Jongste aktiwiteit:

Hennie du Toit
vir

Hennie du Toit

Lees meer oor Hennie du Toit

BRONS KLAS

September 2023 – OOP projek

3.Maria

Maria,
het jy geweet en het jy verstaan
toe die Heilige Gees langs jou kom staan het.
Mense het gepraat
en geskinder oor jou
en die seun
wat jy sou verwek.
Met ongeloof en gelag
is jy aangestaar
toe jy aan hulle openbaar
dat jy as maagd jou kind sou baar.
Maria,
het jy geweet en het jy verstaan
dat hierdie seun anders sou wees,
gebore, nie deur ‘n man,
maar verwek deur die Heilige Gees?
Toe die mense oor hom begin praat,
wou jy hom beskerm teen hulle haat?
Maria,
het jy geweet en het jy verstaan,
toe hy soos ‘n krimineel hom dood moes bloei?
Met watter emosies moes jou moederhart stoei?
Onskuldig is hy gekruisig
en niks kon jy daaraan doen.
Hoe kan ‘n moeder daarmee versoen?
Maria,
het jy geweet en het jy verstaan
toe hulle sy liggaam van die kruis afhaal.
Jy het gevoel asof jy hom faal,
maar het jy geweet dat dit so moes wees?
Maria,
het jy geweet en het jy verstaan
dat hy bestem was om die kruisweg te gaan?
Sy dood sou aan ander die lewe bring,
daarom moes jy eintlik oor sy dood kon sing.
Maria,
al het jy geweet,
al het jy verstaan,
wou jou moederliefde dit keer.
Jy sou dit anders wou hanteer.
Hy het opgestaan, die dood oorwin,
maar ‘n moederhart bly seer.
GROTER LIEFDE HET NIEMAND
AS ‘N MOEDER VIR HAAR KIND NIE,

Hennie du Toit
* (na die lied “Mary did you know”. Die lied is nie as bronteks gebruik nie, maar ooreenkomste mag dalk hierin herken word)

 

Januarie 2024 – OOP Projek

3.Net een druppel

Net een druppel
maak die mooiste reenboog,
en net een saadjie
word ‘n boom so hoog.
Net een stoffie
irriteer my hele oog.

Net een pil
kan wonders verrig
en net een kersie
kan ‘n kamer verlig.
Net een doring
kan blywend verwond,
en een skewe woord
uit ‘n bitsige mond.

©️HENN

 

Februarie 2024 – Dolos projek

2.Stormwater

Krag word teen krag getoets,
die een breek, die ander keer.
Waarom maak een mens
‘n ander een so seer?

Dolosse het ek om my gepak.
Die branders kan maar breek.
My dolosse se brute krag
sal my storm wreek.

Maar dan kom’ n tsunami
en selfs die dolosse spoel weg.
Nou moet ek alleen
teen die storms veg.

Ons behoort vir mekaar
soos dolosse te wees,
nie net om te beskerm,
maar ook om te genees.

Dolosse lê nou deurmekaar
en bied geen beskerming meer
en ek, wat anders kan ek doen
as om te verdrink in my eie seer.

©️HENN

 

Maart 2025 – OOP projek

3.60 jaar van nou

As ek terugkyk op my lewe
van geboorte tot nou,
het soveel dinge verander
en ek sukkel om by te hou.
As kinders het ons buite gespeel
van soggens vroeg tot laat
en almal was bevriend
met almal in die straat.
Die biblioteek was die beste plek
en ons almal wou daar wees,
want wat was dan nou lekkerder
as om ‘n goeie boek te lees?
Televisie en rekenaars het nie bestaan,
en selfone het nog nie hul verskyning gemaak.
Die inrybioskoop en Vrydagaand sokkie
was vir ons die lekkerste vermaak.

Tegnologie het alles kom bederf
en niks het meer dieselfde gebly.
X-boxes en aanlynontspanning
laat kinders biblioteke en strate vermy.
Gesinne eet en kuier nie meer saam
en elkeen doen sy eie ding.
Ons, wat deel is van die ouer geslag,
sukkel om aan te pas by hierdie verandering.
Ek kan nie help om dit met kommer te aanskou,
want as alles nou reeds so agteruitgaan,
wonder ek hoe dit gaan lyk in 60 jaar van nou.

@Henn

 

MAART 2026 HERFS/KAS PROJEK

2.Die nuwe begin

Ek staan voor die kas
in my seun se kamer.
Die atmosfeer is somber,
want ek dra die seer van ‘n pa.
Te vroeg
het sy stem stil geraak
en te vroeg
het hy die hemel sy tuiste gemaak,
sy kamer steeds onaangeraak.

Ek staan voor die kas
in ons twee se kamer.
My eggenote dapper
tot die einde haar siekte gedra.
Te vroeg
het ook sy heengegaan
en te vroeg
moet ek op my eie aangaan.
Die hartseer wat baie nie verstaan.

Nou weer staan ek voor my kas
in die huis
wat vir jare myne was.
Die tyd het vir my ook ingehaal
en my nuwe kamer
in die rusoord
is reeds betaal.
Ek pak in en gooi ook weg,
al was ek
aan my besittings so geheg.

Dan staan ek voor my nuwe kas
en ek wonder
of alles in gaan pas.
Al my besittings
moet in een vertrek nou in
en ek moet die nuwe fase
alleen begin.

 

Hennie du Toit

 

SILWERKLAS

AUGUSTUS 2026 – AANHALINGS PROJEK

3.Que Vadis

Vanmelewe is die vraag al gevra
en vandag nog is dit iets wat pla.
Die Afrikaner wat by ‘n kruispad staan
met verengelsing wat om hom aangaan.

Sal die Afrikaner hierdie oorlog oorleef,
met die jong geslag wat tale verweef?
destyds as ‘n kombuistaal beskou,
maar tog suiwerder gepraat as nou.

Afrikaans moet kwansuis uit die boeke uit,
maar dit skeel my minder as ‘n duit,
want Afrikaner is ek in murg en bloed,
my taal my beste stukkie erfgoed.

Die Afrikaner het gekom om te bly
en na honderd jaar kan niks ons onderkry.
Die Afrikanerstem sal nooit stil raak-
dit is’ n uitgemaakte saak!

Quo Vadis is steeds die vraag vandag,
en ons antwoord: In eendrag is ons mag.

^Aanhaling van DF Malan tydens die inwydingstoespraak van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949

Hennie du Toit

 

 

(1)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • ILANA het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • ILANA het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • ILANA het ‘n nuwe publikasie gemaak