
‘n Stukkie hemel in Namakwaland.
‘n Stukkie hemel in Namakwaland.
Ek onthou die eerste keer wat ek Namakwaland as ‘n kind besoek het. Dit was ‘n familievakansie, en ek was nie ouer as tien nie. Ek het die hele lang pad in die agterste sitplek van ons ou, roesbruin kar deurgebring. Tussen die spelery met my sussie het ek gemerk hoe die landskap stadig verander het. Ek was gewoond aan die vaal vlaktes van Suidwes-Afrika. Hierdie kleurvolle uitgestrekte, oop veld was vir my ‘n vreemde, onbekende wêreld.
Die aand het ons by ‘n kampvuur gesit en na die sterre gekyk wat pa vir ons gewys het. Ek het daardie aand met ‘n gevoel van verwondering gaan slaap. Ek het geweet dat hierdie plek vir altyd ‘n spesiale plekkie in my hart sou hê.
***
Ek is seker dat die hemel bietjie soos Namakwaland in blomseisoen lyk. Daar waar ‘n grootse bossielandskap voor jou ontvou tot aan die kant van die Atlantiese oseaan. Elke jaar word die reënval met valkoë dopgehou om ‘n voorspelling te maak oor die blomme. Dit is die tyd wanneer geen mens mag mor of kla oor reën nie.
Ons begin ons uitstappie en ry kuslangs tot by Spoegriviermond. Jy kan ver sien, kilometers aaneen sien jy ‘n strook van die mooiste blou see. Branders skuim spierwit waar hul teen die donker rotse slaan. Ek staan en kyk na die wonder van die natuur. Ek proe die soutasem van die soel seebries op my lippe.
Die volgende dag ry ons na Hondeklipbaai en kronkel-kronkel met die tweespoorpad deur plate vetplantkaroobossies. Melkbos, vygies en soutslaai pronk in mooiste kleurvertoning van vaal en groen.
Ons verkyk ons aan die snaakse oop sirkels in die grond. Die oorsaak is termietneste wat die sand se samestelling oor die tyd kom verander het. Sommige bossies verkies dit om binne hierdie sirkels te groei. Dit dra by dat die landskap sulke ronde kolle vol goudgeel blomme het. Dit is veral surings wat in hierdie sirkel floreer.
In die verte sien ons paar gemsbokke wei tussen die blomme. Ek begroet die blomlandskap met my lang lens. Blomkoors het my in sy mag gekry. Die doel van ons kuier in Namakwaland is om die blommeprag te aanskou. Hier voel dit of my siel kan asemhaal.
Verby Kamieskroon vind ons Kombi die pad na Skilpad-natuurreservaat. Blomkykers stap rustig rond met kameras wat die skoonheid vasvang. Plate helderoranje meisoentjies lê uitgesprei soos ‘n karos. Sjoe! Die skouspel sorg vir groot plesier. Plate en plate blomme wissel van helderoranje, helderpienk en verander dan na blou sporries. Die liggeel pietsnotte troon bo die ander blomme uit. In die verte, teen die klipkoppies pryk die kokerbome trots. Die rooi klokkies van die kankerbossie vang my oog. Wat ‘n pragtige klein blommetjie?
By Nababeep is die blommeprag asemrowend mooi! So ver soos jy met jou blote oog kan kyk, verdrink die aarde in madeliefies en gousblomme. Selfs in die strate en orals waar jy ‘n oop stukkie grond kan sien, pronk blomme.
Dan vat ons die pad na Vanrhynsdorp. Volgende stop is Nieuwoudtville. Hier pronk die Blou Trots van Nieuwoudtville met die Karoosatynblomme wat almal bekoor. Die blomme bly vir my ‘n grootse wonderwerk, een waarvan ek nooit genoeg sal kry. Dit lyk behoorlik of die aarde met kleur gesprinkel is. Hier vind jy kalkoentjies, katsterte, spinnekopblomme en koringblomme in oorvloed.
Sandveldlelies pronk bont tussen fynbos. Op die landerye, in bewerkte grond vind jy bergmagrietjies in blom. So ver soos jy ry staan daar plate oranje en wit gousblomme, kewergousblomme in salmpienk en goudgeel gansogies.
By Nieuwoudtville se NG Kerk loop ek tussen die blomme deur. Die wind waai liggies en die laventelbossies dans vrolik saam. Die geur van die blomme ruik hemels.
Ek is seker hier in Namakwaland beleef jy ‘n stukkie van die hemel …
©MarleneErasmus
28/09/2023
(626 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek