Jongste aktiwiteit:

AS DIE GORDYNE OOPGAAN

AS DIE GORDYNE OOPGAAN🎭

Ek’s seker baie dinge; maar helemal reg in my kop is nie een daarvan nie. My vrouweesgemaak is blêrrie cheeky en partykere se soms helemal te veel vir my arme konstitusie.
Veral deesdae vandat sy en my wise-ass hart besluit het om sommer oralster konsert te hou. En ek’t elke keer ‘n ringside seat – sonder om eers n draai te maak by Computicket😁
JaJa, die pligte en plesiere van vroumenswees…….en van ‘n wise-ass hart wat kortkort vir my knipoog van onder uit ‘n misterie-sluier, my terg en skaamteloos verlei om ‘n piekniekmandjie te pak en langs ou voetpadjies te gaan loop wat ongekaart is. Albaster te speel saam met my albastertjommie (Petrus – ja; soos in die dissipel Petrus) en ‘n klompie Sho’t Leftengeltjies. Sommer net wegverloor te raak iewerster bittersoet deurmekaar spore te volg in die enigmatiese labarinte van vrouwees.
Ek…….Ekke loop verby ‘n glimlag; raak aan die malse vreugde van ma-wees – dêps die wondergeheim van ‘n tjoklitbeksoentjie en steek dit weg tussen die blaaie van my hartsjoernaal. Proe bietjiebietjie aan my ma se souskluitjies; bang dit word klaar. Sal altyd en nog n bietjie na haar bly verlang – my magic-ma. Gaan loer weer skelm na Sarie se trourok wat ek toe nooit aangetrek het nie. Dis als daai blerrie 2gat jakkals van ‘n elcheappo se skuld.
Raak saggies aan die huil oor my kinders in die Hemel. Laya… Ruik weer die paramedic se skerp aftershave toe… Toe hy gesukkel het om my dooie kind se armpies om my nek los te kry.
My Monja-kind wat soos ‘n klein dogtertjie weer op my skoot klim; want haar gesig verlang na haar ma se butterflykisses. Haar vingers wat kon toor met n kitaar; met woorde.
Kniel by die einawilde pyn van Saron en Wesley se onthou….Verder krinkel-kronkel die pad.
Verder. Ek loop verby dinge wat verby is maar nog nie klaar is nie. Sommer net dinge; goeters….Voel weer daai onbeskryfbare lekkerte en onbevange blydskap toe my voete na so baie jare weer kon sporemaak in die seesand. Die branderbreek oor my voete, my bene; my wees. Enne die bitterseer om totsiens te moes se vir my berg en see.
Ek kry Righ – my stukkie persentgekry Liewe Jesus in ‘n mensvel – om die draai van ‘n wilde-wit Jasmyn. Onthou die heeleerste keer wat hy my gesoen het. In my hele-ganske lewe was ek nog nooit SO gesoen nie – wow!! My vingers volg die sterk kontoere van sy gesig. Raak weg in die veilige toevou van sy arms. My hart en my lyf; my toetentale vrouweesgemaak sal maar altyd na hom bly soek.
Ekke word weer Laika – die Koningin van Faikonta. Eet Sunsparkle biscuits en hou saam met Anna (dis nou die waterprinses) Low Tea, en luister met ‘n Dronkmatroosbessie of 2 in die kies na Faikonta se eie persoonlike BoyBand: Arriegewarrie en die wilde Tortias se nuutste treffer:’ Aanstap vlooie die hond is lank en maer. Ennne…
Of wag; voordat ek iemand niemand in die versoeking dompel om van pure verveling iets ê… polities inkorrek te doen; sal ek maar liewersters tula. Omdat en oordat, netnou se nounou-maar word my vrouweesgemaak en my wise-ass hart van die verhoog af geboooooo.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag jou dag ‘n stukkie Hemel-plagiaat wees.
©Liza Daniells




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed