Almal het ’n bêre-kas
Herfs begin vir my nie buite by die blare nie, maar voor ’n oop kasdeur. Dis gewoonlik dan dat ek my klere begin herrangskik, die somergoed eenkant toe skuif en kyk wat nog saam met my die volgende seisoen in moet gaan. Op die oog af is dit ’n eenvoudige taak. ’n Mens haal uit, vou op, hang terug en gee weg. Maar ’n kas is selde net ’n kas. Tussen die goed wat nog pas en die goed wat lankal nie meer pas nie, hang daar ook ander dinge. Dit wat ’n mens uitstel, dit waaraan jy geheg is, en ook dit wat jy graag wil onthou.
Daar is nou maar eenmaal goed wat ’n mens nie kan weggooi nie. Dit is nie noodwendig duur goed nie. Nie omdat jy dit nog gebruik nie, bloot omdat jy sentiment daaraan het.
Met die jare leer ’n mens dit. Daardie duur aandrok van ’n paar dekades gelede gaan eerste. Die skoene wat jou tone so erg gedruk het, maar pragtig was, volg kort daarna. Daardie rok wat jy vir die troue gekoop het wat toe nooit plaasgevind het nie, verdwyn ook. Maar dan is daar die ander goed waaraan jy vasklou. Die goed wat niks met mode te doen het nie. ’n Serp wat nog flou na jou ma se Moondrops ruik. ’n Trui wat glad nie meer sal pas nie, maar wat jy en jou geliefde as jong verliefdes saam gekoop het. Dan is daar ook die spierwit babasokkies wat nooit aan voetjies gedra is nie. Babas dra mos nie sokkies in die hemel nie?
Miskien is dit wat herfs met ’n mens doen. Hy laat jou voor ’n oop kasdeur staan en kyk wat nog saam met jou die volgende seisoen moet ingaan, en wat nie meer hoef saam te gaan nie. Dan klink herrangskik so eenvoudig. Die oudste klere uit. Die bruikbare klere terug op hul rakke. Maar dit is juis die verweerde klere wat jou laat huiwer. Die pienk serp met die erg uitgerafelde randjie. Die trui met die los steke en haakplekke. Die rok wat lankal sy glans verloor het, maar nog jou naam dra. Klere sorteer ’n mens makliker uit as herinneringe.
Dit is hoe ’n mens se kas oor die seisoene verander. Eers pas dit in by seisoene. Somersklere hier en wintersklere daar. Soms pas dit net volgens gewoonte. Later hou dit by iets heel anders. Dit is die uitstel, afstel en dinge wat nooit gebeur het nie. Stil getuies van wie jy eens op ’n stadium was, wie jy liefgehad het en ook dit wat jy nog nie kon laat gaan het nie.
Want tussen die hangers en opgevoude rakke lê nie net tasbare goed nie. Daar lê ook die vrou wat jy op verskillende tye in jou lewe was. Die jong meisie wat geglo het sy sal altyd ’n klein middeltjie behou. Die bruid vir wie haar nuwe van nog vreemd gevoel het. Die ma wat met ’n baba op die heup en ’n nat skouer aan haar bloes deur die dag moes gaan. Die een wat later netjies moes aantrek vir begrafnisse en doktersafsprake. ’n Kas hou dit alles langer as wat ’n mens besef. Party klere verloor hul kleur. Party herinneringe verloor nooit hul kleur nie.
Goeie raad is dat ’n mens gereeld alles moet uitsorteer. Maak minder. Leef ligter. Mense bedoel dit goed, maar praat gewoonlik van voorwerpe asof dit nét voorwerpe is. Hulle weet nie altyd dat party goed nie in ’n kas bly omdat dit nog mooi is nie, maar omdat dit die laaste plek is waar iets van iemand nog lê nie.
Dit is dalk ook die rede hoekom alle kaste nie altyd uitgesorteer word nie. Nie omdat jy bloot lui is nie. Dalk uit respek. Uit liefde wat nog nie afgeslyt het nie. Nie omdat jy nie kan sien wat verweer is nie, maar omdat jy té goed onthou hoe dit eenkeer lewe gehad het.
Op ’n sekere ouderdom raak ’n kas minder ’n meubelstuk en meer ’n argief van die hart. En tussen die goed wat daarin lê, is daar dinge wat nie weggegooi kan word nie, omdat jy in stilte nog daaraan vashou. Soos die eerste roosknop wat nou, uitgedroog, in ’n kartonnetjie lê.
Dalk is dit hoekom herfs en ’n kas so goed bymekaar pas. Albei vra dat ’n mens kyk wat nog moet bly, wat kan gaan en wat nog te veel lewe in het om sommer net uitgegooi te word.
Op die end is ’n bêre-kas nie net vol oorblyfsels nie. Dit is ook vol uitstel, ja, maar ook vol deernis. Want daar is dinge wat op ’n sekere tydstip van jou lewe jou gevorm en gedra het.
En miskien is dit rede genoeg om hulle nog ’n winter, nog ’n herfs, of net ’n rukkie langer te hou.
©MarleneErasmus
31/03/2026
(815 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek