Romanse op die strand
Dis vroeg oggend op die strand, en die vakansiegangers pak hulle sambrele, opvoustoele uit reg vir ‘n lekker sonskyndag. Willem du Toit ‘n lang lenige man kyk verbaas rond, dis die eerste keer dat hy sy voete op seesand sit. Nog nooit was hy in sy vyf en twigtig jarige leeftyd by die see, dis oorweldigend en die gedreun van die branders laat hom ietwat skrikkerig voel. Hy gaan sit tussen ‘n klomp mense en gooi sy bont handdoek oop, sy ma het gesê hy moet hom goed smeer met ‘n sonblok want die son hier het geen genade nie. Hy het ook ‘n surfbord by sy broer gekry, flink stap hy af see toe. Skielik steek hy vas, die grootheid van die oseaan is onbeskryflik mooi.
“Goeie dag meneer, groet ‘n vrou hier langs hom. Is dit nie pragtig nie, die see met al sy wonders laat mens so verskriklik klein voel.”
Willem bekyk die vrou van onder sy sonbril uit, sy is kort en geset met paar groot sproete oor haar neus. Voor hy met haar kon praat hardloop sy die see in, sy duik soos ‘n dolfyn deur die branders, net af en toe sien hy haar ronde lyf bo die water uitsteek. Sy swem dieper die see in, en waai vir hom. Wat ‘n brawe vrou, dink hy so by homself, hy sal maar eerder net hier in die vlak water speel dis baie veiliger. Na ‘n ruk spring sy langs hom op, hy skrik hom boeglam.
“My magtie vroumens! Amper dog ek dis ‘n haai, jy moenie my so skrikmaak nie.”
Sy lag te lekker, so ‘n aansteeklike laggie uit haar maag. Die vrou is net anders, sy verbaas hom met al haar tegnieke en vaardigheid om die groot branders te trotseer. Hy is doodseker sy bly hier naby iewers, en het al van kleins af geleer om so ‘n sterk swemmer te wees. Hy klou sy surfbord styf vas, die gespoel en gewoel van die water om hom laat hom onvas op sy voete voel. Die volgende oomblik tref ‘n brander hom vol in die gesig, hy hoes en proes vir ‘n vale en het geen benul van waar die bokant of onderkant is nie. Hy tol soos ‘n tolbos al in die ronte.
“Help! skree hy paniekerig. Help my, ek kan nie swem nie.”
Jacobie gryp hom aan die arm en hou hom regop voor die volgende brander hom omslaan. Sy kan nie help om te lag vir die aardige prentjie voor haar nie, Willem se swembroek sit op sy knieë, sy sonbril sit skuins oor sy kop en sy surfbord dryf ‘n hele ent van hom af. Sy swem en kry die bord vir hom voor die see hom vat, sy hak die toutjie om sy arm vas. Willem is so deurmekaar van die seewater sluk, en die sand is oral in sy ore, neus en mond.
“Magtig maar die see is rof! Amper verloor ek nog my swembroek en my bril ook. Dankie, was dit nie vir jou nie was ek seker nou haaikos gewees,” sy hele lyf ruk van paniek en skok.
“Toemaar, met my langs jou sal jy veilig wees, ek ken die see al van dat ek drie jaar is. Bly te kenne, ek is Jacobie Vervey, dogter van die bekende Jan Verwey hier op die baai.”
‘Willem du Toit, aangename kennis.”
Hy gaan koop vir hulle elkeen ‘n roomys en gaan sit op die strand. Hy hou nogal van die Jacobie, sy is ‘n regte rabedoe, vir niks bang nie, en sy is baie spontaan. Lank het hulle gesels, gelag en selfs weer gaan swem in die see, sy het hom geleer om uit te kyk vir die frats golwe, en om op sy surfbord te dryf. Hy het dit so geniet, die dag het glads te vinnig verbygegaan.
“Ek kry jou mŏre weer hier, dieselfde tyd, daar is nog baie wat ek jou van die see kan leer Meneer du Toit,” spot sy.
Willem lag lekker, sy eerste ervaring met die groot branders was onvergeetlik. Hy is ook baie bly hy het Jacobie ontmoet, verseker sal hy veilig voel met haar langs hom. Sy is ‘n bondel pret, hy’t nog nooit so lekker gelag soos vandag nie, hy tel sy strandsak op en stap saam haar tot by haar motor. Dan loop hy terug na waar hy tuis gaan vir die volgende twee weke. Hy is so uitgeput van die son en water dat hy op sy bed neerval en dadelik aan die slaap raak.
Die volgende oggend is hy soos afgespreek vroeg weer op die strand, hy kyk rond maar sien nie Jacobie nie. ‘n Ent verder staan ‘n paar vissermanne en visvang op die rotse, hy loop soontoe. Tussen die manne staan Jacobie, hy kan sy oë nie glo nie. Sy’s besig om ‘n vis in te katrol, hy verkyk hom aan die vrou, sy trek die vis uit sonder moeite.
“Wow! wat ‘n grote, jy verbaas my jacobie. Ek sou dit nie beter kon doen nie, jy is ‘n meester.”
Vandag hang haar hare los oor haar skouers, blond en krullerig. Hy verkyk hom so aan haar, dat hy vergeet om te kyk waar hy loop en val hard neer. Jacobie help hom op, en vee die seesand van sy wang af, sy glimlag vir hom en vryf sy hare deurmekaar. Willem bloos, hy kan nie onthou wanneer laas het hy die aanraking van ‘n vrou gevoel nie, vir vyf jaar is hy nou al alleen.
“Sal jy saam my piekniek hou op die strand, met sonsondergang. Ek sal vir ons ‘n mandjie bring met kerse en wyn. Net om dankie te sê vir al jou hulp, en vriendskap.”
‘Dankie Willem, dit sal heerlik wees. Ek het jare laas piekniek op ‘n strand gehad.”
Willem was so opgewonde toe hy die piekniek mandjie pad, hy maak seker hy pak alles in. Willem is dalk ‘n ‘nerd’ soos so baie hom noem, maar wanneer dit kom by romanse is hy heelvoor in die ry. Hy het ook ‘n vrolike bos blomme gekoop, met ‘n pragtige kaartjie daarby. Willem trek sy mooiste blou hemp aan, kam sy hare, en stap af na die strand. Dit is die mooiste tyd van die dag, die strand is stil en dis laagwater. Hy soek ‘n mooi spot vir hulle piekniek, skud die kombers oop, en steek die kerse aan. Die kobalt, smarag en saffier van die Suidelike see kon oomblikke in ‘n dag verewig. Hy voel vrede in hom, terwyl hy kyk hoe honde in die see baljaar. Hy snak na sy asem toe Jacobie aangestap kom, sy lyk pragtig. Die gevoel is wedersyds toe sy by hom aansluit, nog nooit het sy Willem so aantreklik gesien nie, sy hare is altyd deurmekaar.
Dit was ‘n wonderlike piekniek, hulle het tot na middernag nog so op die stand gesit, en gesels. Willem het elke oomblik daarvan geniet, dit was so mooi aand dat hy selfs Jacobie se hand vasgehou het, en so ent langs die see gaan stap het. Die mooiste skulp spoel uit op die strand, hy hardloop vinnig soontoe , maar die gety het dit teruggespoel in die see. Hy duik agterna, Jacobie het bekommerd begin raak toe Willem na ‘n ruk nog nie te voorskyn kom nie. Sy storm die see in, en roep hard na Willem.
“Willem, Willem! waar is jy?”
Die volgende oomblik spring hy soos ‘n wafferse seeleeu tussen die branders uit met die mooiste skulp in sy hand, met die ander hand probeer hy sy broek ophou. Hulle lag so vir mekaar dat hulle nie die frats brander sien nie, holderste bolder, onderste bo en agterste voor …rol en tol hulle saam onder die water, Willem hou Jacobie se hand styf vas, toe hy weer sand onder sy voete voel trek hy Jacobie uit die water en hou haar vas.
“Welgedaan Meneer du Toit, die keer is jy die een wat my red.”
Hy trek haar nog nader en soen haar sag op haar mond. Die soet klanke van die melodieë wat uitvloei, gemeng met die aandlug, laat hulle harte gloei. Die maan wat aan ‘n fluweelhemel hang, die sterre wat skitter volmaak die prentjie, En so, gesels hul deur die nag, tot die son opkom, die weerkaatsing op die stil water laat hul stom, en hulle weet dis die liefde waarna hul lankal soek!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek