Dieper as ‘n gevoel (Brons)
Hierdie tyd van die jaar is daar mos altyd ‘n tipe van euforie in die lug.
Oral sien ‘n mens rooi harte, lekkergoed en pragtige blomme. Die sappigste woorde word oor en weer op kaartjies gegriffel. Skoenlappers rinkink op die krop van jou maag en jou bene raak lendelam. Dit voel letterlik asof daar ‘n vlam in jou gesig aangesteek word as jy in jou geliefde se teenwoordigheid is en elkeen wat iets ontvang in die maand is vas daarvan oortuig dat hy of sy nou ewige liefde gevind het.
Maar as daar dieper gekyk word na hierdie emosie wat omtrent elke mens een of ander tyd in sy lewe ervaar, is daar defnitief iets meer besonder as net die gevoel van liefde.
Alles begin mos maar met emosie, maar dit alleen is defniteif nie die gom wat liefde aan die gang kan hou nie. Baie keer hoor mens ander sê dat hulle net nie meer dieselfde gevoel gehad het as in die begin van ‘n verhouding nie en daarom het dit nie uitgewerk nie. ‘n Mens kan nie op jou emosie staatmaak om ‘n verhouding te laat werk nie. Liefde is baie dieper as voel. Ek stry nie dat dit absoluut fantasties is om “verlief” te voel nie, maar daar is ‘n geheim tot alle verhoudings wat werklikwaar die toets van die tyd sal deurstaan en dit is wedersydse respek.
As respek in ‘n verhouding is, ongeag of dit nou ‘n verhouding tussen twee geliefdes of selfs tussen ‘n ouer en kind is, kan dit net ‘n besondere band wees wat geen gevoel ooit sal kan vernietig nie.
Nou vra jy wat is respek dan? Dis ook nie iets wat afgedwing kan word nie. Respek is vir my werklikwaar liefde. Wie respek het, besit liefde.
As jy iemand werklikwaar lief het sal jy daardie persoon se belange op die hart dra. Jy sal omgee met ‘n deernis wat onverstaanbaar is. Ek dink as mens die Bybel vat en Korintiërs 13 met ‘n oop hart en verstand lees, jy werklikwaar wysheid in pag sal hê. Hier stel die skrywer, Paulus dit duidelik wat liefde werklik behels. Hy maak die stelling dat jy allerhande gawes kan hê maar as liefde nie deel daarvan uitmaak nie, het hy eintlik niks.
Wat beteken dit as liefde dan geduldig moet wees? My insiens is dit dat elke mens foute het, en dat jy jou geliefde met sy of haar foute moet aanvaar, en geduld met hulle moet hê ongeag of jy van hulle foute hou of nie. Jy het ook tog immers foute. Hoe kan jy verwag van jou geliefde om foutloos te moet wees as jy jouself vol daarvan is.
Iemand wat liefde het sal altyd vriendelik wees, want as jy met ‘n brombeer mentaliteit rondstap kan jy nie liefde weerspieël nie. As jy heeltyd nukkerig is, is jy mos dan defnitief nie gelukkig nie. Met ander woorde is emosie weer hier ter sprake.
Jy moet jou geliefde gun om hul eie belangstellings en stokperdjies uit te leef. Moenie afgunstig voorkom nie. Onthou, die persoon is net vir jou geleen en nie jou besitting nie.
In hierdie teksvers kry jy al die riglyne oor wat liefde werklik is, maar die een wat vir my die meeste uitstaan is dat liefde alles bedek en altyd hoop sal hê.
Ek dink om onvoorwaarlik lief te hê en mense hul oortredinge te vergewe, die enigste egte vorm van liefde is. Niemand kan op voorwaarlike liefde oorleef nie. Vreemd dat sommige mense tog verwag dat hul tekortkomeninge kwytgeskel moet word maar dat dieselfde mense geen genade aan ander kan betoon nie. Hierdie dubbele standaard is iets wat my verstand nog altyd te bowe gegaan het.
Daarom dan, laat ons mekaar liefhê met respek en vergifnis soos die kronieke van tye baie oud ons voorgesê het om te doen.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek