
BRUIDSKAT
Twee kleedjies gehekel vir die rusbank en een vir die gemakstoel. Sy is amper klaar met die laaste een. Die patroon is nie te ingewikkeld nie – soos die tafelkleed vir die eetkamertafel. Hoe lank het dit haar geneem? Die hele winter. Genade tog, dan kom Elsa ook nog kort-kort kyk hoe ver sy is. Arme mens, ook geen kind of kraai nie. Kliek-klik met haar loopring van haar kothuis af tot hier by haar. Soms skaars uit of sy kom weer terug – vergeet sy was ’n rukkie gelde reeds by haar.
Hierdie kleedjies neem langer as die tafelkleed. Reeds voor Kersfees daaraan begin hekel en dis nou Junie. Die wat nou oor die sitkamerstel is, is al aan die uitrafel. Oppas om so by die kerkbasaar ’n hekeldingetjiete koop, want dis afskeepwerk. Mens moet dit sagkens hanteer. Spoel dit net gereeld met ligte seepwater, moenie vrywe nie – die garing rinneweer. Sy het die instruksies netjies neergeskryf. Ai, en Elsa kan tog so met haar hande die hekelgoed vryf teen haar handpalms en dit nekomdraai wanner sy die afspoelwater daaruit druk. Respekteer tog die werk wat daarin gaan. Elke steek met die hekelnaald is soms ’n einaseer rumatiekpyn. Kyk hoe lyk haar vingers; al tien krom, knoppe op elke lid.
Sy’t ’n pragtige deken gehekel. Dit is haar trots; lê mooi toegedraai, motbolle en al, op die boonste rak in haar hangkas – was in koue water, anders mag dit dalk krimp. Bontkleurig: malva-rooi, sonneblom-geel, laventel-pers, bruidsroos-pienk … ag, sommer al die kleure wat vir haar so mooi is. Al die bont blommetjies ook gehekel en stewig vasgewerk. Sy het dit versigtig oor haar hemelbed gegooi, ’n koppie tee gaan maak en teruggekom kamer toe. Toe gaan sit sy op die stoel verbly haar in die feestelikheid terwyl sy daarna kyk – so fyn en pragtig, so trots daarop. Nadat sy die tee klaar gedrink het, het sy die deken versigtig opgevou, toegedraai met ‘n ou laken, die nota daarop vasgesteek met ‘n haakspeldjie en dit bo in haar hangkas gesit. Onder die rakpapier lê stukkies seep vir vismotte en ’n vars reuk.
Nou wil sy lag vir haar eie gedagtes – babakousies. Nee, toe, moenie jou kom stuitig hou nie. Ai, ’n kleinkind met fraaie blou ogies, witblonde hare, voetjies wat skop en toontjies wat so wyd uitmekaarrek van lekkerkry. ’n Babakombers van pastelkleure; blou, pienk, geel en wit – met ’n bypassende mussie.
Elsa het vir haar ’n patroon gegee vir kussingslope vir die rusbankkussings. Sy sê dan pas die kussings by die kleedjies. Toe sê sy vir Elsa sy sal vir haar ’n doilie hekel vir haar melkbeker, maar net as sy dit mooi gaan was en nie so nekomdraai nie. Daar hang die doilie vanoggend op die wasgoedlyn; gekreukel, skeefgetrek, twee kraletjies weg. Sy sal wragtig nie weer vir haar iets hekel nie. Basta.
So ja, daar is die kleedjie klaar. Amper sewe maande se harde werk. Dit het haar besig gehou terwyl sy gewag het vir die kinders en haar kleindogter om te kom kuier. Eers ná Kersfees laat hulle weet hulle kom eerder Nuwejaar, maar toe raak hulle besig, siestog. Sy en Elsa het ’n braaihoender gemaak. Die Kersgeskenke is onderin die linnekas. Sy het eers middel Februarie die kersboom weggepak. Slapenstyd. Eers haar Bybel lees en bid.
Dan kyk sy na die briefie wat regop staan teen die lampstander langs haar bed.
My liefste kleindogter,
Ingeval ouma jou nie sien nie – ouma het vir jou ’n deken gehekel. Dit is bo in die hangkas. Daar is kleedjies in die boonste laai en ’n tafelkleed in die linnekas. Ouma hoop jy hou daarvan en dat jy dit kan gebruik – eendag …
Elsa huil. Kyk net al die pragtige hekelwerk. Sy sal dit moet was. Dit ruik na motbolle.
Die kleindogter het dit gebring. Sy sê haar ouma het dit vir tant Elsa gelos in ’n briefie langs haar bed.
©Nico Schamrel
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.