Jongste aktiwiteit:

23. Die geestelike gedig
vir

23. Die geestelike gedig

23. Die geestelike gedig

In die geestelike gedig word die godsdienstige ervarings en gevoelens van mense uitgespreek. Vanaf die middel eeue is daar gedigte met ‘n sterk epiese element, waarin ‘n episode uit die lewe van Jesus of Sy moeder verhaal word. Veral in middeleeuse gedigte is daar naïewe bekoring met die menslike besonderhede van die Goddelike geboorte. Afgesien van die sterk verhalende element is hierdie gedigte nogtans liriek, aangesien die digter se eie gevoelens en oortuigings sterk deurklink.

‘n Ander soort liriek is waar die digter sy eie gevoelens of die van die godsdienstige gemeenskap waartoe hy of sy behoort na vore bring. In die middeleeue is daar uiters persoonlike liriek in die gedigte van die Nederlandse digteres Hadewych.

Moderne gedigte waarin ‘n gedeelte van die lewe van Jesus uitgedruk word is byvoorbeeld die “Kerstliedjes” van die Nederlander J.H. Leopold en die “Passiesonette” van W.E.G. Louw. Elisabet Eybers se bekende gedig “Maria,” druk ook die lewens van Christus en sy moeder pragtig uit.

Tog is die gedigte waarin die digter uitdrukking gee aan sy eie geloof ervaring meer talryk. Totius se Psalmberymings neem ‘n besonderse plek in, in Afrikaans. In Olga Kirsch se “Paassang” en in S.J. Pretorius se “In die Kerk” word gevoelens en ervarings feitlik uitgespreek. Nog meer persoonliker is Totius se gedig “Die Godsbesluit,” nogtans word hierdie gedig die uitdrukking van die godsdienstige mens in die algemeen.

Hier is net ‘n klompie van my godsdienstige gedigte waarvan sommige gebede is. Daar is ook teen gedigte, teen gedigte van digters wat in opstand teen God gedigte geskryf het. Sekere Bybel gebeurtenisse word ook in van my gedigte weergegee:

‘n Blik van God

Dis skemer en daar’s sulke groot deurlugtigheid, Here
waar ek by ‘n poel sit dat die water
nie eens uit kring nie,

die oostelike lug is nog meer geel as oranje
het ‘n sagte warm omhelsing
en ek beweeg skaars bang dat my teenwoordigheid hier

die stilte sal verontrus of vernietig
lasterlik tot U teenwoordigheid sal wees
wat steeds nog draal

en die weerkaatsing van die opkomende son
is ‘n groot oranje bal op die glinsterende poel
en die blote prag van wilde aalwyne,

blommende suikerbosse herinner my
aan hoe Eden moes wees
en in die effense wind wat nou waai

bewe blare skaars
en hierdie plek, hierdie wêreld waarin U my trek
het geen bedreiging, geen pyn of terreur

net die grasie en luister van U ewige liefde
en die kobalt blou lug het suiwerheid daarin, ‘n varsheid
wat oorweldigend is.

[Verwysing: Glimpse of God deur Tatamkhulu Afrika.]

In wie glo u: Jesus Christus of die kosmiese christus?

Die paasnaweek is ‘n tyd wanneer
ons die kruisiging van Jesus Christus vier
wie God self is, wat vir ons sondes gesterf het,
waar ons Sy opstanding vier,
waar ons verklaar
dat daar deur geen ander naam,
geen ander persoon saligheid is nie
van die straf van sonde
wat die Bybel uitdruklik stel as die dood,

maar op hierdie besonderse tyd is daar ‘n aanval
op die Godheid van Jesus Christus,
waar Afrikaanse en Engelse kerke
in Suid-Afrika, kerke dwarsdeur
die ganske wêreld
die leerstellings begin aanhang
van sommige van die professore
van die Jesus seminaar.

Waar dit beredeneer word dat God die Vader
skuldig is aan kinder mishandeling
deur Sy Seun Jesus Christus te stuur
om die skuld te betaal
vir ons sondes, inplaas daarvan
om ons die prys daarvoor te laat betaal,
waar Jesus Christus wat self God is
na die aarde gekom het
om Sy eie lewe vir ons op te offer.

Verder word daar geredeneer dat Jesus Christus
nie opgewek uit die graf is nie,
dat Sy liggaam deur honde gevreet is
en dat Sy dissipels en apostels
leuens verkondig het
oor Sy verskyning aan hulle,

daar word geredeneer dat Jesus Christus
nie opgevaar het na Sy Vader in die hemel
en van die dinge
wat duidelik uitgedruk word in die heilige Bybel
word slegs as mitologies beskou
en dus sê mense
dat Jesus Christus slegs ‘n mens is.

Hierdie gedig is geen aanval op enige kerk nie,
maar as ‘n volgeling van Jesus Christus
sien ek dit as my plig
om Hom en ‘n verhouding met Hom
te verklaar
as die enige manier tot redding.

Agter die skerms word Jesus Christus
wat self God is en wie
die Seun van God is, verlaag
tot slegs ‘n seun van die gode
en stadig maar seker verlaag
tot die posisie van slegs ‘n profeet,

terwyl ekumienisme versprei
om hande te vat, om ‘n wêreldwye
verenigbare christus te vind
vir alle geloof oortuigings dwarsoor die aarde
(om die christelike
en nie christelike godsdienste te verenig)
en die weg word geopen
vir die kosmiese christus om te verskyn
wat sy aanhangers duidelik uitdruk
as ‘n ander persoon as Jesus Christus.

Volgens die heilige Bybel
is daar slegs twee magte
wat in hierdie wêreld
teen mekaar te staan kom
en die een is van God af
en die ander is uit Satan self
en as iemand wat slegs
in die heilige Bybel glo
as die woord van God
kies ek om Jesus Christus te volg
en God laat ‘n vrye keuse
vir wie u ook al kies om te volg.

[Verwysings: Jesus Christus as God in die Bybel: Jesus Christus van gepraat as Theos wat God beteken: Joh 1: 1-3 Joh 1: 18, Joh 20: 28, Rom 9: 5, Titus 2: 13, Heb 1: 8, 2 Pet 1 : 1, 1 Joh 5 : 20, die evangelie van Johannes teken sewe Ek Is stellings aan en sewe wonderwerke. Hierdie wonderwerke druk Sy almag uit, Sy alomteenwoordigheid, Sy alwetendheid, Sy onverganklikheid. Jesus Christus het Goddelike eienskappe: Hy is ewig: Jes 9 : 6, Joh 1: 1-2, Open 1 : 8, Open 22 : 13. Alwetend Joh 2 : 24-25, Joh 21 : 17, Open 2 : 23. Almagtig Jes 9: 6, Fil 3 : 21, Open 1 : 8. Onverganklik Heb 1 : 10-12, Heb 13 : 8. Elke eienskap van die Godheid word in Jesus Christus beliggaam Kol 2 : 9. “Die woord was God” Joh 1 : 1. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” Heb 1: 3. “ maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer” Heb 1 : 8. Die Jode het geweet dat Jesus Christus bekend gemaak het dat Hy God is Joh 10 : 30-33. Jesus wat opgewek is en by Sy dissipels verskyn: Joh 14 : 8-9, Joh 20 : 19-24, Joh 20 : 26-29, Joh 3 : 14-15. Jesus Christus ‘n regter oor ons: Open 16 : 5. In Titus 2 : 13-14 word dit gestel dat die verlosser en God een persoon is. “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid.”]

Invictus (in antwoord op William Ernest Henley)

As die nag swart oor my strek
en in die donker lug
ek ontelbare ligte hoog sien brand,
dank ek die God wat my vry maak
om te kies watter lig my baken is.

In donker omstandighede en wat ook al
die noodlot bring, oorwin bestemming en kans nie
en word ek steeds wyser wakker
oor die lewe en sy dinge
en steeds is my wil vry
om te besluit waar my woorde
en dade hoort, hetsy reg of verkeerd
en in alle dinge antwoord ek net aan Hom
wat die Kaptein van my lewe is.

[Verwysings: Invictus deur William Ernest Henley en The Soul’s Captain deur Orson F. Whitney.]

Grafskrif van ‘n leër van huursoldate (in antwoord op A.E. Housman)

In die tyd toe oorlog in die hemel uitbreek
het Satan heilige wesens verlei;
toe verskrikking daar kop uitsteek,
om oorlog te voer en rebellie te laat versprei.

Daar was die oproer en terreur beëindig
terwyl demone hulle na mense op aarde wend;
wat God geskep het, wou hulle opskort, hulle was aandadig
om mense tot vernietiging weg te lei en te skend.

[Verwysing: Epitaph on an army of mercenaries deur A.E. Housman.]

‘n Ander grafskrif op ‘n leër van huursoldate (in antwoord op A.E. Housman)

In die tyd toe die hemel bewe
en Lucifer ‘n engel van die lig
‘n derde van die eens heiliges
met hom saamneem
as huursoldate, duisternis sy eie maak,
toe hy homself gelyk aan die skepper God probeer stel

het daardie leërmag huursoldate geveg
teen Michael en Sy menigte,
verloor, in neerlaag geval
en Michael en Sy magte
het die rebellie beëindig,
het dit opgeskort

en die huursoldate het die prys
vir hulle bedrog betaal,
(as enige van hulle gesterf het,
het hulle dit verdien)
en hulle het soos komete uit die lug geval
en brandend, vlammend
het hulle na hierdie planeet gekom
wat nog wentel soos wat dit toe gedoen het

en hier het hulle leier die mens gevang
met ‘n slinkse stukkie bedrog,
hierdie wêreld in vernietiging
saam met hom probeer trek

maar as ‘n sterflike mens
het God hierdie aarde bewandel,
vir die mens ‘n prys betaal
om die demone se werk nietig te maak
en nog het die mens ‘n keuse
van waar sy toegeneentheid lê

en ten spyte van die teenwoordigheid
van huursoldate hier
oorvloei die harte van mense wat God eer,
met beginsels van liefde, opregtheid,
waarheid en genade.

[Verwysings: Epitaph on an Army of Mercenaries deur A.E. Housman en Another Epitaph on an Army of Mercenaries deur Hugh Macdiarmid in antwoord op A.E. Housman.]

Laat ek my gedagtes, my verse van U af kry

Laat ek my gedagtes, my verse van U af kry
wat soewerein oor alles heers
en laat U my daarin seën soos wat u gedurig doen
om elkeen van my woorde te laat sing

en laat ander spog
met opper mag wat hulle kry
van ‘n bekende gees
waarin hulle blom

en laat daardie gees in hulle bly
terwyl my deurlugtigheid van U af kom
en laat hulle waardig wees en van die kragte daarvan getuig
terwyl U my lei in elke aktiwiteit:

en alhoewel hulle werke uit speel soos ‘n gelukkige klawer,
weerklink U seëninge in my geskrifte oor en oor

[Verwysing: Sonnet 86 “Was it the proud full sail of his great verse” deur William Shakespeare.]

Bloeiend

Ek dank U God
dat U my deur genade geseën het
om my tenger blomme te laat groei
te laat oorstroom in stringe wat soos klokke hang
in internodiums, in litte met rose

nie perske, pers of pienk kleure
soos die ander van my soort
maar suiwer wit
met geurlose knoppe wat oop gaan

en sommige mense dryf spot, hou my woorde,
my verse in parodie
maar my blomme kom uit U hand

en ek kan verstaan dat hulle dink
aan blomme soos rose, irisse en malvas
wat teen die elemente getemper is
en welriekend geure voort bring,
die lug parfumeer
maar in U skaduwee en sorg bloei ek.

Die lig

God wat dekrete maak
en alle ding word,
U wat afsonderlik bestaan
van die masjinerie van tyd

nie gebind is deur jare,
waarop seisoen geen impak maak,
wat die ruimte gesmee het
en die skitterende sterre deur U woorde

wat gevul is met krag
geweldig sonder einde
kom na my ‘n blote rebelle kind
en help my om my lot bepaling te verstaan

toon aan my die weg wat U berei het
wees my helder alomteenwoordige lig
wat my op die enigste ware pad lei
en die duisternis rondom my verdryf.

Die duisternis kan nie uitwis nie

Die lig wat U in my ingevurk het
kan die duisternis nie uitwis nie
waar U vlam braaiend in getak het,

selfs as die noodlot grieselrig my probeer verpot
bevry U my van die tirannie daarvan,
van die skimme wat dit vergesel

en bietjie vir bietjie lei U my tot U lig
deur hierdie lewe, dwarsdeur die nag.

Almagtige God wat die skepper van alles is (in antwoord op Breyten Breytenbach)

Almagtige God wat die skepper van alles is,
laat ek in U heilige naam vra
dat die onreg wat geskied, nou U aandag geniet

dat elkeen van ons wat onderdruk is
se name, se gebeure, se hele lewe
in U onverganklike boek opgeteken is

skenk aan ons ook ‘n lewe, dat ons ook
brood mag verdien, ook ‘n plekkie mag hê
in ons land en nie vertrap word
deur mense wat die bietjie wat ons het,
waarvoor ons swaar gewerk wil beroof
en beskerm ons; beskut ons

in U laer, met vuur
wat U rondom ons, ons eiendomme trek
en laat ons hulle vergewe,
wat opreg na ons ondergang strewe
nie ons ook werk gun, ons menseregte vertrap

en laat die bose van ons af wyk,
laat boosheid voor U Goddelike krag beswyk
want aan U behoort die hele wêreld,
elke regering, land en koninkryk
is onder U beheer

en mag ons soos ons voor vaders onthou,
hoe getrou U Goddelike redding is,
mag ons netso opreg wees en leef
en die hele wêreld ons sien
as mense van integriteit

maar meer as dit, meer as die verlossing
wat U bring,
laat ons van U oneindige liefde getuig,
alleen voor U ons knieë buig.

[Verwysing: 7.8 Onse milde God van alles wat soet en mooi is deur Breyten Breytenbach.]

Dat pyn bestaan is nodig Heer (in antwoord op Breyten Breytenbach)

Dat pyn bestaan is nodig Heer,
want dit suiwer my
en hoe meer ek ly, bring dit my nader,
bring dit U nader aan my

en U kruisdood is met tye te verskriklik
om te begryp, dit pynig my
om te dink dat blote mense
so ongenadiglik, so walglik op kon tree,
soos waansinniges uitroep en skreeu
om U, God self om die lewe te bring
en sommiges moorddadig
vooroor beur en spring

en alhoewel U dood ‘n vervulling
van menigte profesieë is,
U leiding die prys vir die mens se lot betaal,
bly ek steeds verdwaal
in U onbaatsugtige liefde
wat van U Vader eis
om die daders ontoerekenbaar te laat,
die mense wat op U spoeg, die mense wat U haat
en geeneen kan sulke diep liefde verstaan,
wat nie om die self, of eie gewin gaan nie,

maar U pyn en lyding was wel nodig Heer
en alhoewel sommiges hulle rug op U keer,
smeek ek dat U my op die regte pad hou,
dat ek my eie waan wat ons verhouding skaad afleer.

[Verwysing: breyten bid vir homself deur Breyten Breytenbach.]

Jesus in die voorstad

Daar’s ‘n vreemde man
wat buite by die tuin hekkie
anderkant die posbus staan
en hy’t ‘n uniform aan
en lyk half bekend
maar ek kan hom nie plaas

en snaaks genoeg
is die honde stil en kalm
en te rustig na my sin
asof hulle hom
van iewers af ken

en ek wonder wat ‘n Spiedkop
buite by die voor hek maak
en is half geïrriteerd
as ek die voordeur oopmaak,

maar sy uniform is half vreemd
en lyk nou soos ‘n vliegpak
wat ‘n vlieënier sal dra.

Ek wonder wat hy wil hê
en sonder om te praat
vra hy ken jy my?

Daar’s ‘n helder lig
wat soos die son
uit Sy liefdevolle oë straal
en Sy hande
het merke van ou wonde
wat reeds genees is

en ek wonder wat Hy
by ‘n sondige dwaas
soos ek kom maak
en ek maak die hek wyd oop
en Hy stap in.

Ek sien U in alles

Die woorde in U boek bly
geskryf op my hart,
om in geheue op te berg
en daarvan kan ek nie afwyk nie.

As om U te bemin
‘n ware kuns is,
soos ‘n kleur met ‘n eie unieke skakering
dan kan ek nie van die prinsiepe daarvan afwyk nie

want ek sien U in alles,
in elkeen se gesig,
selfs in die vroeë lente
in elke seisoen, tyd en plek:

Selfs in die blou lug is daar lof wat U besing word
asof alles pragtig tot U getrou bly.

Die Rots

Uitgestorwe spesies is tot in ewigheid
vasgevang in klip
en die Mastodon, Compsognathus, Archaeopteryx
is vir ewig gevries en versteen soos plante
en see lewe begrawe in skalie,
kalksteen en sandsteen.

Tog is die rots der eeue
nog my skuilplek
van die impak van die noodlot
in ‘n wêreld van sonde
waar die verwoesting van die lewe
in wil kom

en net deur Sy offer
is ek totaal vry.

Op ‘n stormsee

Toe die see se golwe
groter word en die wind
stormsterk begin waai,
het die boot nie meer gevaar
en het dit op en af gedeins in die golwe
wat dit dobberend rond klap.

Die manne was dood bevrees
terwyl die Christus
op die see tussen reuse golwe rondstap,
bang om te sink en te verdrink
en ook dat hulle ‘n spook
daar op die water gewaar,

maar Sy kalm stem het alles laat bedaar
die wind, golwe, see en mense se vrees.

Een donker nag

I

Een donker nag
is die skape onrustig
en kan glad nie slaap nie,
maar daar’s geen wolf
of leeu of ander ongedierte
wat hulle probeer vang
en daar’s ‘n vreemde lig
wat hoog saam met die ander sterre hang.

Dis asof die hele veld rondom ons
wag op iets mistiek om te gebeur
en al die wilde diere wakker is
en hier en daar
slaan donder flitse wit blou
uit ‘n oop getrekte hemel neer.

II

Terwyl dit gebeur
sit ons bekommerd
om ‘n helder warm oranje kampvuur
waarop ons gedurig
nog stompe pak
en tuur die duisternis in
en wonder wat kom?

Skielik verskyn ‘n magtige wese
met verblindende lig omring
en dis duidelik dat hy vanaf
die Allerhoogste kom
en ons is stom van vrees
en bang om in die teenwoordigheid
van ‘n heilige te wees.

III

l’Envoi
Sy stem is helder en duidelik
en klink meer suiwer
as klokke wat lui
en hy vertel van ‘n kind
wat gebore is,
‘n Seun,
wat genoem word:

Raadsman, Sterk God, Ewige Vader
en Vredevors
en dat Hy die Christus en Messias is.

In Bethlehem, net oorkant die heuwel
sal ons Hom in ‘n krip
tussen die vee
in doeke toegedraai vind.

[Verwysings: Lukas 2: 8-17, Jesaja 9:5.]

Simposium

Ons wou nog praat en wysbegeer
oor dit wat was en kom en is
en vanuit dit alles iets leer,

maar my woorde word stom
terwyl buite ’n donderbui opkom
en ek bliksems
met lang vingers
blou strepe sien trek

en tussen die stemme gedruis
ek binne ’n brommer
om en om hoor vlieg
vasgevang in sy eie wentelbaan
waar ongedrinkte koppies koffie staan

l’Envoi
en toe wonder ek
wat die mens werklik weet
en is ons tyd nie hier
ook maar uit gemeet
tot ’n bepaalde dag, uur,
minuut en sekond

en terwyl ons dink ons weet
dwaal ons ook maar blindelings
op hierdie planeet rond

en in die lug
hoor ek die werke
van die Almagtige se hande knal
voor die eerste reën druppels
verkwikkend val.

Kain

Abel se offer het God geseën
maar syne nie en met woede vervul
het hy gesien hoe sy broer smul
in die genade wat van hemele af neer reën

en enkel het hy gestaan as die een
wat geknou en in woede brul
slaanend hou op hou waar sy broer in pyn krul
tot sy lewe wyk, hy leweloos versteen

en God self as regter ‘n vonnis fel
en hy verhard
sy besittings optel
en begin lewe in vloek en smart

en die dieper pyn
van sy broer se moord, nooit werklik verdwyn.

Judas

Hoe graag wou hy Hom
koning van die wêreld maak,
Hom dwing om polities, nouer betrokke te raak.
Maar die Godseun bly stom,

roep geen engele om Hom te hulp te kom
en in daardie donker nagwaak
brand fakkels vel terwyl Judas sy taak
tot vervulling bring, soldate om Christus saamdrom

en skielik weet hy dat Sy reik van ‘n ander wêreld is,
dat Hy liefde en opoffering
uit laat kring tot ‘n nuwer dieper betekenis,
dit as Sy grootse offer bring
en Hy kyk na hom wat Judas is met diep deernis
terwyl Sy liefde deur alle dinge dring.

Ek, die onbekende soldaat

Die son het fel neer gebrand
toe Hy amper neerslaan
op ‘n onbekende verbyganger het ek my hand
en my bevele gelê, toe Hy na Sy kruisiging gaan.

Die bloeddorstige skare en ek het op Hom
ons vloeke, uittarting en vernedering gestort
maar Sy oë het tot in my siel gesny en Hy was stom
met gelantenheid wat onoortreflike liefde word

en toe ek die groot hamer vat, met spykers hom deurboor
die kruis met makkers plant in ‘n gat en hom so hang
het donders neergeslaan, die natuur sy wette verloor
en ek was as ‘n soldaat, ‘n blote mens vasgevang

aan ‘n daad wat ten hemel skrei
waar ek God self kruisig en Hy vergewe my.

[Verwysing: Ek, die onbekende soldaat deur Ernst van Heerden.]

Die reuse storm

Ek het die Here God sien visvang
terwyl ons seil
op ‘n stormagtige see

en reuse golwe het verpletter
terwyl Hy sy lyne ingooi
dit hier en daar land
en later omtrent orals val.

Die lyne van God was blouwit
het treffend geval op die oseaan
en sommige op die boot
terwyl die storm ons ruk,
heen en weer rondgooi
was die skip byna uitmekaar gepluk.

Sy lyne het ingedonder en die water geknetter
waar hulle val
en op teen pikswart wolke gerys

en geen stormwind, geen bruisende stormagtige see
kon sy wil ontken
terwyl Sy lyne
met donderende vlamme inkom

en ek het opgekyk in die weenende lug
met reën wat teen my pletter,
wou ek Hom sien
en het die see hoor skreeu
in sy woede, die stormwind gesien
wat die seile in stukkies ruk

en in plaas daarvan het die storm gewyk
met ‘n groot reënboog
helder teen die horison voor ons
en Sy lyne was almal weg
en ek het gekyk
maar nie een meer gesien nie
en die skip het ‘n nuwe roete gevolg
om ‘n hawe te bereik.

By die Rooi See

In die verte sien hy hulle kom
strydwaens wat die horison vul
en die gedreun van perde hoewe
word al harder soos wat
hulle al nader kom.

Vasgevang teen die diep blou see
en die woestyn
staan manne, vroue en kinders
reg rondom hom
en angs is in hulle oë
vir die wraak van Faro
wat homself gelyk aan God ag.

Hulle blikke is weg
van die wolk wat skuiling gooi
en vanoggend se manna
wat lekker soet op die lippe was
is ook reeds vergeet
en die meeste is vas oortuig
dat hy hulle
in die verderf in lei.

Perde runnik veel nader
as hy die see
met sy magtige staf slaan,
die see oop kloof
en walle water oop gly
en aan twee kante gaan staan
sodat ‘n droë pad
regdeur na die anderkant toe gaan.

Daar’s donders wat onheilspellend
uit die wolk bo hulle uit slaan
en ‘n sterk ooste wind
wat water sproeiend
van die see soos dampe reën
na die vyand toe waai.

Terwyl Faro en sy soldate
hierdie dinge sien
kom hulle met volle vaart
met die pad deur die see aangejaag
waar hulle in die middel
van die waters vasval
en die laaste van Moses
se mense is deur
en hy lig sy oë na bo
waar daar nou meer donders
uit die wolkkolom kom.

Toe strek hy sy hand uit
oor die rooi see
en hou daardie magtige staf
op in die lug

en orals slaan
daar bliksems oor die see
en meteens breek die walle water
met woedende krag
en vyandelike waens en ruiters
en perde en manne is weg,
deur water bedek
en elkeen daar
weet van waar
hulle redding kom.

[Verwysing: Exodus 14:1-31.]

Liewe Maria

Toe daardie baba seun gebore is
in ‘n stal tussen plaas diere
en die Seun van God
Sy eerste skreeu gee,
wat het jy gedink
eerbare maagdelike vrou?

Toe Hy Sy eerste woorde praat
wat jy aan Hom geleer het
en die eerste tree neem
op wankelende bene
watter woorde het jy in vreugde gesê?

Toe Hy uit die heilige skrif praat
en in opregtheid God aanbid
en as ‘n tiener,
geleerde priesters in die tempel leer
watter gedagtes het deur jou gegaan?

Toe Johannes Hom doop
en die duif verskyn
en God sê
“dit is My Seun,”
was daar trane
van liefde in jou oë.

Toe Hy as ‘n onskuldige mens
verhoor is,
gekroon in stekende dorings,
geslaan, ontklee
en aan ‘n kruis
vasgespyker is
was daar hoop
tussen die trane
in jou oë?

Toe die son uit die lug uit wegvlug
en die aarde protesteer
deur oop te skeur en te bewe
dat die mens in onmenslikheid
die Skepper vernietig het
en sy hand aan God gelê het
en selfs ‘n heidense soldaat geweet het
dat die Seun van God gesterf het,
watter pyn het deur jou moeder hart gegaan?

Maria Magdelena

Terwyl daar duister nag om my vou
wag ek op U,
wat kon spreek
en die storm wyk
terug in die see in.

Met tye wonder ek waar
my liefde vir U begin het,
of was ek daarmee gemaak,
sodat u donkerbruin oë
die dieptes van my hart
kon ken en soos geen ander
kon aanraak
en my weer heel
en bly en vry
van sonde kon maak?

Met elke slag wat daardie hamer
teen die kruishout maak
en elke spyker
wat regdeur U vlees skeur,
het ek pyn
soos nooit te vore geken
en in my siel
het die donker dieptes
met U dood weg gesterf.

Op ‘n tyd kon selfs my granaatrooi lippe
en vol ronde borste
geen indruk op U maak
en het U heiligheid
en onvoorwaardelike liefde
diep in my hart geraak,
sodat ek met nardussalf
U voete af moes was
en in needrigheid
met my hare
die voete van die Seun van God
droog kon maak.

Terwyl die môre son
rooi aan die horison sit
wag ek op U,
om weer na hierdie wêreld
terug te keer
as die koning en opperheer.

Maria Magdalena [2]

Toe sy Hom daar aanskou
waar die dood Hom nie vas kon bind
met liefde wat uit Sy gesig uit straal
was sy geseën onder elke vrou.

Half verleë wou sy aan Hom raak,
Hom vir ‘n oomblik haar eie maak
en sy het in die oë van God gekyk
en ‘n ewigheid het vir haar verby gegaan
terwyl sy voor die Here staan.

Simon Petrus

Dit was donker in die tuin
daardie nag wat Judas
en ‘n groep soldate en amptenare
met knuppels en swaarde nader kom
en ek Judas Christus sien soen en hoor sê:

“Wees gegroet Meester”
en toe vra die Here:
“Vriend, waarom is jy hier?”

Maar dit was duidelik
dat Judas hom verraai
en toe Malchus met ‘n groep soldate
op Jesus afstap en Hom gryp
het ek my skerp swaard getrek
en sy oor af gekap
en hulle probeer terug dryf.

Die Here sê toe vir my:
“Petrus, sit weg jou swaard
of jy sal daarmee sterf. Weet jy nie
dat my Vader
twaalf legioene engele sal stuur
as ek Hom vra? En sal ek nie doen
soos wat Hy beveel nie?”

Die Here het die oor
van die grond af opgetel
dit aan Malchus se kop vasgesit
en aan die skare gevra:

“Is ek ‘n rebelle leier
dat julle gewapen met knuppels en swaarde
na my toe kom? Toe ek dag na dag
by die tempel onderrig het,
het julle my nie kom arresteer nie.”

Hulle het Hom vasgebind
en net ek en Johannes
het Hom gevolg na die huis van Annas

en Johannes het ingegaan
aangesien die hoëpriester hom geken het
en ek het buite gewag,
maar dit was koud
en toe bring Johannes my ook in.

Die meisie op diens by die deur
vra toe of ek een van Jesus se dissipels is
en ek ontken dit toe, want ek was bang
dat hulle my ook sou arresteer en vang.

Dit was baie koud en ek het gebibber
en het nader aan die vuur gestaan
saam met amptenare en bediendes
om myself warm te maak
en gesien hoe ‘n amptenaar
Jesus in die gesig klap.

By die vuur het een van die amptenare gevra
of ek nie een van Jesus se dissipels is nie
en weer het ek dit ontken,
aangesien hulle baie gevaarlike manne was.

‘n Familielid van Malchus daag my toe:
“Het ek jou nie in die tuin gesien nie? Is jy
nie ‘n Galiléër nie?” En weer het ek dit ontken
en toe kraai ‘n haan
terwyl die Here na my toe draai
en na my kyk
en ek onthou Hom sê:

“Voor die haan vannag kraai
sal jy my drie maal verloën”
en ek het niks behalwe liefde
en begrip in Sy oë gesien.

Ek wat gereed was om Hom te verdedig
met ‘n ontblote swaard
was nie dapper genoeg
om te erken dat ek Sy dissipel is

en my hart was vol smart
en ek het uitgegaan, in daardie koue nag in
en bitterlik geween en gehoor hoe daardie manne
Hom spot en slaan.

Visvangs

Hulle het die seile van hulle bote laat val
naby aan die oewer van die see van Galelea
teen vroeë oggendlig
en hulle oë het van moegheid gehang
waar hulle die hele nag lank
ter vergeefs gewerk het
en hulle was besig om nette te was
terwyl die son warm rys
in ‘n blou wolklose hemel.

Van vêr af het ‘n skare mense
nader gekom en was besig
om ‘n heilige man te volg
en na hom te luister
en hy het in een van die bote geklim,
vir Simon gevra
om ‘n entjie van die oewer af te vaar
en gaan sit
en die mense uit die boot uit geleer.

Die vissermanne het opgehou werk
en aandagtig begin luister
na die pragtige dinge wat hy vertel
en daar was hy toe
net nog ‘n man vir hulle
en dalk ‘n groot profeet.

Hy het Simon aangesê
om dieper in te vaar
en die nette uit te gooi
vir ‘n vangs.

Simon het sy kop geskud
en verduidelik
dat hulle die nag lank
ter vergeefs probeer het
maar iets omtrent hierdie heilige man
het hom laat gehoorsaam.

Toe hulle die nette opbring
was daar te veel visse
vir die nette om te hou
en moes hulle, hulle makkers
om hulp vra
om nog ‘n ander boot te bring
en beide bote was gevul
verby wat hulle kon dra

en toe weet Simon skielik
dat die Seun van God
saam met hulle vaar
en het op sy knieë geval en uitgeroep:
“Gaan weg van my af, Here,
want ek is ‘n sondige man!”

En die vissermanne was verras
oor die groot vangs wat hulle gemaak het
en Jesus het gesê dat hulle van nou af
mense sou vang
en hulle het hulle bote
aan die oewer gebring,
en alles daar laat staan
om saam met Hom te gaan.

[Verwysing: Lukas 5:1-11.]

By Betésda

Ek lê hier uitgelewer aan my lot
voor mens en God
en niks gebeur keer op keer
en jaar na jare

asof die Here geen kragte het
my nie raak sien nie,
of ek Hom nie getrou genoeg dien nie

en waarom ek hierdie straf moet dra
het ek lankal al aan almal gevra
en hulle meen dat dit uit sonde is
maar weet nie werklik nie,

en ek weet nie mooi
waar en wanneer ek verkeerd
gedoen het nie
en dis reeds agt en dertig jaar

en as daar net ‘n roering
in die water is
wil almal in
en soms word party genees
maar net nie ek nie
want niemand help my in nie
en ek’s al byna sonder hoop,

maar toe kom daar
‘n wonderlike dag
wat ‘n man my
by die bad van Betésda kry
en hy sê vir my:
staan op, vat jou bed en loop

en iets in sy oë
die manier wat hy na my kyk
laat al my pyn, die verlamming wyk

en ek het skielik krag
en is genees
en dans daar uitgelate
voor Hom rond.

Hy vind my toe weer in die tempel
en toe weet ek dat Hy Jesus, die Christus is
en net daar
wil ek ‘n gesprek
met elke ander mens aanknoop
en hulle van Hom vertel.

Jona

Ons vaar ‘n kalm see in
en is vêr weg van land
toe daardie hewige storm begin,

maar onder in die ruim slaap ek vas
en toe ek wakker word
hoor ek manne op en af hardloop

en toe buk een oor my
met ‘n helder olielamp in sy hande
en die skip ruk met elke golf

wat dit tref en ander wat bo oor breek
en ‘n hand word na my uitgesteek
en ek word regop geruk.

Op die dek sien ek donders
orals om ons blits en die wind
huil asof dit besete is

en die stuurman skreeu bid man bid
en dalk sal jou god jou hoor
want ons is klaar gebid en gesmeek

en hierdie skip gaan netnou
hier onder ons in stukke breek
en die skip kraak, sidder

en tuimel op en af
toe die kaptein vir ‘n dobbelsteen vra
en die loot op my val

met winde wat huil en weerligte wat knal
en die see wat onstuimig bruis
word ek in die water in gesmyt

en terwyl ek wegsink en dink dat en nou
gaan verdrink, bid ek smeek om U hulp
en ‘n groot vis sluk my daar in,

sommer so ‘n reuse ding
en toe dink ek nou sit my turf werklik,
toe neem U nog ‘n Gods besluit

en smyt my toe uit
dat ek by Ninevé
weer die lig aanskou.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed