Jongste aktiwiteit:

’n Swart draaikolk in November

(Woordtelling : 648)

 

Net soos die vlieg op die vensterbank sy handjies ingenome teen mekaar sit en vryf, vryf ek ook elke jaar my handjies teen mekaar in afwagting op die lang verwagte Swart Vrydag se spesiale aanbiedinge. Die hele jaar deur word geldjies eenkant gesit net om dit aan die einde van die jaar vlerke te gee. As mens nou nie versigtig werk nie, kan hierdie opgewondenheid jou egter hopeloos te vinnig, hopeloos te duur, te staan kom. Dit is immers nou nie asof daar nie ’n einde aan die tien een-Rand muntstukke in my klein maer beursie is nie.  Ek draai elke munt ten minste twee maal om, en die laaste drie word sommer vier maal gedraai, ernstig oor die aankope oor nagedink, en soms (nie altyd nie), word die munt saggies teruggesit.

Ek het twee lysies vir aankope wat teen die einde van die jaar bepaald ’n paar bladsye beslaan. Die een is praktiese produkte wat ek deur die loop van die jaar gereeld gebruik en wat baie beslis aangevul moet word. Ek het immers al die kuns verfyn om slegs een maal per jaar haarprodukte teen ’n afslagprys te bekom, daarom hou ek die prys met ’n valkoog dop en bestel net op die regte oomblik – gewoonlik net voordat ek die boom van die laaste houer conditioner begin skraap. Soms hou ek my asem op wanneer dit voel asof die afslag nooit aangebied gaan word nie, maar dit was darem ook nog nooit nodig om enige nood aankope by die naaste apteek te doen nie.

Die ander is ’n regte-egte wenslys, goed wat ek nie nodig het om van te leef nie, maar tog lekker sal wees om te hê. Koop-koop, jou bek hang oop…! Hierdie jaar-eind-spesiale aanbiedinge kan mens maklik kop laat verloor, maar dit bly steeds die ideale geleentheid om ’n geskenkie of twee teen ’n goeie prys te bekom. Daar is immers twéé verjaarsdae aan die einde van die jaar en as mens nou ’n rand of tien kan bespaar, waarom nie? Dalk hoef ek een van daardie munte in my beursie net een maal om te draai.

As mens egter nie ’n skerp oog op jou beursie se inhoud hou nie, kan jy baie vinnig ontdek dat daar wel onverwags ’n swart draaikolk daarbinne ontstaan het. Dit is alte maklik om kop te verloor wanneer elke handelaar sy produkte baie verleidelik voor jou voete neergooi. Die hoeveelheid e-posse wat ek hierdie jaar ontvang het, het my byna gek gedryf! Elke dag het ek, sonder om dit oop te maak, die een na die ander na die asblik gestuur, heeltemal te bang ek word verlei om te spandeer waar dit nie nodig is nie. Immers is ek ’n vroumens en hoogs verleibaar met als wat blink en kleurvol is! Dis dalk nie skoentjies nie, maar daar is genoeg om my ogies bekoorlik te laat blink en die besighede weet dit! Tot my skaamte ken hulle al my naam én adres en ken ek die koerier ook al by die naam. Ons groet soos lang verlore vriende wanneer hy sy rondtes kom doen.

Die internet kan nogal ’n lastige ding wees, veral wanneer daardie flikkerende advertensies die hele tyd jou aandag van belangriker take aftrek. En raai, die liewe AI weet ook nét waarna ek graag kyk en kom vertel my dan hoe heerlik dit sal wees as hiérdie boek ook op my boekrak sal verskyn, of hiérdie blikkie verf/kwas/gom/glitter perfek vir daardie projek gaan werk. Ons weet mos wat om daarmee te doen. Nie net word dit teen ’n aansienlike afslag aangebied nie, ’n piepklein geskenkie word ook sommer as ’n verdere verleidingstaktiek ingesluit.

Koop-koop, jou bek hang oop…! Maak toe die ding, dis brommertyd. En nee, hou nou op om jou handjies te sit en vryf en gaan tel jou geldjies. Desember kan ’n lang maand wees as mens nie versigtig is nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed