
Vrou
Ek weet jy stap deur tuine
waarin daar skadubome is,
verby laventelbos en lelies
in die blom.
Die rose wys hul mooiste kleure net vir jou
en ballerinas* dans jou agterna.
Die blomrok wat jy dra
vou saggies teen jou lyf,
die wind speel met jou hare
wat (effens wild en vry)
verby die ronding van jou wange krul.
Jy wil – soos altyd –
op jou wit stoel sit en droom
onder lower takke
waarin muisvoëls en Kaapse tortelduiwe woon.
Ek weet jou hande hunker
om weer aan veldblomme te raak,
jou palms –
om oor fynbostakkies te kan streel.
En ek verbeel my immer
dat ek jou sien stap
deur jou eie stukkie hemel,
wat soos ‘n blomtuin
om jou lap.
*ballerinas – fuchsiablomme
© Carma Shaw
2 Desember 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.