“Hier volg die weer.”
“Hier volg die weer.”
Stoot opstandige hare
weg uit helder oë.
Kniel angstig
voor sinoptiese kaarte,
lees blare in isobare.
WAT wil die boere hoor?!
Ahaaa! Hiers ‘n laedruk!!
[maar die hoog wig ook]
koud … druk … front
—{ aksie }—
Frons verdwyn,
hand beduie,
“Iewers reën dit elders.”
Skitterwit tande.
Daar!
Maar weervoorspellings is nooit net bespiegeling met syfers, rigtings en pyle nie. Onder die kaarte lê stories van lande, dorpe, stede, mense …
Toevallig is Laingsburg “elders” geleë:
Midde die Moordenaarskaroo. Ongeveer 280 km noordoos van Kaapstad. Op ‘n natuurlike vloedvlakte. Waar die Buffelsrivier met twee sytakke, die Wilgehout- en Baviaansriviere, saamvloei. Hierdie streek val in die reënskadu van die Langeberg-, Swartberg- en Witteberg-gebergtes. Die omgewing het ‘n gemiddelde jaarlikse reënval van 175 mm.
24 en 25 Januarie 1981:
‘n Afgesnyde laedrukstelsel het suid van die land ontwikkel. Een kragtige “Swart Suidooster” het ontplooi. Kondensaat-oorlaaide lug is oor die kusberge binneland toe gesweep. Blitsig het 425 mm reën oor Laingsburg gestort. Genoeg om die Buffelsrivier te laat storm. Verwoed. Stille stroompie eensklaps ontaard in ‘n brullende moddermonster. Onstuitbaar.
Binne 48 uur:
• Minstens 104 mense het gesterf. 72 Liggame is nooit gevind nie. Sommige lyke is later so ver as Mosselbaai, honderde kilometer weg, gevind.
• Een tragiese voorbeeld is die Diko-familie. Nege kinders uit een huishouding het omgekom.
• Twee derdes van Laingsburg se infrastruktuur is vernietig. Insluitend 184 huise en 23 kommersiële geboue. Slegs 21 huise kon kop bo water hou.
• Vredepark — die ouetehuis — is verwoes.
• Infrastruktuur, brûe, paaie, telefoon- en kraglyne het in duie gestort.
• Die dorpie Laingsburg — klein en afhanklik van landbou en handel — is lamgelê. Plaaslike boerderye afgesny. Oeste vernietig.
Die SAUK het Charl Pauw onmiddelik onbied. Saam met ‘n enkele kameraman moes hy deur die modder en slyk ploeg. Op teen ‘n randjie. Tot bo. Hoog en droog genoeg vir sterk sein — soos vereis vir direkte televisie uitsending.
Ongekende nasionale reaksie is uitgelok:
• Die Suid-Afrikaanse Weermag is ontplooi vir reddingsoperasies.
• Helikopters is gebruik om gestrande inwoners te red.
• Die DBV het diere gehelp.
• ‘n Nasionale Rampfonds is gestig.
Die omvang van hulp en herstelaksies was destyds ongeëwenaar in Suid-Afrika. As nasionale heropbou-aksie was dit ‘n uitstaande poging om plaaslike orde te herstel.
Beamptes, bouers en brouers span saam. Beloftes en bakstene word oral rondgeskuif. Komitees gestig. Menigte vergaderings gehou. Sewentig glase gebreek. Hier ‘n brug gebou. Daar ’n pad beplan.
Orde, ja … op ’n waglys wat twee vorms in triplikaat vereis. En die nuwe orde se frons kring al weier uit.
Bloot die Tweede Wet van Termodinamika in aksie.
‘n Eenvoudige reël oor energie en orde in die heelal. In enige proses, sal die totale wanorde (entropie) van ‘n stelsel en sy omgewing altyd toeneem. Dit beteken dat alles beweeg van ‘n toestand van orde (netjiese dorpie) na wanorde (grootskaalse vernietiging) — tensy energie bygevoeg word om orde te help handhaaf.
Parfuum versprei. Ys smelt. Koffie word koud. Almal eet. Iemand moet skottelgoed was. Afdroog. En wegpak!
Uit die vernietigende vloed het Laingsburg met groot moeite weer opgestaan. Met ‘n identiteit wat permanent verander is.
Die Laingsburg Vloedmuseum is gestig om die ramp te herdenk. Dit huisves artefakte, fotos en inligting oor die ramp. Herdenkings is in 2011 (30 jaar) en 2021 (40 jaar) gehou, wat die blywende impak op die gemeenskap toon.
Ons kan slegs bouers bly. Rentmeesters van tydelike orde. Met eerbied vir die groter chaos waaruit skepping begin.
Orde kom teen ‘n prys.
© Paul S Venter (September 2025)
(582 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir September 2025 – Orde uit chaos projek