Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Vrees vir vrees

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 24 Augustus 2020 Aantal woorde: 2302 640 Kere gelees 24

(2293 Woorde)

Franklin D. Roosevelt het mos gesê mens hoef niks meer te vrees as vrees self nie. Maar dit is absolute snert. Die werklikheid is daar is geen vrees so kragtig soos die vrees vir die onbekende nie. En as jy mooi daaroor dink, is die enigste onbekende aan die einde van die dag, Die Dood. Daar is nie ‘n meer monsteragtige gedagte of groter potensiaal vir gruwel as die masker van Die Dood nie.

En so leef ons as mense: In ‘n naïewe misverstand van hoe die heelal werk. Aangegryp deur die verlammende vrees vir ons eie sterflikheid. In ons dwase wysheid dink ons dat Die Dood die finale bestemming is. Ons is vas oortuig dat die besoekers wat die oewer van Die Dood besoek nooit weer kan terugkeer nie. Ons moet desperaat vasklou aan selfs die mees tragiese, martelende of nuttelose lewens. Dit is wat ons almal dryf. Mens. Dier. Plant. Virus. Oorlewing is ons enigste dryfveer. Die Dood probeer ons elke oomblik van elke dag haal, en al wat ons van dag tot dag doen, is om te probeer oorleef.
Wat ‘n ellendige bestaan…

As jy eers Die Dood se masker afgehaal het, besef jy daar is niks om te vrees nie. Meeste van ons het dit al gesien, ervaar, ontleed en opgeteken of afgeskryf as die laaste sterwende spasma van neurale flikkerings.

Terwyl ek hier lê en weet dat dit die einde is, besef ek hoe absurd dit is om bang te wees vir die leegheid wat kom. Die belofte van niks of alles. Terwyl ek nog seker was van my lewe, sou ek nie Die Dood ervaar het nie – per definisie. So hoekom moes ek bang wees daarvoor? En nou, terwyl ek doodgaan…? As jy dood is kan jy tog niks ervaar of beleef nie? Wat bly oor om te vrees? Die gedagte het my troos gebring terwyl ek gevoel het hoe my liggaam – my hart – ‘n nuttelose stryd stry teen die onvermydelike.
Toe Die Dood die stryd oorwin is daar laaste dringende gedagtes wat hopeloos (of met hoop?) deur my brein flits:
Wat as dit nie Die Dood is wat gevrees moet word nie? Wat as daar iets meer as dit is?

En so het my sterflike verstand weggeglip na die onbekende, ‘n wêreld ver weg van rede. Tog… My oë het gesoek na rede om my. Ek was nog steeds in die hospitaalbed. Die verpleegsters en dokters het steeds angstig om my gewerskaf, maar dis asof hulle deurskynend begin raak het. Die masjiene wat noodkrete uitgeroep het dat my einde daar was, en iemand tog net iets moet doen, se skril gil het begin kwyn. ‘n Skemer het gekom, asof die son agter donker wolke verdwyn het. Dit het gelyk of elke klank ‘n eggo was van wat dit eens was; elke gesig ‘n refleksie van iets anders. Met elke oomblik wat verbygegaan het, het die wêreld minder werklik geword…

Maar al daardie beelde en geluide het nie net verdwyn nie. Dit het gesmelt soos ‘n kind se klei op ‘n warm dag. Dit het gevou, gesmelt en verander in ‘n swart massa van agtergrond geraas. Langs my het ‘n figuur duideliker begin word. Hoe minder werklik die steriele vertrek, en die malende mense geword het, hoe werkliker was die figuur. Totdat die figuur so solied, eg, was, dat ek onseker was of die res ooit bestaan het.

Sy mantel was swart. Nie die kleur swart nie, maar die kern daarvan. Dit was asof ek ‘n leeftyd gedink het ek weet wat “swart” is, maar nou eers besef het dat ek na ‘n kind se rowwe tekening van swart gekyk het.
In die figuur se hand was ‘n sens. Die stoflikheid het soos ‘n kwas wat in waterkleure verf om die sekel gevloei. Ek kon elke elementêre deeltjie, en selfs tyd self, oor die lem sien draai en dans.

Dít, het ek gedink. Dít is die rede hoekom ons Die Dood vrees.
Ek het die laken oor my probeer trek, maar die dun materiaal wat my eens wanhopig probeer warm hou het, het soos mis deur my hande gevloei. Ek het kaal en kwesbaar gevoel. Ek het in daai oomblik geweet dat daar niks meer werklik as Die Dood self was nie. Niks kon my wegsteek van hom af nie. Wat was hy? ‘n Engel? Iets anders? Ou Niek? Die rooi duiwel wat ons tergend met ‘n pylstert en ‘n hooivurk voorgestel het in kinderboeke?

“Jy is laat.”
Dit was nie woorde nie. Nie klanke uit ‘n mond met ‘n tong soos ek aan gewoond was nie. My kop het oorgeloop met hierdie kennis. Die feit dat ek laat was. ‘n Wete soos ‘n onontkombare wet van fisika so onomwonde soos swaartekrag.

“Ons het nie tyd vir die gewone praatjies en vrae nie. Maak gou.”

Dit het gevoel asof ek deur ‘n magtige orkaan om hom gewaai word. Voordat ek kon besef wat aangaan, was ons buite die hospitaal. Ons het so vinnig beweeg dat die wêreld om my vervaag het tot ‘n duiselingwekkende tonnel van flitsende lig.

“As jy gelukkig is, sal HY verveeld geraak het om vir jou te wag.”
My gedagtes was oorspoel met vrae. Elkeen het geveg om eerste aandag te kry, maar nie een enkele een het by my mond uitgekom nie.

“Jy is stil. Ek respekteer dit. Gewoonlik vra mense te veel vrae.”

“Wat is die punt?” Ek het gevra. My stem was dor en leweloos in vergeleke met sy oorweldigende teenwoordigheid. “Hoe kan ek probeer om iets te verstaan wat groter as my klein verstand is?”

“Jy kan nie. Maar dit is steeds menslike natuur om te vra.”

Dit het gevoel of ons vinniger en vinniger beweeg. Ons het nie gehardloop of gevlieg of enige ander beweging gemaak wat ek kan beskryf nie. Dit was meer asof die res van die wêreld rondom ons beweeg het, terwyl ons stilgestaan het. ‘n Vae duisternis en ‘n swaar klam reuk het leidrade gegee dat ons ondergronds moes wees, maar ek kon nie met sekerheid sê nie.
“Kan ek maar een vraag vra?’ Ek het nie gewag vir ‘n antwoord nie. “Wat is daar nog? Buiten vir jou?”
Ons het albei geweet dit is ‘n nuttelose vraag. Ek kon gewag en self gesien het. My klein verstand kon doodeenvoudig nie die grootheid van alles en die kleinheid van myself prosesseer nie.
“Die Dood is nie ‘n plek of ‘n persoon nie. Dit is al wat daar is.”
Onrusbarende gedagtes, maar die gevoel van ongemak was meer as gevolg van die toenemende gille en roepe van pyn wat uit die donkerte rondom ons begin vibreer het. Dit het gelyk asof ons na onder begin daal, en die lug het warmer en dikker geword – amper tropies. Die geluide net buite my sig het harder, meer intens geword. Dit het kompleet geklink asof die aarde self ly en uitroep om hulp.
Die wêreld het uiteindelik tot stilstand gekom en ek kon byna die grond onder my kaal voete voel, maar my ou liggaam se sintuie was iets van die verlede.
“Wie is HY?” Ek het nou eers begin wonder wie die “hy” is waarvan Die Dood oomblikke terug gepraat het.
“Ek is hier om jou te beskerm teen HOM.”
Dit was nie ‘n antwoord nie.

Met ‘n beweging wat aan geen natuurlike wette gehoorsaam is nie, het hy die sens se lem teen die grond gekap. Die grond was ‘n vreemde tekstuur. Iewers wou ‘n gedagte dit wat ek sien erken. Die aarde het geantwoord met ‘n reën van vonke, ‘n gedreun en uiteindelik die grond wat voor ons oopgeskeur het. Voor ons was ‘n ondergrondse meer – sover as wat die oog kon sien. Of ten minste sover as wat die donker my toegelaat het om te sien.
Ek was verbaas. Die prentjie het my herinner aan die ou Griekse mitologie van die rivier Styx. Die grens tussen die Lewe en die hiernamaals.
“Ek dog jy het gesê jý is al wat daar is?” Dit was nie ‘n beskuldiging nie. Net ‘n vraag.
“Nee. Ek het gesê Die Dood is al wat daar is.”

Lig van een of ander onsigbare bron het op die sekel se lem geflits en weerkaats oor die eindelose meer. Dis asof die lig olie was wat op die water vasgevang was. Allerhande kleure het gedans en gekolk op die oppervlakte. ‘n Miljoen reënboë wat vasgevang was en gespartel het om los te kom.
“Ek dog jy is Die Dood?”
“Die Dood is nie ‘n persoon nie.”
Die lig het helderder begin skyn in die water asof dit lewe gekry en vermenigvuldig het. Die stil oppervlak van die water het begin kloof met enigmatiese energie. Dit het my deurmekaar gedagtes ‘n rukkie geneem om te besef dat ék die energie was wat in die meer vloei. Maar terselfdertyd het dit nog steeds gevoel of ek verstrengel was met Die Swart Figuur. Ons was nou ‘n ligstraal wat in die water beweeg, kook.

Ek het geweet dat ek dit nie kon verstaan nie, maar dit het my nie gekeer om gefrustreerd te voel nie. As Die Dood al is, wat is HY dan? Wat het op my gewag? Die water het om, teen en binne-in my gevloei. Ek kon nie meer praat nie, hoewel ek nog op een of ander manier kon asemhaal.
“HY is hier.” Die Swart Figuur het amper bang geklink. Nie bang nie. Iets anders.

Ek het agtergekom dat daar iets was in die water om my. Hande het gegryp aan my bene en my begin ondertoe sleep – na die diep donkerte van die eindelose water. Ek was vir ‘n oomblik verbaas toe ek besef dat ek weer ledemate het. Dit het so vreemd gevoel. Asof dit nie myne was nie. Asof ek nog nooit voorheen arms en bene gehad het nie. ‘n Verblindende lig het soos donderweer geflits van die sens se lem, en ek kon voel hoe die hande wat my bene probeer gryp terugdeins en my laat gaan dat ek na vryheid kon vlug. Die gille en geroep uit die donker het harder en harder begin word. Dit het ‘n soort ritme gekry en dieper begin raak soos ‘n Afrika drom – lank vergete. Die Dood – of die Swart Figuur – het teen iets geveg. Ek kon nie regtig uitmaak wat aangaan nie. Net ‘n gespartel, flitse van die sekel se lem en waansin in die water om ons. In my.

Die brullende, kloppende klank uit die donker het ‘n crescendo bereik, en elke polsende slag het die water rondom my laat wegdeins en saamtrek soos ‘n lewende, vloeiende dier. Ek het nie meer die arms aan my bene voel trek na die onbekende toe nie. Het Die Swart Figuur die vyand oorwin? Afgesny soos ‘n onkruid? Was ek veilig? Ek het meer en meer bewus geword van my nuwe liggaam. My nuwe arms en bene het lomp gevoel. My kop het swaar gevoel asof daar iets fout was met my nek. Asof ek nie meer krag gehad het om myself regop te hou nie. Die ritmiese klank was nou bykans oorverdowend naby. Tog het die polsende klank my nie bang gemaak nie. Dit is asof dit ‘n mooi klank was. Die water was dik en aangenaam. Net toe ek rustig genoeg raak toe voel ek weer die hande om my bene. Dit het my na onder getrek. Ek het probeer gryp na iets, om te keer dat ek in die dieptes in verdwyn. My hele lyf was onder die water en ek het probeer boontoe swem, maar my nuwe, lomp ledemate het gemaak asof hulle nog nooit van die konsep van swem gehoor het nie.
Ek het probeer uitroep, maar my nuwe mond wou nie die klanke se vorms maak nie. Dit is asof ek weer van voor af teen Die Dood, of die vrees vir Die Dood moes baklei. Ek het begin verstik aan die vloeistof – wat duidelik nie water was nie…

Die drukking om my het my begin oorweldig. Dit het gevoel of die vloeistof – die kante van die meer reg teen my lyf druk met ondenkbare krag. Ek het vir oulaas Die Dood – of wie dit ook al was – probeer soek, maar my oë was waserig en wou nie fokus nie. Ek kon nog sy teenwoordigheid voel. Ver. Maar daar.
Ek het bewus geword van ‘n verblindende lig aan die onderkant van die meer, en ek het halfhartig probeer veg teen die hande wat my onverbiddelik voortgesleep het.
Ek het sy woorde weer gehoor. Vanuit die anderkant van die heelal. Asof hy nie meer die realiteit was nie.
“Ek is jammer. Ek kon HOM nie keer nie.”
Die druk, die vloeistof om my – in my mond en my neus, die kloppende geluid, die hande wat my sleep na die verblindende lig…

Die vrees het my uiteindelik oorweldig. Maar dit was nie vrees vir Die Dood nie. Nee. Ek was klaar dood.
Dit was vrees vir die onbekende.

Ek maak my oë toe en skree. Ek kan voel ek is nie meer in die water – of vreemde vloeistof – nie. Maar die hande het steeds my bene vasgehou. Die wêreld was onderstebo. Deurmekaar. My sintuie was totaal oorweldig. Ek het net aanhou gil – so hard as wat my nuwe longe toegelaat het. Ek kon HOM nie in die gesig staar nie.
Ek hoor iemand praat. Woorde. Regte, mens woorde uit ‘n regte mens mond. My sintuie is so oorweldig dat ek glad nie kan sin maak daarvan nie.
Vir ‘n oomblik besef ek Die Dood is sopas vir my ontmasker. En net so skielik is die wete en herinnering daarvan weg.

Die klanke in my nuwe ore was net so bekend as onbekend:
“Baie geluk! Hy is ‘n gesonde babaseuntjie.”




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Tuschka

    24 Augustus 2020

    Hierdie is defnitief een van my gunstelinge! Jou omvattendes beskrywings is ongelooflik sodat ek myself kon inleef

  2. Riaan Palmer

    25 Augustus 2020

    Baie dankie vir die gawe woorde @tuschka! 🙂

  3. Anze

    25 Augustus 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2020 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 53
Kommentaar telling: 35

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 133 gaste aanlyn

Bydraes – Argief