Wyn en sonskyn
Jy ruik, sien, proe, hoor dit. Jou sintuie het ontwaak, want dis die eerste dag van Oktober. Die lug is blouer as gister en al het jy twee weke gelede huis skoon gemaak, ruik jou skoenuitskopplek vars en lekker. Jy hoor die voëltjies vrolik tjirp en jou koffie hier op die stoep proe lekkerder. Omdat almal sê ‘die mooiste, mooiste maand’, wil ek net vir ʼn oomblik simpatie spreek teenoor al die sinus- en hooikoorslyers want hierdie is die maand van neusloop en nies. Soos ʼn muntstuk is ons lewe, of klink dit nou soos die openingslyn van “Days of our lives”?
Oktober is die wonderlikste, wonderlikste maand. “Octo” beteken “agt” volgens die Romeinse kalender, maar in die Gregoriaanse kalender het dit die tiende maand geword. Volgens legende is die maand in Ou Engeland ‘Winmonath’ genoem wat ‘Wynmaand’ beteken; die maand waarin wyn geproduseer word. Die getal tien is simbolies vir orde en perfeksie. En wat is meer perfek as ʼn lekker glas droë rooi wyn onder die helder sterrehemel.
Drie belangrike feeste val meestal in Oktober: die fees van die trompette, die dag van rekenskap en die fees van die tabernakels. Ek kan net hoor hoe die trompetgeskal en stemme weerklink tussen die mure van Ou Jerusalem met ‘Hava, Nagila Hava’ wat ‘kom ons wees vrolik’ beteken en sien hoe daar in ʼn kring gedans word. Die ster is die sielsimbool vir Oktober. Mense in dié maand gebore het nie ʼn behoefte aan erkenning nie, maar die wil om mense rondom hulle te lei om die beste weergawe van hulleself te wees. So word die maand Oktober geassosieer met geestelike groei en selfrefleksie.
Mense gebore onder die weegskaal sterreteken ‘Libra’ word deur die planeet Venus beïnvloed. Hulle is diplomaties met ʼn sterk en eerlike wil van hulle eie. Hulle is probleemoplossers, dagdromers, diplomaties, lojaal, gebalanseerd, kreatief, regverdig en nie na-jaers van geld nie. Maar dan duik die anderkant van die muntstuk op: hulle is besluiteloos, vermy emosionele konfrontasies en blykbaar effe roekeloos met geld. Mense gebore in Oktober sluit Mahatma Gandi, Pablo Picasso en Friedrich Nietzsche in en jy kan sien hoekom: Gandi was ʼn diplomatiese vreedsame wêreldfiguur met die motto: “Wees die verandering wat jy in die wêreld wil sien”, Pablo Picasso een die wêreld se mees bekende skilders: “Ek doen altyd wat ek nie kan doen nie sodat ek kan leer om dit te doen” en Friedrich Nietzshe die wêreldbekende filosoof: “Wat ons nie dood maak nie, maak ons sterker”. Op ʼn vreemde manier sien ons hoe hulle motto’s ooreenstem met die hierbo genoemde eienskappe van Oktobermense.
Onder invloed van Venus is Oktobermense lief vir die mooi rondom hulle en waar wil jy ʼn mooier steen as ʼn opaal kry? Die opaal is die verjaarsdagsteen vir Oktober. Kleurvol soos die maand self, lê die steen se prag in die reflektiewe kleure van al die ander edelstene binne vasgevang. In die Romeinse tyd was die steen bekend as “opalus” wat kragtig en kosbaar beteken. Volgens legende is die Romeinse senator Marcus Nonius deur Keiser Mark Antony verban omdat hy nie wou afstand doen van sy prag opaal nie. Die steen is geassosieer met hoop en eerlikheid. Kantel ʼn opaal en sien hoe die strale van die son binne die kleure van die steen dans.
Gousblomme vir Oktober! Die pragblom se oranje en geel blare bring son, lig, vrolikheid en passie na vore. Die gehardheid van die blom simboliseer krag en volharding; ʼn nuwe begin van herlewing, seën en beskerming. Die blom beskik ook oor medisinale anti-virale, anti-bakteriale, ant-fungale en anti-inflammatoriese eienskappe. So asof mens kan hoor hoe dit sê: “Bring it on…”
‘Oktoberkinders’ is skynbaar sterker as al die ander maande s’n. Die swanger ma se behoefte aan sonlig gedurende die koue wintermaande verhoog die produksie van vitamien D in die baarmoeder. Die resultaat? Die groei van sterk bene en spiere wat stamina en krag meebring. Die ma is ook gedurende haar swangerskap aan verkoues en griep en allerhande wintersiektes blootgestel en het al hierdie anti-liggaampies na haar baba oorgedra. Daarom volgens navorsing, het hierdie kinders nie net sterk bene en spiere nie, maar hulle is gesonder. Wat ʼn bargain!
Op 1 Oktober het wonderlike dinge plaasgevind. In 1908 word die wêreld se eerste Ford Model T uitgebring en in 1975 stel Amerika sy befaamde slagspreek “In God we trust” bekend. In 1969 breek die Concorde die klankgrens en in 1971 open “Walt Disney World” sy deure in Florida. “Daar is ʼn tyd vir alles onder die son”, het die Prediker gesê. Jane Goodall die sjimpansee aktivis, voltooi haar lewenssiklus van 91 jaar op hierdie dag, maar die Oktoberson sal vir altyd deur die sirkel van haar lewe skyn.
Wat ʼn trotse en gelukkige maand en dag! Ek sal wéét, want ek is gebore op dié dag: die eerste dag van die mooiste mooiste maand. Die maand Oktober!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek