Namib se stilte
my siel smag na die stil woestyn
soos ‘n hert smag na die beek
waar ek soos in ‘n blink fontein
my dorre gees kan week
waar doloriet die koppies kruin
en in verlate, vlak valleie,
vaal gebleik en bleek,
die blou lug in spookpoele kwyn
waar swart gewelfde rante
die roomwit vlaktes kelk
waar soutpanne spierwit-blink
soos ysmere in die sonlig wink
waar korsmos in koraalpatrone
prentjies op die klippe skets
in rooi en bruin en swart op wit,
kunswerke op rots geêts
ek wil my oorgee aan die niksheid
van hierdie groot en somber land
aan die grootsheid en die eenvoud,
die stil bestaan van klip en sand
©Estelle Rubow
02/12/2017
4 Kommentare
-
-
Toom
Dis nou drie baie mooi ,stemmingsbeelde' namekaar -- prente uit die siel, vir die siel om op te neem! Uit die aardrykskunde leer ons heelwat oor vreemde wêrelddele. Maar soiets behoort eenvoudig daartoe om te begryp waarom dit eintlik alles gaan. Dankie vir die lekkerlees! GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Wow, Estelle. Dis nou regtig BAIE goed. Lieflike werk :-)