Jongste aktiwiteit:

Die Wilde Vlamlelie

Ek het ‘n diep teug lug probeer inasem. Ek wou elke reuk in die wêreld inneem.

Ek het dit gemis.

Dis snaaks hoe dit die mees vanselfsprekendste dinge is, wat jy die meeste mis. Reuk. As ek nog net eenkeer iets – enige iets – kon ruik. Jy besef dit nie, maar reuke is betowerend. Al die reuke wat so oud soos die wêreld self is. Duisend geure van duisend plekke. Soos die bekoorlike aroma van dennenaalde. Die reuk van vars brood uit Ouma se kombuis wat jou kindwees met heimwee vasgevang het. Die kruierige geur van laventel wat ‘n kalmte oor jou bring. Die heerlike aroma van ‘n bottel Nescafé Classic as jy die seël oopskeur. Jou Ma se Red Door parfuum – iets tussen rose en lemoen – wat jou geliefd laat voel. Pa se Old Spice wat jou veilig laat voel…
Reuke het die mag van heimwee, herinneringe en emosie, soos nie eers ál jou ander sintuie sáám kan uitlok nie.
Híér het ek verwag om die geur van nat grond, bas en mos te ruik. Die lelies. Dalk.

Die werklikheid was seker die stank van ontbinding wat alles oorheers.

Maar ek kon niks ruik nie. Was dit wat voorgelê het? Niks? Die antwoord het agter die deur gelê.

*

Dit het alles begin toe ek die deur vir hom oopgemaak het. Hy was ‘n kort man, tog gespierd – in so ‘n mate dat hy intimiderend gelyk het, ongeag van sy statuur. Sy gesig was soos die van iemand wat die held in ‘n romantiese komedie moes wees. Gitswart hare. Skoongeskeer. Sy donker oë het byna onnatuurlik naby aanmekaar gesit. Ek het in my binneste gegiggel vir my Ma se waarskuwing om niemand te vertrou wat se oë naby mekaar sit nie.
Hy het verduidelik dat hy ‘n nuwe intrekker in die woonstel langs myne was, en het homself net kom voorstel.
Nick.

Ek het hom ingenooi vir ‘n koppie koffie. Hy het gemoedelik gesels, maar my gedagtes was nie by sy woorde nie. Ek was betower. Hy was ‘n god. Die perfekte balans tussen sjarme en misterie; dalk ‘n titseltjie gevaar. Hy was terselfdertyd fassinerend en ontoeganklik. Ontasbaar vanweë sy ooglopende foutloosheid – verhewe bo ons gewone sterflinge. Hy het so ‘n karaktersterkte gehad, dat hy eintlik ontstellend aantreklik was in ‘n aanloklike en verbode manier.
Dit was liefde met die eerste oogopslag. Nick.

*

Ek het haar vlugtig gesien toe ek my deur oopmaak en sy verby gestap het. Dit was net ‘n oomblik in die eindeloosheid van tyd, maar dit het gevoel soos ‘n ewigheid. Ek kon my oë toemaak en elke moontlike detail van haar herroep. ‘n Bos bloedrooi hare wat soos lawa uit ‘n vulkaan gevloei het. Gevaarlik maar fassinerend. Haar soepel lyf onder die sonrok het gesmeek om verken te word – ‘n hipnotiserende wonder. Daar was ‘n vonkel in haar groot groen oë wat my uitgedaag het om lank genoeg daarin te staar, sodat ek die bron van die lig kon vind. Haar lippe… Dáái lippe. Bloedrooi. Soos die vlamlelies wat wild langs die rivier gegroei het. Sy was beeldskoon. Ek was verkneg asof sy ‘n vloek oor my uitgespreek het.
Dit het my gewalg.
Dít was terug.
Ek het gedog ek het Dit oorwin. Ek het weggevlug met die hoop om nuut te begin. Maar Dit was terug. Dít het my weer gekry en nes geskrop in die bekende.

*

Ons romanse het vinniger gebeur as wat ek ooit kon voorspel. Hy het my meegesleur met sy sjarme en die betowering van onvoorwaardelike – blinde – liefde. Die een dag het in die volgende gevloei sonder dat daar enige keer daaraan was. Dit was asof ons liefde vir mekaar die mees natuurlikste ding op die aarde was. Soos asemhaal.

Dit was nie net die manier hoe hy na my gekyk het nie; met ‘n mengelmoes van smagting en wellus in een deurdringende blik. Dit was ook nie sy voorkoms nie, hoewel ek elke oomblik elke sentimeter van sy lyf ingeneem en sinnelik met my oë geniet het. Dit was nie die diep donker poele in sy oë, die harde lyn van sy kakebeen of die kuiltjies in sy wange wanneer hy daardie magnetiese glimlag vir my geflits het nie. Ook nie die raafswart hare met ‘n enkele krul wat altyd voor sy oog geval het nie. Ek kan nie met eerlikheid sê dat dit nié enige van daardie bekoorlikhede was nie.
Ek dink wat my die hardste van alles getrek het, was die manier hoe hy my laat goed voel het oor myself. Hy het my gesien met ander oë. In my eie oë was ek lelik. Dalk nie lelik nie, maar waaragtig nie sag op die oog nie. Gewoon. Vervelig. Niemand van belang nie. Maar hy het my soos ‘n godin laat voel. Hy het my goed genoeg geag om in sy heilige teenwoordigheid te kon wees.

Ek het die hekke van my hart met oorgawe oopgegooi. Ek was syne.

*

Ek het begin ongeduldig word. Nee. Nie ek nie. Dít. Dít is ‘n Roofdier wat moontlik uit die donker dieptes van die verste uithoek van die kosmos gekom het. Dít het die heerskappy van my lewe geneem. Ek kan nie sê presies wanneer nie. Een dag was Dit nie daar nie. Die volgende dag was dit. Ek is sy gevangene. Die Roofdier is my heer en meester. Ek is totaal hulpeloos in sy teenwoordigheid. ‘n Dienskneg vir sy wil.
Ek het al vele male probeer ontsnap. Maar sodra ek probeer protesteer of rebelleer, onderdruk het Dit my soos ‘n slaaf onder die sweep, in plek gehou word. As ek vir ‘n oomblik onafhanklik wou optree, het Dit my herinner dat ek geen vrye wil het nie. Ek was ‘n gevangene.
En nou. Nou wou dit haar hê. Die Roofdier het alles wat mooi is gehaat. Skoonheid moes verwoes word.
Nóú.

Die wilde vlamlelies was besig om oop te maak. Die tyd het aangebreek.

*

Ek het die briefie vroeg die Sondagoggend by die deur gekry. Die reuk van sy duur, manlike naskeermiddel het oor die papier gehang, en ek het vir ‘n oomblik – in ‘n dwaas – met toe oë aan die brief geruik, voordat ek dit oopgemaak het. In ‘n netjiese handskrif het hy ‘n misterieuse boodskap geskryf. Hy het gevra dat ek hom moet ontmoet vir ‘n piekniek daardie middag. Onderaan het hy ‘n gedetailleerde kaart geteken van ‘n staproete om by die geheime bestemming uit te kom. Ek het breed geglimlag, en die brief teen my bors vasgedruk en in die rondte gedraai. Soos ‘n skoolmeisie. Belaglik. Die middag sou perfek wees. Die mees romantiese oomblik in die geskiedenis van tyd. Ek was gereed om myself vir hom te gee. Hy sou my eerste wees.

*

Ek het die nuwe kombers oopgegooi en reguit getrek. Die kombers sou net eenkeer gebruik word. Die Roofdier het op en af geloop, soos ‘n maanhaarleeu in ‘n dieretuin wat na die vlaktes van die savanna smag. Die beeld van haar was konstant in my geestesoog.
Beeldskoon. Aanstootlik. Verruklik. Gruwelik. Die Roofdier het my egter gekeer om jammer te voel vir haar.
Die wêreld behoort aan roofdiere. Dit het nog altyd. Dit sal vir altyd. Dit is maklik om die feite te vergeet, veral wanneer jy agter toe deure is; beskerm deur ligte en soliede mure. Die roofdiere wag egter dat jy net een tree na buite sal gee. Die kat-en-muis speletjie was eintlik lagwekkend maklik. ‘n Stadige jagtog so geleidelik dat die prooi nie eers besef het dat sy gejag word nie, en uiteindelik sou sy doodeenvoudig net gaan lê om verskeur te word.

*

Ek het nog ‘n sluk van die rooskleurige wyn geneem en met ‘n oorweldigende ekstase ‘n diep teug van die geurige reuk van blomme en die skoon van die kabbelende stroom, ingeasem. Om my het die vlamlelies geblom. ‘n See van rooi. Soveel rooi. Bloedrooi orals om my.
Hy het agter my gesit en my in sy sterk arms vasgehou. Hy het my in my nek gesoen voordat hy opgestaan het.
“Maak toe jou oë.”, het hy geheimsinnig gesê. Die heiligheid was weg. Ek kon dit in sy stem hoor. Dit was ‘n toon wat die fyn haartjies oral op my lyf laat regop staan het. Maar ek het dit ignoreer. Vroue word konstant gewaarsku teen roofdiere. My verstand het geskreeu: Hardloop prooi, hardloop. Maar my hart het alles geïgnoreer.
Ek het my oë toegemaak en soos ‘n stout kind gegiggel. Ek het Nick hoor beweeg agter my. ‘n Oomblik van stilte. Toe ‘n skielike onkeerbare duister, pyn en duiseligheid. Ek het my oë verskrik oopgemaak. My ore het getuit. Ek het op my rug gelê en Nick het oor my gestaan met ‘n groot klip in sy hande. Hy het dit bo sy kop gelig, iets gesê en die klip met mening afgebring na my gesig.
Iets gesê. “Alles wat mooi is, moet sterf. Hy beveel dit.”
Hopeloosheid en donker het my oorweldig. Dit het my siel vasgegryp soos die kloue wat ‘n tier in sy prooi slaan.

*

Ek het die rots bo my kop gelig. Die Roofdier het gebrul. Hy was in sy element.
“Alles wat mooi is, moet sterf. Hy beveel dit.”
Die vonkel – daardie ondeunde lig – in haar oë was weg.
Met krag en oormag het Die Roofdier aangeval en vernietig. Haar skedel het soos ‘n granaat oopgebreek. Die binnekant was net so bloedrooi soos ‘n granaat.
Die opdrag was voltooi. Die skoonheid het gesterf. Maar Die Roofdier het oorgeneem terwyl ek hulpeloos eenkant staan en kyk het. Weer is die klip afgebring. En weer. En weer. En weer.
Die eens pragtige wese was nou ‘n bebloede gemors. Stukkies been. Vleis. Hare. Bloed.
Rooi. Rooi. Rooi.

Die vlamlelies het skaam hulle gesigte weggedraai, want nie eers hulle was só rooi nie.

*

Ek dink ek het haar in die kombers toegedraai. Ek dink ek het haar in die vlak graf gegooi. Ek dink ek het haar bedek met grond. Het ek?
Ek het die kraan oopgedraai en die rooi van my hande probeer was, maar dit het bly sit asof dit deel was van my vel. Ek het deur die trane geskrop en geskrop. Ek was nie meer seker of dit haar bloed of my eie bloed was nie.
Die Roofdier het tevrede spin-geluide gemaak, uitgestrek – vol gevreet.

*

Die dood was heeltemal anders as wat ek verwag het. Seker nie dat ek geweet het wat om te verwag nie. Dit is asof daar ‘n oop deur was en ek het deurgestap en ek was in ‘n ander vertrek. Ek sê maar vertrek want ek weet nie wat die regte beskrywing is nie.
En dit was dit. Ek was dood.
Daar is geen wenner of verloorder wanneer dit kom by die dood nie. Almal is gelyk. Almal moet aan die einde van die dag sy finale bevel gehoorsaam. Tog voel ek soos ‘n verloorder. Dit was onregverdig.
Ek was bewus dat ek iewers in die teenwoordigheid van my gebroke liggaam was. Asof ek deur ‘n baie vuil venster die wêreld, daar my graf, net-net kon uitmaak. Die rivier. Die mos. Die bloedrooi vlamlelies. Die hoop grond.
Daar was nog ‘n deur. Dit het my geroep. Genooi om verlos te word. Maar ek was nog nie gereed om aan te beweeg nie.

Die storie was nog nie klaar nie.

*

Inspekteur Grobler het stadig deur die woonstel gestap. Dit was die derde dag in ‘n ry wat hy die hele dag in die woonstel spandeer het. Daar móés leidrade wees. Die meisie kon nie net so verdwyn nie. Niks in die woonstel het daarop gedui dat sy nié sou terugkeer nie. Maar dis nou al vyf dae vandat haar ouers haar vermis aangegee het. Spoorloos.
Grobler het met ‘n sug op die bank neergeplons en na ‘n vuil kol op die plafon gestaar. Wat het hy misgekyk? Die forensiese span het ook niks gekry nie. Sy gedagtes het gemaal opsoek na iets, enige iets…
Skielik het die polisieman bewus geword van ‘n reuk. Hy het sy oë toegemaak en toegelaat dat sy neus die boodskap stuur na sy verstand. Dat sy verstand die regte herinnering oproep en die antwoord bied.
Die antwoord het vinnig gekom. Vlamlelies!
Die geur het die inspekteur vir ‘n oomblik teruggeneem na sy ma se tuin waar die vlamlelies welig gegroei het. Vir ‘n oomblik was hy weer die onskuldige seuntjie onbewus van die wreedheid van die wêreld.
Grobler het opgestaan met ‘n frons. Waar sou die reuk vandaan kom? Hy sou tog vroeër die week al die reuk opgemerk het. Hy het weer deur die woonstel begin loop, en in haar slaapkamer se drempel tot stilstand gekom. Die reuk was byna oorweldigend in die vertrek. Sy geoefende oë het oor die vertrek gevloei soos water. Toe vang sy oog het iets bloedrooi op die bedkassie. Hy het nader gestap, die rooi blom opgetel, daaraan geruik en toe teer tussen sy vingers gerol. Waar sou dít vandaan kom?
Hy het afgebuk en noukeurig na die juwelekissie waarop die blom gelê het, bestudeer. Toe sien hy dit uiteindelik raak. Byna onopsigtelik was die naat van ‘n laaitjie aan die onderkant van die kissie. Die inspekteur se hart het vinniger begin klop. Hy het ‘n paar rubberhandskoene aangetrek en die laaitjie versigtig oopgetrek. Binne in die laaitjie was ‘n pakkie briewe. Hy het die boonste gevoude papier opgetel en ‘n sagte reuk van naskeermiddel opgemerk. Of was dit vlamlelies? Hy het die brief eers vinnig, en toe ‘n tweede keer baie stadiger en noukeurig gelees.
Dit was al wat die polisieman nodig gehad het om sin te maak van alles.
Waar. Wanneer. Maar die belangrikste was wie.
‘Liefde. Nick.’
Nick. Die buurman.

*

Nick het geglimlag. Die boeie was dalk om sý hande, maar hy het ook geweet dat die kettings om Die Roofdier se kloue was. Die Roofdier het wanhopig gemaal, opsoek na ‘n uitkom kans. Maar Nick sou Dit nie toelaat om te ontsnap nie. Nooit weer sou Dít kon verwoesting saai nie.

*

REEKSMOORDENAAR VASGETREK

Nick Clay, ‘n 30-jarige man van Port St. Johns is Vrydag in hegtenis geneem in verband met verskeie moorde. Die inhegtenisname het gevolg na ‘n polisie ondersoek om die vermiste Me. Lily Feuer op te spoor. Feuer was Clay se buurman in ‘n woonstelbok in Ferry Point. Die soektog het die polisie gelei tot by verskeie grafte langs die Ntloloba rivier in die Silaka natuurreservaat. Teen die tyd van publikasie was die oorskot van veertien mense, vermoedelik almal vroue, in vlak grafte langs die rivier gevind. Volgens Inspekteur Daniel Grobler verskeie sake teen Clay oopgemaak. Bewyse dui daarop dat Clay moontlik verantwoordelik vir die verdwyning van vele jong vroue in die Port St. Johns en omliggende distrikte was. Inspekteur Grobler wou egter nie uitbrei nie, aangesien dit ‘n voortgaande ondersoek is.
Een van die lyke wat gevind is, is vermoedelik die van Lily Feuer wat sedert Sondag al vermis is, maar forensiese toetse moet nog gedoen word om die identiteit te bevestig. ‘n Verteenwoordiger van die Feuer familie sê dat Lily se ouers hoopvol wag vir die uitslae van die forensiese toetse, maar as dit wel Lily is, hulle haar ten minste met respek en liefde tot ruste kan neerlê. Lees meer op bladsy 3

*

Ek het opgewonde voor die wagtende deur gaan staan. Ek het geglimlag want ek het geweet wat agter die deur was. Die Roofdier was gevang.
Die vriendelike man langs my het my hand gevat.
“Kom. Dis tyd.”, is al wat hy gesê het. Dit is al wat nodig was.
Hy het die deur oopgemaak en ‘n oomblik gewag dat ek alles inneem. Ek was oorval deur die reuk van spookasem by ‘n kermis. Die reuk van karamel voor jy jou tande in ‘n blokkie fudge slaan. Die reuk van eerste reën wanneer die aarde stowwerig en dors is. Die aroma van die oseaan se fyn sproei wanneer die golwe magtig teen rotse slaan. Red Door. Old spice.
‘n Rustige vrede het oor my gekom. Hierdie was nie ‘niks’ nie. Definitief nie.
Die man het deur die ingang gestap en ek het gevolg.
Ek het my vergaap aan die wit lig wat oënskynlik uit hom gekom het.
En sy vlerke.
Pragtige, wit vlerke.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed