Jongste aktiwiteit:

GEDULD OOMPIE, GEDULD!

Elsa Meintjes (Nog nie ‘n ster status, my eerste stories)

Woorde: 552

GEDULD OOMPIE, GEDULD !

Haastig en gewapen met ‘n botteltjie 70% handreiniger en masker vaar ek vanoggend die kruideniersware winkel in. Die Covid 19 gee ‘n kriewelrigheid agter my ruggraat af wanneer ek deesdae die winkels ingaan. Dit voel asof elke persoon wat by my verbyloop ‘n potensiële draer is … maar genoeg van ou Covid.
Met ‘n lysie tel ek lekker spoed op terwyl ek melk en Yogurt inpak en vorder fluks tot by die broodrak. Gewoonlik neem ek my gunsteling brood sommer so met die verbystap maar nie vanoggend nie. Voor my het ‘n tannie en ‘n oom so om en by die 80 hul trollie parkeer. Beide is deftig geklee, geen silwergrys haar uit sy plek. Die tannie se ringvinger en die regterhand se wysvinger skitter. Welgesteld beslis!! Hul trollie is nog leeg.
Voor my ontvou ‘n redenasie wat verseker ‘n treffer op YouTube sou wees . Sasko en Blue Ribbon brood word opnuut ontleed en ding mee vir die algehele wenner!. Sy soek die een met die meeste vitamine. Hy kyk watter een is die goedkoopste maar wat ook die swaarste weeg. Ek koes tussen die arms wat beduie en gryp my brood. Gelukkig sonder enige beserings.
By die eierrak gaan hulle by my verby. Die gesiguitdrukkings van dié egpaar spreek boekdele. Sy babbel aaneen sonder om na hom te kyk. Hy gluur onder dik wenkbroue deur wat elkeen sy eie rigting staan en stoot daardie trollie met mening. Dit lyk asof sy hierdie rondte gewen het!
Ek besluit om hulle te volg want dié kan net interessant raak. Weg is Covid se kriewelrigheid! Elke 5e tree stop sy – haal blikkies, botteltjies en boksies van die rak af. Dan word elkeen bekyk en gelees. Dit lyk soos ‘n rak inspeksie wat sy noukeurig en met presisie uitvoer. Die oompie se wenkbroue wip al hoe hoër.
“Jy moet vinniger loop vrou, ek het nie die heeldag tyd nie.” mompel die oompie. Hy kry ‘n kwaai kyk terug, met ‘n frons tussen die oë so diep soos Meiringspoort se klowe.
Sy pak in, hy pak weer terug in die rakke. Hy bly mompel, sy swaai die arms. So tussendeur kyk sy ook nog in haar handsak of daar nie ‘n boodskap op haar selfoon is nie. So gaan dit deur die volgende 3 rye… tot sy skielik omkyk om seker te maak dat sy wel 6 pakkies pasta ingepak het.
“Waar is al die pasta? Die groen ertjies en die boontjies is ook nie hier nie!” Met elke woord raak haar stemtoon ‘n oktaaf of 2 hoër.
“ Ons het nie al hierdie kos nodig nie vrou, kos is duur. Jy koop hopeloos te veel en onnodig!!”
“ Vanaand soek jy dié einste ertjies en boontjies. Waar dink jy moet ek dit dan uitkrap en … waar kom al hierdie sjokolade en roomys vandaan? Jou cholesterol is hoeka hemelshoog.” Kap sy terug.
“Ek is lus daarvoor!! Toe vrou, maak gou en moenie so baie praat nie, ek wil by die huis kom.” Daar word veelseggende kyke verwissel.
Ek los hulle daar by die pasta rak…. daar is nog 4 rye wat hulle moet deurwerk !!! Met die verbystap glimlag ek en is stilletjies so dankbaar my man hou niks van kruideniersware koop nie. Dis een uitstappie wat die kok maar self moet doen.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed