Jongste aktiwiteit:

THEUNS DE BRUIN SE HELDEDAAD

Theuns de Bruin was n Karoo seun wat met die bittere droogte n heenkome op die spoorweë gaan soek het omdat die plaas, daar in Hopetown se wêreld, nie meer vir hulle kon sorg nie. Hy het n kwekelingstasievoorman op Oranje Rvier geword en was sy eerste stasie Belmont stasie toe hy uit die kollege uitgekom het.

Theuns was altyd n impulsiewe mannetjie en het hy al wat nominasie was voor die voet aanvaar. So het hy op n baie jong ouderdom op Hennenman as spesiale klas stasievoorman beland. Weer het hy voor die voet begin nominasies aanvaar en weereens het hy op n baie jong ouderdom stasiemeester op Buffelshoek geword.

Die spoorweë het sekere standaard vorms vir korrespondensie gehad en Theuns het die brief twee keer gelees maar daar het dit gestaan.

Geagte meneer de Bruin

Dit doen my genoeë om u mee te deel dat u aangestel is as stasiemeester graad 2 op Buffelshoek teen die salarisskaal van R362 per maand.

“Nou waar de hel is Buffelshoek”, was sy eerste gedagte. Hy het die stasie indeks nader getrek en ontdek dat dit n stasie tussen Warrenton en Vryburg op die lyn na Rhodesië was. So het Theuns sy goed gepak en is hy weg Buffelshoek toe as die nuwe stasiemeester.

Buffelshoek in die sestiger jare was n tipiese plattelandse stasie, die hart van die omgewing.

Die stasie het n hooflyn, twee uitwykspore en n goederesylyn met n goedereloods en laaikrale gehad. Die stasie self het bestaan uit die seinhuis met die sinjaalraam vir die bediening van die wissels en sinjale, en trein beheer instrumente.. die seinhuis was verbind met die pakkette en kaartjies kantoor agter. Langsaan was die wagkamer. Apartheidsjare en was die nie-blanke wagkamer so n entjie van die stasie af. Agter die stasie was n ry bloekombome en die huise n entjie agtertoe langs die stasie.

Elektrisiteitloos en was hulle net drie personeellede. Hyself, die stasievoorman wat in die nag gewerk het, en die baanmeester met sy span saam met die stasie arbeider.
.
Daar het egter baie treine geloop. Met n onafhanklike Rhodesië wat net deur Suid-Afrika erken is was die verkeer swaar om Rhodesië van alles te voorsien.

Beeswêreld en al die boere se beeste vir die markte is per trein afgestuur. Omdat dit so n barre wêreld is moes die boere die beeste voer en het die lusern ook met die trein van Vaalharts af gekom.

Die boere het hom in die begin moeilik aanvaar omdat hy so jonk was, stasiemeesters was hardebaarde, maar het hulle hom spoedig aanvaar en het hy hulle essempie geword. (Essem was n eretitel vir stasiemeesters en het almal altyd die stasiemeester as essem aangespreek).
Die Donderdag in April wat Theuns de Bruin n held word begin soos enige ander dag. Alles is redelik nat die oggend en val daar so n fyn misreëntjie wat alles seepglad maak.

Die oorlaaitrein het net na die passasierstrein ingekom en moes twee trokke beeste wat oom Koot de Beer gelaai het optel. Theuns het nog altyd gesê dat die laaikrale aan die verkeerde kant gebou is. Die gevolg is dat die kondukteur die lokomotief moet losmaak en dan uithardloop oor die wissels en dan deur n skoon lyn kom om agterop die trein te kom. Dan word die kondukteurswa aan die lokomotief gekoppel en moet hulle weer uithardloop om goedere sylyn toe te gaan om die beestrokke by die krale te hak. Dan word daar weer uitgehardloop en die beestrokke en die kondukteurswa aan die agterkant van die trein terug gesit. Dan is dit weer lokomotief losmaak, uithardloop en deur n skoon lyn omhardloop om weer voorop die trein te kom. Al die pad moet Theuns in die seinhuis wees om die wissels uit die sinjaalraam te bedien en gebeur dit nogal dikwels dat die bewegings halfpad gestop moet word om eers n ander trein te laat deurgaan.

Theuns moes die rangeerdery n slag onder breek om n goederetrein in die uitwykspoor te kry om die pakkastrein te kruis. Dit is n redelike vinnige kruising en moet Theuns roer om die trein in te kry, wissels om te stel en tablet vir die pakkastrein te kry voor die pakkastrein voor die sinjale kom staan.

( Die tablette het uit die trein beheer instrumente gekom en was die drywer se magtiging om na die volgende stasie te gaan. Dit was op n houer aan n ring vasgesit en is sommer in die verbygaan met die arm gevang)

Hy maak dit egter en toe die pakkastrein die stasie volspoed met twee wiegende, swaaiende 25 klasse wat rooksuile die lug inpomp, instorm staan hy met die tablethouer in die hand vir die trein en wag om tablette te ruil. Die trein is volspoed oppad in die stasie in toe hy oom Koot onder die trokke van die trein op die uitwykspoor sien kruip en regop kom, blykbaar onbewus van die trein wat die hooflyn instorm. Theuns word yskoud en skree op oom Koot om te bly staan. Hy probeer egter om oor die lyn op die platform te spring en gly sy voet in die nattigheid van die platform af en val hy op die spore voor die aanstormende trein wat begin fluit.

Theuns spring dadelik uit die preekstoeltjie en spring van die platform af op oom Koot. Hy gryp oom Koot vas, rol saam met hom weg van die lyn af, weg van die trein wat op hulle is. Hy voel n slag n skerp steekpyn in sy rug en materiaal skeur soos een van die skerp bout penne in die gantry, waardeur die sinjaaldrade gaan, hom sny maar dan rol hy weer met oom Koot vas tot teen die trein wat in die uitwykspoor staan. Hulle maak dit net en lê Theuns met oom Koot vasgepen onder hom terwyl hy die geskree van staal op staal hoor soos die rem blokke op die trokke se wiele skuur om die pakkastrein tot stilstand te bring. Dit voel soos n ewigheid en is die trein al halfpad die stasie uit toe dit tot stilstand kom.

Theuns los oom Koot, staan op en help hom op sy voete. Oom Koot is skoon deurmekaar geskrik en help Theuns hom op die platform op en laat hom eers op die bankie sit. Die twee drywers van die pakkastrein (die trein het twee lokomotiewe vooraan) kom ook nou saam met die kondukteur terug gehardloop, ook asvaal geskrik want hulle weet nie of hulle iemand getrap het en of hulle weggekom het voor die trein nie.

Theuns tel die twee tablethouers op en gee die regte een vir die drywer wat duidelik verlig sê: “Hel essem ons het amper die oom getrap. As dit nie vir jou was wat op hom gespring het en hom weggerol het nie het ons hom getrap. Dankie essem, ons sal seker moet verslae insit om die vertraging te verduidelik want hier is nou omtrent twintig minute vertraging. As dit nou n gewone goederetrein was sou daar niks gewees het nie maar essem weet hoe heilig hulle op hierdie pakkastreine is”.

Die hele platform is nou vol treinpersoneel van die ander treine ook wat nou agtergekom het hier is fout. Theuns kom agter dat oom Koot nie meer op die bankie sit nie en is dit toe hy in die stasie kom dat hy oom Koot in die stasie kry met Rachel (die kleurlingmeisie wat by Theuns werk) by hom. Sy het die hele drama gesien toe sy net die stasie uitgekom het nadat sy sy kos gebring het. Met n hart wat tien dode sterf het sy Theuns van die plaform sien afspring en het dit vir haar soos n ewigheid gevoel tot die trein net buitekant haar gesigsveld tot stilstand gekom het en sy hulle tussen die spore kon sien lê. Toe hulle opstaan het sy besef dat hulle ongedeerd is. Sy het oom Koot in n stoel sitgemaak en vir hom suikerwater aangemaak om te drink.

Theuns moet nou eers die treine aan die gang kry en druk die tablet in die magasyn en slaan twee een en dadelik weer drie om lyn vir die trein in die uitwykspoor te kry. Kuduskop erken dadelik want die pakkastrein is nou al ver oor sy looptyd en het die stasievoorman al bekommerd begin raak. Hy hoor Renosterpan ook een slaan om met hom te praat. Hy draai die magasyn in en uit toe Kuduskop stroom gee, sit die tablet op die houer en gee dit vir die trein in die uitwykspoor se drywer. Hy draai gou die wissels vir die trein en dan tel hy die telefoon op om met Renosterpan te praat. Hy verduidelik vinnig wat gebeur het en sê vir Renosterpan dat hy die trein nou by hom kan wegboek. Met die pakkastrein uit die stasie uit draai hy die wissels vir die rangeerlokomotief om uit te gaan en loop die rangeertrein se personeel oor om aan die gang te kom.

Dit is die eerste kans wat Theuns kry om by oom Koot te kom wat erg aan skok ly. Die trane loop uit oom Koot se oë uit toe hy Theuns vasgryp en sê: “Dankie ou seun, baie dankie. As dit nie vir jou was nie was ek nou maalvleis onder daardie trein se wiele. Ek het hom nie gesien nie essem, en toe ek hom sien het ek gedink ek gaan dit maak. Hel essem dit was amper maar wat jy vandag gedoen het sal ek in my lewe nooit vergeet nie”.

Theuns wil eers met hom baklei maar los dit en gaan slaan die trein in die uitwykspoor wat nou ry weg en gaan draai die wissels vir die rangeerlokomotief om terug te stoot vrag toe om die beestrokke en die kondukteurswa op die vrag te kry.
Dit is toe Rachel sien hoe lyk hy: “Here meneer maar jy het dan seergekry. Kyk hoe lyk jou rug en jou hemp is stukkend geskeur en vol bloed. Ek gaan vir jou n skoon hemp haal en dan kom kyk na daardie sny op jou rug”, sê sy toe sy die skeur in Theuns se hemp oopskeur om na die sny in sy rug te kyk.

“Lyk darem nie te erg nie, ek sal gou vir meneer n skoon hemp gaan haal en dan die sny kom skoonmaak”, sê sy voor sy die stasie uitdraf om vir Theuns n skoon hemp te haal.

Oom Koot het ook nou bedaar en kan hy Theuns nie genoeg bedank dat hy sy lewe gered het nie. Toe hy die stasie uitloop huil Koot de Beer toe hy Theuns teen hom vasdruk.
Rachel is in n rekordtyd terug met n skoon hemp maar moet sy eers wag tot Theuns klaar die rangeerlokomotief omge hardloop het en die stasies weerskante stroom gegee het om die tablette te kanselleer en hy tablet vir die oorlaaitrein gekry het wat hy vir die kondukteur, wat ook in die stasie is, gee om vir die drywer te gee.
Hy trek sy hemp uit en Rachel het dadelik n skotteltje water en sy waslap, wat sy saamgebring het by, en begin sy sy rug skoonmaak. Daarmee klaar plak sy n stukkie verband met n pleister, wat sy ook saamgebring het, oor die wond en met haar hande nog op sy rug sê sy: “My meneer was baie dapper vandag. As dit nie vir meneer was nie was die man vandag doodgetrap onder die wiele”, toe los sy en gee vir Theuns sy skoon hemp aan om aan te trek.

Dit is laat die middag toe n pragtige rooikop die stasie inkom. Theuns stap dadelik nader om te hoor of hy kan help. Sy glimlag breed toe sy n fyn handjie uitsteek: “Toe ek vanmiddag van die universiteit af by die huis kom het ek gehoor wat gebeur het. Ek moes kom kyk hoe lyk die held wat my pa gered het. Ek is Anita de Beer”.

Skielik voel Theuns sy maag fladder, sy kop sing toe hy hees uitkry: “Theuns de Bruin”.
Toe kom hulle eers agter dat hulle nog steeds handjies hou.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed