Die Namib se stilte
Die Namib se bekoring lê vir die meeste mense in die sensuele lyne van die duine en die subtiele spel van lig en skadu. Wind skep ‘n voortdurende wisselende tafereel van lyn en vorm wat herinner aan romerige sjokolade met rimpeleffekte wat fotograwe mateloos bekoor – ‘n skildery met ‘n sagte hand geskilder, elke dag anders.
So het die klipwoestyn in Damaraland en Kaokoland sy eiesoortige bekoring waar kataklismiese gebeure vêr terug in die verlede deur die sigbare geologie blootgelê word. Elke rotsrif, koppie of klip vertel ‘n storie en elke keer as ek daar rondry sien ek nuwe prentjies in die klippe. Granietrotse soos die Brandberg en Spitzkoppe verras telkens met ‘n kleurespel tussen die sagste persblou in die verte tot die diepste vlamrooi soos die opkomende of ondergaande sonlig daarop val.
Maar hierdie oënskynlike vaal ooptes van die gruisvlaktes rondom Swakopmund en Hentiesbaai neem lank om onder jou vel in te kruip.
Voor ek op Hentiesbaai kom bly het, was dit vir my sieldodend om deur die kaal woestynvlaktes van die Namib te ry. Maar mettertyd leer kyk jy anders daarna, jou oë raak ingeoefen en jy sien dinge raak wat jy nooit voorheen kon sien nie.
Jy leer om die subtiele kleurspel en kontras tussen die swart rantjies en roomwit vlaktes te onderskei. Dit wat eers vaal vertoon het, word nou sagte skakerings van duifgrys, perlemoenpienk en lila, swart word indigo en die mislaag wat soms vroegoggend laag oor alles hang, word ‘n wit sluier van ganade. Genade wat lafenis en vog verskaf aan ligene en plantjies soos die dollarbossie en litjiesbos en aan die kleinvolk van die Namib.
Ligene groei mildelik op gruisgrond, klipkoppies en droë houtstompe, oor baie jare geanker aan ‘n oënskynlik dorre aarde. Maar die Namib se klipblomme leef in ‘n baldadige vertoon van patroon, vorm en kleur – swart, bruin, grys en oranjerooi koraalpatrone op die kontrasterende klippe wat lyk of dit geskilder is. Roesbruin ligene wat lyk soos dooie grasagtige plante kleur groot areas rooi; groen blaaragtige soorte wat swart vertoon totdat die mis die alg-gedeeltes laat fotosinteer en laat lewe kry in die sagste groen kleure.
Nêrens anders, behalwe die Etoshapan, kry jy luspieëlings soos hier nie – “poele koel blink water” met die opgeefsels van koppies vêr agter wat soos spoke in die bewende lig hang. ‘n Verskynsel wat my verbeelding op loop sit met die soort ding wat jy net in flieks sien gebeur.
Hier kry niks ‘n ander betekenis, dit word ‘n niksheid, ‘n oneindigheid, ‘n ewigheid. Hier kan jy ware stilte en die grootsheid van die skepping beleef.
Dis hier waar ek plat op die grond wil gaan sit, my oë toemaak, my siel wil oopmaak, een word met die stilte en my kop skoonmaak sodat laasnag se wolhaarvrese verdwyn saam met netnou se mis voor die warm aanraking van die wind en die son.
Nog net op die plaas waar ek grootgeword het, het ek so ‘n diep vrede ervaar soos in hierdie kaal, vaal niks wat ook mettertyd aan my sy siel ontbloot het en sy geheime deel.
Ek wil telkens weer teruggaan om daardie vrede in te drink.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.