ʼn Politikus se reis.
ʼn Politikus se reis.
Hulle noem my John Smith. Ek is dertig jaar oud, ʼn politikus en beskou myself as ‘n man sonder ‘n morele kompas. Ek het vroeg die skemerwêreld van die politiek betree waar mag en invloed die spel beheer. Ek is ‘n ʼn meester in manipulasie en ʼn kenner van die donker kant van die lewe. My leuse is: “Ek, en ek alleen, kom eerste!” My mededingers mag dalk glo dat hulle in die politiek is om ʼn verskil te maak, maar ek weet van beter.
Hierdie is my verhaal. Dit is die verhaal van ‘n politikus wat in die skaduwees van die politieke spel dans en mense met leuens, beloftes, en manipulasie betower.
***
Ek sit in die parkie naby die stadsaal. Dit is die dag van ʼn baie belangrike toespraak wat my loopbaan kan maak of breek. Die bome wieg sagkens in die wind en die blare dans op die ritme van die natuur. Ek sit met my kop in my hande, oorweldig deur die lewe wat ek vir myself geskep het.
‘n Sagte stem versteur my gedagtes. “Mooi dag vandag, nè?” Die man langs my glimlag vriendelik. Hy lyk ouerig met ‘n vriendelike, rustige gelaat en warm, deurdringende oë.
Ek kyk hom skepties aan; my natuurlike wantroue is sigbaar. “Vir wie?”
Die man lag. “Vir ons albei, dink ek. Vertel my, John, waarom lyk jy so ongelukkig op so ‘n pragtige dag?”
Ek frons agterdogtig. “Hoe weet jy wat my naam is?”
Hy wys na my naamplaatjie. “Politikus, nè? Dis maklik om te raai.”
Ek lag spottend. “Ja, maar dit is die laaste ding waaraan ek nou wil dink.”
Die man kyk my ernstig aan. “Ek sien meer as net ‘n politikus. Ek sien ‘n soekende siel.” Hy aarsel vir ‘n oomblik. “Praat jy ooit met God?”
Ek haal my skouers op. “God? As Hy bestaan, waarom laat Hy my dan so voel?”
Die man se oë word sag. “Jy is ver van Hom af, maar dit beteken nie Hy’s ver van jou nie.”
“Hoe kan jy so seker wees?”
“Ek was ook een keer waar jy nou is. Ek het die leemtes met alle aardse dinge probeer vul. Maar ware vrede en vervulling kom slegs van een plek.”
Ek sug. “En waar’s dit?”
Hy glimlag. “Net in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus.”
Ons sit vir ‘n rukkie in stilte. Sy woorde eggo in my kop.
Die man reik sy hand uit. “John, jy kan vandag ‘n nuwe begin maak. Laat die ou John agter en stap ‘n nuwe pad van liefde, vrede en leef met ʼn doel.”
Trane rol sag oor my wange. “Hoe begin ek?”
Hy hou my hand vas. “Kom ons bid saam.”
Na ons gesprek vra ek hom: “Wie is u? Hoe het u geweet dat ek hier sou wees?”
Die man het vriendelik gelag, “Ek is al jare lank ‘n waarnemer van mense, en ek het geweet jy het leiding nodig. Ek’s net bly ek kon help. Noem my maar Oom George.” Ek het daarna probeer om meer uit te vind oor Oom George, maar niemand het hom geken nie. Al wat ek weet is dat hy daardie dag daar was toe ek hom die meeste nodig gehad het.
En daar, op daardie bankie, vind ek myself nie net in die lig van ‘n nuwe dag nie, maar in die lig van ‘n nuwe lewe.
***
John het ‘n hartsverandering ondergaan en praat nou heel anders. Hy staan voor die menigte, die mikrofone is reg, die kameras rol, die hele land kyk.
Die menigte gons van opgewondenheid. Hulle verwag ‘n John wat skerp en genadeloos is, een wat die politieke spel soos ‘n skaakmeester speel. Maar die man wat voor hulle staan, lyk vandag anders.
Hy haal diep asem: “Goeie middag aan almal. Ek weet julle het ‘n sterk, kragtige toespraak verwag, een wat die vyande sal skok en die bondgenote gelukkig sal maak. Maar ek het ‘n ander boodskap vir julle vandag.”
Die menigte raak stil in afwagting.
“Ek het my hele lewe in die donker skaduwees van die politieke spel deurgebring. Ek het gemanipuleer, gelieg en omkopery gebruik om my doelwitte te bereik. Maar vandag staan ek voor julle as ‘n veranderde man.”
‘n Gemompel trek deur die saal.
“Ek het besef dat ware leierskap nie gaan oor wen of selfverheerliking nie. Dit gaan oor diensbaarheid, naasteliefde en regverdigheid. Dit gaan oor julle – die mense van hierdie land.”
‘n Paar begin stadig hande klap, en gou sluit meer mense by hulle aan.
“As ek gekies word vir die leiersposisie, sal dit nie wees as die ou John nie, maar as ‘n man wat deur liefde, geloof en hoop gelei word. ‘n Man wat regtig omgee.”
Die menigte staan op; sommige met trane in hulle oë. Hulle het nie die John verwag wat hulle vandag gesien het nie. Maar miskien, net miskien, is dit die John wat hulle nog altyd nodig gehad het.
John se oë gaan oor die gesigte van die skare. Een van die joernaliste, ‘n dame met kort swart hare en ‘n skeptiese houding, steek haar hand op.
“John, waarom moet ons jou nou skielik glo? Na alles wat jy gedoen het? Hoe weet ons dit is nie net nog ʼn taktiek van jou om stemme te wen nie?”
John haal diep asem. “Dit is ‘n geldige vraag. Ek kan net vra dat julle my dade sal dophou en sien dat ek opreg is in my beloftes.”
‘n Ander joernalis skree nou hardop. “Hoe kan jy ‘n hele lewe van misleiding in een dag verander?”
“Ek is nie perfek nie en ek leer elke dag. Ek vra dat julle my dade dophou en my beoordeel op die veranderinge wat ek aanbring, nie net op een besluit nie.”
Die menigte was stiller as tevore, hulle gesigte weerspieël ‘n mengsel van skeptisisme, hoop en onsekerheid. Toe het ‘n bekende figuur deur die skare beweeg. ‘n Ou tannie met grys hare het na vore gestap. “John, ek het so baie vir jou gebid.”
Met trane in sy oë, het hy haar aangekyk. “Dankie tannie Elsie. Ek waardeer jou gebede. Ek sal my bes doen om niemand in ons gemeenskap teleur te stel nie.
In die tyd wat volg bewys John sy opregtheid. Hy besoek gemeenskappe, luister na hulle behoeftes, en werk onvermoeid om die lewens van die mense in sy gemeenskap te verbeter. Sy dade spreek harder as sy woorde, en mense begin glo in die nuwe John.
***
In die maand wat gevolg het, was my lewe nie net maanskyn en rose nie. Daar was dae waar ek getwyfel het, waar die lokroep van my ou lewe my byna oorrompel het. Maar elke keer as ek wou terugkeer na die ou John, het ek gedink aan die beloftes wat ek aan myself en die gemeenskap gemaak het. Die stryd was nie maklik nie, maar dit was die moeite werd.
***
‘n Paar maande later is John Smith verkies as die nuwe leier van die gemeenskap. Die nuwe John was nie net ‘n beter politikus nie, maar ‘n beter mens en ‘n ligstraal in ‘n donker wêreld. Hy is die bewys dat ware verandering moontlik is.
©MarleneErasmus
(1200 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek