Ma
Ma
Ek moes op my vingers tel hoe lank jy al dood is. Dit voel nie so lank nie. Tog voel dit soos altyd. Seker omdat ek nooit ’n plek kon kry om hierdie ding te bêre nie. Jy en jou dood. Ma. My ma. Die dronklap.
Dit is nou uit. Dis die ergste wat ek oor jou kan sê. Op ’n stadium was dit al wat ek kon sê. Dronklap. Nou klink dit so banaal en dramaties. Wat as jy te veel gedrink het? Wat as ek my vir jou geskaam het? Wat daarvan as jy dronk opgedaag het by my skoolfunksies? Wat daarvan?
Vandag sit ek met trane in my oë aan jou en dink. Nie omdat ek die hartseer en pyn onthou nie. Omdat ek jou mis. Ek mis jou brandewynasem. Ek sou wat wou gee om dit net een keer weer te ruik. Om op jou skoot te sit en my te verlustig aan jou en jou reuk. Om te sit en luister na jou wysheid en jou hartseer. Vandag kan ek nog nie onderskei tussen die twee nie. Is dit dan noodwendig dat wysheid net met hartseer kom?
Ek weet nie.
Ek weet net dat jy van ons, jou kinders, great mense gemaak het. Ons het elkeen ’n plekkie om jou te bêre. Ja, dit het ons sterk gemaak. Jy sal trots wees op ons. Jy het nie jou las verniet gedra nie. Ek sal nooit jou las verstaan nie. Ek het nooit in jou skoene getrap nie. Daarvoor vra ek vergifnis.
Dankie dat jy my die waarde van goeie maniere geleer het. Dankie dat jy my van liefde geleer het. Naasteliefde. Daar was waarskynlik niemand beter om my dit te leer nie. Dankie dat jy ’n kunstenaar in my wakker gemaak het. Dat ek twee woorde agtermekaar kan skryf. Jy het my dit deur jou voorbeeld geleer.
Dankie dat jy my die waarde van ’n skoon, gestrykte wit hemp geleer het.
Ek weet nie waar jy vandag is nie. Party mense sê in die hemel. By die engele seker. Julle pas nogal bymekaar. Dis nie belangrik nie. Ek weet nie of daar ’n hemel is nie. Die sinikus in my wil dit nie glo nie. Die kunstenaar wil dit met swaard en lans verdedig. Jou gees sal vir altyd wandel. Jy het geïnspireer wat nooit ongedaan gemaak sal word nie. Ek wens jy kon dit sien. Aan die nader kant weet jy dit seker. Ook dit is nie belangrik nie. Jy het gelewe asof jy net een kans het.
Ek wil glo daar sal ’n dag kom wanneer ons weer sal kan gesels en ek hierdie erkennings kan doen. Tog weet ek dit sal nooit gebeur nie. Die kanse wat ons gehad het is verby. Ek besef dat jy dit altyd geweet het en verstaan het. Ek het nie.
Ek mis jou en besef dit nou eers. Vandaar die ode vandag. Seker om myself te troos. Jy weet dit in elk geval. Of nie. Dit is ook nie belangrik nie.
4 Kommentare
-
Anze
sjoe hierdie is diep-seer maar tog met soveel liefde vasgepen!! Dankie dat jy dit met ons deel en ek dink eerlik die engele sing saam met haar as sy na jou/julle kinders kyk
-
Koekekranka
Iets heel besonders...
-
-
Evelyn van der Merwe
Tog bly sy 'n Ma en hoe dit ookal sy het sy volgens haar eie denke die beste gedoen wat sy kon. Mooi ode.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Pragtige ode