Wanneer orrelstryk chaos raak
Ek had ‘n tante wat kween was en wat as selftoegeëinde reg geglo het sy weet alleen alles. En sieklik snipperig in haar gusheid jy sal nie glo nie! Dis mos sy wat my eendag sommerso dwars opgeklim het toe ek vir Kleinsus waarsku sy moet nie so truiloos in die winterluggie rondhardloop nie want sy sal siek word.
“Heel jy tog nie met die Bose nie?” skree die dierasie op my. “Profeteer jy nou dat die kind siek moet worre? Het jy nie uit die Woord geleer dat wat jy profeteer na jou toe sal aankom soos ‘n dief in die nag nie? Is jy, of wôrre jy nou ‘n Satansmens?”
Laataand toe almal al gekooi het loop sê ek vir Ma wat my oorgekom het want my kindergemoedjie wou nie verskoon dat ek met die bose vergelyk word nie. Ma staan so ‘n wyle terug van haar knieëry (want sy sou die volgende dag bak vir dieselfde ou kween se wegdraery) vrywe die deurgeknede deeg behendig van haar hande en kyk my ‘n wyle uit die veld geslaan aan. Sy moes my bedruktheid van gemoed agtergekom het want Ma’s is mos wonder-mense. Heldersiende glo ek. Hulle weet mos alles wat kinders dink, voel en wil wegsteek. So asof hulle ‘n mens van die binnekant af buitekant toe kan afloer al is jy dóér in die bos agter tarentale of fisante aan. En Ma stel dadelik gerus: “Aag, jy ken mos vir Ta’ Nellie. Sy raak maar soms aardige dinge kwyt. Mens moet mens nie te veel aan haar steur nie.”
En met hierdie towerwoorde was my swaarmoedigheid net daar en dan besweer.
Vrydagoggend, die dertiende, en goed veertig jaar daarna, word ek aangenaam wakker met vroutjie wat met brêkfis in die bed bederf. Bring sommer later ook nog koffie en kom sit pens-en-pootjies neffens my en maak alledaagse praatjies. En ek geniet natuurlik dié skielike onverdiende weelde met bollende kieste en malende malers. Maar so met die genietery kom klou daar ‘n halstarrigheid aan my wese wat die smaak van die eiergeel net so smaakloos soos die wit maak. Toe profeteer ek so semi in my onderbewuste (vergetend en sonder denke aan ou Ta’ Nellie natuurlik!) dat die een of ander ellende die gulheid van die gang van my dag gaan bederf…
Toentertyd was ek sowat ‘n dertigkilometers van die huis werksaam. Ry daagliks heen en weer. Ry toe maar weer die Vrydag werk toe, maar met die ekstra lading van die onaangename voorgevoel en presies met teetyd slaan die ellende toe! Ek sit nog ewe behaaglik hande-agter-die-kop-agteroor in ontspanne atmosfeer toe blits ‘n bliksemstraal iewers in die geweste tussen my brein en linker bo-kaak. Verbeel my ek verstaan toe wat vroutjie oor jare probeer wysmaak het oor hoe die eerste ware kraampyn met God se segging aan Eva werklikheid word. Maar skok versag mos pyn seg die wat kamma weet maar nooit-ooit in felheid self belewe het nie. En ek belewe toe ook in ure-durende splitssekondes ewe so, want my brein verwerk nie dadelik die intensiteit van die rapatte weerligstraal in my kop nie. My ou tere breitjie had op daardie stadium toe in elk geval ook nie genoeg ‘bites’ om die skielike ekstra lading sinvol te hanteer nie. Maar toe die volgende blinkwitbliksem ‘flash!’ toe slaan my knypers rem sonder strepe! En ek bevind my vir sekondes in ‘n toestand van tot toe nog onbelewe totale verlamming. Die setel van pyn word ‘n alarmiese S.O.S wat my teen die mure wil uitjaag, maar ek sit spasties in totale onbegrip en ongeloof oor soveel van seer met een bliksemstraal, verwonder my in ‘n neuwel van moordende pyn dat my liggaam na sowat van pyn nog kan bestaan! Toe wyk die verlamming genadig soos die knaap in die Bybel wat sy bedgoed opgetel en huis toe gegaan het na sy jarelange verlamming en sonder dat ek besef hóé en wáárom, toe spoed ek skreeuende bande die dertig kilometers terug dorp toe!
Hoe ek die Tandarts se pynhool gehaal het sonder ongeluk of hartstuipe sal ‘n onopgelosde geheim bly. Maar, seg ek jou, toe ek aangesê worre om sy stoel te beset, toe hang ek asemloos so ‘n anderhandbreedte bo die stoel se sitplek! Kompleet soos in een van daai kul-jou-hier-en-kul-jou-daar-trieks wat gewigloosheid mesmeraais. Raak nie eens met ‘n hakskeentjie of ‘n beenhaartjie aan die platgeslane stoel nie. (Ja, dit is wat naakte vrees vir Tandartse oor die jare my gedwonge leer doen het…) Hang ek toe daar tussen stoel en plafon en die Kwak beveel: “Maak wyer oop!” en ek doen totdat dit voel ek gaan met my kake helemal omgedop myselers insluk. Krap-krap die kêreltjie omtrent al die enemmel van my nog genadigbehoue tanne op soek na die oorsaak van die bedwelmende pyn terwyl ek myself in ‘n koma inwerk omdat ek te bang is om asem te haal.
“Nee, geen absesse nie…” prewel die Sadis met homself asof ek en sy assistente net maar ‘n ondergeskikte deel van sy makabere foltertoestelle uitmaak.
“Sal maar moet X-ray vir sekerheid…”
Ek word toe ge-X-ray sonder suurstof in die longe, want ek bang mos enige beweging wat seerkry kan uitlok of aanhits vandaar die vergeet om asem te haal. En die assistente kruip iewers weg vir moontlike skadelike strale wat glo kan gus maak want sy’s reeds verloof en droom oor vele kinders om haar geliefde te dwing tot getrouheid -niks steurende oor my donkere ure van beproewing nie.
Resultaat? ‘n Verstandtand wat, in stede van vertikaal te groei, horisontaal gaan flankeer het met die maler neffens en uit hierdie sondige verhouding soveel druk uit erotiese welbehae tot my nadeel uitoefen dat ek van ongekende pyn myself padlangs amper verongeluk het!
En dit was die ‘mak nuus’. Die wreedheid van pyntoevoeging deur ‘n onaansienlike maerige sadistiese javel lê toe vir hom lip-aflekkend nog voor! En ek, soos so vele van ons, word tot toe nog geluksalig in die duister gehou…
(Maar die opvolgende gebeure is só permissiefpynlik en dierlik-onmenslik dat dit alleen op versoek (onder eie naam met volle vrywaring!) geplaas mag word ten einde vervolging weens ongewensde publikasies te voorkom. Sou u dus belangstel, en die wreedaardigheid van die latere gebeure psigies kan verwerk sonder skending van tere innigheid, kan u my kontak deur u kommentaar. Sodoende sal aanvaar word dat u vrywaring verleen teen enige aksie gebaseer op grond van geestelike letsels wat u mag opdoen deur die blote lees daarvan en die absolute werklikheid van opvolgnagmerries en slaapversteurings.)
8 Kommentare
-
-
Toom
Ag so! Dis jou verskoning... Hmm. Nouja, GvT
-
Viooltjie
Eina! jy skryf my nou sommer in 'n tandpyn in . . .hehe. Baie goed vertel en mag dit my gespaar bly :-)
-
Evelyn van der Merwe
Eina tog. Jy het die manier om leser te bind met jou vreemde tog uitsonderlike woordkeuses en vertelling. Lekker gelees. Dit hang nou net af in watter jaar bogenoemde gebeur het....... in die ou dae is teramyzin en draadtang die inding gewees. Deesdae se tegnologie is partymaal meer aanvaarbaar en minder pynlik..... dis nou te sê as die tand verwyder is voor die tandards sy tannie vir 'n eendvoël aangesien het.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Die vernuftigheid waarmee jy woorde saamstring om 'n uitmuntende storie te vertel sal my nimmer ophou beindruk nie, sowaar as vet!!