Ritme van die reën
as onweerswolke saampak op die Namib se horison
die oostewind dit aanjaag en dit see se kant toe kom
as Zeus met donderslag sy kumulus-tromme slaan
met bliksemstraal die ritme van sy simfonie bepaal
wil ek pronkend soos ‘n springbok op stywe bene spring
die osoonbelaaide lug snuif wat die winde na my bring
die petrikor wat talmend oor die dorre aarde hang
– die geur van gras en grond wat smagtend na die reën verlang
as huiwerend in die aandwind die voetval van die reën
oor die vaal woestyn se vlaktes langsaam nader tree
soos ‘n skoenlapper in vlug sonder dringendheid of drif
met spoor fyn soos ‘n steenbok s’n skaars merkbaar in die sand
wil ek op ritme van die reën dans oor die vlakte en die rant
op dakke en teen huise se stofbedekte ruite
ek wil baldadig sonder vrees tong uitsteek vir Zeus
– en skaamteloos flankeer met die donderweer daarbuite
as weerligstrale ligvoets dans op die deinings van die see
– helder silwer blitse skeur die donker die lug in twee,
die verskynsel so betowerend, so ongewoon, so raar –
kan ek net in verwondering na hierdie skouspel staar
dan wil ek saam met weerlig op die oseane ry
en in my wildste drome oor hoë reënboë gly
ek wil saam met plant en dier drink van die silwer vog
van hierdie suiwer elikser soek ons maar altyd nog
Estelle Rubow 5/10/2017
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
So 'n gedig vol ritme en rym, wat vorentoe galoppeer soos 'n dwarrelwind, vul my hart met vreugde. Baie dankie, hoor. GvT