Waak en bid
Waak en Bid, deur Stephan Uys
Ons is ʼn groot familie, met baie niggies en omtrent net soveel honger nefies. Reeds op ʼn vroeë ouderdom het ek die waarde van “waak en bid” geleer. Jy moes oor jou kos gewaak het terwyl Oupa sy tafelgebed gedoen het. Menigmaal het ʼn niggie, en soms ʼn vergeetagtige neef, hul fout te laat besef as hul na die gebed agterkom daar is skielik ʼn vleiserigheidjie weg uit hul bord. Gereeld was daar nadat Oupa klaar gebid het die een of ander lekker eetding weggeraap uit ‘n niksvermoedende of goedgelowige kleinkind se bord. As Oupa bid, moes jy met jou een oog toe bid, maar met die ander oog wawyd oop waak! Die dief van die Bybel mag dalk in die nag kom om te steel en te roof, maar in ons familie het die nefies hul konkelwerk onder Oupa se tafelgebed gedoen. Oupa het altyd sy gebed met ʼn baie stadige en diep eerbiedige stemtoon gebid. Hy was ook nie ʼn vinnige ‘segen Vader, segen sop’ bidder nie. Nee, Oupa was ʼn man wat geglo het elke hand wat ʼn aandeel aan die bord kos gehad het, moet persoonlik genoem en geseën word in sy gebed. Die oomblik as hy sê: “Laat ons bid!” was dit vir die honger neefs die teken om met hul onheiligheid te begin. Daar was ook meer as een keer onder Oupa se laaaaaaang tafelgebede vieslike kyke, knype, en soms selfs klappe uitgedeel deur ʼn volwassene wat ʼn honger bloedjie ʼn broodjie of stuk spek sien annekseer uit ʼn ander honger bloedjie se bord. En ons is mos ʼn ‘free for all’ familie – ooms en tannies was welkom om enige van die neefs op die regte pad te hel(sagte p) sou hul onder gebed die breë weg begin bewandel. Maar ek dwaal bietjie van die spoor af.
Dit was hier aan die einde van graad elf dat ek egter tot ʼn heel ander verstaan van ‘waak en bid’ gekom het. Die Matrikulante was besig om hulle eindeksamens te gorrel, en ons Graad Elfs was skielik die seniors in die skool. Om my lewe nog meer kleur en geur te gee, was ek ook vir die tweede jaar in ʼn ry gekies as CSV voorsitter, en ek was boonop as leerlingraadslid gekies. Die lewe was mooi, so mooi soos ʼn Bloubul game teen die arme WP.
In daardie tyd het ons (ek en my jonger suster en broer) soms skool toe gery met ons fietse. Dit was darem nou nie soos in my Pa se tyd nie. Pa moes eers donkeroggend die natuur aandurf en ondiere trotseer om koeie te gaan haal op verafgeleë kampe. Nadat hy die koeie dan vingeralleen die tien myl vanaf die kamp na die melkstal gejaag het, moes hy dan ook by homself elkeen van die driehonderd oorvol koeie persoonlik uitmelk. Nadat hy al die dinge gedoen het, het hy dan die amper tweehonderd myl skool toe gedraf. Dit het hy volgens hom gedoen elke oggend van sy lewe, altyd kaalvoet, of dit nou sneeu, hael of reën. Dit was glo hoe dinge was in Pa se tyd. Maar nie in ons tyd nie. Ons het gekies om soms met die fiets skool toe te ry, maar nooit as te nimmer sou jy my uit vrye wil sien skool toe loop het nie. Nie eers met skoene aan sou ek skool toe loop nie, en beslis glad nie kaalvoet nie. Nou dat ek daaraan dink, is dit geen wonder dat Pa aan die begin van Graad Elf uit die skool is nie, ek reken ek sou al in Graad Sewe ʼn afdraaipad gevind het.
Maar ek verloor nou my gedagtegang. Ek praat mos oor waak en bid, nie oor Pa se kinderjare nie. Ek onthou die dag nog soos gister. Dit was ʼn Maandagoggend. Dit het amper die hele Sondag gereën, maar die Maandag het vars en vrolik aan die deur kom klop. Ek het besluit om sommer met die fiets die vyf kilometer skool toe te ry. Net hier het dinge toe ‘n verkeerde wending begin neem. Toe my sussie en boetie hoor Ouboet gaan fietsry, wil die twee skielik ook saamry. Ma vind dat dit baie mooi met haar planne van rustig klaarmaak akkordeer en beveel my om tog mooi na die twee bloedjies te kyk. Nou moet ek eers weer verduidelik. Sus is agtien maande jonger as ek, maar net een jaar agter my in skool. Sy is dan ook sekerlik die hoofrede dat ek darem af en toe dit oorweeg om te leer vir ʼn toets, want sou ek dop sal ek en sy in die selfde graad wees, en daarvoor het ek nie kans gesien nie. My broer is die baba in die gesin en is vier jaar my junior. Hy is besig om sy lyf prefek te hou in die Laerskool en glo vas hy kan saam met die groot honde piepie; alles wat ek doen wil hy ook doen. Ek is nie baie lus vir hul saamry nie en probeer hul oorreed dat dit beter is om saam met Ma te ry skool toe, maar dis verniet – hulle wil fietsry! Half sewe is my fiets uitgestoot en ek is reg om te ry, maar daar is geen teken van die ander twee nie. Ek roep en gil soos Pa maak op ʼn Sondagoggend voor kerk, en uiteindelik kom die twee te voorskyn. Ma wil nog soengroet toe trek ek al by die hek uit, terwyl ek vir die twee skree hul moet hul stertvere roer want die skool lê wyd.
Die Maandagoggend word egter al blouer hoe verder ons ry. Boetatjie sukkel om met sy Laerskool grootte fiets by my te hou, en Sus se dunwielfiets wil heeltyd wegsink in die modder na gister se goeie reën. Ek ry ʼn groot dikwiel Peogeot fiets; een wat jy agtertoe trap as jy met die agterwiel wil rem. Geen een van die ander seuns kon hul fietse se gat so uitgooi as hulle remtrek soos ek met daai ‘backpedal’ remme nie. Ek het die kuns vervolmaak om op die pedaal te staan en my heupe skuins uit te gooi sodat die fiets se agterwiel my lyf volg. Dit was ʼn fyngeoefende beweging wat menige seun groen van jaloesie gemaak het, en die meisies se oë soos sterre laat skitter het.
In ieder geval, die modderpad en my fiets is gemaak vir mekaar, terwyl my twee medereisigers se fietse hul in die steek laat. Die gevolg is dat ek onder hulle uitry, en dan moet staan en wag dat hul eers weer opvang met my. My bloeddruk styg elke keer as ek moet stop en wag, en al manier om dit laag te hou is om te skree dat hulle nou hulle se agterente moet roer. Hoe verder ons ry, hoe groter word die afstand tussen ons. Hoe groter die afstand, hoe langer moet ek op die twee wag. Hoe langer ek wag, hoe harder skree ek op hulle. Hoe harder ek skree, hoe kwater word ek. Hoe kwater ek word, hoe meer word ek lus om te vloek. En toe vloek ek, nou nie ʼn vloekwoord wat enige een sal laat regop sit en dink ek hoort in die hel nie, maar nog steeds ʼn woord wat ek glo ʼn kras woord is. Ek roep en skree: “Sal julle nou julle bloody gatte roer!” Die oomblik wat ek dit sê, is my gees beswaard en voel ek aangekla oor my taalgebruik en my maniere. Dit is nie hoe ʼn Christin optree nie, veral nie as jy nog CSV voorsitter ook is nie. Sê nou net iemand hoor my? Ek voel vreeslik sleg oor my gedrag. Toe my boetie en sussie by my kom vra ek groot omverskoning vir hulle. Sus is nie heeltemal in die bui om te vergewe nie; sy is moeg, en ek het haar siel seergemaak. Dis nog so drie kilometer skool toe en ek reken sy gaan my laat boet vir my swak maniere. Boeta speel gans-gans, dit lyk asof my baklei en lelike woorde van hom afgerol het sonder om enige langtermyn letsels te veroorsaak. Inteendeel, ek dink nie daar is eers korttermyn letsels nie want hy ry rustig aan sonder om ʼn oog te knip of ʼn woord te sê. Ek vat weer die pad, maar my gees bly seer. Ek voel ek het God en gesin gefaal met my optrede. Ek voel ek moet met die Here regmaak voor ek by die skool kom, dit is die Christin ding om te doen. Net daar op die fiets besluit ek om die liewe Heer sommer so in die ry omverskoning te vra vir my gedrag. Ek vergeet egter daarvan dat mens somtyds moet ‘waak en bid’, veral as jy fietsry op nat paaie. Terwyl my gewete my aankla, maak ek beide oë styf toe en bely hardop my lelike gedrag en die vloekwoorde wat ek gebruik het. Ek probeer so in gebed verduidelik hoe jammer ek is, en hoop dat die Heer my hart sal raaksien en my van hierdie vieslike sonde sal vergewe. Dit is dan nou tydens hierdie boetedoening van my dat ʼn reeds blou Maandag veel donkerder word.
So met my oë styf toegeknyp, ry ek onwetend teen die pad se rant vas. Met die dat ek voel ek begin opdraande ry, pluk ek my stuurstang na regs terwyl ek haastig my oë begin oopmaak. Dit is egter te laat vir my. My voorwiel gly van die wal af tot in ʼn groot poel modder. Dit tref ʼn klip wat verskuil lê onder die modderwater en my fiets steek vas soos daardie steeks donkie op Oupa se plaas. Ek verloor my balans toe die fiets so in die proses van afgly van die randjie af, nog steeks vassteek ook, en val hande uitgestrek van my fiets af. Swaartekrag, en die gewig van my tas op my rug, maak dat my arms onder my gewig knak en ek val vol lente uitgestrek in die modderpoel. Ek beland met my splinternuwe leerlingraadsbaadjie, gedekoreer met die leerlingraadsbalkie, CSV voorsitter balkie, en nog so ʼn paar ander hard verdiende balkies pens en pootjies in daardie poel modder.
Nou moet ek erken dat alle gevoelens van vergifnis vra en nuwe blaadjie omslaan uit my kop uit geval het toe ek daar op die moddergrond val, want ewe skielik rol daar gekruide woorde uit my mond, woorde wat ek self nie geweet het ek ken nie. Terwyl ek myself swetsend en swaarmoedig uit die water uitlig kom my boetie en sussie grootoog tot by my, maar toe hulle hoor wat ek praat, ry hul stil-stil en met groot spoed daar weg. “Nou kan julle skielik @$#*% vinnig ry!”, skree ek agter hulle aan. Hulle antwoord my nie , maar ek kan egter duidelik hoor hoe begin die twee te lag toe hulle so ʼn paar meter weg is.
Swartgallig en rooi van die woede en van modder tel ek my fiets op. Terwyl ek beteuterd en bedonderd die laaste stuk pad skool toe aandurf, bepeins ek my droewige lot op hierdie ongenaakbare stuk grond wat die wetenskaplikes ‘Aarde’ noem. Ek bejammer myself so dat ek nie eers die kar hoor wat van agteraf aangejaag kom nie. Die drywer van die kar se tydsberekening is dan die oggend perfek – ek en sy kom op presies dieselfde tyd by die plas water aan wat regoor die hele pad lê. Sy is eintlik so ʼn halwe kop voor my daar. Miskien wou sy stop, miskien nie. Miskien was dit per ongeluk, miskien nie. Al wat ek weet is dat sy daardie poel modderwater so oopkloof met haar kar se bande soos Moses toentertyd gedoen het by die Rooisee toe die Egiptenare Israel agtervolg het. Nog nooit vantevore was ek in die posisie om die boog water wat veroorsaak word deur ʼn motor wat op spoed is, van so naby af te waardeer nie. Die voorwiele tref die water op so ʼn wyse dat dit lyk of die water met swaanvlerke oopsprei. Dis grasieus en iets om te aanskou – maar van ver af, nie van reg langs die kar nie! Jy wil nie langs die kar wees as dit die modderwater met swaanvleuels laat oprys uit die grondpad nie. Daardie oggend rys die modderswaan se vlerke grasieus uit die pad uit en omvou my reeds nat en modderige lyf in ʼn liefdesomhels wat ek glad nie waardeer nie. Die krag waarmee die water my tegemoetkom is van so ʼn aard dat dit modder in my neusgate in forseer. Daar is modder in my mond, en in my oë. Ek kan nie sien waar ek ry nie, ek kan ook nie behoorlik asem kry nie. Terwyl ek probeer om my balans te behou en asem in my longe in te kry sonder dat ek van die modder verstik, ry ek in die kar vas wat flussies die modder swaanvlerk oor my gedrapeer het. My skielike stop veroorsaak dat ek so waar as wragtie weer ʼn keer in ʼn groot poel modder beland. Ek is toe onder die modder! Dit is in my oë en in my ore. My klere en hare is toegekoek daarvan. Deur die modder hoor ek ʼn vaag-bekende stem deurskemer. Ek spoeg modderwater uit my mond uit terwyl ek probeer om met modderhande die modder uit my oë te vee sodat ek kan sien wie dit is wat my so vieslik behandel het. Ek voel hoe hande versigtig die gemors van my gesig probeer afvee, maar die stem wil net nie heeltemal herkenbaar wees deur al die modder in my ore nie. Uiteindelik is my oë skoon genoeg dat ek hulle versigtig kan oopmaak om te kan sien watter tipe van mens spat ʼn ander medemens so harteloos vol modder. Ek kan my eie oë nie glo nie, die vrou wat daar voor my kniel is dieselfde vrou wat sewentien jaar gelede geboorte geskenk het aan my. Die trooswoorde van die Meester kom by my op: “In die Wêreld sal julle dit moeilik he…”, nog nooit tevore het ek gedink my eie ma sal dit vir my so moeilik maak nie. Net toe ek troos begin vind in die besorgdheid in haar stem toe sy my vra of ek seergekry het, hoor ek hoe sy begin sluk om nie te lag nie. Terwyl ek daar in die poel koue modderwater sit, met my eie bloedma wat histeries lag oor haar oudste se verleentheid, besef ek een ding: “Jy moet liefs nie die bidwerk saam met die waakwerk doen nie.” Bid as jy moet bid, maar as jy waak moet jy jou oë liefs oophou. In hierdie wêreld kan jy selfs nie eers jou eie ma vertrou nie!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.