Graf met siellose asem
Hulle dra dit soos ’n kroon,
daardie woord: tronk.
Laat dit blink klink,
soos ’n medalje
wat teen ‘n borskas wink.
Generaals van oorloë
sonder oorwinnings.
Binne is daar net
’n plastiekbak met
pap wat afkoel,
bruin brood wat aan
die verhemelte kleef,
en ’n dun streep soet
as die dag genadig is.
Die dae rol soos klippe
van oggend tot aand
teen dieselfde muur.
’n Dun matras, koue sement,
komberse wat beweeg
met klein, onsigbare kieme.
Water val uit ’n roesmond.
Tyd word ’n lang gang
sonder vensters.
Jy leer hoe lank ’n minuut
kan rek wanneer niemand
jou roep nie.
Buite beweeg die stad.
Treine gly deur stasies.
Kinders ruil skoennommers.
Bome verloor hul blare.
Binne bly alles sielloos.
Wanneer die hek oopgaan
is die lig nie ‘n sege nie –
net helder.
Te helder vir oë
wat gewoond geraak het
aan die skemer.
Jy stap uit met ink onder
jou vel en stories wat swaar
lê, maar die wêreld
het nie vir jou gewag nie.
Daar is geen kroon nie.
Geen medalje nie.
Net ’n graf met
‘n siellose asem daarin.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.