie gebruik het om dood en verwoesting te veroorsaak. Is daar enigiemand wat vír haar kan getuig?”
Dörte kyk een vir een in die oë van die mense wat sy gehelp het om gesond te word of geboorte te skenk. Elke liewe een draai sy of haar kop weg.
“Is daar iemand wat téén Dörte Brinkmann wil getuig?”
Huiwerig kom ‘n vrou orent. “Sy het altyd my briewe met haar linkerhand geskryf.”
“Die duiwel is linkerhandig!” skree iemand uit die gehoor. “Hy doop sy volgelinge met sy linkerhand!”
“Hy sit aan die linkerkant van God!” laat iemand anders hoor.
“Linkerhandigheid is ook ‘n heksemerk,” sê ‘n vrou.
Die priester stap stadig vorentoe. “In Matteus 25 vers 33 staan daar duidelik dat die skape regs en die bokke aan die linkerkant van God sal staan.”
Landdros Grober swaai sy arms vir stilte. “Linkerhandigheid is nie genoeg bewys vir heksery nie. In die geval van Dörte Brinkmann is dit egter saam met al die ander bewyse deurslaggewend.”
Hy beduie dat Dörte moet staan. “Dörte Brinkmann, jy word skuldig bevind aan heksery. Jy sal môre die geleentheid kry om te bely dat jy ‘n heks is. Skulderkenning is nodig sodat jy boetedoening vir jou sonde kan doen en deel mag hê aan die Christelike gemeenskap.”
“Ek het niks om te bely nie. Ek is nie ‘n heks nie!” skree Dörte.
Dit is al donker toe Dörte terugkeer tronk toe. Sy weet dat sy nie vanaand ‘n oog gaan toemaak nie. Skielik hoor sy die swaar deure van die tronk oopgaan. ‘n Figuur in ‘n donker mantel stap selfversekerd na Dörte se sel en wys vir die wag om te bly sit.
“Karl?” fluister sy sag.
“Sjjt … Vater het my vertel. Hier … trek die swart mantel aan. Ek het my eie wa en ons gaan Noorde toe.” Hy gooi haar oor sy skouer en stap na buite.
Die verskrikte wag klop aan Landdros Grober se deur. “Ek het vanaand die duiwel met my eie twee oë in lewende lywe gesien! Hy dra ‘n swart mantel en het met sy linkerwysvinger na my gewys! Hy het sy bruid in swart geklee, haar oor sy skouer gegooi en sommer net uitgestap!”
© Rika Gerryts.
(1877 woorde)
MAART 2026 – HERFS/KAS PROJEK
2.Waar stilte weergalm
Sophia sug verlig terwyl die sagte kaftan oor haar kop glip. Dit is bedompig en tamheid kleef soos nat klere aan haar warm lyf. Sy hoor weer die dringende roepgeluid van ‘n selfoon. So absurd, want daar is niemand anders hier bo nie. Skielik onthou sy vanoggend se inkopies lê nog in die kombuis. Sy moet onthou om dit vanaand in te pak. Om te dink dat sy in Benoni van alle plekke skulpvis-aftreksel sou raakloop!
“Kom drink ‘n lafenis hier op die stoep!” roep Louwrika van onder af. ’n Kombuiskasdeur klap toe. “Dis koeler hier!”
Die onsigbare selfoon werk op Sophia se senuwees. Sy merk dat Louis se studeerkamerdeur effens oopstaan en glip vinnig na binne. Met oë soos dié van ‘n oortreder sonder gewete gly haar oë soekend oor die lessenaar. Onder die oopgespreide reisbrosjures steek ‘n selfoon uit. Louis moes dit vroegoggend in sy groot haas hier vergeet het. Sophia het hom gisteraand slegs vlugtig gehoor al kuier sy reeds ‘n week hier.
Die skerm is nie gesluit nie. Haar oog vang dadelik die lang lys onbeantwoorde boodskappe, almal vanaf dieselfde kontakpersoon.
Sophia wens dat sy dit nooit gesien nie …
~O~
Louwrika vlei haarself elegant op ‘n dekstoel neer en plak ‘n bottel yskoue Dom Pérignon op die tafeltjie tussen hulle neer. ‘n Gekondenseerde druppel wil-wil teen die wasige buitekant na onder rol.
“Vanuit Charles se ‘heiligdom,’” sê sy ongeërg. “Iémand moet dit tog drink. Ons twee kan dit net sowel geniet.” Louwrika skop haar skoene behaaglik uit en trek haar bene op in ‘n driehoek.
“Charles gaan jou afslag!” soek Sophia skoor. Sy merk dat Louwrika se romp oopspleet en twee skraal songebruinde bene ontbloot.
“Wel, jy het nou self gesien dat Charles byna nooit tuis nie nie. Sy lewe draai net om werk, werk en nogmaals werk … Tjorts!”
“Santé,” lig Sophia haar glas en wonder of Louwrika van Charles se skelm verhouding weet.
“Daar is altyd twee bottels in sy kroegyskassie. Ek vul dit net vir hom vanuit die agterste boks aan en bestel nog by Makro.” Louwrika bestudeer die amber vloeistof en hou die fyn borreltjies dop wat na bo styg.
“Op die kuier van my beste vriendin!” sê sy dan en draai na Sophia.
“Ons vier my kuier al die hele week,” protesteer Sophia en lê nog skuinser in haar dekstoel. “Ek het nooit gedink hier is soveel oulike restaurante nie. Ons het Woensdag heerlik saam met jou vriendinne gerinkink, maar ek kla nie.” Sy hou Louwrika se goedversorgde hande en skraal voete dop. Dié vrou pik-pik net aan slaaie, dink Sophia effens afgunstig en trek haar eie kaftan reg daar waar dit bietjie stywerig span.
Sophia wonder lui of sy nie destyds eerder vir Charles moes gekies het nie. Sý sou nie so met haarself laat mors het nie. Nou woon sy, wat Sophia is, in ‘n beskeie woonstelletjie in Lyon en leef net proe-proe van haar eie spyskaart. Sy moet haar alie af werk vanaf vroegoggend tot snags laat.
“Kom ons drink vanmiddag eerder op die talentvolste kunstenaar wat ek ken!” keer Sophia terug na die hede en lig haar glasie. “Wanneer is jou volgende uitstalling?”
“Ek skilder al lankal nie meer nie vriendin, speel net met verf en doek vir my eie plesier,” lag Louwrika en kondig met ‘n ernstige diep stemtoon aan: “Ek is die vrou wat agter Charles Langeberg, die bekwame hartsjirug, staan. Die tweeling se ma.”
Verbeel sy haar of klink Louwrika effens verbitterd, wonder Sophia, maar Louwrika lyk heel tevrede en neem nog ‘n slukkie borrelgenot.
“Jy het soveel talent, Louwrika. As student was jou eerste solo-uitstalling al teen die openingsaand uitverkoop!”
“If you don’t use it, you lose it,” antwoord Louwrika lighartig.
“Ag strooi! Ek glo nie dit werk so met talent nie. Jy hét dit, of jy het dit nie.” Sophia maak haar glasie met een sluk leeg. “Waar is al die beddings vol pragtige blomme waarvan jy altyd gedroom het?” Sy dink aan Louis se foonboodskappe vanoggend. “Hierdie reusetuin lyk soos dié van iemand wat met grasperke smous.”
Louwrika se blik verskuif na die netjiese uitgestrekte grasperk. “Dit gaan oor veiligheid. Onthou, ek is alleen hier vandat die tweeling in die kosskool is. Charles is bang dat ongewenste elemente in die beddings kan skuil. Ek het alles wat my hart begeer,” voeg sy dan vreemd as nagedagte by. “Ek het ‘n onbeperkte rekening by ‘Bloomin’ Buds’ en ek kan enige tyd blomme koop soos my hart begeer.”
Sy staan op om nog ‘n bottel uit die kroegyskassie te gaan haal. “Dit is juis omdat ek so lief vir blomme is, dat ek nie blomme hét nie,” sê Louwrika terwyl sy met die kurkprop sukkel.”
“Daar’s bôggerollie blomme wat in hierdie huis rondstaan.”
“Dit is juis my punt. Sulke blomme is gevangenes in vase, hulle sterf ‘n stadige dood. Die vreugde wat hulle my verskaf eindig tog net in die asblik op. Die kothuis daar in die hoek is mý heiligdom,” sê Louwrika meteens; ‘n onpeilbare blik in haar oë. “Dít is my private spasie waar ek met verf en skilderdoek speel. Charles se ma het mos daar gewoon voordat sy onder versorging moes kom.”
“Ag, gaan wys my, toe?” soebat Sophia.
“Daar is niks om te sien nie,” skram Louwrika weg. “Net eksperimentele kleure op vermorste doek,” sug sy en maak weer hulle glase vol.
“Wat kook jy vanaand vir ons?” verander Louwrika die onderwerp. “Dit is nie aldag dat ‘n Michelin-stêr sjef in jou eie huis kook nie! Charles is hierdie naweek af en behoort vroeg tuis te wees.”
“Enigiets, solank dit nét nie skulpvis nie, né?” lag Sophia en dink dadelik daaraan dat haar inkopies nog op die kombuisrak staan.
“Hoe weet jy? Ó ja, natuurlik, jy het destyds eerste met Louis uitgegaan. In die goeie ou dae toe ons almal nog vriende was,” laat Louwrika droog hoor.
“En ek myself ‘stuck up’ gehou het. Nou wonder ek of ek nie baie dom was nie,” terg Sophia. “Het hy jou van sy ondervinding met skulpvis vertel?”
“Ek kan skulpvis nie verdra nie!” aap Louwrika Louis se stemtoon speels na: “Net die gedagte daaraan laat my tot in my kleintoontjies ril.” Hulle giggel albei. “Partykeer wonder ek hoe my lewe sou uitgedraai het as ek nie iemand se vrou of ma was nie. Dalk sou ék ook nou bekend gewees het, soos jy,” peins Louwrika.
“Ek begin solank met my geheime resep,” sê Sophia oor haar skouer terwyl sy kombuis se kant toe beweeg. Sy wonder of Louis ooit vir Louwrika vertel het van sy dodelik allergie vir skulpvis. Sy twyfel sterk. Hy het mos nooit foute gehad nie.
“Jy is ook maar ‘n Fariseër, Louwrika,” roep sy dan vanuit die kombuis. “Jy krap in Louis se ‘geheime’ heiligdom, maar jy wil my nie jóúne wys nie,” karring sy moedswillig.
“Ek laat nie sommer my sleutel rondlê nie,” swaai Louwrika haar wysvinger vermakerig en ongeïnhibeerd. “Okei, op voorwaarde dat jy niks sal sê nie … net sal kyk.”
~O~
Stomgeslaan kyk Sophia om haar rond. In die kothuis eggo ‘n mengelmoes van emosies. Teen al die mure staan reuse doeke vol uitbundige blomme wat springlewendig is. In oorweldigende kleure fluister hulle al Louwrika se geheime kliphard uit. Haar vriendin het hier in die kothuis met kwashale en verf al haar vreugdes en hartseer in meesterstukke verewig.
“Dit is net blomme,” sê Louwrika sag terwyl dieselfde emosies sterk vanuit haar eie gesig straal. “Dit is hiér waar ek sin kan maak van my eie chaos en my binneste kan uitsorteer. Ek kan speel sonder kritiek, styl of verwagtinge.” Haar oë pleit vir begrip.
Sophia se eie woorde wurg in haar keel. Dit is nou doodstil in die kothuis. Haar vriendin kon wêrelberoemd gewees het, maar verstaan vou stadig voor haar oop. Miskien is hierdie kunswerke net té eerlik en was dit nooit bedoel om vir die wêreld gewys te word nie.
“Louis gaan nóú hier wees,” verander Louwrika Sophia se gedagtegang met beslistheid en beduie sy wil die kothuis sluit. “Julle twee het nog niks gekuier nie.”
“Ek wil net sommer gou loer hoe my gereg vorder,” voeg Sophia by net toe Louis op die stoep uitstap. Verbeel sy haar of is Louwrika effens bleek?
“Hallo Sophia. Ek het jóú jare laas gesien,” sê Louis. Hy soengroet Louwrika skrams op die wang en gee vir Sophia ‘n drukkie. “Sal ons almal hier op die stoep sit? Die herfsbriesie maak dit heerlik koel,” sê Louis en gaan sit voordat iemand kan antwoord. “Hoe behandel die lewe jou daar in Lyon, Sophia?”
Sophia kyk weer na Louwrika. Iets is beslis verkeerd. Sy is wasbleek en hou haar hand oor haar oë.
“Ek dek net gou die tafel,” sê Louwrika. “Glase vir julle twee?”
“Wat is fout, my lief?” vra Louis bekommerd. “Weer een van jou migraines?”
Louwrika knik. “Julle sal my asseblief moet verskoon. Ek is verskriklik naar,” sê sy en hou steeds die lig met haar hand uit haar oë.
“Drink die ‘migraine-coctail’ wat ek vir jou gemeng het, my lief en klim in die bed.” Hy kyk vir Sophia. “Slaap is al wat werk vir ‘n migraine.”
Sjampanje en pynpille? wonder Sophia bekommerd. Wat is werklik hier aan die gang?
Toe hulle alleen is, mik Louis met ‘n goeie Cabernet Sauvignon na Sophia se glas. “Dit is nooit lekker om alleen te drink nie. Louwrika hou nie van alkohol nie, sy sê dit laat haar vel jeuk.”
“Net ‘n bietjie vir mý, asseblief, ons het …,” keer Sophia haar woorde net betyds.
“Waarmee het julle twee dames julleself die heelweek besig gehou?” vra Louis, terwyl hy met ‘n geoefende gewrig skink. “Ek hoop nie julle het net op die stoep gesit en gesels nie?”
“Ons het onsself gate uit geniet!” lag Sophia, klaar so gemaklik soos destyds. “Hier is ‘n groot verskeidenheid restaurante met goeie spyskaarte en heerlike wyn. Ek beny Louwrika, sy het soveel interessante vriendinne. Ek het lanklaas so lekker gelag soos die afgelope week.”
“O …?” lig Louis sy linkerwenkbrou, net soos wat Sophia hom van destyds onthou. “Ek sit dan gedurig aan Louwrika om nuwe vriendinne te maak, of met ‘n stokperdjie te begin. Sy sit heeldag hier by die huis en krap af en toe in die kothuis rond. So van die kothuis gepraat, ek wil hê Stefan moet volgende jaar daar intrek. Die tweeling is hierdie jaar in matriek en hy kan maklik van hier af in ry klas toe. Spaar my sommer ‘n hoop geld.”
“Louis, jy het nie ‘n idee …,” begin sy. “Jy weet klaarblyklik niks …”
Hy sit sy hand op dié van Sophia en begin dit stadig, sensueel streel.
“Ek gaan skep gou die kos in ‘n opskepskottel,” verskoon Sophia haarself haastig en sy wonder hoeveel geheime tussen hierdie mure swyg? Is sy dan die enigste een wat hulle kan hoor?
Voor sy opskep sien sy die dosie vol slopies aftreksel wat sy vanoggend gekoop het. Sal sy …? Vir ‘n oomblik huiwer haar hand daaroor.
Geskok in hierdie nuwe wete oor haarself stap sy doelgerig terug tafel toe. “Louis, ek wéét wat in jou lewe aangaan. Ek ken jou en ek weet hoe belangrik jou reputasie vir jou is. As jy Louwrika se kothuis vir Stefan gee, sal ek nie skroom om op te tree nie!”
“Wat bedoel jy …?” begin hy ongekend onseker.
“Louis, jy het géén idee nie.”
Rika Gerryts ©
JUNIE 2026 – STREEK/OMGEWINGS PROJEK
2.Waar geitjies blaf
(1477 woorde)
Sy oë soek tussen die geroesemoes van stemme na die fotograaf. Hy vind hom eenkant, stilweg tussen kunsliefhebbers wat sy werk staan en bewonder.
“Mnr David Goldblatt! Ek wou u nog gevra het: Watter een van hierdie foto’s lê u die naaste aan die hart?”
“Al my foto’s in die versameling ‘Some Afrikaners Photographed’ ruk aan my hart, maar hiérdie een …,” antwoord hy en stap na ‘An Old Lady Who Was Waiting To Die – Die Hel’, “stal ek wêreldwyd uit… Dit vertel vir my ‘n storie van meer as ‘n duisend woorde.”
~0~
Die walglike reuk van uitgebraaide beesvet in ‘n gietysterpot laat Hester se humeur skielik ontvlam. Die bont repies katoen, wat sy gisteraand so sorgvuldig gevleg het, lê vergete op die houttafel. Rookstank klou aan haar hare en klere. Die wit rook gaan seker tot diep binne die kleistene van hulle donker huisie intrek. Hester gryp na die naaste houer en kots binne die knieskottel. Sy skuif stadig teen die ruwe muur af tot op die koue misvloer en haar woede verander na hartseer. Heimwee na haar ouers en na dít wat kon gewees het as sy steeds in Calitzdorp gewoon het. Dáár sou sy hierdie afskuwelike kerse in ‘n winkel kon koop, dink sy wrokkig; en sy sou nie handgemaakte onderklere van ou meelslopies gedra het nie. Haar ou uitrustings was soveel mooier as die oudmodiese klere waarmee die mense van hierdie andersewêreld rondloop.
Hester vee haar nat gesig teen haar mou af en onthou dan wrewelig van Die Leer waarlangs Hendrik haar net na hulle huwelik, gly-gly teen ‘n gevaarlike helling in Gamkaskloof in gehelp het. Al die los klippe en gruis tussen daardie ruwe getande rotse het haar byna haar lewe gekos, bejammer sy haarself. Al die opgekropte frustrasies van ses maande se gesukkel rol in warm trane saam met harde snikke oor haar wange.
“A-nee-a! Watse gesanik is dit hierdie?” vra Sannie ongenooid by die oop deur. “Was daar ‘n afsterwe?”
Hester skud haar kop en huil nog harder. “Ek weet nie wat dit deesdae met my is nie. Dit voel asof die stilte en hierdie berge my gaan versmoor. Alles is net te veel! Die winterkoue het in my vleis en my murg gaan sit. Ek werk al van donkertyd met die hoenders en bokke. Dan moet ek nog op die lande en in die groentetuin skoffel, brood bak en Adamsvykonfyt maak, of ons vrugte droog én ons klere met die hand maak. Van wátse materiaal nogal, vra ek jou? En ek weet nie hoe om kerse te maak nie!” huil Hester nou nog harde ven wys na die gevlegde kerspitte en die warm rokerige vet op die Dover-stofie.
“Kloofkoors,” sê Sannie saaklik. “Kom ons loop sit buite, dan trek ek vir ons ‘n pot heuningbostee. Laat ‘n kránskind jou kom leer kerse maak. En jy moet die skoorsteenklep oopmaak wanneer die suidooster oor die krans waai.”
Naby die stoep sien Hester ‘n dragtige koedoe-ooi. Haar groot, nuuskierige oë kyk stip na Hester; haar ore waaksaam gespits. Verwonderd sien Hester hoe sy wegdraai en op loop sit.
“Hoekom het jy dan met Hendrik Mostert getrou? Hy is soveel ouer as jy,” wil Sannie weet.
“Dis alles my pa se skuld!” sê Hester, van vooraf ontsteld. ‘n Ryk volstruisboer het by my vlerkgesleep en ons sou later die wêreld vol toer. Dit was nog altyd my droom.” Hester vee haar natgehuilde gesig af met die lap wat Sannie aangee. “Maar my pa wou nuwe Swanepoel-bloed die vallei instuur. My oupagrootjie, Oupa Pieter Swanepoel, het mos destyds op die eerste grond in Gamkaskloof geboer.”
“Hester,” sê Sannie kalm en vryf die lang donker hare tussen haar vingers, “jy het teruggekom vir ‘n Mostertman. Hy is ‘n Klower; en die vryheid wat saam met die alleenheid hier in die vallei loop, is vir hom ononderhandelbaar. Ek is seker hy vou soggens sy hande saam om te bid, want ‘n Mostert sluit nie die deur vir die winter nie. Hy sit hom met ‘n stille taaiheid teë en werk hardkoppig sonder ophou, want hy moet eet en oorleef.
“Jy moenie nou staan en dorpstee wees nie, Hester. Jy sal móét aanpas, want Hendrik het jou nodig om hom te ondersteun en saam met hom te werk.”
“O! Hendrik het genoem dat die donkietrein vandag teen Die Leer terugloop,” sê Hester skielik opgewonde. “Ek gaan ‘n hele paar briewe vanaf Calitzdorp kry en ek hoop daar is koffie ook! Gerekte koffie met fyn gedroogde patats is nou eenmaal nié waaraan ek gewoond is nie.” Sy kyk vrolik na Sannie en sien dat sy vernederd voel. Voordat sy iets sagters kan sê, antwoord Sannie op die verdediging.
“Ons Klowers is miskien nie ryk aan middele nie, maar familie en vriende, harde werk, vryheid en al die mooi rondom ons maak ons skatryk. Het jy ooit vroeër hierdie winter gesien hoe die hellings rooi brand as die aalwyne blom?”
“Ek is jammer ek het jou gevoelens seergemaak, Sannie. My emosies is deesdae so deurmekaar.”
~0~
Wanneer die berge se skadu die rivier tref, weet Hester dat sy moet klaarmaak in die groentetuin. Terwyl sy huis toe stap dring die “kyaahh-ka-ka-ka”-roep van ‘n Rooiborsjakkalsvoël iewers teen die helling vir die eerste keer tot haar bewuste deur.
Hendrik is vroeër as gewoonlik en koets oudergewoonte met sy kop voor hy by die deur inloop.
“Ek het vir jou wildeheuning gebring, my vrou. Van daar waar die bobbejane sit, en ons het goed gedoen hierdie winter,” groet hy opgewonde. “Ons witblits en ander produkte was genoeg vir heelwat negosieware.” Vies plak hy ‘n koevert op die houttafel neer. “Waar’s die pen?” Hendrik trek twee dwarsstrepe oor die voorkant en skryf daarop: Word belasting in die hel betaal? “Ek stuur hierdie terug vir die vermetele belastingman. My adres is Gamkaskloof!”
“Waar’s mý pos dan?” vra Hester vol verwagting.
“Daar was niks. Jy sal vir die volgende donkietrein moet wag.”
Dieselfde hartseer van vroegoggend vlam weer in Hester op. “Ek wil teruggaan Calitzdorp toe, Hendrik! Ek voel losgeruk uit my wêreld, vasgekeer tussen hierdie berge nes die opdrifsels dryfhout wat die rivier in die donker vallei vasspoel!”
Hendrik kyk na haar in stille verbystering. “Ek het dan vir jou ‘n stewige huis gebou, my vrou. Op die mooiste plek in die wêreld!” Hy neem haar hand in sy grof geëlte hand. “Kom ons gaan sit buite.”
“Die grond was reeds lank voor my hier,” sê Hendrik dan kalm. “Die grond sal steeds lank ná my hier wees. Hierdie grond is deel van my bloed.”
Die son het reeds na agter die kranse vertrek en ‘n sagte glans gloei geel in die vallei.
“Kek-kek-kek,” begin dit eggo deur die kloof, en die rante rondom hulle word lewendig.
“Wat maak só?” vra Hester verskrik.
“Dit word lente, my vrou!” kom dit ongekend uitbundig van Hendrik. “Die geitjies blaf om ‘n maat roep. Elke mannetjie sit en blaf vanuit die gat van sy ondergrondse sandtonnel.
“Ek dink altyd só daaraan. As die eenvoudige geitjie van Spreuke met koppigheid en slim planne in ‘n koning se paleis kan woon, kan die skepseltjies seker ook hier in die dorre, droë sand van die warm Gamkaskloof oorleef. Hulle het ‘n plan gemaak en vir hulle ondergrondse tonnels gegrawe.”
Met die koms van die aand verander die dag se hemelsblou Karoolug na ‘n pikswart koepel waarteen die wit sterre soos pokgate uitstaan.
“Hendrik …,” begin Hester huiwerig en skuif styf teen hom aan. “Die bloed in mý are is nou ook deel van hierdie grond. Ek dink ‘n nuwe Mostertjie is op pad.” Sy sit haar hand beskermend oor haar buik.
Hendrik slaan beide arms om haar lyf. Met blydskap druk hy Hester nog stywer teen hom aan. Vir ‘n wyle langer sit hulle en luister na die blaffende geitjies. Dan stap hulle saam-saam die donker huisie binne, waar Hester se nuwe kers dansende skaduwees teen die growwe mure gooi.
~0~
“Wie wás sy?” vra die verslaggewer.
“Ouma Hester Mostert, ’n tienerbruid van Calitzdorp. Die Swartberg het haar ingesluk en gebytel tot ‘n matriarg van ‘Die Hel.’”
“Dit was Januarie 1969 toe ek haar gevra het of ek ‘n foto van haar mag neem. Sy het ingestem: ‘Ja, mits u vir my ‘n afdruk daarvan stuur.’ Ek het haar verseker dat sy hierdie foto oor drie maande sal ontvang, waarop sy geantwoord het: ‘Ag, los dan maar. Ek gaan al dood wees.’ Sy was ’n sterk vrou wat die realiteit van oudword en die dood reeds gekonfronteer het,” sê David, “want sy is daardie selfde jaar op 7 April oorlede.”
Die verslaggewer bestudeer die ikoniese silwergelatien-foto. ‘n Onversetlike Afrikanervrou sit in die deur van haar voorkamer. Haar gesig vertel ‘n aangrypende verhaal van gelate oorlewing in ruwe omstandighede.
“Ja,” mymer hy. Sy het miskien geïsoleerd geleef …, tog het haar foto die wêreld vol gereis.”
© Rika Gerryts
*Gamka is die Khoisan woord vir leeu.
AUGUSTUS 2026 – AANHALINGS PROJEK\
3.Een dollar per jaar
1978
“Lee?”
Mary trek die voorste pante van haar kamerjas oormekaar en knoop die materiaalbelt vas.
“Hoekom sit jy hier in die donker?” vra sy verbaas en druk die skakelaar van die leeslamp aan.
Lee bly stil; lyk gedaan. Dan antwoord hy met ‘n skor stem: “Ek moes vandag vir my beste vriend vertel dat hy nie meer ‘n posisie by Ford het nie, Mary. Daardie uitdrukking in sy oë van ongeloof en toe onbegrip oor my verraad herhaal al heelnag voor my geestesoog.”
“Ek maak vir ons tee. Is die Ford Motormaatskappy dan nou finansieël in die moeilikheid? Ek het verstaan dit gaan juis … ”
“Nee, Mary. Dit is Henry Ford se manier om my te verneder. Hy is ‘n arrogante klein haantjie op ‘n groot mishoop en hierdie was sommer net ‘n lukrake afdanking. Hy is ‘n onvoorspelbare en impulsiewe diktator wat regoor die wêreld stralerjak. Kwansuis nou die dag sy suster se katte agterna gevlieg omdat sy hulle tydens haar vakansie gemis het.
“Jy en ek praat al ‘n geruime tyd oor die onverstaanbare rede hoekom hy my in die laaste tyd al drie keer gedemoveer het. En ek is die president van sy maatskappy!” sê Lee Iacocca omgekrap.
“Ek kan verstaan dat jy gefrustreed is, Lee, maar trap versigtig as jy nie beplan om te bedank nie. Julle het twee botsende ego’s en … ”
“Syne is ‘n opgeblaaste ego, Mary! Ek het eerder ‘n oortuigende bestuurstyl wat tot op hede baie suksesvol is. Hoekom dink jy het hy my nommer twee in die maatskappy gemaak? Die Ford Motormaatskappy het slegs in Henry se skoot geval omdat hy dit geërf het. Hy besit geen logiese toekomsvisie nie.”
“Juistemeer,” antwoord Mary sag, “en ‘n onbevoegde eienaar met ‘n opgeblaaste ego kan gevaarlik wees. Niemand is ongelukkig onvervangbaar nie, Lee.”
“Dit sal die dag wees! Sonder my kon die Ford Motormaatskappy nooit so suksesvol geword het nie. Niemand ken die motor industrie so goed soos ek nie. Ek weet presies wat aangaan in sy maatskappy. My bonusse ingereken het ek die laaste twee jaar $100 000 000 per jaar huis toe gebring. En dit is ook niks minder as reg nie, want sonder my sou hulle nooit soveel wins gemaak het nie.”
“Jy is seker reg, Lee,” sug Mary en neem sy hand. “Kom nou eerder bed toe.”
“Dit is byna dag. Ek kan netsowel aantrek en kantoor toe gaan. Ek sal sommer ontbyt by een van ons kelners bestel,” wys Lee haar voorstel van die hand.
‘
Nadat Henry se sekretaresse die deur stilweg agter haar toegetrek het, blaas Lee Iacocca ‘n gefrustreerde sug uit en stoot met sy hand deur sy dwarsgekamde kuif.
“Die oomblik het dan seker aangebreek …,” dink hy hardop. “Drie jaar! Dit het Henry Ford II drie jaar geneem om genoeg moed bymekaar te skraap om van my, Lee Iacocca, ontslae te raak.” Dit maak net nie vir my sin nie, dink hy wrang terwyl hy sy baadjie aantrek en deur sy weelderige kantoor-wooneenheid stap na die glaskantoor langsaan.
Henry en sy broer sit by die marmer konferensietafel in die “allerheiligste.” Ten spyte van die sterk reuk van nuwe matte, sit beide met ‘n uitdrukking van “ons ruik riool” op hulle gespanne gesigte. Hulle beantwoord nie Lee se groet terug nie en ‘n ongemaklike atmosfeer van uitgerekte stilte hang opvallend in die lug .
“Daar kom ‘n tyd, Lee …,” en dan huiwer Henry. Hy hou sy oë nog die heeltyd neergeslaan.
“’n Tyd waarvoor?”
“’n Tyd wat ek dinge op mý manier moet doen,” sê Henry uiteindelik saaklik.
Lee Iacocca wag in stilte.
“Dit was aangenaam om my met … met jou te kon assosieer …,”
Lee gaap hom verbaas aan.
“maar, ek dink jy moet liewer gaan,” sê Henry. “Dit sal die beste wees vir die maatskappy.”
“Is jy van jou kop af, Henry? Hoekom? My nuwe Mustang word oor twee weke vrygestel. Die televisie-advertensie waar ek by ons nuwe motor staan, is reeds geskiet!”
“Dit is persoonlik. Dit is maar net een van daardie dinge.” Henry trek sy skouers op. “Wel, soms hou mens net nie van iemand nie.”
“Na twee-en-dertig jaar? Kyk my net om hemelsnaam in die oë!” kom dit ongeduldig van Lee.
“Jou tydsberekening stink, Henry!” sê Lee Iacocca skielik kwaad. “Die afgelope twee jaar het ons 1.8 biljoen per jaar gemaak! En glo my maar Henry, jy sal nooit weer ‘n biljoen rand sien nie. En weet jy hoekom? Omdat jy in die eerste plek geen benul het van hóé ons die geld gemaak het nie.”
Sonder verdere woorde storm Lee uit die konferensiekamer en los die deur oop. Mary was toe al die tyd reg, stoom dit binne hom. Hy hét te naby aan Airforce One gevlieg.
~O~
“Lee …, néém die posisie. Aksie en uitdagings is jou kos. Ek wil jou ook nie heeldag hier onder my voete hê nie!” sê Mary met terglus in haar oë.
“Hulle hét my nodig …, en Chrysler ís méér as net in die moeilikheid, Mary. Dit blyk asof die maatskappy inwendige bloei. Maar ás ek die aanstelling neem, wil ek binne ‘n jaar número uno wees! Anders stel ek nie belang nie.
“As hulle my die CEO van Chrysler maak, kan ek die maatskappy binne ‘n jaar omkeer. Ek wéét ek het dit in my. Ek het die commom sense en besigheidsvaardighede wat hulle benodig. Die maatskappy is op die oomblik totaal ongeorganiseerd, maar ek sien kans om verder te bou op hulle lang tradisie van goeie ontwerp en ingenieursinnovasie. Ek dink met ‘n goeie dosis orde en dissipline het Chrysler tog ‘n toekoms.”
Lee kyk Mary bekommerd agterna toe sy verskoning maak om vroeg te gaan lê. Hy kwel hom al lank oor haar gesondheid.
~O~
“Luister Fraser, ek gaan nou oop kaarte met jou speel. Ons is almal saam aanboord van ‘n sinkende skip!” lig Lee Iacocca die vakbondhoof in.
“Is daar nie ‘n kans dat jý Chrysler nog kan red nie, Lee?”
“Nee.”
Fraser lyk geskok toe die impak van Lee Iocacca se woorde hom tref.
“As ons almal saamstaan, is daar ‘n skraal kans dat óns dit dalk sal kan doen,” glimlag Lee.
“Nou wat stel jy dan voor?”
Iacocca leun terug in sy stoel. “Ons begin deur aan die werkers te erken dat ons besig is om die stryd te verloor. Ons het nie meer geld nie en as gevolg van die lening, skuld ons die regering ‘n allemintige bedrag en ons kan dit nie terugbetaal nie.”
“Hoe lank kan ons nog aangaan?” vra Fraser versigtig.
“Op die uiterste drie maande. Dan lê ons skip op die seebodem.”
Sy vind hom in die donker. Sy kop met ongekamde hare lê skeef oor die wydgespreide papiere op die lessenaar.
“Lee, Lee! Ek maak vir ons iets om te drink. Jy werk jouself in die afgrond in en dinge kan nie so aanhou nie.”
“Mary, ek weier om te gaan lê. Die woord “faal” kom nie in my woordeskat voor nie.”
“Ek het jou lief, Lee en ek weet dat jy enigiets kan regkry as jy jou kop daarop gesit het, maar hierdie berghang skiet loodreg op in die lug. Dit is nie ‘n skande om jou rug op ‘n onmoontlike taak te draai en weg te loop nie. Om moed te hê gaan nie altyd oor oorwinning of sukses nie. Soms verg dit baie meer moed om met jou lewe aan te gaan terwyl jy weet dat jy nie die uitkoms kon beheer nie.”
Lee kyk by die venster uit. Die nuwe dag is besig om te breek. Hy het nooit besef dat dit al herfs is nie.
“Ek weet nie, Mary. Ek weet net nie,” sê hy uiteindelik. “Ek weet net dat ek myself en ander nog nooit gefaal het nie. Ek weet nie hoe om dit te doen nie.”
“Maak die idee jou bang?”
“Ek wil die idee nie eens oorweeg nie.”
“Wanneer laas het jy die dokter gesien, Mary?” vra Lee onverwags.
“Ek is okei, Lee. Moenie oor my ook nog bekommer nie.”
~O~
Lee Iacocca verskuif gespanne. Onder hom druis die stemme van ontevrede mans – mans wie se name hy teen hierdie tyd al ken. Mense met gesinne, huislenings, drome en ‘n beroep. Almal is vakbondverteenwoordigers wat na die ekonomiese belang van duisende ander gesinne moet omsien. Hy het sowaar meer van mense geleer in drie jaar by Chrysler as in twee-en=dertig jaar by Ford, besef hy verbaas.
Hy maak sy keel skoon en die stemme begin stadigaan bedaar.
Die grootsheid van die oomblik laat die bloed deur Lee se are ruis. Hy gaan nou as leier ‘n voorbeeld moet stel.
“Ons is almal saam in hierdie penarie,” begin hy, “en ons sal almal saam sekere opofferings moet maak om die maatskappy te red.”
Die stemme begin weer effens murmereer.
“Manne! Ek hou ‘n haelgeweer teen julle koppe! Ek het duisende poste beskikbaar teen sewentien dollar per uur, maar géén teen twintig dollar per uur nie.”
“Hoeveel gaan jy jouself betaal Meneer Iacocca!” skree ‘n man van onder af.
“Een dollar!”
“Een dollar per sekonde?” kom dit van êrens af en ‘n gelag klink in die saal op.
“Een dollar per jaar,” antwoord die CEO van Chrysler.
Dit word doodstil.
“Julle het tot môre-oggend om ‘n besluit te maak. As julle my nie uithelp nie, blaas ek julle breins uit. Ek verklaar Chrysler bankrot en julle, sowel as die werkers, sit sonder werk.”
~O~
1985
Hy vind haar in die donker en gaan sit. Dit dring tot hom deur dat die lug na byna-lente ruik.
“Ek het vir jou blomme gebring, Mary, net om dankie te sê vir jou goeie raad en omdat jy altyd op my trots gebly en geglo het. Ek is jammer dat ek dit nog nooit vir jou ook gesê het nie.
“Maar nietemin,” Lee begin lag, “jy sal bly wees om te hoor dat ons nou beter motors vervaardig. Ek bring nie meer daardie gemors-motors, soos wat jy hulle destyds genoem het, huis toe nie.
“Die nuwe K-motors en ons Minibus was net wat die publiek vandag nodig het. Mary, ons verkoopsyfers het deur die dak geskiet!
“Ek wens jy kon daar gewees het toe ons die regering se lening binne slegs drie jaar afbetaal het. Jy sou so verlig gewees het!
“Ek onthou nog daardie nag toe jy vir my gesê het dat om moed te hê nie altyd gaan oor oorwinning of sukses nie; en dat dit soms baie meer moed verg om met jou lewe aan te gaan wanneer jy weet dat jy nie die uitkoms kan beheer nie.
“Jy weet dat ek in my lewe suksesvol was en ook gefaal het, Mary, maar ek dink dat dit wat jy tóé gesê het, vanaand vir my baie moeiliker is. Dit verg méér moed om voort te gaan nadat jy dít verloor het wat jy nooit weer kan terugkry nie.”
Rika Gerryts
(Woordtelling: 1811)