Gatvol
Bydrae – brons
Ongeveer 1000 woorde
Gatvol vir alles en almal, besluit ek mos om my vakansie te reël, weg van alles en almal. Ek kry op LekkeSlaap die ideale plek. Geen internet, geen selfoonopvangs, geen elektrisiteit, houthuisie in die bos met slaapplek net vir een. Reg langs ‘n middelslag plaasdam, ideaal vir bad en swem. En die plek is beskikbaar vir ‘n hele twee weke teen ‘n derde van die prys van enige ander soortgelyke plek.
So bespreek ek en betaal somaar dadelik my deposito.
Baie opgewonde pak ek my droë rantsoene waarmee ek in die tyd sal moet oorleef. Soutkoekies, boksies melk, blikkies boontjies en pakkies noedels. Dan natuurlik my keteltjie, koffie en “lighter”. Al is ek ver van die beskawing, sal ek nie kan oorleef sonder my Douw Egbertjie nie. En dan natuurlik ‘n lekker varkribbetjie vir die eerste aand. Ek skribbel so vinnig ‘n soort van spyskaart neer, net om seker te maak ek mis niks, pak dan verder my rugsak, want my karretjie sal maar moet bly. Een van my min viende het aangebied om my so 3 kilometer daarvandaan af te laai. Ek sal die laaste end stap, want niemand mag weet waar ek my bevind nie. Reeds vooraf is die oplaaidatum ook bespreek en vasgemaak.
Klere neem ek die minimum saam, want ek wil so na as moontlik aan die natuur leef in hierdie tyd, dit is immers somer, en ek is heeltemal alleen. Ideaal vir ‘n klere-, krag-, en internetvrye avontuur. Die enigste amperbeskawing instrument wat ek saamkarwei, is my kamera.
Binne-in die houthuis is slegs ‘n redelik nuwe en stewige enkelbedmatras en skoon beddegoed en ‘n pot en pan wat ek op die vuur kan gebruik. En natuurlik ‘n blik met 3 houtlepels in. Buite is ‘n baie netjiese klipbraaier met genoeg gekapte hout vir die twee weke. Behalwe vir die varkribbetjie sal dit seker maar meer koffiemaakvuur en kampvuur as braaivleisvuur wees.
Ek is half teleurgesteld oor die bed. Dit is nog te modern en meer stedelik as waarop ek gereken het. ‘n Hooibaal of twee sou die ware Jakob wees, maar nouja, ek moes seker darem waarde vir my geld ook kry. Langs die houthuisie staan ‘n kleinerige yoyo tenk op ‘n stellasie. Dit is vol en behoort genoeg drinkwater vir twee weke op te lewer.
En so begin ek my twee weke avontuur. En die heel eerste aand, net na my eerste kaalgatswem in die dam, maak ek myself tuis langs die braaier en omdat ek weet ek is alleen, probeer ek nie eens my naaktheid bedek nie. Dis nie aldag wat ‘n mens kaalgat braai nie. Maar dan merk ek ek is nie alleen nie. Sowat 15 meter van waar ek sit, sien ek die silhoeet van ‘n man, met breerandhoed en kakieklere, blykbaar ook besig om te braai en ek vervies my dadelik. Ek het uitdruklik gevra vir ‘n plek waar ek alleen sou wees. Ek het besluit dat dit my nie gaan onderkry of enigsins my beplanning gaan ondermyn nie.
Ek het die man net saans gesien. Daar waar ek by my kampvuur gesit het, en my koffieketeltjie gekook het, kon ek elke aand sien en ruik hoe hy braai en ek het nogal gewonder waar kry hy die vleis en hoe hou hy dit vars. Hy moes seker maar elke dag iets gaan jag. My mond het gewater, veral na die eerste week toe my vleislus regtig al sy tol begin eis het.
Ongehoorsaam aan my eie keuse, stap ek toe die agste oggend oor daar na die man se braaiplek, meer dalk meer uit nuuskierigheid en vleislus as vir enige ander rede. Ek maak my darem betaamlik met ‘n broek en ‘n hemp. Groot is my verbasing toe ek geen teken van hom, sy slaapplek of sy vuur kon opspoor nie. Nie eens koue as van vorige aande nie. Al wat daar in die omgewing is, is drie onversorgde en half-toegegroeide grafte. Te oordeel aan die inskrywings op die grafstene, moes dit al baie oud wees. CASPARUS HOOGENHOUT geboren 2 Jan 1834. Oorleden 13 December 1901. Die ander graf, blykbaar sy eggenote EGBERTA LEVINUA HOOGENHOUT. Geboren 12 September 1841. Oorleden 13 December 1901.
Voor ek na die derde graf beweeg, ‘n entjie daarvandaan, gaan daar skielik koue rillings langs my ruggraat af. Die van verskil, maar dit was my ouers se name ook, Casparus en Egberta. Oom Cassie en tannie Eggie, soos almal hulle geken het. En my pa is gebore 2 Januarie, maar in die jaar 1934, presies honderd jaar later. Moeder is gebore op 12 September 1941 en beide is in ‘n motorongeluk dood op 13 Desember 2001. Toevallig? Vreemd. Nuuskierigheid geprikkel gaan ek na die derde graf en ek word yskoud. Want daar, oo die grafsteen staan my naam HENDRIK, maar ook hierdie vreemde van, HOOGENHOUT, geboren 2 November 1862, oorleden 29 December 1923.
Skielik tref dit my. My vakansie het op 29 Desember begin. En my vriend was byna in ‘n ongeluk op pad hierheen. Die groot Putco bus wat van nêrens gekom het nie en ons amper van die pad af gedruk het. Of was dit dalk nie ‘n byna-ongeluk nie? Ongemaklik en geskok stap ek terug na my houthuisie. Hier moet ek vinnig wegkom. En so vat ek die pad terug beskawing toe, na net een week, geklee in my kakieklere en breerandhoed waarmee ek daar by die houthuis oogedaag het.
©️HENN
2 Kommentare
-
Ano
Oulik!! :-D
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek