Jongste aktiwiteit:

125 Die Rondine
vir

125 Die Rondine

125 Die Rondine

Die rondine is ‘n verwaarloosde en uitdagende versvorm wat bestaan uit twee stansas en soos die rondeau die eerste gedeelte van die eerste versreël as ‘n stert gebruik, maar hier aan die einde van elke stansa. Die eerste stansa is sewe versreëls en die tweede stansa vyf versreëls lank.

Die rymskema is abbaab(stert) / abba(stert). Daar is nie ‘n vasgestelde metrum nie en die Franse het waarskynlik agt lettergrepe per versreël gebruik. Menigte mense skryf dit deesdae dekalettergrepig (tien lettergrepe per versreël) of in jambiese pentameter.

Wesli Court se ammusante gedig “Rondine of the Rare Device” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm asook Divena Collins se gedigte “Come Hold My Hand” en “Oaken Galleons.”

Hier is van my pogings tot die rondine versvorm in Afrikaans:

Uit die heilige vuur wat moet nooit sterf (rondine)

a Uit die heilige vuur wat nooit moes sterf
b was mans gestuur wat saboteer en moor
b om van menslikheid heel kop te verloor
a tot vuurpyle hulle in stukke kerf
a uitgebrand die laaste as is op die erf,
b en nou is daar niks gloeiend, lewend oor,
(stert) uit die heilige vuur.

a Soldate het nie daar verby geswerf,
b pantser karre kom oor die heuwels oor
b met kanonne wat selfs hutte deurboor
a totdat die laaste vonke ewiglik uitsterf
(stert) uit die heilige vuur.

Militêre besoek aan ‘n plattelandse stat (rondine)

Met versteking van terroriste in die nag
vind ons ‘n aftandse agterlike stat
waar terroriste bang uitmekaar spat,
maar ons is op hulle heeltemal bedag
as die inwoners na ontsnapping smag,
van trane is sommige wange pap nat,
met versteking van terroriste.

Ek het nie simpatie vir hulle wat wag,
wat die vryheid van boere en vroue afvat,
selfs kinders grou vir ‘n landmyn ‘n gat
wat afgaan met ‘n dodelike donderslag;
met versteking van terroriste.

Aan die bemanning van ‘n Ratel wat uitgeskiet was van 61 Gemeganiseerde Bn Grp (rondine)

Wat bly nog oor, watter soort ontsnapping,
as vyandige landmyn op landmyn
in die stof ‘n pantserkar laat in pyn;
as seuns, kinders, deur skrapnel deurdring
mekaar steeds nog heldemoed bly bring,
as hulle eerbaar is in hul samesyn?
Wat bly nog oor

as ‘n projektiel dodelik in sing;
as toekoms planne, loopbane verdwyn,
vir jong manne geen son ooit weer kan skyn
na ‘n verskriklike verblindende ding;
wat bly nog oor?

Ek het die maan gesien op die meer (rondine)

Ek het die maan gesien op die meer
sterre wat sprankel in die donker nag,
die ligte van ‘n visserskuit op ‘n slag,
die groot maan wat rond sweef soos ‘n wit veer,
‘n vlieënde ding onder menslike beheer,
maar was nie op ons samesyn bedag,
ek het die maan gesien

toe die silwer lig jou gesig aksentueer
toe ek nie op die regte woorde wag,
toe ek na jou sagte warm lippe smag,
toe die aarde skud kon ons nie liefde keer,
ek het die maan gesien…

Te veel jare snel vêr te vinnig verby (rondine)

Te veel jare snel vêr te vinnig verby
met als wat mens is en dit wat jy word
en vêr te vinnig is jou lewe vort
voor jy dinge werklik in die oog kry
en vind dat niks hier ewiglik kan bly
ons tyd is maar net hier slegs opgeskort.
Te veel jare

bring slegs pyn en dinge om te vermei,
as jy werklik lief het is tyd te kort
voor als om jou skielik in duie stort,
van die verloop van tyd is jy nie vry,
te veel jare…

Altyd wou ek meer vind in wat liefde is (rondine)

Altyd wou ek meer vind in wat liefde is,
die diepte daarvan as die waarheid hou,
miskien het ek soos ‘n kind leer vertrou,
dat dit deel is van ‘n egte belewenis
waarvan mens soms al die gedeeltes mis,
maar iets erg essensieel steeds bly vasklou.
Altyd wou ek meer vind,

wou ek iets meer kry as slegs betekenis
en toe skielik so onverwags vind ek jou
maar nou dekades later is jy in my onthou
nou weet ek dis veel meer as blote kennis;
altyd wou ek meer vind…

Toe jou hand om myne vou (rondine)

Toe jou hand om myne vou glimlag jy
sien ek tot in die dieptes van jou siel,
vang jy my gesig in eie profiel,
is jou vel sag, is jy so baie naby;
is die essensie van my hart erg bly,
bid ek oor jou toe ek later neerkniel.
Toe jou hand om myne vou

verraai al my eie emosies my,
voel ek so eeue oud soos ‘n fossiel;
wonder ek of verliefdheid jou besiel
om in die kerk my hand in joune te kry,
toe jou hand om myne vou

Van ma het ek liefde wat grensloos is (rondine)

Van ma het ek liefde wat grensloos is
wat selfloos kom in stil opoffering
sommiges ag dit maar ietwat gering,
maar pa is vêr te vroeg reeds al vermis
en oor hom het ek soms net maar kennis,
sy eienskappe kom as ‘n ingewing.
Van ma

kom dissipline en ywer tot betekenis;
haar standvastigheid is ‘n aardige ding
in ‘n wêreld waar mense hul nie bedwing,
ek weet wat liefde is, in die vergifnis
van ma.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed