Anja Nel
BRONSKLAS
JUNIE 2026 – STREEK/OMGEWING PROJEK
3.Die vallei van verlore vee
Op hierdie grond het mense hul gevestig
Eeue lank het hul vee hier gewei
maar die vee het spoedig begin verdwyn
sonder verduideliking, sonder rede.
Kort voor lank was die vallei verlate
Sonder vee
Sonder mense
maar beslis nie sonder geskiedenis
Die raaisel bly vandag nog staan
Die vallei is steeds leeg
en die verlore vee hang soos ‘n skaduwee
oor die vallei wat eens op ‘n tyd floreer het
deur Anja Nel
JULIE 2026 – LAAT EK JOU VERTEL PROJEK
1.Die storie se pad (Nuwe lid)
Stories moet tog iewers begin
dit word uit niks geskep
daarom sê ons “dis nog niks…”
maar “ek moet jou vertel” kom by aan die einde van die sin
Dis altyd “luister net vinnig”
na die storie wat “niks” is
kort voor lank is dit egter meer as dit
en elke detail kom aan die lig
Die storie hardloop weg met ons
dit raak beslis ‘n iets
maar steeds sê ons “dis nog niks”
en die storie begin te gons
Dit wat ons wou vertel
Daardie ding wat niks was
ontaard in iets groter
Ja, dit gebeur meer kere as wat ek kan tel
Elke stukkie versprei soos ‘n veldbrand
Die storie word bietjie aangepas
sodat dit oordryf
totdat dit weer by ons beland
Dan is die hele storie omgedraai
elke niks ‘n iets
elke iets ‘n niks
en dis met nuwe aanpassings gelaai
Elke storie volg hierdie pad
ja, dit begin hier as niks
Kom terug as iets
Dis die wandel in die storie-stad
deur Anja Nel
AUGUSTUS 2026 – AANHALINGS PROJEK
2.As verbeelding belangriker as kennis is
As verbeelding belangriker as kennis is
hoekom moet ek my steur aan geskiedenis?
Hoekom moet ek dan oplet
wie, wanneer, waar, wat gedoen het?
As verbeelding belangriker as kennis is
hoekom moet ek weet hoe om te maal en plus?
As verbeelding die wêreld omring
hoekom hou ons aan om op algebra te dring?
En as verbeeling belangriker as kennis is
hoekom moet ek weet hoe werk ‘n bus?
En kennis is mos beperk
maar hulle hou aan om vraestelle te merk
So as verbeelding belangriker as kennis is
hoekom bestudeer ons nog reën, sneeu en mis?
En hoekom word kennis belangriker as verbeelding geag
as kennis ophou, maar verbeelding duur van dag tot dag?
So as verbeelding belangriker as kennis is –
hoekom steur ons onsself soveel aan kennis?
*Albert Einstein: ” I am enough of the artist to draw freely upon my imagination. Imagination is more important than knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world.”
Anja Nel
SEPTEMBER 2026 – OPINIE PROJEK
2.Lente in die skoolgange
Lente in die skoolgange
is meer as net ‘n seisoen
Ons was moeg vir die winter
en moeg vir mekaar
maar die lente het nou gekom
en die koue vervang
Nou is daar weer ‘n gefluister
in plaas van stil, koue klaskamers
Lag weerklink weer in die gange
en vervang die koue wind
Oral in die skool
het die lente weer ‘n verandering gebring
en almal wat gewens het vir die klok om te lui
is nou weer met vrolikheid gevul
Dis nie net nuwe blomme nie
in hierdie skoolgange is dit ‘n nuwe atmosfeer
en die winter se hopelose koue
is deur skaterlag in die gange
en ‘n nuwe lus vir die lewe
vervang
deur Anja Nel
(4)