Geronkie die Donkie raak verlief
“Mossieman,” sê Geronkie terwyl hy vir homself in die spieël kyk en sy lang swart ooghare met ‘n pikante skertjie mooi maak, “ek dink ek is verlief.”
“Ag Geronkie, op wie sal jy nou verlief wees, jy is gans te lelik,” lag Mossieman. “En jou bene is krom.”
“Nee regtig Mossieman, ek het gister die mooiste meisie-donkie in die hele wereld gesien. Sy is pragtig! En elegant.”
“Waar het jy nogal hierdie mooi meisie-donkie gesien? En hoekom is sy so pragtig?”
“In die dieretuin, sy bly in die dieretuin. Sy bly saam met baie ander donkies, in so in ‘n kampie en hulle het almal dieselfde soort pajamas aan.”
“Dra die donkies in die dieretuin klere?” vra Mossieman nuuskierig.
“Mossieman, jy sal dit nie glo nie. Al daardie donkies dra sulke wit en swart pajamas. Maar daai meisie-donkie is die mooiste donkie van almal.”
“Wit en swart pajamas?”
“Ja man,” sê Geronkie, “pajamas, met strepe. Helfte van die strepe was swart en die ander helfte wit.”
“Klink nie vir my reg nie,” sê Mossieman en hy krap sy kop. “Ek wonder of hulle die pajamas by iemand gekoop het?”
“Ek weet nie,” peins Geronkie en hy kry so ‘n veraf-verlangende uitdrukking in sy oë. “Dit het vir my gelyk of iemand vir hulle die pajamas aangeverf het.”
“Met verf?”
“Met verf ja,” sê Geronkie, “met verf.”
“Of miskien was dit wit donkies en toe het iemand swart strepe op hulle geverf?”
“Kan wees, of miskien was hulle swart donkies en iemand het wit strepe op hulle geverf. Ek dink hulle binnekant en buitekant lyk dieselfde.”
“Geronkie,” sê Mossieman, “ek dink ons moet na Virginia se dieretuin toe gaan om te gaan ondersoek instel. Ek wil baie graag sien hoe daardie pragtige meisie-donkie lyk op wie jy so been-af is.”
“Sy is baie mooi,” sê Geronkie verlief. “Ek dink ek gaan haar vra om met my te trou.”
“Nee man,” jy is te haastig, “jy moet haar eers goed leer ken.”
“Reg so,” sê Geronkie, kom ons ry.” Mossieman en Geronkie spring net daar op Geronkie se scooter en daar trek hulle dieretuin toe, met so ‘n Vrystaatse stofstrepie wat al agter die scooter aan warrel.
“Daar is sy, daar is sy,” roep Geronkie opgewonde toe hulle die kampie in die dieretuin sien met al die gestreepte donkies in.
“Watter een, watter een? vra Mossieman. Hy kyk vir die vale om te sien watter gestreepte donkie Geronkie bedoel.”
“Uh uh,” stamel Geronkie en hy kyk met altwee sy oë gelyk om te sien of hy dieselfde donkie weer kan sien.
“Nou weet ek nie, hulle lyk nou vir my almal dieselfde.”
“Geronkie,” sê Mossieman, “dis mos nie donkies hierdie nie man, dit is zebras!”
“Wat bedoel jy,” stotter Geronkie benoud.
“Dit is zebras daardie, nie donkies nie en hulle het ook nie pajamas aan nie. Zebras lyk maar so.”
“Maar wie het hulle wit en swart geverf?” vra Geronkie en hy loer skamerig vir die zebras.
“Ek weet regtig nie,” sê Mossieman peinsend, “maar hulle lyk almal dieselfde en hulle is definitief nie donkies nie.”
“Mossieman,” sê Geronkie vies, “hoekom het jy my nie van zebras vertel voordat ons na die dieretuin toe gekom het nie?”
“Ag Geronkie,” sê Mossieman, “jy was so opgewonde en so verlief op die mooi zebratjie, ek wou graag sien hoe sy lyk. Ek het so gehoop julle twee trou eendag en ek wou so graag sien hoe julle kinders gaan lyk.”
“Ons kinders?”
“Ja Geronkie,” lag Mossieman guitig, “ek sou graag wou sien hoe lyk julle kindertjies.”
“Wel,” sê Geronkie vies toe hy wegstap en op sy scooter klim, “nou sal ons seker nooit weet nie. Maar ek dink ons kinders sou soos foxterriers gelyk het, helfte donkie en helfte zebratjie.”