Vir al wat ons weet…
Die slot is nie ʼn afsluiting nie en elke gedagte word ʼn verdagte…
Die mense noem ons dorpie ‘a one horse town’, die plaasgemeenskap hier aan die voet van die Magaliesberge waar almal die ‘ins and outs’ van almal ken. Of nie? Anna Davel som ons omstandighede baie goed op in haar liedjie ‘As jou hart reg klop’. Ek wonder of sy haar inspirasie hier by ons gekry het as ek hoor wat sy sê: ‘dat die wat baie praat niks het om te sê nie’, ‘dat die wat baie huil nie die sadste is nie’ ‘ek het geleer dat as jy alles weet jy dit te min verstaan’ en ‘geleer die lewe skuld jou net mooi niks nie…’
Die liedjie laat my aan Dirk dink! Die naam wat steeds op sy eie lirieke eggo. Ek en Dirk was van graad een tot matriek in dieselfde klas. Ons het Dirk as Derk leer ken, want sy ma se van was Derksen. Ek onthou hoe ons graad een juffrou gesê het: “Steek op die handjies waarmee julle teken. Ons sal van nou af na jou regterhandjie verwys as ‘die slim handjie’.” Ek glo nie sy’t gesien hy steek sy linkerhand op nie, want die volgende oomblik steek hy altwee sy hande in die lug en sê half vies, maar met respek: “Juffrou, hierdie is ʼn boer se hande, en niks van ʼn boer is dom nie.” Die juffrou se antwoord: “Ag Derk, doen net jou werk”, het as ʼn koggel deur die skool weerklink.
Hier in standerd drie verander Derk sy naam sommer self na ‘Dirk’. Hy ontpop as een van die skool se beste atlete en ʼn goeie rugbyspeler. Hy is ʼn paar keer vir Cravenweek gekies en het skielik die outjie geword waarmee al die seuns pelle wou wees, gevolg deur die meisies wat sy elke beweging met dweep ogies dophou. Ek onthou hoe hy die rugbybal so met die linkerhand uit die lug kon haal en ʼn drie gaan druk het. In graad elf word sy eie oë dweep toe ʼn nuwe leerder die klas binnestap. Haar naam is Karlien, nuwe intrekkers by die plaas aangrensend aan Dirk se familieplaas. Dit was beslis liefde met die eerste instapslag en die twee is ʼn paar jaar daarna getroud.
Dis nou twee maande na ons tien jaar matriek reünie. Dirk en Karlien boer met skape en pekanneute op die familieplaas. Hulle tweelingseuns, seker so ses of sewe jaar oud, is in die koshuis by ʼn naburige dorpskool. Ek en Karlien hou skool hier by die laerskool in die dorp. Dirk moes onlangs vir slaapterapie gaan na ʼn erge rugbybesering hom met depressie gelaat het. Die mooiste droom word soms jou ergste nagmerrie. Ek vra elke dag vir Karlien by die skool hoe dit met hom gaan en elke dag is haar antwoord: “Dit gaan goed op die plaas; met Dirk baie goed dankie!”
Drie weke gelede, by die skool aangekom, is daar geen teken van Karlien nie. Ons bel, stuur whatsapps, maar kry geen antwoord. Ek bied aan om die tien kilometer na hulle plaas uit te ry. Gelukkig het ons proefstudente en een van hulle kan instaan vir my graad drie klassie. “Laat weet dadelik wat aangaan”, sê ons skoolhoof toe ek in die kar klim.
Ek ry met ʼn onseker-bangerige gemoed. Van vêr af sien ek die pekanneutboorde; die groot bome met hulle simmetriese ovaal krone en baie takke. Ek draai my venster effens af en ruik die grond na laasnag se reën. Ek onthou hoe Dirk altyd ʼn sakkie met pekanneute saamgedra het en met trots vertel het hoe die neute oorspronklik uit Noord-Amerika kom en dat die woord ‘pekan’ beteken dat dit, soos hy, net deur ʼn groot klip of rots oopgeslaan kan word. Ek smile by myself en dink amper hardop: “Ja Dirk, soos jy oopgeslaan is toe jy Karlien vir die eerste keer gesien het”.
Ek stop by die plaashek. Die bordjie lees: “Dirk en Karlien. Vooruitsig”. ʼn Plaaswerkerkind kom aangedraf om die hek oop te maak. Ek ry in, stop om vir hom ʼn blink R5 muntstuk met ʼn wildebees op te gee. Hy spring op en af van vreugde nes die wildebees op die munt. Ek ry die plaas binne en voel hoe die wildebees nou ook hier in my borskas spring.
Die pekanneutbome toon nuwe groei, maar iewers tussen die blare speel ʼn lastige Augustuswindjie wat nie kan aanvaar dis nou lente nie. Die erf lyk stil, bangstil! Ek stop naby die stoep en maak seker dat dit nie onder ʼn boom is wat taai boomgom afgooi nie. Ek klim uit die kar en klim die stoeptrappies hartbonsend. Ek klop aan die deur, niks! Ek klop harder, niks! Ek stap terug kar toe en blaas die hoeter, niks! In die spieëltjie sien ek vir John, die plaasbestuurder, aangehardloop kom. John is ʼn ware, trotse Griekwa met baie interessante vertellings oor die Griekwatradisies en sy trotse voorvaders. Hy was van doerietyd af hier op die plaas en ek is bly Dirk het hom as plaasbestuurder aangestel.
Soos hy aangehardloop kom beduie sy hande dat hy nie weet waar die huismense is nie. Hy groet kopbuigend en sê: “Mavrou, ek verstaan nie waar die meneer en mavrou is nie. Hele oggend nog stil en kyk waar sit die son al”. “Wanneer is die laaste keer wat jy hulle gesien het, John”, vra ek en ek hoor hoe my keel toetrek. “Gistermiddag Mavrou. Meneer Dirk het so three o’clock vir my gesê ek kan maar tjaila, want daar kom iemand na die lorrie wat hy wil verkoop kyk. Ek het later ʼn motobike gesien en gehoor dat daai bike gaan bearings slat kort voor die lank. Ma vamore… Mavrou wiet, as da nou een ding is wat Meneer Dirk die hel in maak is dit laatkom. Ons lag altyd en sê die president moet by die meneer kom leer oor on time te wees”, en hy lag senuagtig.
Ek blaas weer hoeter, niks! Ek sluit die kar se boot oop en haal vir ons twee botteltjies water uit. Ek hoor ons monde klik-klak droogword. Ek hou altyd water in my boot, want die water by die skool sny kort-kort af. Alles Jan van Riebeek en deesdae ook Trump se skuld. Ons stap weer die stoeptrappies op, ons klop maar die enigste groet is stilte. Die soort stilte wat jou keel toetrek. John klim op die vensterraam en loer onderdeur sy grysword wenkbroue met skrefie oë. Dan skielik kom ʼn kreet oor sy lippe en hy val-val uit die vensterraam. “Ek sien hom! Ek sien die meneer lê op die vloer met sy arm so kanttoe!” en hy wys so met sy linkerarm. “Hies groot fout, Mavrou! Groot fout!” Ek bel die polisie en ons wag… Ek wens ons het iets sterker as water gehad.
Na twee ure hoor ons sirenes aankom. Twee polisiekarre en ʼn ambulans jaag en stop. Hulle skree: “Pasop! Uit die pad uit!” en begin slaan, kap en stoot aan die huisdeur. Dit voel of tyd stilstaan, of alles in slow motion voor ons afspeel. Die deur slaan oop en die polisie storm binne. Ek en John probeer inkyk, maar ons word uit forseer. “Mavrou, die meneer lê met baie bloed by sy kop”, kry John met ʼn breekstem uit. Ons hoor hoe iemand vir die ambulansmanne skree: “Bly julle uit! Julle kan niks vir hulle doen nie; hulle’s dood! Ons moet eers hier klaarmaak en foto’s neem!” Ek en John hou mekaar se hande vas. Ek voel hoe sy growwe hand telkens oor my hand vryf en hoe dit my troos.
Na twee lang ure, stoot die ambulansmanne twee trollies in die huis. Ek en John wag, wag en dan word die trollies met twee liggame bedek met komberse uitgestoot. Twee polisiekonstabels kom laggend uitgestap. Een sê: “You shot your wife, then kill yourself while chewing nuts?” Die ander een antwoord laggend: “Real nut case”. Ek herken die een as ʼn oudleerling van die skool en dink vir ʼn flitsoomblik: “Waar leer mens om so ongevoelig en veroordelend te wees?”. Ons sien hoe Dirk se linkerarm onder die kombers uitval en ʼn neut uit sy hand val. John buk om die neut op te tel terwyl hy huilskeurend prewel: “My meneer, my mavrou…”. Ek bel die skool, maar ek kan nie praat nie. Ek hoor die hoof sê: “Toemaar Juffrou, ek verstaan iets ergs het gebeur. Gaan huis toe, drink ʼn pilletjie en probeer rus. Ons praat later”.
Die ondersoek moet eers afgehandel word voor die begrafnis. Na agt dae vind dit op ‘Vooruitsig’ plaas. Van die hele gedoente onthou ek min. Stemme wat praat, praat, praat. Afleidings word gemaak, almal is nou kenners op die gebied. Jy kyk vir al die bekende gesigte en wonder. Wat ek wel altyd sal onthou is twee klein seuntjies wat aan mekaar en aan oom en tannie klou. Hulle gesiggies vraend “Wat gaan van ons word?” Duidelik besef hulle nie wat hier gebeur nie. En John en sy familie; die verslaentheid op hulle gesigte; kommer… “Wat gaan van ons word?”
Die dag na die begrafnis is dit voorbladnuus. Die ondersoek is afgehandel. Die man het aan depressie gely. Hy het sy vrou in die gang geskiet en daarna homself om die lewe gebring. Die bewyse op die toneel was vanselfsprekend. Net sý vingerafdrukke is op die pistool in sy regterhand gevind. Geen derdeparty was teenwoordig nie. Hierdie is nie ʼn plaasmoord nie.
Ek vou die koerant toe en hoor myself hardop prewel: “Maar Dirk was linkshandig…”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek