Jongste aktiwiteit:

Rooi Stiletto’s en die jeans

Elsa Meintjes (Dis my eerste inskrywings, nog geen ster status)

Woorde: 747

Rooi Stiletto’s en die jeans

Hier staan ek nou voor rakke met skoene wat jou mond onbeskaamd laat oopval. Selfs al is jy nie ‘n skoen mens nie, hiérdie is op ‘n heel ander vlak!! Dit trek jou soos ‘n mot rondom ‘n skerp lig, groot gevaar!! My oë volg elkeen met sy unieke en verleidelike styl. Die vroulikheid in al sy glorie pak my beet!!
Ek gee ‘n tree weg van die rakke en kry eers my gedagtes mooi agtermekaar. My denke gaan ‘n paar ure terug tot waar ek laasnag laat na die sterre op die stoep gesit en kyk het. Die nag is beeldskoon maar ek voel asvaal. Iets moet ek aan hierdie sensitiewe saak doen! Die gedagte van ‘n paar rooi Stiletto’skoene het saggies my gedagtes oorgeneem en my laat regop sit soos die skets wat ek in 2014 gemaak het. Die aandstêr het skielik baie meer geblink as ‘n minuut gelede. Terug in die bed, wil my man baie besorgd weet wat is fout.
“My skat, môre is dit ek, rooi Stiletto’s en my blou jeans.” Hy sug, hou my styf vas want hy weet hier kom ‘n ding wat hy nie sal kan keer nie.
Hier staan ek nou, in my blou “stretch” jeans , oopmond en totaal van my sinne beroof.
“Dame, kan ek help?” Netjies in haar swart rokkie met Christian Louboutin se naam gegraveer op haar linkerbors staan sy met ‘n groot vraagteken in haar oë.
“Ja asb, kan ek daardie rooi paar met die satyn lintjie in nr. 5 aanpas.” Die woorde kom saggies oor my lippe asof dit heilige woorde is.
Ek steek my regtervoet versigtig in die pragtige gevormde skoen met ingesnyde kante tot teenaan die sool. Die sagte leer koester my voet en lelike tone. Dis soos ‘n liefdesspel waarin ek beweeg terwyl ek ook die linkervoet in dié onbekende ervaring inlei. Dié bekende rooi sole gee ‘n ander dimensie aan hierdie liefdesspel. Ek maak my oë toe, snak na my asem! My blou jeans lyk sommer baie meer stylvol en seksie! Hierdie oomblik moet beslis op my selfoon se kamera vasgelê word.
“Dame, hierdie hakkie is 16cm, is dit nie dalk ‘n bietjie hoog vir u nie?” U kan die 3e en 4e toon teen mekaar vasdraai. Dit help vir minder pyn wat die drukking op die senuwees plaas. U moet ook , wanneer jy loop, eerste op jou hak en dan afdruk op jou tone aksie uitvoer”. Ek hoor vaagweg hoe sy al die instruksies vir my gee.
Nou vir die proeflopie, maar hoe harder ek probeer om regop te kom , hoe minder krag het ek. My bene voel skielik soos jellie. Vanaf my heupe af ondertoe wil niks saamwerk nie! Ek probeer myself, met die ondersteuning van 2 assistente, stewig balanseer op die 16cm hakke. Ek klou vir lewe en dood aan dié 2 engele wat my glimlaggend probeer regop hou. Van asemhaal is daar nou geen sprake nie!
“Kan ons u nou los? Is u seker u gaan regkom?” kom die vrae van die engele aan beide kante van my.
“Ja, ek moet. Ek wil nie meer soos ‘n droë blommetjie voel nie. Ek wil lyk en voel soos die aandster van laasnag.”
Ek staal myself, hulle los my arms … toe hoor jy net ‘n plof geluid en gille!
Vanaf die vloer kyk ek op na ‘n klomp gesigte wat lyk asof hulle so pas die dood aanskou! Uit die vollengte spieël voor my staar ‘n vrou met blou jeans en Stiletto’s in ‘n baie onvleiende posisie terug na my. Al my ledemate is nog heel en veilig op hul plek. Vir ‘n sekonde voel ek asof die aarde my kan insluk, dan oorval ‘n lagbui my dat die trane loop. Almal lag saam. Op 67 jaar moet ek dalk die stiletto’s veilig op die winkel rakke los.
Met baie hulp kry ek weer my sit op die sagte rooi fluweel bankie. Vir oulaas kyk ek na die verleidelike rooi Stiletto’s. Wil ek elke dag met pyn, ongemak en val val deur die lewe sukkel of wil ek liewers sonder pyn en skeefgedrukte tone gemaklik my weg deur lewe vind. My oog vang die prys van R21,000. Die besluit is vir my gemaak!!
Buite in die parkeer area skuif ek agter die stuurwiel van my motor in. My vinger druk die “send” knoppie op my foon met die foto van die Stiletto’s en blou jeans vir my man…




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed