EKOLOGIESE LES UIT DIE BOESMAN-LEGENDE VAN DIE GROOT AREND EN DIE SEUN VAN DIE WIND
Boesman-mites en legendes is ’n ryk en diepgaande versameling van mondelinge oorlewerings. Hierdie mondelinge oorlewerings van hulle is oor baie jare heen van geslag tot geslag oorgedra.
Die ideologie, of te wel die lens waardeur die Boesmans hul wêreld beskou, insluitend die spirituele oortuigings wat hulle huldig, kom duidelik na vore uit stories wat hulle in die aande rondom die vuur vertel.
Tydens my navorsing oor die Boesmans was ek veral diep geraak deur die besonderse verbondenheid wat hulle met die natuur het, en steeds handhaaf. Die Boesmans se sienswyse ten opsigte van die natuur spreek uit die wyse waarop hulle by die natuur ‘inskakel’. Hulle beskou hulself as deel van die natuur, en nie as bo die natuur verhewe nie.
Laasgemelde kom duidelik na vore uit die gesprekke tussen my en ’n Boesmanleier in die Kalahari in die Noorde van Botswana. Uit hierdie gesprekke van ons het ek ononwonde tot die diepe besef gekom dat daar tradisioneel, en nogsteeds, ’n diepe kosmiese eenheid tussen die Boesmans en die skepping, spesifiek die natuur, bestaan.
[Ek noem net terloops dat ek tans besig is om ’n boek in ‘Boesman-patois-afrikaans’ te skryf, waarin ek die gesprekke tussen myself en Buks Appelblaar, in verhaal- / storieformaat opneem. Ek bied dan ook sodanige gesprekke in die vorm van ’n reeks kortverhale op INK se webblad vir projekopdragte aan.]
Die Boesmans se persepsie van wilde diere, asook hul geestelike ervarings en benutting van die natuur in hul allerdaagse stryd om oorlewing, sónder om die natuur te beskadig, kom op ’n treffende wyse uit voormelde stories / verhale na vore.
Ek was telkens sprakeloos-verstom by die aanhoor van die Boesman-stories rondom die vuur in die aande. Dit het my tot die besef gebring dat daar ’n diep geestelike- en simboliese konnotasie heg, aan elkeen van die stories / verhale, wat aan my vertel was.
Boesman-mites is nie net “stories / verhale” nie. Dit is inderdaad lewendige vertellings waarin moreel en etiese lesse opgesluit is, ryk aan simboliek, emosie en wysheid. Daarbenewens het hulle op ‘storie-wyse’, hul trotse geskiedenis, wat spirituele waarhede bevat, van geslag tot geslag oorgedra.
Vanweë my eie besorgdheid oor die ekologie, die verantwoordelike bestuur daarvan, en my belangstelling in roofvoëls, was ek veral geïnteresseerd in die Boesmans se siening oor roofvoëls soos valke en arende.
Die Boesmans beskou valke en arende nie net as gewone gevleueldes nie, maar wel as wesens waaraan hulle ’n geestelike verbondenheid heg, waaruit die simboliese asook die praktiese waarde van veral die arend, uitstaan.
Vanuit die gesigshoek van die Boesmans is arende en valke spesiale wesens wat krag en vryheid simboliseer. Die mening word gehuldig dat arende en valke vanweë die feit dat hulle, veral arende, hoog bo in die lug vlieg, as verbintenis met die geesteswêreld in die hemel dien, waar die gode woon. Daar is byvoorbeeld geglo dat wanneer ’n Boesman ‘n droom oor ‘n arend of valk gehad het, dit die een of ander belangrike teken of geestelike leiding inhou.
’n Verhaal wat my egter baie geïnteresseer het, is die Boesman-legende van die arend en die seun van die wind, omdat daar vir ons as rentmeesters van God se skepping, ’n diep ekologiese les te leer verskuil is. Ek deel graag daardie verhaal met die leser.
Baie lank gelede, toe die diere nog met mense kon praat, was daar ’n jong Boesmanseun wat ure lank na die blou-blou hemel bokant hom gestaar het. Hy het gewens dat hy ook kon vlieg soos die arende wat daar hoog bo in die lug sweef.
Daardie Boesmanseun was die seun van die Windvrou, wat die wolke oor die duineveld en die vlaktes geblaas het.
Op ’n dag het ’n massiewe Breëkoparend uit die lug neergedaal en op ’n verweerde stomp op die hoogste duin in die Kalahariwoestyn gaan sit. Die Boesmanseun het die arend gesien en besluit om na hom toe te stap en sy wens teenoor die arend uit te spreek. Miskien kan die arend hom dalk help om sy wens om te kan vlieg te verwesentlik, het die seun by homself gedink. “Daardie groot arend het tog sekerlik toegang tot die die gode wat in die hemel woon,” het hy hardop vir homself gesê.
Toe daardie Boesmanseun uiteindelik by die arend uitkom, was hy verbaas om te verneem dat die arend lankal reeds bewus is van die seun se begeerte om te kan vlieg. Die arend sê toe vir die Boesmanseun:
“Voordat jy kan vlieg, en die Kalahari vanuit die lug daar bo kan sien, moet jy eers leer wat dit beteken om ’n jagter van die lug te wees.”
Die seun het ingestem, en die arend het hom op sy rug geneem. Hulle het oor die duine gevlieg, oor droë vlaktes en die uitgestrekte duineveld van die Kalahari.
Dit was ’n absolute wonderlike ervaring vir die seun. Hy het gesien hoe wildsbokke in die gras skuil, hoe ander roofvoëls oor aas baklei, en hoe klein voëltjies roep as gevaar naderkom.
Vir ses dae lank het die Groot Arend vir daardie Boesmanseun elke dag iets nuuts geleer, soos onderandere:
Hoe om te sien sonder om ’n woord te uiter;
Hoe om geduldig te wag sonder om te haat; en
Hoe om te jag sonder om ekologiese verwoesting te saai.
Na sewe dae het die arend vir daardie Boesmanseun gesê:
“Nou weet jy wat dit beteken om ’n jagter van die lug te wees. Jy is ’n seun van die wind én van die aarde. Gaan leer nou ook jou mense om met oë van bo te kyk — met wysheid en sonder gierigheid.”
Hierna het daardie Boesmanseun na sy mense teruggekeer, en het hy ’n groot Boesmanleier geword. Tot vandag toe sê die ouer Boesmans “Wanneer jy ’n arend oor jou sien vlieg, kyk mooi — dalk bring hy ’n ou wysheid terug.”
Wat ’n ekologiese-les is daar nie in hierdie verhaal opgesluit nie?
Wees waarnemers van die natuur, en doen daardeur praktiese kennis op oor die gedrag en doel van elke dier, spesifiek roofvoëls, in die ekologiese ketting wat hulle vervul. (Alhoewel die Boesmans soms vere of dele van arende gebruik het vir tradisionele doeleindes (soos versiering of rituele), het hulle dit met groot respek gedoen en nooit onnodig gedood nie.)
Gebruik dus die natuur op verantwoordelike en respekvolle wyse, soos die Boesmans.
———————————–oooo00oooo——————————————-
©Pieter Mostert
Bronne
• Coetzee, A.J. 1995. Afrikaanse volksverhale en mites. Kaapstad: Tafelberg.
• Mostert, P. Mondelinge onderhoud met Buks Appelblaar gedurende 2023.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek