Jongste aktiwiteit:

Musiek as lewensbloed #silwer

Musiek as lewensbloed

Met musiek in ons ore voer verlange ons ver terug.

In die bed in Anderkantland, luister ons na Vat Vyf op RSG. Lindenkoor sing en ons harte brand.

My gedagtes lei my na Menlopark se meisieskoor met tannie Bonnie Osterhoff wat ‘n klavier kon kielie tot hy uit sy maag lag. Ek onthou my skoolvriendinne, met wie ek in die musiekklas saam met Laurinda Hofmeyr die “Slawekoor” uit Nabucco musikaal moes ontleed en beleef.

Met lip-aflek-lekkerte dink ek terug aan die heerlike versuikerde rosyntjiebolle wat ons in die snoepie moes verkoop, ‘n onweerstaanbare versoeking.
Ek dink aan Interhoër en spangees en ons stemme hees sing, terwyl die son op ons bak.

Met heimwee dink ek aan die Sondagaand-klavierkonserte wat my pappa se weeklikse hoogtepunt was. Soms het hy sy houtdwarsfluit uitgehaal en saam gespeel. Ek pink ‘n traan, want ek weet hy is op die beste plek waar hy kan wees, midde die engelekore.

Dan, op ‘n Sondagaand in Universiteitsoord, met sy hand onder myne, terwyl ons die Gesange opsoek, ontmoet ek my eerste en vir-altyd-liefde as eerstejaartjie. In slooprokke het ons saam met Jubels die Passiespele by weermagkampe opgevoer.

Liefde vir musiek was die garingdraad wat ons aanmekaar gestik het.

In moeder se huis luister ons na plate van pappa se geliefde Tennessee Ernie Ford en my broer wat passievol sing saam met die Universiteitskoor.

Ons sing saam met Sonja se “Bring vir die harlekyn nog wyn”. Met sy oë in myne sing manlief uit volle bors Gé Korsten se “Liefling”. “Sweef soos ‘n arend” van Jan de Wet en “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” word ons seënbede by vriende se troues.

Musiek vloei soos warm bloed deur ons are. “Ek lewe” van Annelie van Rooyen word óns liedjie.

By ons kinders kweek ons ook ‘n liefde vir nie net alle genres van musiek nie, maar ook spesifiek Afrikaans.
By ‘n kampvuur komponeer my seun sy eerste liedjie “Teerpad padkaart” op die kitaar. ‘n Blink streep oor die wang wys ons trots as hy sy eie liedjie “Potchefstroom sonsak” sing en speel in die restaurant op “Die Bult”.

In Anderkantland leer ons ons meisiekinders klavier en fluit speel. Oupa sou so trots op hulle gewees het.

Voordat ons ons geliefde geboorteland verlaat het, het ek ál vier-honderd-en-vyftig CD’s op ‘n geheuestokkie gelaai. Meer as die helfte Afrikaanse liedjies.

Nou, as ons deur Mieliemuur se wurmlanings ry, sing ons saam van “Sarie Marais” tot Jo Black se “Skepe”.

In ons Anderkantland-huis probeer ons Alexa oorreed om Anton Goosen se “Pampoene op die dak” te speel. Dit vat my ver terug na die eerste keer wat manlief, toe my kêrel, my plaas toe gevat het en die pampoene op die skuur se dak gesien het, en ek gesê het: “Dis ‘n regte plaas dié, daar is pampoene op die dak”. Hy het lekker gelag.

Maak nie saak by wie nie, sodra manlief ‘n vertrek instap, word die plate of CD’s deursoek vir ‘n klankie in die agtergrond.

Op die mobiele skermpie sien ons hoe ons jongste kleinkind sy lyfie wikkel en sy handjies in die lug gooi, by die aanhoor van “Bytjie dans en ons moet sing, Bennie kan jy die storie bring”.

Vleuels van Afrikaanse stories vloei oor land en see, van draadloos tot mobiele fone. ‘n Verbinding wat geen mens kan keer nie.

Nou, sonder klavier of kitaar, gebruik ek maar KI om my lirieke in liedjies te omskep.

Ek sing “Oupa Han en ouma Krista” uit volle bors terwyl die reën saggies meng met die druppels oor my wange.

Christa Diederiks ©




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed