Die net van ” maar net”
Die net van “maar net”
Deur: Ryno du Plessis
Ai, hoe lekker sag en knus val die leuens en verkeerd op die kussing van “maar net”.
Ek gaan maar net sê… Die ek word ons, want “maar net” het ons altwee nou gevange.
Nou sit ek en wonder, soos ek na jou verhaal sit en luister: waar het “net” so ’n gemaklike stoel geraak vir verkeerd?
Wanneer is die woord gebore om ’n sin so sag te maak?
“Net” vang vis, klein of groot. Die vis beland eintlik onwetend in die net, swem vir lewe en dood, vas in die net.
So sal ons dan nou maar vir die “net” ook ’n naam gee: lieg.
Kom ek gooi gou die net om die waarheid. Ek gaan net sê… Ek gaan net dit doen. “Net” vat die verkeerd weg en maak alles reg.
Terug by die visnet: sover ek verstaan, word die net gegooi juis om vis te vang, nie om vis te laat gaan nie.
Ek is nou wel ’n katrol-ou, maar dit is al hoe die net vir my sin maak.
So, waarom op aarde dink ons as mens “maar net” gaan ons vry maak? Eintlik is dit ’n veilige swemplek voor die net gelig word. Dit noem ek die waarheid.
Soos die net een of ander tyd gelig word, kom die regte storie of doen sonder “maar net” uit.
Vanaand, voor ek gaan slaap, begin my hele lys vol gebede. Natuurlik soek ons as mens alles wat mooi is, en ons voel die Here moet vir ons gee of help. Dan, soos vir die bedelaar op straat, gee ons die krummels van die gebed wat oor is vir die res wat dalk kort. Jy weet, die regte ding om te doen.
“Maar net” het ek per ongeluk vergeet van al my nette in die see van leuens. Dit hang nog so, geen vangs nie. Daar was mos niks verkeerd nie — dit was maar net.
Ek wonder maar net: hoe groot is die net van “maar net”? Hoeveel keer vang ons onsself in die net per dag?
Ek sê maar net.
© Ryno du Plessis
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.